Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Raka móét sterf!!!


Jaco Botha - 2009-12-08

Deur Jan-Jan Janse van Rensburg, Superjoernalis

“Ek het vir jou ’n storie om te doen,” sê my Redakteur en streel saggies oor my boud. “’n Onderhoud met Claudie Thompson,” murmel sy. Sy gaan sit op my lessenaar, trek haar bene op in ’n lotus-posisie en vertel my dat die strooisageskrywer, Claudie Thompson, dit weer eens reggekry het – nog ’n blitsverkoper met haar jongste roman, Witbroodjie.

“Wow!” sê ek terwyl my Redakteur my nog ’n rapsie verder betas. Ek is ’n wit, middeljarige man in die nuwe Suid-Afrika: ek staan maar wanneer hulle sê staan en loop wanneer hulle sê loop. Ek het om den brode lank reeds my persoonlike ruimte (my Lebensraum, as’t ware) laat vaar.

“Daar is net een probleem,” gesels my Redakteur verder terwyl sy met een van haar rooigeverfde naeltjies ’n klein swartkoppie uit my nekvel skiet. “Markie Muisnes van Die Dagblad het ’n eksklusief met die Uitgewery beding.”

“Mnnnnn,” sê ek.

“Toemaar,” troos sy, “ek het so bietjie met Loftus Versveld van die Uitgewery gekonkel. Jy mag maar vir Claudie vandag reeds gaan sien. Dan plaas ons bloot jou onderhoud met haar die eerste Sondag ná Markie se stuk verskyn het.”

“Piele,” sê ek en voel hoe my Redakteur my die kleinste van knypies in die lies gee.

“Jou taal,” berispe sy.

“My verskoning,” mompel ek. 

“Vieruur vanmiddag, by haar Villa langs die Vaal,” sê my Redakteur, laat glip haar bene weer vorentoe en staan van my lessenaar af op. Haar gesig is skielik reg langs myne. “Onthou net een ding,” sug sy in my oor, “jý is Jan-Jan Janse van Rensburg, Superjoernalis. Skryf dit soos net jý kan. Vlieg, my swaeltjie, vlíég. Bring vir my ’n storie.”

Later daardie oggend ontvang ek ’n e-pos van Claudie Thompson se Bekwame Butler, Kashima, waarin hy die adres langs die Vaal en ook die tyd vir die onderhoud bevestig. Ek ontvang ook vier e-posse van Loftus Versveld, die Agent van die Uitgewery, waarin hy my keer op keer daarop attent maak dat die eksklusiewe gesprek tussen die Skrywer en Markie Muisnes al maande gelede bevestig is.

“Reg so”, “Reg so”, “Reg so”, “Reg so," reageer ek op elkeen van sy amptelike e-posse.

“Sjoe,” giggel een van my kollegas terwyl sy na die fyn tandmerkies aan my regter-oorlel staar, “maar jy is nogals gelukkig. Claudie Thompson is bekend vir haar media-skuheid. Dis die eerste maal dat sy ’n joernalis na haar huis nooi.” Sy vertel verder van die ses Doberman Pinschers wat die strooisageskrywer aanhou om glo “haar éie familie” op ’n veilige afstand te hou.

“Ja,” antwoord ek en voel hoe ’n druppeltjie bloed onder my kraag in val.

Vieruur daardie middag staan ek voor die gegote, swart hekke wat toegang bied tot Claudie Thompson se Villa langs die Vaal. Haar Bekwame Butler laat gly die hekke voor my oop.

Terwyl ek in die motorlaan opstap, hou ek my oë oop vir die ses Doberman Pinschers, maar hulle is klaarblyklik net ’n rumour. Die reuk van modderwater slaan saam met die diep middagstilte vas in my gemoed. Ek gaan staan vir ’n oomblik tussen die twee rye dennebome om weer my asem terug te kry. Die lug bokant die Rivier hang geelgrys van swawel en ander gifstowwe. Die gras onder die bome is witgeryp.

By die Villa se voordeur nooi Kashima my binne en versoek dat ek myself in ’n keurig-gemeubileerde sitkamertjie tuismaak. “Juffrou Claudie sal aanstons hier wees.”

Terwyl ek op Claudie Thompson sit en wag, sien ek hoe die Swart Tuinier op en af, op en af met sy Grasmasjien oor die uitgestrekte terrasse beweeg.

Later bring die Butler ’n bottel Vonkelwyn en ’n bord Groenpiesangbrood waarmee ek myself kan ververs. Hy bied Claudie se verskoning aan vir die vertraging.

In die vertrek langsaan hoor ek ’n skor stem wat roep: “Mooi voël, mooi voël, ooooooohhhheeeee.” Dan gaan die deur na die sitkamer oop en Claudie Thompson maak haar verskyning. Sy is ’n skraal vrou met ’n enorme neus. Haar kleredrag is stemmig.

“Claudie Thompson?” strek ek my hand na haar toe uit.

“Claudie Thompson,” neem sy my hand.

“Wat de hel gaan met jou oor aan?” vra sy.

“Ek het in ’n deur vasgeloop,” antwoord ek.

“Sit gerus,” sê sy.

“Dankie,” sê ek.

“Geluk met jou nuwe boek,” sê ek.

“Dankie,” sê sy.

“Baie, baie dankie,” klink die skor stem van langsaan.

Ek frons vraend.

“Dis Raka,” sê sy.

“Is dít so?” sê ek.

“Ja,” sê sy, “ek het hom vernoem na Koos Kombuis se boek.”

“O,” sê ek.

“So, sal ons begin?” vra sy.

“Kom ons begin, ja,” sê ek. “So, wat is jou geheim?” wil ek weet.

“Dis my geheim,” sê sy.

“Was jy op enige stadium ’n lid van Jong Dames Dinamiek?” vra ek.

“Ek is voorsitter van die plaaslike tak,” antwoord sy.

“Jou hoofkarakter in Witbroodjie se naam is Odette Schoeman,” sê ek.

“Dis waar,” antwoord Claudie Thompson.

“Is jy bewus van die feit dat indien mens die letters T, E, E by Odette Schoeman wegneem, kry jy die naam Odet Schoman?” vra ek.

“Dit maak sin,” antwoord sy.

“Is jy verder daarvan bewus dat indien mens die letters L, U, I, P by Odet Schoman voeg, kry jy die naam Claudie Thompson?” vra ek verder.

“Sjoe,” sê sy. “Ek kan sien jy’t jou huiswerk gedoen, Jan-Jan Janse van Rensburg.”

“Is jy dalk Odette Schoeman? Is jy straks self die hoofkarakter in Witbroodjie?” vra ek.

“Die hoofkarakter in die boek, Odette Schoeman, is ’n lesbiese sluipmoordenaar uit die buitenste ruim. Ek was al vier keer getroud,” sê Claudie Thompson.

“So, is Witbroodjie ’n outobiografiese werk?” hou ek vol.

“Mmmmn,” sê Claudie Thompson.

“Ek sien jy lees graag Zechariah Sitchin,” sê ek en wys in die rigting van die boekrak.”

“Dis waar,” sê sy.

“So?” vra ek en leun nader aan haar, “is jy dalk ’n lid van die Anoennaki?”

“Ihhmmm,” sê sy en doop ’n stukkie Groenpiesangbrood in haar Vonkelwyn.

“Is jy?" hou ek vol.

“Ek is,” sê sy.

“’n Lid van die Anoennaki?” vra ek.

“Beslis nie,” antwoord sy.

“Gee my net iets?” vra ek.

Sy staan op en hou vir my nog ’n stukkie Groenpiesangbrood uit.

“Dankie,” sê ek.

Soos wat Claudie Thompson my oor haar brutale jeug inlig, raak dit skemer buite en dan nag. Deur die Franse vensters sien ek hoe die Swart Tuinier in ’n roeiboot na die Oorkantste Oewer roei. Agter graspluime en doringbome op die Oorkantse Oewer staan die sinkstrukture van ’n plaaslike Township.

Kashima bring nog ’n bordjie Groenpiesangbrood, twee bottels Vonkelwyn, en ’n skinkbord vol Soesji. Buite hoor ek ses honde blaf.

“Namazu, Namazu!” roep Raka uit die naburige vertrek.

“Wat sê hy?” wil ek weet.

“Hy praat sommer strooi. Hy eet te veel papegooislaai,” lispel Claudie Thompson. Die Vonkelwyn is duidelik na haar kop.

“So, wat kan jy my nóg vertel?” wil ek weet.

“My lewe is ’n oop boek,” sê Claudie.

“Ek het jou reeds al die vrae gevra wat ek weet Markie jou níé sal vra nie,” sê ek.

“En ek het elkeen van jou vrae beantwoord, so eerlik as wat ek kan,” sê sy.

“Maar wat weet Markie nie?” vra ek.

“Sy weet nie van Raka nie,” sug sy.

“Maar sy kom Woensdag hiernatoe,” sê ek.

“En Raka is nie op sy bek geval nie,” sê sy.

“Ai toggie!” prewel ek.

Uit die diepte van die Rivier seil die enorme gestalte van Namazu, die Baber. ’n Kombinasie van onverwerkte riool en petrochemiese afval wat oor die afgelope 40 jaar onverpoosd in die Vaalrivier gestort is, het hom laat muteer tot ’n Monsterbaber. Hy’s uitgevreet aan weggooidoeke en Checkers-sakke en proe nou met sy snorbaarde die troebel lug. Stadig maar seker kry hy hond se gedagte. Die idee om die skoothondjies van ryk vroue te verorber praat met hom.

Wanneer hy opseil teen die wal, kies Claudie Thompson se ses Doberman Pinschers die hasepad. Op die Oorkantste Oewer kom drie Townshipvroue summier tot bekering – vind hulle hul Heiland keer op keer terwyl hul hol na die hut van Pastoor Jaap Morake, die Plaaslike Lekeprediker.

Hy is opgewonde oor die trane van hierdie Neofiete en reël op die daad ’n Impromptu Doopdiens - iets waaroor die nuwe Bruide van Christus self nie heeltemal só opgewonde voel nie. Hul oogbolle draai wit in die rigting van die Rivier.

Claudie verskoon haarself om haar neus te gaan poeier. Raka dra uit volle bors ’n Haikoe oor Soesji en Sonneblomme voor. Onder die vloerplanke hoor ek iets of iemand kreun.

Dan is Claudie weer terug.

Buite in die tuin sien ons vir Loftus Versveld, die Agent van die Uitgewery, met ’n flits. Hy is waarskynlik hier om op ons te spioeneer. Later sien ons hom teen die swartgevriesde stam van ’n boom leun. Sy hare is wit van die kapok. Hy krap iets op ’n fladdertjie papier: heel waarskynlik ’n gedig oor koue en opoffering, met ’n knap intertekstuele verwysing na Rageltjie de Beer. Ons sien hoe daar trane van aandoening uit sy oë skiet. Hy is diep ontroer deur sy eie, droewige woorde. Ons sien hoe sy trane soos gevriesde spiese aan sy wange hang. ’n Oomblik vasgevang in tyd. Stalaktiete van verdriet. ’n Standbeeld in diens van diensbaarheid. Een skreeuende raam uit ’n makabere Japannese animasieprent. Daar staan hy: die lofwaardige Loftus Versveld.

Wanneer ek later self die latrine moet besoek, sien ek hoe Kashima met die behendigheid van ’n sirkuskunstenaar vleismesse na ’n bewegende grys gedrog op die rivierwal gooi. Ek hoor ’n woedende gebrul en dan grendel die Bulter eerder al die huis se deure.

Ek en Claudie kyk verby die opgebinde fluweelgordyne na die maan. In die koue, blou lig sien ons ’n toiingrige vroutjie op ’n besemstok, wat tussen ons en die maan deur vlieg.

“Ai mamma,” sug Claudie terwyl die Heks met ’n boaardse gekakel oor die nok van die Villa verdwyn.

Agter die huis hoor ons hoe iemand oor ’n blompot bliksem en die Naam van die Allerhoogste aanroep. Is dit dalk Loftus Versveld? Na alle waarskynlikheid, ja.

“So wat staan ons te doen?” vra ek vir Claudie Thompson.

“Ek kan nie vir Raka wegsteek nie,” antwoord sy.

“Ons sal ’n plan moet beraam,” sê ek.

“Anders sal Markie Muisnes beslis oor die voël wil skryf,” loop sy my gedagtegang vooruit.

Namazu die Baber seil in stomende stuiptrekkings terug na die Water. Die Mes staan stram in sy rug. In sy maagholte gis ’n fladdertjie papier, toegeklem in ’n ontliggaamde vuis. Die suiwerheid van die woorde op die papier laat hierdie Rioolvreter van die Vaal spontaan van binne bloei. Hy bulk soos ’n leeu en kreun soos ’n kalf wanneer hy die afdraande slaan op pad terug na die veiligheid van die modder. Die hele huis se rame bibber van sy woede en sy pyn.

Op die anderkantste Oewer van die Rivier word Pastoor Morake se Impromptu Doopdiens sonder seremonie afgelas. Die Swartes skrik hulle uit hul geloof uit en spaander behoorlik voor die emosionele geweld van die aanstormende Baber. Twee of drie word nooit weer van gehoor nie.

In die huis is ek en Claudie heeltemal onbewus van die drama wat hom onder langs die rivier afspeel. Ons ruik wel die swaweldampe uit die Vis se gemuteerde kiewe en voel die trillings van sy enorme lyf, maar skryf dit aan plaaslike industrie toe. Eers die volgende dag sal ons die volledige storie by Kashima die Butler hoor. Intussen bly ons egter vasgevang binne die grense van ons eie, benouende werklikheid.

“Wat gaan ons doen, Jan-Jan?” prewel Claudie en doop nog ’n laaste stukkie Groenpiesangbrood in haar Vonkelwyn.

Ek staan op en staal my. Ek gryp vir Claudie aan albei haar skouers en terwyl ek diep in haar oë kyk, sê ek: “Ek is baie jammer, maar ons het geen ander uitweg nie – Raka móét sterf!!!”