Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Annie Klopper: Rockjagter

MK Vierde Avontoer: Annie gesels met Beer Adriaanse


Annie Klopper - 2009-12-02

Desember is die tyd van die jaar wanneer twee busse, tien bands, hope gees en die kuslyn soos kosmiese kragte saamspan en geboorte gee aan ’n oerknal: die MK Avontoer. Oor hierdie toer het ek gesels met Zinkplaat se tromspeler, Beer Adriaanse, wat ook een van die voormanne van die organiseerder, De Plate Kompanjie, is.

Beer, wat het julle besiel om vir die vierde opeenvolgende jaar hierdie magiese projek aan te pak?

Ek weet dis nou al ou nuus, maar 2009 was ekonomies gesproke ’n uiters slegte jaar. Ons het sommer die jaar binnegekom met ’n groot klomp skuld en ons was redelik bedroef. Ons besluit toe om te doen wat ons die vorige keer gedoen het toe dit so sleg met ons gegaan het, en dit was om ’n Avontoer te reël. Op die einde van die dag kan ons eintlik nie onsself help nie. As die mense wil Avontoer, dan sal ons vir hulle ’n Avontoer gee.

Die toer is hierdie jaar korter. Waarom?

Dit het te doen met vakansiedae, Sondae, Sokkerwêreldbeker en die feit dat die Weskus nogal baie ontoereikend is. Ons sou die toer óf te lank, óf te kort moes maak. Vir ons vriende en medemusikante wat van die Noorde af kom, besluit ons toe maar om dit eerder korter te maak sodat hulle weer vir ’n slag ’n Kersfees by die huis kan hê.

Die bands wat saam toer, is van regoor die land – van Potch tot Pretoria ... Durban tot Durbanville. Terwyl ons bekend is met Straatligkinders, eF-eL, Zinkplaat, Tidal Waves, City Bowl Mizers en Ryno Velvet, ken nog min mense vir Thieve, Mr Cat & the Jackal, Baarmoedergevoel en Die Tuindwergies. Hoekom is daar juis besluit om hierdie nuwelinge in die toergeselskap in te sluit?

De Plate Kompanjie se groot idee was nog altyd om jong talent te ontgin en ons het al met vorige toere gesien hoe baie dit vir ’n jong band beteken om op die Avontoer te kom. Dis soos ’n crash course in hoe die industrie werk en hoe om op ’n belaglike rocktoer te oorleef.

Die line-up lyk so ’n bietjie soos ’n worsfees. Waar’s die meisies? Of het ons land oor die algemeen ’n tekort aan vroulike rockers?

Daar is definitief ’n tekort aan vroulike rockers. Ons het amper ’n honderd inskrywings vir die opening band kompetisie gekry, en ek dink nie eers daar was drie vroue-bands nie. Ek sou graag vir Mama Know Nothing wou saamvat, maar hulle het ongelukkig opgebreek. Ek dink jy moet dalk ’n artikel daaroor doen getiteld “Waar kruip die vroue-bands weg?”. Vorige jare het ons The Orange Stilettos saamgevat, en almal was mal oor hulle. Gelukkig is daar oorgenoeg meisies op toer.

Wat is die grootste uitdagings tydens so ’n toer?

Om 100 mense betyds by die regte plekke te kry. Iemand het eenkeer vir ons gesê: “Managing bands is like herding cats.” In daai geval is die Avontoer soos ’n 100 hondsdol katte ... Ons het al oorweeg om skaaphonde te huur om ons te help om die seerowers bymekaar te hou.

Is die optredes oop vir alle ouderdomme of moet kleinboet en -sus by die strandhuis agterbly?

Ons hou spesiaal vir Kleinboet en Saartjie, en Buks en Kiets en Kees ’n alle-ouderdomme-konsert in Hartenbos se Skoffelsaal op 30 Desember.

Ek hoor gerugte van ’n videodagboek. Wat voer julle alles in die mou om aanhangers en belangstellendes op die hoogte te hou van die gebeure?

Al wat ek sover daarvan kan sê, is dat ’n kameraman vir my en Bouwer Bosch van Straatligkinders gaan volg. Ons beplan om vir kykers die Avontoer deur ons oë te wys. Daar is sprake van Golden Globes. Daar is definitief ’n buzz ...

Hoe hou die kunstenaars en seerowers hulleself besig tussen optredes?

Dis basies ‘n heerlike mobiele vakansie by die see, so ons swem, kuier, lê in die son, braai, slaap, maak musiek, gly by waterwurms af en enigiets anders.

Gestel ek was nie reeds oortuig dat dit die beste toer in die land is nie, hoe sou jy my oortuig dat die Avontoer die moeite werd is om uit te check?

Ek sou jou los om in jou onkunde te vrot. Nee, ek dink die lekker ding van die Avontoer is dat ons niemand hoef te oortuig hoe lekker dit is nie. Die belangstelling is oorweldigend en die foto’s, video’s en stories oor vorige toere is meer as genoeg bewyse dat dit die moeite werd is om uit te check. Jy kan dit nie met enigiets anders vergelyk nie.

Klik hier vir ’n terugblik op die vorige Avontoer.