Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Expats > Onderhoude | Interviews > Jong expats | Young Expats

Jong expats: Anne-Mart Lemmer oor Guildford, Londen


Imke van Heerden - 2009-11-26



Anne-Mart, waar woon jy nou en is die gras wel groener daar?

Ek woon in die universiteitsdorp Guildford. Dit lê suid in Londen in die Surrey-graafskap. Omtrent die “gras groener”-vraag: soos alles in die lewe is dit relatief.

Hoekom het jy Suid-Afrika verlaat? Beplan jy om terug te kom?

Ek het Suid-Afrika verlaat om reisondervinding op te doen en, ja, ek beplan om terug huis toe te kom. Ek moet noem dat ek (net soos die gesegde sê) sterk voel dat jou tuiste is waar jou familie is.

Vertel ons bietjie meer van jou beroep.

Tans neem ek ’n breek van my sogenaamde loopbaanoorwegings. Ek het pas (2008) afgestudeer. Hier in die VK is ek al tien maande ’n persoonlike assistent vir ’n kwadrupleeg met al vier ledemate verlam. ’n Goeie verwysing hier is die Suid-Afrikaanse akteur Erik Holm. Intensiewe sorg is nodig en geen twee dae lyk dieselfde nie! Goeie krisisbestuur is ’n vereiste vir hierdie joppie!

Wat van Suid-Afrika laat jou lag en wat laat jou huil?

Hieroor kan ek boekdele skryf. Kortom: ek huil oor my land se ondemokratiese leiers; oor regstellende aksie te spoedig en halsoorkop toegepas word; oor die ewig-groeiende gaping tussen ryk en arm; en oor oningeligte Suid-Afrikaanse doemprofete.

Ek lag gereeld oor die feit dat Suid-Afrika die feit versinnebeeld dat ’n land oneindig meer is as sy regering van die dag – soos Max du Preez eenkeer in Die Burger geskryf het. ’n Land is ook sy mense, kulture, geskiedenis, klimaat, ens. So was Suid-Afrika nog altyd méér as dit of diegene wat haar skend of pootjie. O ja!

Dan huil ek spesifiek oor Julius Malema, maar lag oor Moses Masitha!

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Ek mis die bekendheid daarvan. Die gevoel van “tuiskoms” wat ek net in Suid-Afrika sal voel.

Hoe reageer mense as hulle uitvind jy is Suid-Afrikaans?

Somtyds positief, somtyds negatief. Ek het al verskeie kere gehoor hoe arrogant Suid-Afrikaners is! Maar meestal is my nasionaliteit ’n aanknopingspunt. Mense is nog steeds baie geïnteresseerd in (en skreiend oningelig oor) Suid-Afrika, eintlik oor ons hele kontinent!

Waar in die stad/land waar jy tans woon, kuier jy graag - en wat doen jy in jou vrye tyd?

Ek toer en kuier gereeld in die Engelse platteland, maar wanneer ek in Londen is, soek ek my ondersteuningspan op, dit wil sê dierbare vriende uit Suid-Afrika. Saam verken ons dan Londen, ’n land in die kleine!

Jy kan ’n Afrikaanse sanger of band nooi om daar op te tree; wie kies jy?

Laurika Rauch of Pretty Yende!

Wat is jou gunsteling-kossoort of -produk wat jy in Londen kan kry wat nie hier beskikbaar is nie?

Maklik! ’n Wye verskeidenheid dameskoene in nommers 9 en 10!

Sou jy Suid-Afrikaners aanmoedig om daar vakansie te hou?

Ja wat.

Jy is gestrand op ’n eiland. Jy het drie Suid-Afrikaanse items van die sinkende skip gered. Wat het jy gekies?

Amarula, ’n bokhaarkombers en ’n gesonde Boerseun.

Wat is die hoogtepunt van jou verblyf in die buiteland?

Die mense wat ek ontmoet het, die wyses waarop ek myself verras en die gevolglike persoonlike groei wat ek ondergaan het.

Hoe verskil die werkkultuur waar jy tans woon van dié van Suid-Afrika?

Nie eers ’n resessie kan hierdie mense van hul jaarlikse “holidaaaai” in ’n eksotiese bestemming laat afsien nie!

Enige interessante tendense waarvan jy ons wil vertel?

Dit is nie juis nuus nie, maar die aantal jong tienerma’s wat jou onderstebo loop met hul stootwaentjies op straat, is verstommend!


<< Terug na die Jong expats-blad <<