Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Bloutong


Douwleen Bredenhann - 2009-11-13

In boerderygeledere word party woorde met groot ontsag geuiter. Niemand sal dit byvoorbeeld waag om die woord bloutong sommer ydellik te gebruik nie, want dít is 'n hoogs aansteeklike siekte wat periodiek onder vee uitbreek. Elke boer bid seker gereeld dat sy diere dit tog nie moet kry nie. ’n Hele kudde kan sommer in 'n japtrap daardeur uitgewis word.

Veel minder bekend is die feit dat mense ook bloutong kan opdoen. Lyers daaraan ontwikkel dit herhaaldelik weens hul eie toedoen. Gelukkig is dit onder homo sapiens darem nie aansteeklik of dodelik nie.

Menslike bloutong is die direkte gevolg van ’n soort verslawing. Kinders kan dit ook kry, maar die ergste gevalle van verslawing kom gewoonlik onder volwassenes voor. Bloutong-mense is daardie spesie wie se monde begin water wanneer hulle aan swart liquorice, oftewel droplekkers, dink. Wanneer hulle drop se gedagte begin kry, kan hulle so gou soos nou aan niks anders dink nie. Antjie Arendse weet, want sy behoort ook tot daardie subspesie. Dit maak nie saak waar jy is nie, as die lus kom, dan kom hy, en hy los jou nie weer totdat jou kieste vol drop en jou tong behoorlik blou is nie. Dis mos die ding van drop – die lekkers is swart, maar jou tong word blou.

Daar is natuurlik ook diegene wat droplekkers nie kan verdra nie. Hulle gril daarvoor en sê dit smaak soos medisyne of slegte drank. Party verkondig selfs dit word gemaak van donkiebloed. Dís natuurlik ’n liegstorie om die dropaanhangers ook ’n bietjie te laat gril. Nie dat toegewyde eters hulle enigsins deur sulke snert laat afskrik nie.

Vir die dropliefhebber is die eerste proeseltjie daarvan na ’n lang afwesigheid ’n hemelse smaakervaring. Daar is al baie geskryf oor die sensuele genot van sjokolade eet, maar Antjie verkies enige dag eerder liquorice: die effense souterigheid, die vassit daarvan in haar tande, haar speeksel wat ’n taai, dik, donker sous vorm. Mensig, die gedagte daaraan prikkel haar kwylkliere sommer behoorlik.

Antjie geniet enige soort drop, maar haar allergunsteling-soort is daardie Streamers-pakkies met die harde lekkers wat in silwer papiertjies toegedraai is. As ’n mens dit lank genoeg suig, raak die lekker taai-sag. Dit kan dan smaaklik gekou word sonder om te lei tot 'n noodafspraak by die tandarts.

Na Antjie se mening is die enigste onaangename gevolg van drop eet die blou tong en swart tande wat ná die smulslag agterbly. Liquorice kan nie in 'n laai weggesteek word om sommerso in die verbyloop ongemerk gou 'n happie daarvan te steel nie, want dit laat duidelike bewysstukke in jou mond na wat jou verklik sodra jy ooptand glimlag. Antjie moes al vele kere op pad na ’n afspraak krisisbeheer toepas voordat sy uit haar motor kon klim: eers die grynslag in ’n handspieël om vas te stel waar die dropneerslag die swaarste is. Daarna word elke tandgleufie met ’n tandestokkie van agtergeblewe swart stukkies verlos. Elke keer verwonder sy haar opnuut aan die gedaanteverwisseling wat haar tong ondergaan het. Dit transformeer na 'n weersinwekkende donkerblou orgaan soos dié van ’n wese van ’n ander planeet. Tydens die afspraak moet sy dan ekstra-versigtig wees dat haar glimlag nie haar blou tong ook ten toon stel nie.

Op die klein Karoodorpie waar Antjie woon, skep kinders grotendeels hul eie afleiding. Hierlangs is daar darem heelwat kinders wat nie volslae internet- en televisieslawe is nie. Hulle swem nog in die rivier en speel gereeld tennis op die skool se bane, al is daar dikwels nie nette op nie. Ongelukkig is daar ook altyd ’n paar ondeunde helsempies wat dit vreeslik geniet om ander mense se deurklokkies te lui en dan te laat spaander. Wat nou so plesierig is daaraan, sal grootmense seker nooit verstaan nie. Hulle weet net hoe irriterend dit is.

Wanneer Antjie se deurklokkie lui, kry haar nuuskierigheid die oorhand en gaan kyk sy ordentlikheidshalwe wie haar geselskap wil opsoek. Dit kan mos die predikant wees, of die wewenaar op wie sy ’n ogie het. Ongelukkig was dit nog nooit die wewenaar nie en dis baie  selde die predikant. Dis meestal die verdomde stout kinders. Moenie dink hulle sal ’n ouer mens wat ’n middagslapie neem, enigsins ontsien nie. Nee, hulle hoop juis om jou aan die slaap te vang.

Gewoonlik bereik die klokkielui-manie ’n hoogtepunt in die laaste week van ’n skoolkwartaal. Dan is al die skoolsport en huiswerk vir die kwartaal afgehandel en vier verveling hoogty onder die laerskoolbrigade.

Verlede kwartaal het Antjie besluit tot hier toe en nie verder nie. Sy werk tot snags baie laat aan die stories wat sy skryf, en veroorloof haarself 'n gereelde middagslapie. ’n Plan moes bedink word om die kinders smiddae van haar voordeur af weg te hou.

Op ’n dag het die oplossing hom so half vanself aangemeld. Antjie was op dié spesifieke middag nog wakker toe sy die gedempte gegiggel van die verspotte wettertjies op die stoep hoor. Hulle wou hulle al by voorbaat breek vir die deur die slaap antie wat elke keer vir ’n sucker gevang word. Haar mond was egter op daardie oomblik vol liquorice, en binne ’n millisekonde het sy plotseling geregistreer dat ’n bloubekheks dalk nét die regte afskrikmiddel is om die spul kinders gou en vir goed te laat spaander.

Sy het geruisloos by die hout-voordeur stelling ingeneem en hulle deur die loergaatjie dopgehou. Vyfstuks was besig om te wedywer oor wie se beurt dit was om die deurklokkie te druk. Toe die klein snip met die lang vlegsel naderstaan en haar arm oplig, het Antjie haar afskuwelikste gesig getrek, die voordeur oopgepluk en met ʼn bloedstollende gil haar blou tong op die niksvermoedende groepie losgelaat.

Dit was seker die heel laaste ding wat die kinders op daardie oomblik verwag het. Hulle het benoud begin gil, en Vlegseltjie het byna ʼn agteroorsalto uitgevoer van pure skok. Een van die seuns wou so vinnig padgee dat hy hom half katswink gehol het teen die stoepmuurtjie.

Noodbehandeling was nie deel van Antjie se plan nie, maar sy moes toe maar help. Niemand het verwys na wat pas gebeur het nie, maar behalwe skok, was daar ook iets anders te bespeur in die kinderoë. Iets soos respek.

Twee maande later geniet Antjie steeds rustige middagslapies. Sy kan skaars glo dat haar op die ingewing van die oomblik bedinkte plan steeds so uitstekend aanhou werk.

Dit wys jou net: selfs die enigste nadeel van drop-eet kan suksesvol omgeswaai word om ’n positiewe resultaat op te lewer. Streng gesproke is daar dan mos geen ooglopende nadeel meer verbonde aan die eet van liquorice nie, of hoe?