Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Gazelle: undercover blieng-blieng-springbok uit die Kaapse Smeltpotjie


Adriaan Brand - 2009-11-17

Kyk hie’, ek gat hierie ene net so wyd soos die Moederstad vat.

Eerstens (en dié moet ek dadelik van my hart afkry): Vader Jakob, wat ’n bland musikale dekade was hierdie nie!

Tweedens (en dankie, Boerneef ...): Mensag ons! Hoe moeilik was dit nie in die vorige dekade se River Club-era om die bleek vanieljeprofiel van die live/dance Synergy melkskommel genoegsaam gemeng te kry met sjokolade- en karamelgeure nie (het enigiemand hier ’n inleiding tot die huidige Kaapse in vogue etnoterminologie nodig?); en, for that matter, om in die 90’s in Suid-Afrika lewende musikante op elektroniese beats te sien speel! ... Maar terug by die punt …

Donderdagaand 12 November 2009 het ek Kaapstad deur die queerste plastiekbrille in ’n goeie dekade bekyk. A veritable breath of fresh sea air; des te meer so om op pad na die EJ von Lyric & Gazelle gig in Zula’s, Langstraat vinnig my date te moet brief oor wat hy daar sou sien ... Verduidelik jy vir ’n ex-Afro-gospelsanger van Harare, wie hom se binneste self tans vind op die handsak-skoffelvloere van Crew Bar, wat is local grassroots retro four-to-the-floor live dub bass house fusion met altrock-geure?!

  EJ von Lyric

 

Mens begin deur te praat oor eetgoed, figure ek uit. Kaapstad se mense, waag ek, meng al lankal ammal hulle se alles. Hulle meng hulle se kos, ja, hulle se musiekstyle, tale, en dank Vader deesdae grootskaals hulle se tafelgeselskap ook. En hulle se dansgehore!

Hoe het dit gebeur? I personally blame it on the hip-hop-boogie. Die eerste helfte van die naughties was een massaskaal- 80’s rap revival. Natuurlik kon dit nie die aandagspan van ’n hele generasie gevange hou soos die aardbewings wat house, drum+bass en trance in die 90’s veroorsaak het nie. Die gevolg: DJ sets raak toe meer eklekties as ooit, en die voorheen gesegregeerde rassegroepe word aan mekaar se subkulture blootgestel. En musikante kry genoeg tyd om (uit pure verveeldheid?) nuwe tegnologie in te studeer en saam met DJ’s te eksperimenteer. En dankie tog, verby is die dae toe so baie van die Kaap se suksesvolle bands uitsluitlik uit wit, bruin of swart musikante bestaan het.

Ons neefs boer inklusief voort: die saailinge van die vorige dekades kruisbestuif mekaar op skaamteloos permissiewe wyses. Kokke en komponiste vermeng bestaande resepte. Daar’s baie generiese geraas, definisielose pop, en smake wat in die grysheid op die tong verdwyn. Hier en daar staan iets uit, en mens weet nie dadelik hoekom nie, ma’ jy lááik dit. Dames, here, hermafrodiete, cross-dressers en uitbundige homoseksuele, ontmoet vir Gazelle! Die groep wat (ánders as die Springbok Nude Girls) dit kon regkry om ons mees berugte nasionale ikoon te kaap sónder dat hulle skuldgevoelige Australiërs aan apartheid laat dink.

  Gazelle

 

 

Resep

  • Masseer die wildsvleis, een blonde boerseun (letterlik, ’n boer se seun uit Limpopo) met sy eie briljante idee (hy noem dit “Lim-Pop”). Sny by: sy verleidelike stem, blinkgoedkoop dress sense (sy uitrustingstukke kos hom rondom R5), ’n waaragtige style award, en skuldgevoel teenoor sy “pappa” omdat hy die plaas moes verlaat. Sien, hy “mis die disco-ligte te veel”: die sensasionele tog verfrissend ontspanne Xander Ferreira op lead vox en preset mixing desk delay (verby is die dae van lead singers wat op die vloer peuter met outboard hardware en knoppies!).
  • Behou die elektroniese ruggraat van beats, anthemic analog synth stabs en eteriese Moog pads: die ewig gemaskerde Nick Matthews, aka DJ Invisible, kovervaardiger en die werklike knoppiesman hier. Daar het jy die essensie van die bok.
  • Versterk die electro ruggraatstruktuur akoesties deur ’n geurige os-stertjie daaraan vas te bind: die supersensitiewe, rotssoliede live drummer Sean Otim, pan-faced on-stage Chinees-Suid-Afrikaner en betroubare backstage-grapjas.
  • Onderstreep hierdie ongewone uitgangspunt met organies diepgegroeide live Afro-dub: omring die bok met basspeler Grenville Williams (van eertydse Kaapse rockgroep Nine). Sien hom as aartappels as jy moet: lewende energiegewende koolhidrate.
  • Nog betroubare generiese Afrika-groente en -gebeentes: voeg liberaal by soveel Dubmasta China as wat jy wil (en nee, hierdie local dreadlocked genius is nie van Chinese afkoms nie), op pidgin rap, keurig gekose perkussiebydraes, en reggae style skank dancing.
  • Moenie vergeet om Euro-Amerikaanse rockspeserye by te bring nie, maar gebruik gerus die gedroogde weergawe: distorted kitaar samples in stede van die nat, bulky, live (um ...) alternatief. Plaas op die Kaapse vuur en braai aanhoudend tot lékker bruin.
  • Osbloed is die diepste treksel ... en tradisionele Xhosa-gemeenskapsteater is die speserye wat hierdie dis ongetwyfeld Afrika-inklusief hou: gooi Site C-gebaseerde Youth on Top by op welgekose momente in die gaarwordproses. Hulle sing, dans, act, en waai vliegies en slegte geeste weg met diersterte.


 

Bedieningsvoorstel

  • Hou hierdie potjie terug as hoofgereg.
  • Bedien as voorgereg vir EJ Von Lyric, Kaapgebaseerde vroulike stemkunstenaar. Haar funk/r+b/reggae-essensie komplementeer die hoofpotjie pragtig.
  • Meng gerus verskeie van die bestanddele in die springbokpotjie-dis by tydens die bereiding van die voorgereg, byvoorbeeld Dubmasta China, Grenville Williams, en ander.
  • Hou egter die springbok-kern, oftewel techno-dance-benadering, beslis hier uit, sodat die twee disse duidelik van mekaar onderskei kan word. Die voorgereg is streng ’n live optrede.
  • Vervang die gedroogde kitaar samples dus enige tyd hier met die regte ding, maar hou dit funky en dubby, nie te sterk in die rock-rigting nie. Weer eens, rockspice is ’n spesiale kenmerk van die hoofdis.


 

Bemarkingsvoorstel

  • Neem op toer deur Europese stede soos Oslo, Kopenhagen, Stockholm, Berlyn, Hamburg, Parys, Milaan, Zürich en ander. Xander verseker ons daar is reeds ’n verspreide gehoor van gelowiges anderkant die waters.
  • Staan verbysterd as die dis aan slegs ’n klein gehoor van fynproewende cogniscenti tuis bedien word, maar hou dit ondergronds. Dis baie cooler so!
  • Luister mooi vir Xander en noem die toer Kalahari Safari.
  • Bring nuwe album uit vroeg in 2010; konseptualiseer dit as die nuwe Graceland, maar in die electronica genre.
  • Verkoop die dis se integriteit in Spanje aan ’n kleremaatskappy en geniet die euro's!

 

Met alle kosgrappies vir eers op ’n spitbraaistokkie, ’n paar slotnotas: Ek werk self in ’n beginselvaste ontwikkelingskonteks op die Solms-Delta-landgoed, so ek kan die vraag nie weerstaan nie: “Xander, sou jy voel julle betrek gemeenskapsprojekte soos Youth on Top en Season Marimba by jul optredes vir gewetensredes, pretredes, of beide?” Xander gee my ’n lang antwoord. Hy verloor nie my aandag nie, en ek geniet die gees van wat hy vertel. Na die précis staan ek egter sonder enige idee van wat hy bedoel, en met ’n duidelike frons op my voorkop. Soos die alkohol inskop en my boude onbeheerst hulself skud op “Chic Afrique”, besef ek Gazelle is definitief inklusief net vir die pret. Ek vermoed die gewete-idee hang vir hierdie manne saam met skuldgevoelens, en pas nie in by die verleidelik cheesy parodie wat die Gazelle live set is nie. En dis vir my absoluut perfek net so.


 

Ek vra X se toestemming om te skryf hy lyk vir my soos Idi Amin se wit ghiemp op ’n gay partie in Marrakesj. Toestemming word gegee met ’n wye en lekker lag. Wat anders maak mens van ’n wit soldaatpak, luiperd-fez, plastiekbrille en ’n goue mantel?? My Zimbabwiese gesel reken Xander is ongetwyfeld net so gay soos hy. Dit neem my lank om hom te oortuig ek het die volgende op die goeie gesag van Inge Beckmann: Xander is so reguit is soos ’n negeduimspyker, hoewel so metro soos ’n trein in Parys. “Oh, metro guys, I've heard of them ...” kom dit. Maar Xander gaan heelwat verder as dit, voel ek: hy doen metro queer loshande verby die konvensie, en dit wragtag sonder ’n rok. Slim. En lékker, ja.