Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Teaterwesens – skrapnel van ’n beter wêreld?


Albert Maritz - 2009-11-18

We hire a man – not his history. (Henry Ford)

 

Toe ek klein was, het Pieter Fourie, as baas van KRUIK, vir Dieter Reible van Duitsland ingevoer om stukke se regie waar te neem.

Daar was die ondersteuners en die anti-Reibles. Sy stukke was skouspelagtig en ryk aan uitdrukking. Bloed sou in die Nico Malan-teater oor ’n skuins verhoog stroom, Apollo het in die sybeligtingsluik verskyn – doer hoog in die lug, sy six-pack liggaam goud geverf.  

Aan Reible se voete was die hoogs intellektuele teatergenie Marthinus Basson.

Reible is intussen, jare later, via TRUK terug Duitsland toe; Marthinus Basson is ons uitvoerende reus van die teater – dalk die enigste – en in sy voetspore is ’n baie jong regisseur, Jaco Bouwer.

Daar word soms na die verskriklik omvattende werk van die “name” verwys as “eksperimentele teater”. Of dit reg of verkeerd is, weet ek nie, maar dat dit ’n effek het, is seker. Eerstens is dit ’n seker teken van invloede van Europa. So dit wys ons sit nie alleen en verstote hier ver onder aan die puntjie van Afrika nie. Ons bly by. Ons beskik oor intellektuele. En ons druk ons, alhoewel omstrede, sterk uit.

Maar nog ’n waarheid is dat sulke werk soms sukkel om die hedendaagse gehoor te boei. Die dag na Jaco Bouwer se Skrapnel by Aardklop bekroon is, het die gehoor seker nie eens ’n derde van die redelik klein saal gevul nie. ’n Tendens wat ek kon sweer ek by TRUK (1984/5) sien, is dat gehoorbywoning (sedert die vroeë werk van Reible) sterk getaan het.

Die redes daarvoor is dalk dat die tekste van die stukke lank en ontoeganklik is en die abstrakte omgaan daarmee nie help om dit meer toeganklik te maak nie. Dat die werk kuns is, is nie debatteerbaar nie. Maar studente van Anna Neethling-Pohl beweer sy het gesê: “As ’n stuk jou nie aangryp nie, nie jou emosies raak nie – was dit dan die moeite werd om dit op te voer?” Maar wat dan van die “twist in the tale” – die skrapnel-onder-die-vel-oomblik?

Uit eie ervaring weet ek hoe emosioneel ryk Breytenbach se Die toneelstuk aangebied is. Dit het gehandel oor die magsvergryp – ook nou van die nuwe regering. En dit was nogal na aan die bas van die gehore. Maar nie almal in die gehoor het dit geweet nie; nie eens na die amper drie ure se sit nie.

So as jy nie die gehore hulle Ryk weduwee gee nie, en Faan se trein, en die ander werke tussenin, met eksperimentele aard, maar toeganklik en verstaanbaar, dan sal jy stelselmatig die gehoor vervreem.

Gehoor vervreem? Watter gehoor? Lank leef die feeste. Dáár is darem nog ’n gehoor.   

Maar ons is nogal ’n gefragmenteerde wêreld, nè! Ek het lankal gedink Jaco Bouwer sou baie suksesvol kon wees in die advertensiewese, weens sy flair vir aweregse ontwerp; nes byvoorbeeld Marthinus Basson ’n ongelooflike stem en leesvernuf het – waarmee hy baie geld as "performer" uit advertensies behoort te maak. Maar weet die advertensiewese al die bogenoemde? Nee. En as hulle het, sou hulle die visie gehad het om een van die twee mense in hul velde in te trek? Soos Regardt eenkeer vir my gesê het: ouens wat flieks maak, kyk flieks. Nou ja, en ouens wat rugby speel, speel en praat rugby … dis net ons verhoogouens wat iets van alles weet en doen. Upstream. Die advertensiewese soveel armer. Die teaterwerker soveel armer. Die gemeenskap soveel armer. Dit kom nou daarvan om jou soos Leonardo da Vinci te gedra.

Met die 5de Prestige-aand by die Hoërskool Durbanville was ’n handjie vol briljante matriekakteurs en -aktrises in aksie. Ander was weer in 18 – waaroor die stofstormpie by Aardklop was. Mag ons Anushka Life, Lea Vivier, Karli Heine, JC van Schalkwyk, Pieter-Paul Robbertse en ’n paar ander weer spoedig op ’n verhoog sien.

Laasgenoemde gaan medies studeer, en ’n paar drama. Dis jammer ware kunstenaars suig so aan die agterspeen. Dis omdat owerhede, die man op straat en die media die ou wat op ’n verhoog toneelspeel, so ongenadig sleg verstaan. Dis ’n wanopvatting wat ek hoop vir komende generasies sal verbeter. “Talent” (die amperse vloekwoord vir ’n kunstenaar in die Suid-Afrikaanse internasionale filmwêreld) is die Danie Gerbers van die wêreld. Dis jammer dat latere generasies eers die waarde van die uitvoerende kunstenaar op sy mees basiese sal waardeer: die rol wat hy speel; die waarde wat hy toevoeg (ook in ander media); die "odds" waarteen hy werk; die geloof en vasbyt; die geduld, empatie, hart; die gereelde vernedering, selfs deur juniors – seker maar weens onkunde oor die kern van die uitvoerende kunste.

Het Breytenbach in bitterder dae gepraat van kak op grafte? Nou dit het jy nou daarvan. Vanjaar se ATKV Beste Akteur vir Tienertoneel 2009 sal oor ’n paar jaar lewens red in plaas van siele. Net so sal ander soos hy tydens hul universiteitstudies nog fantastiese teater skep – maar uiteindelik dokter, ingenieur, onnie word.

Lank leef dié wat die ywer van hul jeug toespits … in die void … op die kunste: Marthinus, Jaco, en Dieter Reible. Wanneer julle ouer is, en traer is van tred (is dit nie ook Breytenbach nie?), mag die positiewe dade van julle jeug julle in die vorm van menige seëninge beloon. Mag deel van Agliotti en die res wat uit bitterheid op ons reeds-gegrawe grafte kak, se “deal” wees: drie ure in ’n Marthinus stuk oor reg, geregtigheid en suiwer logika.

 

I shall tell you a great secret, my friend. Do not wait for the last judgment, it takes place every day. (Albert Camus)