Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

Michelangelo in Afrikaans (3)


Hennie Aucamp - 2009-11-18

“’n Madrigaal vir ’n edelvrou”

Die vertaler Anthony Mortimer sê in sy inleiding tot Michelangelo: Poems and Letters, Penguin Classics, 2007, dat Michelangelo oorwegend sonnette en madrigale geskryf het, soms ook kwatryne. Hy omskryf die madrigaal as “a relatively free-rhyming arrangement of long and short lines (eleven and seven syllables)”. Hiermee, sê Mortimer, het Michelangelo nie moeite gehad nie, anders as met die streng vorm van die sonnet. Die moeilike passasies by Michelangelo, sê hy verder, het dikwels met digterlike ontoereikendheid te maak, en dis hoekom daar soveel fragmente van gedigte by Michelangelo is. Mortimer waarsku: “Whatever the case with his sculpture, there is little in the poetry to justify the idea that Michelangelo cultivated anything like an aesthetics of the unfinished” (p xx). Hy het doodgewoon opgehou met ’n vers as hy nie verder daarmee kon kom nie, en hieruit is natuurlik lering te haal, ook deur eietydse digters.

Nou is dit juis ’n madrigaal, gerig aan die edelvrou Vittoria Colonna, wat op bladsy 557 van Karel Schoeman se Titaan verskyn. Die vertaler word nêrens vermeld nie, wat laat vermoed dat Schoeman self die vertaler kan wees. Het die vertaler uit die brontaal (Italiaans) vertaal, of uit ander tale? Feit is dat dié vertaling professioneel, selfs elegant, oorkom. Hier volg gemelde madrigaal:

Soos, dame, mens deur weg te neem,
’n lewende figuur
in harde en alpynse klip kan plaas
wat aangroei met die afneem van die klip,
net so ook elke goeie daad
van die siel wat menslik sidder, deur
die oormaat van sy eie vlees bedek,
’n ruwe en harde kors.
Slegs jy kan dit vanuit
my uiterlike kors te voorskyn haal:
want ek besit geen wil nie en geen krag.

Schoeman (?) se vertaling kan die toets van vergelykings deurstaan. Hier volg ’n Nederlandse vertaling deur HA Enno van Gelder in sy studie Michelangelo: verbeelder van Christelijk humanisme (1957, Daamen: Bert Bakker, Ooievaarreeks):

Zoals om haar er uit te lichten, Vrouwe, er is
In het harde alpenblok
Een levende figuur,
Die dáár meest wast, waar de steen meest dunner wordt.
Zo wordt een of andere daad
Goed voor de ziel – zij echter siddert –
Bedekt door het oppervlak van het eigen vlees
Als door een onbewerkte, stugge en harde schors.
Gij alleen echter kunt uit mijn uitwendig deel
Datgene vrijmaken
Waartoe in mij uit mijzelf noch de wil noch de kracht is.

Die Schoeman-weergawe is toegankliker, alhoewel ek die poëtiese vonds “alpenblok” van Van Gelder mis. Aan die ander kant is Schoeman weer nader aan die oorspronklike “In pietra alpestra e dura“ wat by Schoeman word “in harde en alpynse klip …”

Die madrigaal van Vittoria Colonna is ’n kunsteoretiese gedig wat ook vir Afrikaans implikasies inhou: dink aan Engel uit die klip van DJ Opperman.

Die kunsteoretiese gedig by Michelangelo het dikwels ’n dubbele boom. Michelangelo haal die stellinggedeelte van sy vers dikwels uit sy eie kunservaring, soos die “verloskundige” gedagte in die aangehaalde madrigaal, wat ten nouste met sy eie beeldhoukundige praktyk skakel. Daar is ook gedigte wat na vuur en smeltoonde verwys.

Vir my is die stellinggedeelte van Michelangelo se kunsteoretiese gedigte dikwels die interessantste, want die toepassingsgedeelte is soms ’n bietjie stram, soos waar, weer eens in die aangehaalde madrigaal, Vittoria Colonna gesien word as die verloskundige wat deur die harde kors van die spreker dring en sy siel vrymaak. Die toepassing by Michelangelo is sterk deur die neoplatonisme en godsdiens van sy tyd beïnvloed.

Die madrigaal wat deur Schoeman vertaal is, is nr 152 in Mortimer se vertaling. Madrigaal 151 werk eweneens met die “verloskundige” teorie, en het ’n baie sterk aanloop, wat só klink by Mortimer:

The best of artists can no concept find
that is not in a single block of stone,
confined by the excess; to that alone
attains the hand obedient to the mind.

Vir my is die Van Gelder-vertaling van dieselfde reëls meer soepel:

De beste kunstenaar heeft geen concept,
Dat een marmerblok niet onder zijn oppervlak
Verbergt, en alleen die hand,
Die aan het intellect gehoorzaamt, dringt er toe door.

Beide Van Gelder en Mortimer twyfel of Vittoria Colonna ooit die aangehaalde opdragvers aan haar ontvang het. By Schoeman is daar, in sy biografiese roman Titaan, geen twyfel nie – of het die skeppende verbeelding hier oorgeneem? Michelangelo en Vittoria Colonna bespreek selfs sy opdragvers. Die markiesin sê byvoorbeeld: “[J]ou verse is nie maklik en dis ook nie altyd maklik om jou gedagtegang te volg nie … maar dis die moeite werd om te probeer en in die poging te volhard. In jou verse sê jy dínge, Michelangelo, waar ander mense wóórde gebruik.”

Met Vittoria Colonna se raaiselagtige evaluasie kan afgesluit word. Dank aan Karel Schoeman wat ’n beroemde literêr-teoretiese gedig aan Afrikaans besorg het.



<< Terug na die eerste deel van hierdie boekartikel <<

<< Terug na die tweede deel van hierdie boekartikel <<