Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Artikels

Skrywer in die kollig: Francois Bloemhof


Adriaan Louw - 2009-12-02

Met meer as 45 boeke op die mark is Francois Bloemhof een van Suid-Afrika se grootste skrywers. Adriaan Louw het vinnig by hom gaan inloer.

Jy het in 2009 alleen vyf boeke vrygestel. Waar kry jy al die tyd en raak mens se idees nooit op nie?

My kop het eerder te veel stories as te min; daar is ’n klomp idees wat ek nooit eens gebruik nie. Maar 2009 was dalk ’n uitsondering – ek mik definitief nie om elke jaar vyf boeke uit te gee nie.

Flipom, jou jongste boek, is iets anders. Vertel ons meer hiervan.

Dit is vir jong lesers bedoel en dis ’n twee-in-een. Daar is twee voorblaaie, en die twee verhale (een grillerig, een sci-fi) begin op dieselfde manier en vertak dan heeltemal, kom weer vinnig bymekaar en vertak wéér. En die leser besluit watter storie om eerste aan te pak. Dis ook dieselfde karakters, of soort van.

Jy ontwerp baie van jou boekomslae self. Waarom?

Terwyl ek die boek skryf, het ek sekere beelde in my kop. Ek het dus ’n baie beter idee van hoe die omslag moet lyk as wat enige kunstenaar kan hê.

Jy skryf grotendeels aksieverhale, maar in 2005 het jy Nie vir kinders nie vrygestel, wat eerder as ’n tienerdrama beskryf kan word. Waarom het jy besluit om van jou skryfnorm weg te breek en kan ons nog so iets verwag?


Jy kan nie presiés nog so iets verwag nie, want ek hou daarvan om van die norm weg te breek. Ek wil myself ook soms verras. Ek weet dis veiliger om elke keer dieselfde soort boek te skryf, maar ek gaan my simpel verveel as ek dit doen! 

Jy resenseer ook so nou en dan flieks vir Die Burger. Hoe gaan jy te werk om ’n objektiewe opinie te vorm?

Ek probeer my in die “gemiddelde potensiële kyker” se skoene plaas. My eie voorkeure moenie ’n rol speel nie. Maar soms bly ’n vrot fliek ’n vrot fliek.

Jy is ook die skrywer van RSG se radiovervolgverhaal Susters en skandes. Hoe verskil die skryfproses van ’n radiodrama van dié van ’n boek?

Daar kan in die eerste plek geen beskrywings wees nie, maar ek glo in elk geval baie skrywers beskryf te veel. Jy vertel letterlik die storie vir iemand se ore in plaas van vir sy oë. Natuurlik is daar ook die feit dat ’n regisseur en spelers sáám met my lewe in die karakters blaas.

Bogenoemde program word vier aande van die week uitgesaai. Hoe kan een skrywer met nuwe idees vorendag kom om die program interessant te hou?

Dis anders as hoe ek met ’n boek te werk gaan en die vervolgverhaal moet ’n jaar lank loop – nadat ek die karakters geskep het, bepaal hulle aard en wisselwerking baie van die gebeure. Dit was nie lank voor ek nie meer hoef te gewonder het hoe daai mense in sekere situasies sal optree nie.

Die Afrikaanse jeugboekmark het die afgelope paar jaar drasties gegroei. Kan die mark ooit te groot raak?

Hoe meer boeke hoe beter, wat my betref – en hoe meer verskillende soorte stories, nóg beter. Maar ons kort meer nuwe stemme.

Beïnvloed die internasionale boekemark ons plaaslike een? Indien wel, hoe?

Ek dink nie so ernstig nie. Mense het begin besef Afrikaanse boeke kan net so opwindend wees soos dié van oorsee, en dan is dit nog relevant ook. Dit is nes Afrikaanse musiek: jy kan dit maar koop sáám met CD’s van The Killers, The Fratellis, The Veils en so aan.

Kan die kwaliteit van ons Afrikaans jeugboeke met die internasionale mark meeding?

Dit sal baie dom van my wees om nee te antwoord, haha.

Wat is jou volgende boek?

Dit is ’n boek vir volwassenes genaamd Die onbekendes, wat op 2 April 2010 by Lapa verskyn, en teen die tyd dat hierdie antwoord iewers gelees word, behoort ek die sperdatum van einde November te gehaal het!