Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

Julie & Julia hoog aan te beveel


Suzette Kotzé-Myburgh - 2009-11-19

Julie & Julia
Spelers: Meryl Streep, Amy Adams, Stanley Tucci, Chris Messina 
Regisseur: Nora Ephron

 

Danksy die blog-fenomeen is die fliekwêreld ’n heerlike kosfliek ryker – en danksy die lekkerte van eet raak fliekkykers nie moeg vir kosflieks nie!
         
Hierdie fliek is gegrond op die werklike lewe van twee vroue: die beroemde Amerikaanse kok, skrywer en TV-persoonlikheid Julia Child (Meryl Streep), en Julie Powell (Amy Adams), ’n doodgewone vrou wat in ’n vaal woonstel in Queens, New York woon en elke dag in ’n hokkie in ’n oopplan-kantoor haar ondankbare dagtaak moet uitvoer.
 
Julie is lief vir kos maak, maar sy is geensins ’n groot kok nie. Soos elke aspirant-middelklas-Amerikaner het sy grootgeword in ’n huis met Mastering the art of French cooking deur Julia Child. Toe die Groot Drie – daardie (vir vroue) gevreesde dertigste verjaardag – voorlê, word Julie oorval deur ’n ligte eksistensiële krisis. Haar vriendinne uit haar studentedae is obseen ryk en onhoudbaar suksesvol, en sy, die een van wie almal verwag het dat sy ’n belangrike skrywer sou word, het net ’n halwe manuskrip om te wys (dit wil sê: niks). Want sien, haar probleem is dat sy iets aanpak, maar dit dan nie deurvoer nie.

Desperaat om iets indrukwekkends op haar CV te kry besluit sy op Projek Kook: in die bestek van 365 dae moet sy die hele Julia Child-kookboek van 524 resepte deurwerk, en sy mag nie één oorslaan nie. Op haar man Eric (Chris Messina) se aanbeveling begin sy ’n daaglikse blog daaroor skryf – wat sy seker is niemand sal lees nie; maar mettertyd word sy verkeerd bewys.

Parallel met Julie se storie word die lewe van Julia Child uitgebeeld: hoe sy saam met haar diplomaatman Paul (Stanley Tucci) in 1949 in Parys aankom en weldra begin lesse neem by die Cordon Bleu-kookskool. Die professionele sjefs (almal mans) wat saam met haar in die klas is, kyk aanvanklik teen hulle krom Franse neuse af na haar (of eintlik op, want sy is allesbehalwe petite), maar met haar “vreesloosheid” verdien sy gou haar plek onder hulle.
         
Regisseur Nora Ephron klits hierdie uiteenlopende bestanddele saam tot ’n veerligte soufflé, en die kyker sit behoorlik terug en lek lippe af. Elk van die vier hoofakteurs is perfek in hul rol, maar dis uiteraard Meryl Streep wat die kollig steel. Haar Julia Child is groter as lewensgroot. Sy trompetter haar sinne uit met ’n stem wat klink soos ’n mishoring en hou die aandag in elke toneel.
         
Al wat ek nog kan sê, is: Gaan geniet hierdie fliek en … bon appétit!
         
’n Naskrif: In dieselfde week wat ek Julie & Julia gaan kyk het, het ek die pragtige boek Waar vye nog soet is – Van die werf na die spens en die tafel deur Emilia le Roux en François Smuts as verjaardaggeskenk gekry, en hulle lys Julia Child as ’n kosinvloed. Ek lees dit nie soseer vir die resepte nie (dis my goeie eggenoot se afdeling), maar vir die tuinmaakgedeelte en die nostalgie na die plaaslewe. Hoog aan te beveel.