Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

Michelangelo in Afrikaans (2)


Hennie Aucamp - 2009-11-13

“Oor dié geskilder moet ek my skaam”

“Carrara”, DJ Opperman se groot gedig oor Michelangelo, staan in Dolosse. Ook wat dié gedig betref, is dit lonend om Titaan van Karel Schoeman nader te trek, want in minder as ’n bladsy (bladsy 212) roep Schoeman die berggemeenskap van Carrara op, die klipbrekers en -bewerkers, die marmerhandelaars. En orals die marmer, soos sneeu teen die berge. ’n Mens sou net meer van Michelangelo se omgang met sy “kollegas” – dis nou die klipwerkers – wou hoor, want op stuk van sake het Michelangelo agt maande lank in Carrara gebly om na geskikte marmerblokke vir pous Julius II se praalgraf te soek, meesal te perd. Van die perde in die marmergroewe sou ’n mens byvoorbeeld ook meer wou weet: ’n spesiale ras, vertel Amanda Botha my, wat nie so maklik op gladde oppervlakke gly nie. Opperman meld byvoorbeeld die “skimmelperd” van Michelangelo, wat al ’n welkome verbesondering is, gestel teenoor Schoeman se bra opsommende gedeelte oor Carrara. Schoeman het waarskynlik gevoel dat sy teks verlewendiging kortkom, en hy laat ’n klipwerker van Carrara sê: “Die klip praat met ’n mens” (Titaan, p 212). Vir my gevoel is dit nog nie aards genoeg nie. Dink maar aan die konkrete taal van die oom in Oupa Landman se viool wat by die stapel van ’n landmuur verduidelik dat ’n klip ’n “maagkant” en ’n “rugkant” het, en as jy dit nie weet nie, gaan jy hom nie in ’n muur ingepas kry nie.

Een van Michelangelo se briewe, nr 15 in die jongste vertaling daarvan in Michelangelo: Poems and letters (Penguin Modern Classics), en gerig aan Domenico Buoninsegni in Rome, word regstreeks uit Carrara geskryf:

I have ordered many blocks of marble and paid out money here and there and started quarrying in a number of places. And in some places where I spent money the blocks didn’t come out the way I wanted, because they are treacherous stuff, especially the big blocks that I need if they are to be as fine as I want them.

’n Mens vermoed dat DJ Opperman vertroud was met die briewe van Michelangelo, maar wat seker is, op grond van die motto van “Carrara”, is dat Opperman swaar gesteun het op gedig nr 5 van Michelangelo. Teen die einde van dié gedig word ene Giovanni aangespreek en dis vir hom dat Michelangelo in Opperman se aangepaste motto-weergawe sê:

Verdedig hierdie dooie skilderye en my naam,
Want oor die geskilder moet ek my beskaam.
(Michelangelo oor die Sixtynse kapel)

Volgens die jongste Engelse vertaling van geselekteerde gedigte van Michelangelo, deur Anthony Mortimer, is Giovanni se volle naam Giovanni di Benedetto da Pistoria (1508–12). Hy was digter en later kanselier van die Florentynse Akademie.

Sonnet nr 5 van Michelangelo is geen gewone sonnet nie, want dit het 20 reëls, en word deur Mortimer ’n “caudate sonnet” genoem, oftewel ’n stertsonnet, soos dié wat Aretino ook geskryf het: een of meer “stertjies” van drie reëls elk word by die standaard veertien reëls van ’n sonnet gelas.

Volgens die literêre teorie van Michelangelo se tyd was daar drie stylsoorte: hoog, laag en middel; Michelangelo verwys dan ook, volgens Mortimer, in sonnet 84 daarna. In watter stylsoort is sonnet 5? Aardse reëls soos die volgende laat ’n vermenging van laag en middel vermoed:

Somehow my loins have climbed into my gut,
and as a counterweight I use my arse,
and where my feet are going eyes don’t know.

Het Opperman in “Carrara” bewustelik in die “lae” styl van Michelangelo gewerk, of het sy tema hom spontaan aards en konkreet laat dink?

Vir ’n vergelyking tussen sonnet 5 van Michelangelo en “Carrara” van Opperman volg nou die volledige Michelangelo-gedig in Anthony Mortimer se vertaling:

5

I’ve got a goitre from this job I’m in –
bad water does it up in Lombardy
to peasants, there or in some other country –
because my belly’s shoved against my chin.
Beard skyward, nape of neck pressed back upon
my hump, I’m hollow-chested like a harpy;
the brush keeps dripping till my face looks gaudy,
more like mosaic than anything you’d tread on.
Somehow my loins have climbed into my gut,
and as a counterweight I use my arse,
and where my feet are going eyes don’t know.
In front my hide is all stretched out and tight,
behind my bending makes it floppy loose,
and I’m as curved as any Syrian bow.
No wonder that my mind is so
far out of joint that it gets nothing right;
show me the crooked barrel that shoots straight.
Giovanni, now you know my state,
defend my poor dead painting and my honour;
this is no place for me, and I’m no painter.
(1509-12)

Daar hoef net op enkele ooreenkomste gewys te word om sonnet 5 van Michelangelo onomstootlik as hoofbron vir “Carrara” van DJ Opperman te vestig.

Michelangelo kla oor kropgeswel vanweë “bad water” in Lombardye, maar Opperman gaan selfs verder:

… ek … soos in vrot vleie
van Lombardye se waters slykoorstrek,
’n ogieknippende, maer, langpoot reier
in die stank én swak lig van dié vertrek.

En ook by Opperman hoor ons hoe Michelangelo op die steiers in die Sixtynse kapel “besprinkel (word) uit palet en pot”. Opperman kom ook met pragtige plaasvervangende beelde. Waar Michelangelo homself as “hollow-chested like a harpy” en geboë soos ’n Siriese boog beskryf, sê Opperman bondiger en sonder mitologiese versierings:

… my hande, voete, seningrige strot
rek en roer – ’n omgedopte bergskilpad, ek
wat krabbel, krabbel …

Ter verdediging van Michelangelo rakende die klassieke verwysings moet gesê word dat hy binne die poësietradisie van sy tyd gewerk het, by name dié van Petrarca.

Die markantste raakpunt tussen “Sonnet 5” en “Carrara” is, soos reeds uitgewys, dat die slot van die Michelangelo-sonnet nou as motto by “Carrara” van Opperman staan, en van meet af aan die sentrale spanning in Opperman se vers stel, naamlik Michelangelo se teësin in skilder, want hy ag hom in die eerste plek ’n beeldhouer. Schoeman berei dié spanning reeds vroeg in Titaan voor, byvoorbeeld op bladsy 134, waar Michelangelo aan Galli sê: “Maar ek is geen skilder nie, ek is beeldhouer, dit het Ghirlandaio self ook gou genoeg begin agterkom.”

Die spanning in Michelangelo tussen wat vir hom natuurlik kom (beeldhouerskap) en dít wat op hom afgedwing is (skilderskap), word as betoog in die Opperman-gedig “Carrara” aangebied.

Opperman bied sy betoog as ’n klassieke driepuntplan aan: tese – antitese – sintese. (In sy gedig “Paddas” in Blom en baaierd praat Opperman van “sange, toesang en teensange”.) In die eerste episode val die noodlotswoord van Michelangelo by monde van Julius II: “Jy mag volstrek/ geen beelde kap, maar moet met skilderye/ die koepel van my klein kapel oordek.” In die tweede episode van “Carrara” hunker Michelangelo, terwyl hy in die Sixtynse kapel skilder, na sy beeldhouerskap en sy vermoë om dinge uit die (marmer)klip te laat ontsnap: ’n vlermuis, ’n ram, liggame. Opperman is selfs dapper genoeg om die homoërotiek by Michelangelo te suggereer in die sinsnede “die malse seuns”.

Episode drie in “Carrara” bring die verlossende sintese: Michelangelo besef skilderende dat hy skulpturaal te werk gaan en oerkragte, God self, profete … “uit Carrara wek”. Wat is dit wat Michelangelo ten slotte van God afbid? (“Help, o help my, God!”) Miskien niks minder nie as dít: dat hy, al skulpturaal skilderend, ook die grootste skilder van sy tyd gaan word.

Dit kan kwalik toeval wees dat “Carrara” (as versugting en later uitroep) net in episodes twee en drie gehoor word. Episode een gaan eintlik net om sy frustrasie dat hy, Michelangelo, die grootste beeldhouer van sy tyd, “gedemoveer” word tot skilder. Michelangelo se uiteindelike triomf lê opgesluit in die titel van Opperman se gedig: “Carrara”. Sy bomenslike arbeid in die Sixtynse kapel stel Carrara op ’n nuwe wyse in hom vry; verenig skilder en beeldhouer.

 

<< Terug na die eerste deel van hierdie boekartikel <<