Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Expats

Tuis vir Kersfees: finaliste word aangekondig


2009-12-01

Linda van Eeden (49) se seun, Wessel, het namens haar ingeskryf sodat sy haar kleinkind vir die eerste keer kan sien. Linda is ’n kontrakadministrateur en woon tans in Essex, maar is oorspronklik van Secunda. Omdat sy hard werk, kom sy dikwels saans laat by die huis en kan dan nie eens meer die familie in Suid-Afrika bel nie. Sy was meer as drie jaar laas hier en dit was vir haar bitter swaar dat sy nie haar ma se sewentigste verjaarsdag kon bywoon nie.

Littleton in Colorado raak erg koud oor Kerstyd en daarom sal Jasper van Wyk (32) graag vanjaar Kersfees saam met sy familie in Douglas in die Noord-Kaap wil deurbring. Jasper werk as ’n spesiale geleentheidskoördineerder, maar die een geleentheid wat hy graag self sal wil bywoon is ’n Kersfees by die familie – iets wat hy nege jaar gelede laas beleef het.

Alisha du Plessis (27), ’n skoonheidsterapeut, woon nou al drie jaar in Nieu-Seeland. Hoewel sy verlede jaar in Desember kortstondig in Suid-Afrika was sodat sy en Jacques in hul tuisland die knoop kon deurhak, kon hulle nie aanbly vir die Kersfeesvieringe nie. Haar ma, Des, droom van ’n Kerstyd saam met haar nuwe skoonseun en enigste dogter. Alisha is oorspronklik van Klerksdorp.

Lenie Lowartz (74) en haar man, Horst, woon in Duitsland en sou graag by haar suster in Suid-Afrika wou kom kuier. Vóór dit dalk te laat is. Lenie is oorspronklik van Vanderbijlpark en was vyf jaar gelede in Suid-Afrika.

Katinka Crossman (38) en haar man, Elhard, van Sutton in Engeland sal graag in Pinetown vir hul familie wil kom kuier – en hopelik kry hulle malvapoeding en koekstruif as ’n bonus. Dit sal vanjaar Katinka, ’n onderwyseres, se vierde Kersfees in die vreemde wees, maar sy hoop om by die huis te wees saam met al die familie met die kinders wat lag, almal wat deurmekaar praat en die tafels wat kreun onder die kos. Dit is ’n gans ander prentjie as die droewige een van haar en Elhard wat Kersoggend opstaan en waar net hulle twee vir mekaar hul geskenke onder die Kersboom gee.

Jan Pienaar (49) se spesiale vriendin het laat weet hy sien nie kans om ’n tweede Kersfees stoksielalleen in die stof en sand van Saoedi-Arabië deur te bring nie. Jan, ’n sekuriteitsbestuurder, is oorspronklik van George.

Johan Scheepers (31), sy ma en sy twee susters het in 1999 laas almal saam Kersfees gevier. En sy een sus, Mariaan Stannard, hoop van harte hul kan nou, presies tien jaar later, weer so maak. Johan is ’n bouer wat al agt jaar in Londen woon. Hy is oorspronklik van Middelburg in die Oos-Kaap.

Frans Oelofse (35), ’n produksiebestuurder in Victoria, Australië, woon reeds agt jaar daar en was nog nie een enkele keer tuis vir Kersfees nie. Martie Oelofse, sy ma, hoop van harte vanjaar sal hulle vir hom aan die Kerstafel kan verwelkom, omring deur familie. Frans is oorspronklik van Upington.

Elmarie Goosen (37), ’n kontrakbestuurder van Basingstoke, Engeland, sal graag Kersfees in Sannieshof wil deurbring saam met al haar familie. Sedert sy en haar man, Pieter, Suid-Afrika kort ná hul troue in 1998 verlaat het, het daar heelwat hier by die huis gebeur. Haar suster het ’n tweeling (woelige seuns) ryker geword en haar broer het ’n meisie gekry. Elmarie verlang na almal, maar sy kan veral nie wag om haar susterskind, Tiane, te help om haar tassie gereed te kry vir haar eerste skooljaar nie.

Rindie Swanepoel het laat weet sy is erg bekommerd oor haar sus, Jolandé Hattingh-Peeters (37), wat in September na Waskemeer in Nederland verhuis het. Rindie vertel die aanpassing in die vreemde is moeilik en ’n Kersfees in Suid-Afrika is net wat Jolandé nodig het. Dit sal die kroon span as Jolandé by die ander drie sussies kan aansluit vir ’n heerlike Kersvakansie by die see in Mosselbaai.