Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Gatvol bekvol


Hannes Steyn - 2009-11-13

Eintlik my tjom Rassie se storie, maar ek kry nog steeds, na amper veertig jaar, ’n wrang smaak in die mond (namens hom) as ek daaraan dink.

Hy het hierdie meisie ontmoet. Wel, almal ontmoet meisies, maar ek was nogal bly vir sy part, veral omrede dit diep in sy puisiestadium was.

Moet sê, Erna was nogal oukei: so ’n langerige doedie met groot, ronde oë wat jou maak wens dat dit jy is na wie sy so liefdelik kyk. Net jammer vir haar besitlikheid. Bid jou aan, twee weke voor die matriekeind smokkel sy my vriend se brein tot in Durbs in!

“Jammer ou Haan,” bars hy die bom vroeg een oggend, “ek gaan saam met Erna Durban toe. Vir die hele vakansie.”

“Jy speel seker? Wat van … ons? My pa het klaar … die deposito vir Pines betaal!”

Maar dit was duidelik dat ek die stryd verloor het. Om darem te kies tussen ’n getente vyf dae by ’n Pplesieroord om die draai en ’n lang, gratis vakansie by die see. En dit met ’n girl soos Erna …

Selfs nie eens die skielike heengaan van haar ouma die volgende dag het die entoesiasme gedemp nie.

“What must be must be,” het sy gefluister toe ons onbeholpe probeer simpatiseer het. “Pa het klaar besluit ons vat haar saam Durban toe.” Sy verlustig haar eers lekker in ons skok voor sy verduidelik: “Oumsie was altyd lief vir die see. Ons gaan haar … haar as daar strooi."

Ek onthou nog Rassie se gesig daai Vrydagoggend toe hy onseremonieel deur haar pa op die agterste sitplek langs Ma ingeprop word. Sy oë het bly flits tussen die klein houtkissie op haar skoot en Erna se skouers voor hom wat aanloklik uit die somersrokkie gepeul het.

Sondag bel hy. Hoog ontstoke. Ek moet hom die volgende dag by die stasie kom optel. Nee, die oproep is te duur, so hy sal verduidelik as hy my sien.

“Die hele pad moes ek langs hierdie norse antie sit. Met Ouma dán op haar skoot, dán sommer hier tussen ons op die sitplek,” het hy gekerm, “en sy het die heelpad met die oom gestry. Sommer oor enigiets. Ek en Erna het skaars kans gekry om met mekaar te gesels, newwermaaind ’n mobile vrytjie inkry!”

“Maar dit het seker beter gegaan by julle aankoms? By die hotel?” wou ek weet.

“Hotel? Hotel se gaai, man. Dis toe net ’n simpel vakansiewoonstel wat … wat in ’n vuil agterstraatjie versteek is. Ek sê vir jou, toe ek die steil, nou trappies sien, toe was ek omtrent gatvol. Wou sommer weghardloop.”

Weer probeer ek. Ek moet hom in ’n beter bui kry, want die tent-ekskursie by Pines is nog nie verlore nie. Klaar die Fourie-susters van Collinsstraat in my agterkop.

“Maar … maar die strand? Ek meen, jy en Erna kon seker alleen wegbreek?”

Toe raak Rassie omtrént ontstoke. Sy gesig verander na donkerrooi en die are op sy nek lyk of dit wil bars. Hy stik en val oor sy woorde toe hy verduidelik. Blykbaar is daar skaars uitgepak of Ma sleep die hele lot van hulle Bluff toe. Ouma inkluis. Daar gekom, word almal se take breedvoerig verduidelik. ’n Geskikte rots sal gesoek word. Ma sal in die middel staan (waar anders?) met die kassie uitgestrek voor haar. Pa en Dogter sal elk ’n handvol van Ouma vat en in verskillende rigtings oor die see uitstrooi. En glo dit nou of jy wil of nie, almal, Rassie inkluis, moet singende vra dat die Heiland hulle tog maar nie moet verbygaan nie!

En wie is die Kiepie wat die foto's moet neem?

In elk geval. Rassie, wat teen hierdie tyd gatvol verby was, het geen ander keuse gehad as om maar die koue water te trotseer nie en het versigtig - met die oom se mik-en-druk – die rots genader.

Dit sou seker maar goed afgeloop het. Ek meen, iéwers moes arme Rassie tog ’n bietjie good luck gestrike het. Maar dis toe hy posisie inneem, toe hy seker maak dat hy stewig staan, dat hy die kamera styf vashou, dat hy al drie mooi in sy visier het, dat hy ten volle bors begin sing … dis tóé dat hy van Durban se wind vergeet het.

Dis tóé dat die reeds gatvol Rassie ’n hele bekvol van Ouma ook gekry het.

 

<< Terug na Vintage@LitNet <<