Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Artikels | Features

Die Pienk Dossier # 8


Coenie Kukkuk - 2009-11-13

Die Pienk Dossier verskyn elke twee weke en word saamgestel deur Coenie Kukkuk, redakteur van Gayspeak.co.za. Ons poog om soveel as moontlik te berig in die kort spasie oor wat in die LGBTI (lesbiese, gay-, biseksuele, transseksuele en interseksuele) wêreld gebeur, hier in Suid-Afrika en elders. Bydraes is welkom en kan gestuur word aan coenie@gayspeak.co.za.

1. Na agt maande se soeke regoor die hele land breek die groot aand uiteindelik aan: die kroning van Mr Gay Suid-Afrika™ 2009 op 28 November in die Staatsteater in Pretoria. Die organiseerders het bekend gemaak dat niemand anders nie as die vermaarde regisseur Anne Williams van Mej Suid-Afrika en Mej Wêreld-faam aan die stuur van sake sal wees. Die gasheer is Jason Greer, bekend as buite-aanbieder van M-Net se All Access, en die gasvrou is die prinses van die lugweë, Cathy Specific. Vermaak word verskaf deur die doyenne van musieblyspele, Judy Page, en die minnesanger Timothy Moloi. Die sterre van die aand is natuurlik die manne – die sestien uitstaande jong mans gekies uit alle dele van die land. Jy kan hier vir jou gunsteling stem. Kaartjies is beskikbaar by Computicket (tussen R100 en R200) en gee jou ook ná die tyd gratis toegang ter waarde van R60 by Legends se verjaardagparty in Brooklyn. Dis nie net een aand nie – dis ’n naweek van feesvieringe. Die Vrydagaand is daar ’n ete by die Orange Restaurant te Court Classique Boetiekhotel in Arcadia saam met die finaliste, en Sondagoggend ’n "brunch" by die herehuis Casta Diva in Ninapark saam met die wenner en naaswenners. Jy kan vir hierdie etes bespreek deur vir Juan te kontak. Vir meer oor die Grand Finale, sien hier en hier. Die foto van Judy Page kom van Mambaonline.com.

 

2. Die Gayspeak/Lo-Cal Big Loser-kompetisie het elf deelnemers opgelewer – jy kan nou stem vir wie jy dink Lo-Cal die meeste nodig het – hier. Die drie deelnemers wat na die finaal deurdring, sal vanaf 1 Januarie, met die hulp van Lo-Cal se voorafvervaardigde disse, ’n fiksheidinstrukteur en ’n lewenstylafrigter, drie maande swoeg om soveel moontlik van hul lewensgewig af te skud. Die drie wenners wat deurdring, sal in Desember se Gayspeak bekend gemaak word – sien www.gayspeak.co.za. Na drie maande sal die persoon wat die grootste persentasie liggaamsvet afgeskud het, ’n lekker kontantprys wen – en natuurlik ’n baie vietser liggaam!

 

3. Lidia Theron se nou reeds wyd bekende boek, Jy Bly My Kind, is benoem vir Boekemakranka se Top 100 boeke vir 2009. Ander boeke met gay-temas, of gay-verwysings, soos Izak de Vries se Byna Liefde, verskyn ook op die lys, asook Barry Hough se Skilpoppe. Daar is ook ’n gesamentlike poging van die Nagtegaals – dogter Jackie, die een helfte van die eerste lesbiese paar wat in Suid-Afrika getroud is, en ma Reinet – asook een van elkeen se eie werke. Stem gerus hier.

 

4. Uganda se sogenaamde Anti-Homosexuality Bill, wat selfs die doodstraf vir gays in die vooruitsig stel, is steeds besig om wêreldwyd opslae te maak. Lees gerus Christina Engela van SA GLAAD se artikel hieroor soos wat dit verskyn het op die Cape Town Lesbians webstuiste. Christina, ’n trotse transvrou, is onlangs verkies tot wyksvoorsitter van die DA in ’n plaaslike kiesafdeling in Port Elizabeth – sekerlik ’n eerste vir Suid-Afrika. Geluk Christina!

 

5. Kosie Smit, bekende akteur, stelbouer en regisseur, is dit alles en nog meer in sy eenmanvertoning Wasgoed wat op die planke is vanaf 9 tot 11 Desember in die Promusica Teater in Roodepoort. Kosie House of Theatre bied met trots hierdie uiters oorspronklike skerpskets aan. Sy vlymskerp humorsin vermaak al vir jare almal rondom hom, en onlangs het hy besluit om sy eie gedagtes met die wêreld te deel. Kosie, gewapen met sy vere en tossels, haarsproei, Men’s Health, hamer en boor, klim uiteindelik uit sy kas uit om sy eie "wasgoed" vir almal te wys.


"Ons het almal vuil wasgoed. Ons het ook almal ‘goed’ wat ‘was’, en stories uit ons verlede wat ons soms laat onthou hoekom ons so ‘snaaks’ uitgedraai het. Almal soek hulle plekkie onder die son en almal wil verstaan word. Maar verstaan mense regtig nog mekaar? Of leef ons in ’n wêreld waar almal verby mekaar leef sonder om vrae te vrae, maar vinnig sal oordeel? Dit laat ’n mens dink! Wanneer laas het jy uit die kas uit geklim en jou ‘wasgoed’ vir die wêreld gewys? Ken julle vir tannie Lettie wat in die voorste regimente geveg het teen die Zoeloes, en nie vir enige kinders of vir haar land nie, maar vir tannie Rita? Haar 'kruissteek'-vriendin? Of vir oom Nico wat nooit getrou het nie, maar hy kon fantastiese aartappelsuurdeegbeskuit bak? Hy en oom Piet was die heel beste vriende. Ja, almal het iewers ’n ‘snaakse’ oom of tannie in die familie wat soos ’n spilong in die kas wegkruip.”

Kom lag saam met Kosie soos hy die kasdeure oopmaak en kommentaar lewer oor alles wat vrolik, kleurryk en bont is: van skandale in die kleindorpies, tot partytjies in die Voortrekkermonument – niks ontsnap die skerp gedagtes van hierdie skaterlag-ervaring nie. Al maak jou hakskoene jou seer en jy kan nie meer nie, moet dit nie misloop nie! Sien meer hier.

6. Rocco de Villiers is weer op die verhoog – dié keer saam met kitaarspeler Robert Mitchley in It takes 2 by Montecasino Teater se Studio. Die stuk word so beskryf: "If one Googles it takes 2, you get to a British TV show, a dating site, a company selling scrap booking supplies and of course the all time hit by Marvin Gaye by the same title. So, this is nothing new. But put the title to show with music by pianist Rocco de Villiers, a pianist suffering from 'menopause light', a late developer and a Free State farmer with a love for champagne and baked puddings … Well then you get a 90-minute musical journey from Bothaville to Buenos Aires, to Bossa Nova, to Blues and back. And a quick visit to Broadway in-between”. Daar is kaartjies vir slegs R70 as jy die teater skakel met jou kredietkaartbesonderhede by (011) 340 8000 of (011) 511 1818 en die woorde “early bird” kwoteer.

 

7. Gepraat van Montecasino, in die Teatro net langsaan is daar slegs so drie weke van Cats oor. Die loopvak is nog net tot die 22ste November. Meer detail kan hier verkry word. Pienk Dossier gaan die 15de inloer.

 

8. Toronto, Kanada is aangewys as die gasheerstad vir World Pride in 2014. Dit sal niemand verbaas om te hoor dat ons eie Tracey Sandilands, verlede jaar se voorsitter van Joburg Pride en nou van Toronto Pride, die leier van hul afvaardiging was nie. Wel gedaan, Tracey!

 

9. Ter afsluiting – die Pienk Dossier sal eers weer vroeg in Desember verskyn, aangesien ek 22–27 November op die plesierboot Sinfonia sal wees saam met die Mr Gay Suid-Afrika™-finaliste en dit saamval met ons volgende aangewese verskyningsdatum. Hopelik is daarna dan baie meer om oor te berig. Soos ’n vriend sê: Moenie net doen wat ek nié sou doen nie – neem foto's!