Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Expats > Onderhoude | Interviews > Jong expats | Young Expats

Jong expats: Anja Boonzaier vertel ons meer van Taiwan


Imke van Heerden - 2009-11-16


Anja, waar woon jy nou en is die gras wel groener daar?

Ek het hierdie verregaande teorie dat tyd vinniger verloop op sekere plekke as op ander plekke. Ek bevind my nou al vir twee en ’n half jaar op een van daardie plekke waar tyd behoorlik vlieg, naamlik Taiwan. En na twee en ’n half jaar kry ek nog steeds die goedbedoelde vraag: “Hoe gaan dit nog in Thailand?” Ek kan seker nie my vriende by die huis kwalik neem nie, aangesien een van die onnies wat saam my werk, eers letterlik besef het toe hy in Taiwan land dat hy nie nou op een van Thailand se tropiese bestemmings geland het nie, maar dat hy vir die volgende jaar in Taiwan gaan skoolhou! Die arme vent het regtig gedink hy gaan staan en klas gee met kokosbome, witsandstrande en piña coladas wat vir hom knipoog deur die klaskamervenster, en is in plaas daarvan ontnugter deur die fast pace, oorbevolkte betonstad met grys dakke wat in Dolce & Gabanna geklee en gepak is.

Of die gras wel groener is? Toe ek gevra is waar ek sal wil bly in Taiwan, wou ek nie te ver nie, maar ook nie te naby aan die stad bly nie. Dink toe in my naïwiteit dat Taipei County soos Stellenbosch van die Kaap sal wees, maar toe is dit eerder soos die industriële areas van Kraaifontein teenoor die Kaap. Nou bly ek in die kieliebak van die stad, waar elke tweede tree letterlik na iets anders ruik, en my uitgestrekte rice paddies wat my Chinese skooltjie omring, is net ’n ou vergete droom. My kinders weet nie eens hoe voel dit om kaalvoet oor die gras te loop nie. Op ’n summer camp Singapoer toe trek ek dadelik my skoene uit om bietjie gras onder my voete te voel en wat sê my kinders vir my? “Oh no teacher, sooo dirty!” So … groen sien ek maar min, behalwe aan die einde van die maand wanneer my salaris aan my oorhandig word in ’n koevertjie en ek al die groenigheid kan uitgooi op my bed en daarin kan rol.

Hoekom het jy Suid-Afrika verlaat? Beplan jy om terug te kom?

Ek het Suid-Afrika verlaat met die avontuurgogga in my hart. Ek was nog altyd verslaaf aan die program Eastern Mosaic en ek het die Ooste van kleintyds hoor roep met haar diatoniese, misterieuse stem. So vir my was dit bloot om Asië te ontdek, geld te spaar om verder te swot en ’n jaar of drie ’n bietjie weg te breek van wat normaal is vir my en myself bietjie ongemaklik maak sodat daar spasie is vir groei.

EK sal my land nooit verlaat nie, en is onbeskryflik opgewonde oor huis toe kom in Januarie 2010! Ek sien Suid-Afrika as my huis en die res van die wêreld as my tuin, waarin ek hopelik nog baie blomme langs die pad gaan ontdek, soet vrugte kan pluk en van proe en stofpaadjies uitloop. 
 
Vertel ons bietjie meer van jou beroep.

Ek werk as ’n kindertuin-onnie by een van die grootste skole in Taiwan met takke regoor die eiland. Ek was gelukkig om by ’n pragtige skool geplaas te word waar my bestuurder ook ’n Suid-Afrikaner is en wat my gou gewys het waar om kos te koop en wat om te doen as die kultuurskok inskop. As jy in Taiwan land, doen jy vir so twee intense weke ’n TEFL (Teaching English as Foreign Language) kursus wat jou kwalifiseer om Engels as tweede taal te kan aanbied. My skool het alles vir my georganiseer – blyplek, mediese kaarte, ARC (Alien Residence Card) en wat nog meer.

Ek het twee kindertuinklassies, waarvan die een klassie 2–3-jariges is en die ander 4–5-jariges. In Augustus het die klassie waarmee ek begin het, gegradueer, wat ’n ongelooflike ondervinding was. Die klassies is baie persoonlik en daar word van onderwysers verwag om baie liefde aan die kinders te wys en drukkies te gee. Mens raak verskriklik lief vir die gesiggies en hulle is werklik stroopsoet in vergelyking met die meeste Westerse kinders. Die naskoolse klasse is letterlik crash-boom-bang en daar gaat jy. Ons moet heeltyd ’n “show” gooi en energiek teach, want die arme kinders gaan heeldag skool en dan kom hulle in die aande ook nog na ons toe van 7 tot 9 vir nóg skool!

Dit was vir my ’n ongelooflike ondervinding om in Taiwan te kon kom Engels gee en ek het die geleentheid gehad om met kinders op ’n dramakamp te gaan en ook op ’n kamp na Singapoer. Die kinders het dit ook die moeite werd gemaak met hulle drukkies en soentjies en “I love teacher” wat ek honderd keer op ’n dag hoor.

Wat van Suid-Afrika laat jou lag en wat laat jou huil?

Rassisme, politiek en armoede maak my vreeslik hartseer, wat ook hand aan hand stap met die geweldmonster. Hier in Taiwan weet die meeste buitelanders dat jy nie met ’n Suid-Afrikaner ligtelik oor hierdie onderwerpe kan praat oor ’n glasie wyn of twee nie, want dit eindig altyd in ’n vurige debat. Wat my nog meer hartseer maak, is die Suid-Afrikaners wat ons pragtige land, wat soveel potensiaal het, verlaat en dit sleg praat in die buiteland sodat hulle hul eie besluit kan regverdig.

Wat my laat lag is my ongelooflike Afrikaanse vriendinne met hulle lekker eg Suid-Afrikaanse sêgoed wat mens eenvoudig net nie kan vertaal nie. Jis, Afrikaans is darem net so ’n lekker praattaal met al sy metafoor-kryte wat ons hom mee kan inkleur.

Wat my ook laat giggel in my mou is die man met die wit skoene en sy gekloonde vriende, wat soos met enige spesie swakker en minder intelligent raak met elke kloning van die oorspronklike skenker. Ek praat nou hier van die een-resep-een-bestanddeel Afrikaanse sangers, maar dan moet ek in dieselfde asem bieg dat ek Afrikaanse aand in Nubar, Stellenbosch verskriklik geniet het toe ek laas jaar bietjie huis toe gekom het. Ek dink hulle is soos Chinese braaisout: dis nie gesond nie, maar al daai MSG’s daarin maak dit tog so verslawend.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

VLEIS! VLEIS! VLEIS! In verskillende vorme ook … VLEIS op my bord, VLEIS in die vorm van my familie en vriende, VLEIS aan jou lyf ( die mensies hier is baie kleintjies), VLEIS in die vorm van die manlike spesie (die mans hier volg daai metroman-modegier en waks hulle baarde as daar wel so iets soos facial hair op hul gesigte groei onder al die make-up!), en les bes, VLEIS in die vorm van lewende diertjies in die natuur! O ja, en hoe kon ek vergeet van gedroogde VLEIS, biltong en droëwors!

Ek mis Suid-Afrika se natuurskoon en ek mis my kat en twee honde.

Hoe reageer mense as hulle uitvind jy is Suid-Afrikaans?

Hulle glo my nie, want ek is dan wit! En dit is as hulle wel bewus is van die feit dat daar ander lande bestaan buiten Amerika. Daar is twee oulike Chinese tannies wat by ’n organiese winkeltjie werk waar ek so nou en dan neute en koring koop vir koringslaai. Nadat ek al hoeveel keer tevergeefs verduidelik het dat ek van Suid-Afrika is, vertel hulle elke keer vir my dat hulle lank terug in Amerika was en dan verder in Chinees praat van die lang Amerikaanse meisie wat in hul winkel is. Ek dink wel dat hierdie toneeltjie darem nie meer vir te lank sal afspeel en oorgespeel word nie, want as mens kyk na hoeveel Suid-Afrikaners in die afgelope drie jaar Taiwan toe gekom het, is dit besig om in ’n tweede Londen te verander.

Waar in die stad/land waar jy tans woon, kuier jy graag – en wat doen jy in jou vrye tyd?

Ons het een bar gehad in my dorpie wat se naam “Bar” was, en ek en ’n paar Chinese juffies het Donderdae-aande soontoe gegaan, maar hy het ongelukkig onlangs toegemaak. Ek bly naby aan die hoofstad, Taipei, so sommige naweke sal ek ingaan stad toe en lekker Westerse kos koop, fliek of bietjie gaan lyf rondruk in ’n klub. Die meeste naweke hou ek egter daarvan om vir my vriende te gaan kuier wat op die platteland woon, waar dit pragtig groen en rustig is. Dan sal ons bietjie kos maak, kitaar speel en die verlange weg sing. Vrye tyd is maar beperk tot naweke (as ons nie op ’n Saterdag of selfs Sondag moet werk nie), maar ek swem graag en het by ’n dansklub aangesluit.

Jy kan ’n Afrikaanse sanger of band nooi om daar op te tree; wie kies jy?

Ek is nogal bederf, want hier is ’n ene meneer Dawid Vorster van Suid-Afrika wat ’n ding laf sing hier in die restaurante en lounge bars. Hy is fantasties en ek dink nie hy gaan vies wees dat ek hom nou inboks en ’n sticker op plak wat sê Jack Johnson/John Butler/Dave Matthews Combo nie, maar dis soortvan waar sy musiek inval om vir julle ’n idee te gee.

Ek sal nogal graag een van die nuwe bands wil sien wat in die afgelope twee jaar bekend geraak het terwyl ek weg was, soos Die Heuwels Fantasties, Foto na Dans, of vir Elzhan Rinquest.

Wat is jou gunsteling-kossoort of -produk wat jy in Taiwan kan kry wat nie hier beskikbaar is nie?

Costco se Thanksgiving Pumpkin Pie! Costco is ’n wholesaler waar ons so een keer ’n maand bietjie gaan inkopies doen as ons Westerse kos soek. Hulle pumpkin pie is ongelooflik lekker, maar dan moet ek ook bysê dis die eerste en enigste keer wat ek ooit pumpkin pie geëet het, maar ek sal vir seker hierdie jaar weer een gaan koop!

Taiwannese kos wat ek gaan mis, is die goedkoop en vars soesji! Ek eet seker dit drie maal ’n week, en dan is daar Gongbao chicken wat stir-fried hoender is met rooi rissies en peanuts. Dis my gunsteling Chinese gereg … en ook die diepgebraaide hoender – “G-pie” soos mens dit in Chinees sou uitspreek.

Sou jy Suid-Afrikaners aanmoedig om daar vakansie te hou?

Nee, ek sou nie, al is daar baie mooi berge en ongelooflik baie geleentheid om te “shop”. Dis werklikwaar girls’ paradise, en as jou shoe size nie groter as ’n 6 is nie, mag jy dalk ’n ernstige verslawing opdoen. Taiwan is egter baie lekker in die middel van Asië en mens kan vir goedkoop na ongelooflike plekke toe vlieg, soos Thailand of die Filippyne, wat twee van my gunsteling-plekke in die wêreld is.

Jy is gestrand op ’n eiland. Jy het drie Suid-Afrikaanse items van die sinkende skip gered. Wat het jy gekies?

’n Boks Tassies vir warmte, my iPod met Whackhead Simpson pranks om die gemoed te lig en ’n Sarie-tydskrif as my vriendin.

Wat is die hoogtepunt van jou verblyf in die buiteland?

My eerste vakansie Filippyne toe! Die mense is so vriendelik, die see is blousel-swembad-blou en die strande nimmereindigend wit met die mooiste sonsondergange. Ek het ook my scuba-kursus daar gedoen en dis verreweg die ongelooflikste ervaring sover in my lewe, 30 meter onder die water! Dis kompleet ’n ander wêreld wat vir my oopgegaan het, met sy vissies met pers en blou blokkies op hul sye, asemrowende koraalriwwe, oesters met bekke wat jou arm kan afkap en Manta rays wat oor jou kop sweef.

Hoe verskil die werkkultuur in die stad/land waar jy tans woon van dié van Suid-Afrika?

Taiwannese werk baie hard en lang ure. Dis nogal erg as mens gewoond is aan ’n naweek wat bestaan uit ’n Saterdag en ’n Sondag en dan verander jou naweek skielik in net ’n Sondag. As ons ’n nasionale “vakansiedag” kry, moet jy jou voorberei dat die volgende Saterdag jy dit sal moet inwerk of opmaak. So mense hier vat nooit werklik vakansie nie, en as hulle ’n lang vakansie neem, is dit meestal so vier dae.

Ek kry die arme kindertjies die jammerste, want hulle gaan letterlik heeldag skool. Van die oggend agtuur tot die middag drie-uur, en dan het hulle almal ekstra klasse vir een of ander vak tot nege-uur in die aand. Vakansies is daar ook somer- en winterkampe, wat maar eintlik net nog skool is, so hulle kry nooit tyd om werklik kind te wees en net te speel nie. Hulle begin ook al op tweejarige ouderdom skool toe gaan, wat ek nie dink so ’n slegte idee is nie. Want dis soos om jou kind na ’n crèche te stuur, behalwe dat hy twee ander tale byleer en kunsklasse doen. Maar daar is definitief ’n wanbalans in die hoeveelheid sport wat die kinders doen in vergelyking met hoe baie hulle moet swot.

Enige interessante tendense waarvan jy ons wil vertel?

Die mense hier is meestal modeslawe, so wat ook al in die mode is vir ’n spesifieke tydperk, word nagejaag. Iets wat nogal meer populêr raak, is die strande. Taiwan het ongelooflik mooi strande langs die Ooskus af, maar as gevolg van twee faktore is die meeste strand ongerep. Die een rede het te doen met ’n ou bygeloof wat die ou mense geglo het, naamlik dat mens net see toe gaan om dood te gaan sodat die geeste jou kan kom haal. Die ander een het ’n meer politieke skaduwee waarvan ek nie al die agtergrond het nie, maar dis gebaseer op die vrees vir aanvalle uit China.

Die lanternfees in Pinxi is een van die top tien feeste in die wêreld om te beleef. Dis verskriklik romanties om te sien hoe miljoene mense lanterns in die naglug opstuur. Op jou lantern skryf jy verskillende gebede of wense. Verskillende kleure lanterns het ook verskillende betekenisse, soos liefde, hoop en geluk.


<< Terug na die Jong expats-blad <<