Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Kommentaar | Commentary

Oor homoseksualiteit


Lidia Theron - 2009-11-13

Ek verwys na die artikel oor Johan Strydom in Rapport van 25 Oktober 2009. Ek het self ook en wel met toenemende ontsteltenis die artikel “Vasgevang? NEE, Vrygekoop” in die November-uitgawe van Juig! gelees.

Ek het ’n diepgaande studie oor homoseksualiteit gedoen en my onomwonde mening is dat geen mens van homoseksualiteit “bevry” kan word nie. Wanneer enige persoon so ’n belydenis doen en dit is waar, was die persoon in die eerste plek nooit homoseksueel nie. Die ander moontlikheid is dat die persoon bloot ’n emosionele besluit, dikwels onder groot druk van ouers of hulle kerk, geneem het om nie homoseksueel te wil wees nie. Deur dan selibaat te leef, beteken dit nie dat ’n mens se seksuele natuur afgelê is nie. Sou so ’n persoon later in die huwelik tree, sal dit teen ’n baie hoë prys wees. So ’n huwelik kan net suksesvol wees wanneer die persoon - moontlik in geloof - voortdurend sy of haar natuurlike behoeftes sal onderdruk. Dit is ’n baie hoë prys om te betaal. Dit het al male sonder tal tot ernstige sielkundige probleme en selfs selfmoord gelei.

Ek kan nie anders as om ernstig beswaar te maak teen die plasing van sulke artikels van valse hoop nie. Om te beweer dat alles by God moontlik is en dat Hy jou van homoseksualiteit kan verlos, staan vir my gelyk daaraan as sou ek vir God bid om my bruin oë na blou te verander. Die tydskrif se kommentaar op Johan Strydom se reaksie dat as hy nie daarvan hou nie, dan hoef hy dit nie te lees nie, is inderdaad waar, maar gewoon onverantwoordelik. Nie hy óf ek kan keer dat baie ongelukkige jong mense vol skuldgevoelens oor hulle gebore natuur dit lees nie.

Ek sou veel eerder graag wou sien dat die kerk wat direk vir hierdie jongmense se skuldgevoelens verantwoordelik is, in liefde en sonder oordeel na hulle wou uitreik en hulle help om ook in geloof tot wasdom te groei – gelowige mense wat ook hul geloof bely het met: “Ek het Jesus Christus as my persoonlike Verlosser aangeneem” – eerder as om tussen so ’n jongmens en God in te meng en die homoseksueel tot die hel te verdoem. Dit kom vir my op arrogansie neer.