Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Aniekie ve’tel stories


Johann Schutte - 2009-11-19

Jy praat van die sêding? Koud innie woestyn? Ja, ons sê dit ma partykeer hie rond. Dis as iets jou koud maak heller oordag. Nie soos die winter jou koud maakie, nee. Dis ’n ding wat jou binneste lat stilstaan. Dan begint die koue in jou maag en kruip langs jou ruggraat op en krioel in jou hare. As jy vi jou skrik lat jou kop leeg is, lat jy staan en bewe so onnerie geel son, dan kry jy koud innie woestyn.

Jy wilit op tape sit? Nou kom ons sit. Gee vi my een van daai siegrets van jou. En jou laait. OK, sit an daai ding. Die eerste keer wat ek vi my so half en half koud geskrik het hie’ innie woestyn was met ou Bo Slim. Hy was ’n onnerwysertjie wat hie aangesit gekom het. Kaapstad, ek dink. Of Bloemfontein. Ek’s nie nou seker nie. Ek was seker so vyftien. Of was ek veertien? Okkie seker nie. Ja, die onnewyser kom toe hie aan ennie skool gee vi hom daai hys aanie annerkant vannie dorp. Hy was nog nie ’n maand hie nie, toe praat die vrouens al. Loop en kyk met lang oë en knoppiesbroek agter al wat ’n rok is an. Dink ek by myself: hy’s miskien bo slim, ma onner is hy wyser. Later het hy ook die bynaam ou Bo Slim gekry. Toe op ’n dag raak my pa siek en ek moet uit die skool uit om te gaan werk soek. Dog ek ek gaan probeer ma by ou Bo Slim. Nou’s ek ok ma skrikkerig vi dié man. Nog ma pure meisiekind. By sy hys roep ek hom by die hek. Wil ma’ nie ingaan nie. Nee, sê hy, hy’t nie eintlik werk nie. Was somme sy ou paar goedjies self. Nou wil hy nie loop nie, en ek ok nie. Maak ek ma praatjies en probeer vis oorie man. Ons staan nog so en praat, toe sien die man ’n hond, en hy roep die ding nader. Maak somme die hek ok oop. Hy’s hie op sy knieë en vryf en paai net. “Wie se hond is dit”? Vra hy. “Kyk sy mooi geel oë. Dis min dat jy dit kry.” Ek skud my kop eers so. “Nee”, sê ek, “ek weetie. Dis seke ma ’n rondloper brak”. Nee, sê die man, dit kan nie wees nie. Die hond is te goed opgepas. Ma hy vryf net en krap ore. Toe’s da nog iets fout ook met die hond. “Wat’s fout met daai poot, hmm? Wat is dit? Gee hie lat ek sien”. Nou lig hy die hond se poot en krap ’n ding uit wat seke’ so groot soos ’n vyfsentstuk moes gewees het. “Jir, kyk net die yslike doring”, sê hy en hou die ding op vi my om te sien. Toe ril ek ma en trek ’n gesig. Ma jy moet die man sien met dié hond. En hy’s net besig met die poot. “Kyk, sy kussingkies is wit”, sê hy. “Dink jy dis normaal”? Staan ek ok ma nader om te kyk. “Seker gesweer vannie doring”, sê ek toe ma. Nou gat hy wee an. “Aag Oubaas se honne. Toemaar, ek het hom gesond gedokter, hoor”. En hy vryf en krap die ore en hoe- en- ha dié hond. Nou kan ’n mens nie help om te wonner oor die man nie. Hie begint hy wee bosluise te soek oppie hond se rug. Jirre, die hond moes seke so groot soos ’n kalf gewees het. Ennie man soek net bosluise. Ek kyk die man en begin my kop skud, want da’s niks. Nee, nie bosluise nie. Da’s nie ’n hond nie. Da’s niks. Die man sit en krap aanie lug.

Ja, die storie vannie hond, ennie onnerwyser. My ou man sê mos die onnerwyser was miskien nie so mal nie. Soos dit vi hom klink kan daai die einste hond wees van ou Drinkmoer. Ek kry somme wee rillings as ek da aan dink. Die Ou Drinkmoer het sy vrou mos so geslat as hy gedrink was, en as sy nou kla goed gemoer is, dan vat hy ’n stok en gat slat die hond. Glo vreeslik aarig gewees om te sien en te hoor, want dan bulk daai hond soos ’n kalf assie man nog net naderkom met die stok. En weghol kan hy nie, want hy’s vas aan ’n kettang. Ag, gee vi my nog een van daai siegrets van jou, ek koop wee more vi ons. Dankie. Nou ja, die man was een van daai, as hy drink dan wil hy moer. Naant het die mense hom ok so begint noem, Ou Drinkmoer. Kan ok later nie mee ’n steek werk doen nie, soos die drank nou ma maak. My ou man het ma die dinge oppie plaas so goed behartig as hy kan net om dinge aanie gang te probeer hou. Hy was mos voorman vi Ou Drinkmoer, sien. Haai, ennie ou kinnertjies. Jy’t in jou lewe nog nooit so verwees gesien nie. Staan en pie somme sulke geel straaltjies langs hulle se beentjies af as iemand hard praat. Ennie vrou kan ok nie gat werk soek nie, met ha gesig so dik geslat. Ok so kop-onnerstebo geloop soos ’n vrou nou ma loop as sy geslat word. Weet jy da was dae wat ek van my eie kinnertjies se jerseys gevat het en vi daai wesies gan aantrek het. Stan hule innie middel vannie winter net in ’n rokkie of ’n kortbroekie en skipper. Daai tandjies klap agter daai blou lippies asof dit ’n tanneklap wedstryd is. Hie gaan ek alwee oorie kinners. My man het my al gevloek oor ek so aangaan oor Ou Drinkmoer se kinners. Ma ’n ma is mos ma ’n ma. En kinners is kinners, maakie saak wiesin hulle is nie. As ’n kind seer het breek my hart mos soos ’n eier. Anyways, die hond. Sê my ou man, kom Ou Drinkmoer die dag wee uit sy hys, goed gesool. Die wit van sy oë skoon geel. Sy vrou, kla geslat lê so half onner die kombuistafel en ruk. My man sê toe hy sien Ou Drinkmoer gan vi daai stok toe staan hy ma eenkant toe. Seker ok ma vinnig soos ek hom ken. Hy gaan staan by die draad en kyk wat maak die mal man. Toe die hond sien hy tel die stok op begint hy kla bulk en pis. Hy byt daai kettang lat sy tanne breek, ma Ou Drinmoer se hart is versuip. Dié dag kry Ou Drinkmoer nie kla geslat nie. Hy slat daai hond lat hy later nie mee bulk nie, hy skree, ma Ou Drinkmoer slat. Lat daai grote hond gat lê ennie man se skoene probeer lek. Toe breek daai stok. Hie gat hal die man ’n pyp. Jirre, en hy slat daai hond dood. Toe’s dit ok nie ’n jaar nie of die vrou is ok dood. Bloeding oppie brein. Ennie kinnertjies begint al slegter lyk. Gan naant nie eers mee skool nie. Vuil en vermaer, soosie Jode innie kampe op TV. Nou begint die vrouens onner mekaar praat, ennie ene sweep die anner een op. Hulle wil daai man van sy eie mirresyne gan gee ennie kinnertjies da wegkry. Hy’s soos ’n pitsweer wat moet uit! Die mans wil natuurlik niks weet nie. “Julle moet vi julle mal hou”, sê hulle soos gewoonlik, ma dis of ’n anne mal daai vrouens beetgekry het. Elke dag kom ’n anner vrou met ’n storie oor Ou Drinkmoer, of hoe sleg dit gan met die kinnertjies. Tot da op ’n dag ’n meisiekind verkrag hie aankom. Ha gesig so geslat dat sy uit ha oë nie kan sien nie. Bloed loop so tussenie beentjies af. Haai jirre. Sê sy ’n man het ha oppad huistoe in sy bakkie ingepluk en innie veld gan verkrag. “Watse kleur is daai bakkie”? “Nee auntie, hy’s blou”. Ou Drinkmoer se bakkie is mos blou. Nou begin die vrouens stap. Elkeen met ’n stok of ’n stuk pyp. Niemand sê iets nie. Die mans kyk ok ma net. So stappie vrouens na daai plaas toe. Sonner ’n plan, ma ammal weet dieselfde ding. Nou kom hulle oppie plaas en daai man skrik vi hom eers lat hy nie ’n woord uitkry nie. Sy geel oë stokstyf in sy kop. Jy kannie klere an sy lyf sien bewe. “Wat soek julle hier”? Blaf hy, ma sy stem klink nie te seker nie. Blaf gattie vandag help nie. Die vrouens begin wee soos een naderstap. En hy begin te ritereer, tot teenie kombuistafel. “Fokkof hiersô, man”, blaf hy wee. Daai moes hy nie gesê het nie. Dis al te veel vi vrouens gesê. Nou klim hulle teenie trappies op en loop innie kombuis in. Toe gil daai man en hardloop die gang af. Hulle kry vi hom innie hoofslaapkamer. Eers drom ammal net so saam en kyk vi hom. Hy probeer bel, ma lat val die phone. Toe hy afbuk slaan die eerste vrou. Toe begin ammal slat. En hulle slat en hulle slat. Lat daai grote man begint huil en smeek. Later begin hy skrou en probeer weg kruip, ma ’n vrou slat vi hom met ’n pyp deurie gesig lat die bloed ennie tanne teenie muur vassit. Gat lê hy ma gedwee en maak sy kop toe, met sy bene so opgetrek soos ’n baba. Eers toe die vrouens nie mee hulle arms kan lig nie, hou hulle op. Iemand wat die kinnertjies wat soos bang hondjies in hulle se kas probeer wegkruip en vat hulle na hulle se sominee toe. Hie kom een met ’n kan petrol. Nou vat ’n anner duiwel oor. Nog vrouens kom met kanne petrol uit die skuur en hulle maakie hele huis nat. Tsjoe, gooi een ’n die match ennie huis brand. Toe daai vlamme so hoog soosie toring van babel staan, begint hulle hanne klap en dans. Hulle dans en dans tot hulle liedjies begint sing uit die ou taal. Intussen het die mans ok da aangekom. Hulle staan eenkant met hulle oë so stokstyf in hulle se koppe. Later sê hulle dit was nie soseer wat die vrouens gedoen het nie, dit was hulle te wagte. Dit was oor wat hulle met hulle eie oë gesien het. Nie die agt of so vrouens wat gestap het na daai huis toe nie, ma ’n leerskare vrouens. Party met werksrokke, anner met ou rokke en kappies, en anner met velle aan. Party met babas oppie rug, met oë so geel soos daai vlamme self wat op hulle ma’s se rue sit en kyk vi die mans. Lank daarna lag die vrouens nog da oor en sê, “ja, julle bliksems. Onthou dit. Ons is baie”. Ma die mans hou vol, “issie grappies daai nie. Dissie reine waarheid”. In elleke geval, baie vrouens het gesê hulle kon wee rustig slaap. Hulle mans wou nie naby hulle kom nie. Wat met hulle getoordery en als. Lê daaikant vannie bed. Skytbang. Naant begint die vrouens ma self naderskuif. Wat moet jy nou maak met ’n skytbang man? Ayways, dit wassie storie van Ou Drinkmoer. Jong, toe kom da ok later ’n anner ding uit. Daai meisiekind het gelieg. Dit was ’n van-diens-af polisieman wat ha beetgekry het, en toe’s sy te bang om te sê. Toe sê sy ma vannie blou bakkie want sy’t geweet ammal sal glo van Ou Drinkmoer. Word die toe ma stilgehou, die pitsweer was mos uit. Ek, nee ek wassie da nie. Ek het gewerk daai dag. Hoekom?

Raait, wat kan ek jou vandag ve’tel? Nee, vat een van myne, dis Camel. Die een ou luxury’kie wat ek myself toelaat. Ja, ek loop vanoggend ve’by ou Soen My se winkel, toe dag ek ek kan jou miskien die storie ve’tel. Nee, jy’t hom noggie gesien nie, want hy’s lankal nie mee da nie. Wa sy winkelkie was is nou ’n pakkamer. Ou Soen en sy familietjie het hie aangekom toe Klasie, my jongste seke so sewe was, want hy was mos Sub B daai jaar. Moes gewees het, ja. Hy en ou Soen se dogter, My, was in dieselle klas. Ou Soen en My. Sy vrou se naam kon ek nooit leer uitspreek nie. Chinese. Daai tyd het niemand eers geweet wie’s Bruce Lee nie. Jy kan jou indink hoe nieskierig ons was. Drom ons ammal ma saam innie straat voorie winkelkie daai dag toe hy oopmaak. Ou Soen en sy vrou smile net so lat daai ogies eintlik toetrek, en dan buig-buig hulle so vi ons. Smile ons ammal ma trug en buig-buig agterna. Sê iemand, nee hulle is nou die geel mense. Ek het dan nog altyd gedink ons issie geel mense. Nou dan’s ons seke familie, so vêrlangs. Toe hulle kla uitgepak het gan staan hulle by ’n tafeltjie met vrugte en sulke pakke geel papier. Nou gooi hulle daai geel papiere innie vuur en brand sukke rookstokkies. Hulle druk daai rookstokkies so teen hulle se voorkoppe en buig-buig wee so. Ons buig-buig ma agterna. Toe dié kla is, waai hulle vi ons om in te kom, ma ammal staan. Ou Soen en sy vrou waai asof hulle iets wil weg waai. “Nee, jirre, ek’s te nieskierig”, sê ek en stap in. Toe ek gan, gan ammal. Por-por hulle my nog aan van agter af ok. Is daai winkelkie nou vol. Die vreemdste ou goetertjies wat hulle da uitgepak het; rooi drakies en vet goue mannetjies wat net so lekker smile soos ou Soen. Iemand Sê die vet mannetjie se naam is nou eintlik, Boeta. Amal kyk en vat en maak grappe, ma niemand koop iets ‘ie, want da’s niks want nou juis bruikbaar genoem kan word nie, jy weet. So een-een begint die mense wee uitloop, tot net ek en Klasie oorbly. Nou sien ek die Chinese vrou se gesig begint val toe niemand iets koop nie. Voel ek toe sleg vi die mense. Hulle eerste dag van besigheid en niemand koop iets nie. Toe net ek en Klasie oor is, gan sit daai vrou en skud ha kop en mompel in ha taal. Ou Soen smile nog een strook deur. Besluit ek nee, ek kan nie die mense so los nie. Hoevil vi Boeta? Nou beduie hy met die hande en probeer ’n geselsie aanknoop, ma hy kan nie twee woorde saamsit in Afrikaans of Engels nie. Hie beduie hy ma wee en dit lyk of hy vi Boeta smeek om op te hou eet soos hy met biddende hande na hom wys. Hy beduie woes vi sy dogter om te kom help. Sy kom so hangkoppie nader gestap. “Put house, bling happiness”, sê sy met ha onnerstebo koppie. Ok, mens kan altyd doen met ’n bietjie happiness innie huis. Ek vroetel in my bra vi ’n paar rand en koop vi Boeta. Toe wil Soen eers sy familie aan my voorstel. Hy is “Soen” en sy dogter is “My-My’. Sy vrou se naam het ek in elk geval nooit leer uitspreek nie. My in elk geval ve’erg vi ha. Gee sy my ’n kyk toe ek die geld uithaal, mens sou sweer dis honnestront wat ek da bêre. Ek sluk ma my ve’erg en maak of ekkit nie sien nie. “I’m Aniekie and this is my son, Klasie”, sê ek. Ou Soen frons so na Klasie toe en skud sy kop. Lat hy my toe dink an daai hondjies wat jy agter innie kar sit dan skud hulle hulle se koppies so, met die tongetjies wat so uithang. Nou beduie ek ma, “Aniekie, Klasie. Aniekie, Klasie”. En Ou Soen bly sy kop skud, ma smile een strook deur. Ek’s skoon moeg toe ek da uit loop.

Soosie tyd ve’by gan sit Ou Soen en sy gesinnetjie ma da innie winkel. Dag in en dag uit sit hulle so. Ek wonner party dae hoe hulle oorleef het, want behalwe vi die krêkkers wat die laaities gekoop het, het ek nooit juis iemand in daai winkelkie sien ingaan nie. Ma op ’n dag verloor sy vrou ha kop. Sy gat sit innie middel vannie grondpad voorie winkelkie en skrou soos ’n jakkals wat maat soek. Sy skud ha kop en trek ha hare uit en brabbel in ha taal, en tussendeur bly sy skrou soos ’n jakkals, “taujên-aaa!”, en dan wee iets wat klink soos, “nanvy-haaaaa!”. Oor en oor skrou sy so. En Ou Soen en sy dogter dans hie al om ha, lyk soos bere wat op musiek dans. Naant staanie hele dorp da, ma niemand doen iets nie. Hoe help jy ’n Chinese vrou wat ha kop veloor het? Nou dans ammal ma om ha en praat gelyk, tot Ou Soen en sy dogter ha naant da weg het. Ha nooit wee gesien nie. As mens uitvra, sê die klein My net, “she back Taiwan”. Toesit nou net Soen en My. Haai jirre, die ou tweetjies was onafskeidbaar van da af. Wa Ou Soen gan, volg klein My soos ’n hondjie agtena, met ha onnerstebo koppie. Begint die mense naant praat van Ou Soen my. Man, later raak sy ok groot en begint rooi hakskeentjies wys. Ma skaam! Toe die anne meisiekinners van ha ouderdom begin vrouelyf kry, lykit by ha soos twee ertjies onner ’n mat. Pal trui gedra met ha armpies so toegevou voor ha. Ma loer het sy ok ma geloer, so onnerie hangkoppie deur. Ennie seuns het net so teruggeloer. Tot sy en Hendrikkie begint erg raak het oor mekaar. Dié mannetjie was op sy manier net so vreemd. Somme vlou geval as hy bloed sien. Kon nooit ’n hoener kop-af of ’n skaap keelaf sny nie. Sy pa was ’n boer, en ’n boer duld mos nie vreemdgeit nie. Nou dwing hy daai kind om te slag. Die kind kots, ennie kind pass uit, ma sy pa dwing vi hom. So asof die kind nou nie sal man word as hy nie kan doodmaak nie. Nou’s die mannietjie net so blerrie skaam. Somme begint hakkel as iemand lyk of hy wil kwaad word.Vind dié vreemde potjie later ok ’n vreemde dekseltjie in dié My. Nou kuier die tweetjies so skaam-skaam. Ons sal seke nooit weet wie’t die eerste woord gesê nie, want daai twee langs mekaar was soos ’n klip en ’n kluit langs mekaar. Vreemd! Ma nou kan mens okkie help jammer voel vi hulle nie. Anyways, nou sien ons ma hoe ontmoet hulle innie middae en dra vi mekaar eetgoedjies an. Dan sit sit hulle onner die groot boom da langs die skoenwinkel en gesels en giggel vi mekaar, met hulle onnerstebo koppies. Tot Ou Soen hulle eendag vang. Hy klap daai My agterie kop allie pad trug winkelkie toe. En da moet sy sit. Nou’s die natuur ok ma die natuur, jong. En hie wys daai meisiekind ha wille kant; as Ou Soen sy rug draai, hardloop daai meisiekind lat daai swart hare van ha so reguit soos ’n stuk nag hie agter ha aanstroom, ommie hoeke na Hendrikkie toe.

Op ’n dag is My weg. Nee, sê Soen, “she back Taiwan”. Seke trug na ha ma toe, dink ons. En Hendrikkie se hart is stukkend. Hy glo nie sy’s weg nie, en niks wat ’n mens sê help nie. Hy bly so rondhang by Ou Soen se winkelkie. En as die man hystoe gan, dan agtervolg Hendrik hom. Niks wat ons sê maak ’n verskil nie, Hendrik glo nie sy’s weg nie. Ok nie hoe lank nie, toe sluit Ou Soen sy winkelkie en hy’s hie weg. Los sy huis net so. Besluit die kerk om sy goed in storage te sit sodat hulle wee die hys kan uitverhuur. Skrik daai grote mans wat die goed moes laai vi hulle lat hulle so staan en bewe daai dag. Toe hulle die vrieskas oopmaak sit My en ha ma da binne met hulle koppe op hulle knieë, daai geel velletjies blou ys.

Nee kyk, vedag is ek somme die hel in. Ek’s regtig kwaad weet jy. Die storie lê die hele dorp vol, Aniekie ve’tel stories. In hierie dorp weet ammal mos alles van ammal af. Hulle’t nou kwansuis gesien Aniekie praat met die vreemdeling. En hié praat jy nie uit nie. Ek, Aniekie sal praat met wie ek wil, en ek sal allie stories van hierrie dorp uitlap as ek wil. Dis hoog tyd lat die dinge uitkom. Hierrie mense glo mos in spoke, jong. En ek glo mossie in sukke goed‘ie. Hoe dit ookal sy, ek willie die hele dorp teen my draai nie. So, vedag gan ma ons laaste storie wees. Die ‘koud innie woestyn’ sêding het al vroeër begin. Voor my tyd. Want kyk, hie was ’n storie nie net ’n storie nie. Hy kom van iewers af, en hy gat iewers heen. So, as jy vir hom hoor, moet jy ma weet … In daai einste hys wat die skool oorgekoop het waarin Ou Bo Slim gebly het, en wat nou leegstaan, het da jare gelede ’n familie gebly. Ou Snormor en sy vrou. Mense het hom so genoem omlat hy so agter sy snor geloop en mor het vi als. Hulle’t nooit kinners gehad nie, of so het Snormor vi ammal gesê. Eintlik het hulle een dogter gehad. Een van daai wegsteek kinnertjies. Daai dae het mense mos sukke kinners weggesteek as da iets fout was met hulle. Nou, ek weetie wat fout was met daai kind ‘ie, ma hulle’t ha so weggesteek. Glo dag en nag in daai warm solder. Met ’n bed en pot. Die arme kind het nooit die res vannie hys gesien nie. En so ’n solder kan vi warm word innie woestyn. Dit voel jou jy bak in ’n oond. Ok ma wreed gewees vanie mense in daai tyd, hê? Niemand het glo ooit daai kind te siene gekry nie, behalwe deurie solder venster, wat so vuil gevat was aanie binnekant dit kon net sowel nie ’n venster gewees het nie. Nou sien ’n mens ma so skynsel van ’n mens da bo. Ma niemand kon iets sê nie, want Ou Snormor sweer hoog en laag da’s niks da bo nie, net rotte. Die een dag issit rotte, die anner dag isit ’n kat. Wat gan ’n kat nou da bo by die venster soek heeldag. Ma mense wilie aanstoot gee nie, dan sê hulle ma, “o”. Dit terwyl enige aap kan hoor dis ’n kind wat so hammer en skree da bo. Partyhet selfs ve’tel gehad hulle kon sien sy dra so ’n geel rokkie. Assie kuiergaste nou koebaai sê innie voorportaal, dan hoor hulle da van bo af, “saam, saam”! dan maak hulle of hulle nie gehoor het nie, en Ou Snormor begint te mor hie agter sy snor van die verdomde kat. Weet jy ek dink partykeer dis omlat ammal skuld gehad het an daai kind se dood lat hulle begint goeters sien op hierie dorp. Natuurlik het ammal skuld gehad. Hulle weet die kind is da bo en hulle doen niks. Weet jy, as iemand ’n kind seermaak … jirre, ek sal vreeslike dinge doen. Ma wag, wa was ek nou wee met my storie? Ja, dan, “saam, saam”, hoor hulle die kind kla, en dan maak hule of hulle niks hoor nie. As hulle buite by die kar kom, dan loer hulle ma so op na die solder wa jy net ’n skynsel van ’n mens kan sien. En as hulle sien Ou Snormor kyk vi hulle, dan sien hulle nou kwansuis innie lug. Dan mor-mor hy wee so onner sy besemsnor.

Een aand reën dit katte en honne en Ou Snormor en sy vrou is oppie pad. Dié lang stuk pad wat hie veby die dorp loop. Hy’s nou geteer, ma darie jare was hy grondpad. En asit reën word hy ’n pappery. En hie verongeluk hulle. Ou snormor se vrou is papgedruk wa sy onnerie kae beland het, en Ou Snormor se ribbes is in sy longe ingedruk. Dood versmoor aan sy eie bloed. Man, en dis seke ’n week voor daai pad wee begaanbaar is en hulle ontdek word. Jy kan dink hoe’t daai twee al gestink. Die jakkalse en kraaie het al begint vreet an hulle. Altwee Ou Snormor se oë is uitgepik, ennie maaiers het gekrioel da in. Sy vrou se hele hand is afgevreet wa dit onnerie kar uitgesteek het. Ma nou sê ek, dit was alles straf en tekens van bo. Man, die begrafnis het gekom en gegaan, en Ou Snormor se familie is gelatweet vanie hys. Nooit eers gekom nie. Soos Ou Snormor hom daai laaste keer gesluit het, so het hy gebly staan. Nou die grieselrige deel vanie storie. Toe hulle na meer as ’n jaar daai hys vi die skool opkoop, kry hulle mos daai geraamtetjie da bo innie solder. Haai jirre, weet jy, daai naeltjies het so vasgesit innie hout vanie deur soos sy gekrap het om uit te kom. Dink ek toe, toe ek die storie hoor van my oorle ma, dis omlat die mense so hard gewerk het om te vergeet allie jare, dat dit so maklik was om te vergeet toe sy hulle die nodigste gehad het. Ek weet hoe maklik so iets kan gebeur. Ek het mos my eerste so dood gelê.

Nee man, ek’s bly jy’t kom koebaai sê. Sit eers dan rook ons nog enetjie. Vat hie by my. Camel. Da’s niks lekkerder as camel nie. Om so te sit en rook terwyl jy uitkyk oorie woestyn, jou kop hol somme soos ’n los hond en snuif wa hy wil. Kom ek ve’tel jou nog ’n storie. So ’n laaste enetjie virie pad. Het jy jou typie? Man, die hys het so bly leegstaan, tot ammal wat vanie storie geweet afgesterf was. Tot Ou Bo Slim hie aangekom het, en alles wee wakker gemaak het. Mense het eers gedink hy’s mal, want wa hy ookal gaan, loop die hond kamtig saam. En dan praat hy met dié hond. Partykeer as hy by mense aant hys is of in ’n winkel, dan ‘siejy’ hy die hond. “Moenie daar pis nie”, of “bly buite”! skrou hy somme vi die verbeeldige hond. Of hy jaag hom uit sy klas met ’n skop. Dan gooi hy somme die bordborsel agter hom an. Dan lag die kinners vi jou, jong. Ma hy was ’n goeie onnerwyser, en behalwe vi die hond was hy heeltemal normaal. Dis nou as jy nie byreken van die rokke wat hy nie kon uitlos nie. Jirr, die man kon ’n rok nie uitlos nie. En vly! Somme so innie openbaar, dan vat hy jou hand en sê vi jou ’n gedig op oor hoe mooi jy is. Dan knipoog hy vi jou en stap verder. So jy kan verstaan dat die vrouens hom ma oorgesien het vi die hond-malligheid. Die mans was ’n anner storie, ma die vrouens het bly opkom vi hom, oorlat hy so goeie onnerwyser was. Tot da ’n storie die rondte begin doen dat hy weghardloop van iets. En toe’s dit skielik elke week ’n anner storie. Hy’t sy vrou vermoor. Hy’t ontsnap iewers. Jy weet mos hoe gaan dit met stories, as iets of iemand moet uitgewerk word, dan gebruik dit stories. Ennie stories sal aanhou tot ’n ding gebeur. So begint die stories naant hand-uitruk. Nee, nou lol hy met die meisiekinners. En so saam met dié storie begint die mense die hond sien. Word dié nou ’n spookhond. En oral wa Ou Bo Slim glo sy skoene uitskop vi die aand, da word die hond gesien. Eers isit ’n brak. Toe een vannie veghonne wat die kinners so byt oppie TV, later begint die hond vorm aanneem. Nee, hy’s só groot, ampe so groot soos ’n kalf. Nee, hy’s ligbruin met strepe. En met net so moerse kop. Met geel oë. Haai jirre, die arme honne wat vrekgemaak is omlat hulle aangesien is vi die spookhond. Enigiets van ’n wit poedel tot ’n polisiehond. Da was ampe groot dinge gewees oor daai een. Nou begint die mense bang raak want die spookhond is somme twee plekke gelyk. En Ou Bo Slim kyk die hele spulletjie so, en krap sy hond se ore. Dinge begint toe lelik raak; Ou Soois Slangstert moer sy vrou tot binne innie hospitaal oor ’n rondloper brak wat sy asblikke omgestamp het. Vreemd hoe ’n storie kan weghol met mense, tot dit later nie meer ’n storie is nie, hê? Nou begint elke meisiekind wat in ’n anner tyd is Ou Bo Slim die skuld gee. Hie by derde een, nogal die dominee se kind, begint die mense vlamvat. Een nag spring ’n paar boere in hulle bakkies en ry na die onnerwyser se hys toe. Toe hulle da kom sien hulle ’n meisiekind bo by die soldervenster wat lyk of sy skree om uit te kom. Hulle storm daai hys en skop somme die deur oop en gryp die verskrikte onnerwyser. Hulle ruk en pluk vi hom lat sy tanne klap, ma hy weet niks vanie meisiekind oppie solder nie. Plaas lat hulle eers gan loop kyk, ma nee, hulle slat daai onnerwysertjie tot by die duiwel se voordeur, en toe help hulle hom oorie drumpel. En toe hulle agterna oppie solder gan kyk toe sien hulle natuurlik niks. Da was ’n lang hofsaak, ma ammal staan saam. Moes tsotsies gewees het, want ammal het die onerwyser lief gehad soos ’n broer. En ewe skielik isie honne oppie dorp wee net honne. Sien jy wat sê ek van stories? Dis hoekom ek altyd vi mense sê: los julle se stories, die goed jaag spoke op.