Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

So min van ons skryf oor die dinge wat bruines ten nouste raak


Jason Lloyd - 2009-12-08

Ek weet die vrou was ernstig toe sy dit gesê het. Ons ken mekaar en gesels gereeld. Haar oë het dit gewys en ek kon vir die eerste keer haar asem ruik. Sy het nader gestaan en my in die gesig gekyk.

“Raak jy nie moeg om oor bruin kwessies te skryf nie? Jy skryf tot satwordens toe oor dié issues en al skryf jy oor ’n ander onderwerp sal jy ook die bruin kwessie daarin klits. A-nee man, raak jy nie moeg nie?”

Die dikkedensie is reeds dat so min van ons oor die dinge skryf wat bruines ten nouste raak. Dat baie van diegene wat wel aan dié gesprek deelneem, dit ongestruktureerd doen, vanwaar die gebrek aan effektiwiteit van die debat wat reeds die afgelope meer as 30 jaar sonder sukses woed. Onderlinge geskille moet daarvoor verwyt word, wat verder bydra tot die kompleksiteit van bruines.

Miskien sou dit veilig wees om dié vrou wys te maak dat ek nie vanuit ’n fiktiewe (bruin) nasionalistiese raamwerk oor bruin kwessies skryf nie. Enige poging – van enige groep – om nasionalisties te organiseer sou teenproduktief wees, omdat die belange van ander groepe uitgesluit word. Suid-Afrika se ideaal van ’n inklusiewe gemeenskap sou deur nasionalisme versteur en bedreig word. Hierteen moet ons waak en bid.

Ek doen dit liewer vanuit ’n gemeenskapsoogpunt, want gemeenskapsbou is grondliggend vir nasiebou. Dus is die openbare gesprek in en om die bruines vanuit ’n gemeenskapsoogpunt van kardinale belang.

Dit is reeds op gemeenskapsvlak waar die knoop is, omdat gemeenskapskonsensus onder bruines op dié vlak nog nie bestaan nie. Reeds vanwaar die opinie van sekere (bruin) kommentators dat bruines eers onderling met mekaar moet praat om klarigheid oor verskeie kwessies te kry. Dit sou ’n voorvereiste wees om byvoorbeeld ’n bruin gemeenskap te konstrueer wat uit die aard van die kompleksiteit van bruin identiteit net ’n ideaal sal bly. ’n Gedeeltelike gemeenskapskonsensus is tog nie te vergesog nie. Of is dit?

So bestaan daar byvoorbeeld 25 jaar nadat die driekamerparlement in die lewe geroep is, nog nie konsensus onder bruines of dit ’n goeie of slegte instelling was nie. Die teenstanders van dié instelling sê dit was ’n gedoemde politieke bestel en dat die Arbeidersparty (AP) sell-outs was.

Die vorige deelnemers (AP) en ondersteuners sê (soos FW de Klerk in sy outobiografie, Die laaste trek’n nuwe begin) die AP se deelname het gehelp om blanke LP’s se vrese teenoor gekleurde LP’s te besweer – blankes sou vir die eerste keer saam met gekleurdes in parlementêre komitees dien. Dit het glo gehelp om die NP voor te berei vir die onderhandelings met die breër swart bevolking (veral met die ANC).

Indien dit waar is, sal dit dr Danny Titus se verklaring onderstreep dat bruines die gom is wat Suid-Afrika aanmekaar hou.

Intussen sal ek volhou om oor bruin kwessies te skryf om ’n groter gemeenskapskonsensus te bewerkstellig wat ons versoeningsprojek kan bevoordeel.