Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

Die drie van ons


Francois Loots - 2009-11-13

Barend was besig om ons oor ’n klant in een van sy klerewinkels te vertel. ’n Mooi jong man, want om die kroegtoonbank handel dit altyd oor ’n mooi man. Daardie keer was dit ’n lenige man met lang gespierde bene en goddelike boude, ene agter wie hy uit pure wulpsheid by die aanpaskamer wou ingaan en aan wie hy die helfte van sy voorraad teen kosprys sou verkoop. Tien teen een was dit nie heeltemal waar nie, maar om die kroegtoonbank handel dit selde oor waarheid. Veral nie op ’n Vrydagaand nie! Daar’s altyd ’n geskater: oor die doen of late van so of so, oor die een of die ander groot uitkap, oor wat die afgelope week op die boonste vloer aangegaan het.
 
Die aand was nog jonk toe Barend ons met sy jongmannetjie-episode aan die kwyl gehad het en ’n ou in sy werksklere by die kroeg ingekom het. Hy’t effens verward gelyk en ’n tree of twee van ons af kom staan. Eers toe Hennie, die kroegbaas, hom ’n tweede keer gevra het wat hy wou hê, het hy lewe gekry.
 
“Het julle nie gehoor nie?” het hy gevra en ons ook toe eers aangekyk. “Die skiereiland.”
 
“Die wat?” het Terrence gevra.
 
“Die skiereiland,” het hy herhaal. “Dit het afgebreek, of so iets.”
 
Ons het van die lag uitgebars.
 
“Op wat is jy?” het Terrence hom gevra.
 
“Die aarde is plat,” het Barend bygevoeg. “En my voël is 12 duim lank. Moet ek jou wys?”
 
“Ek kom nou van die werk af,” het die ou gesê. “Ek het dit in my motor oor die radio gehoor. Die skiereiland, of ’n deel van die Wes-Kaap, so iets. Hulle’t ook nie mooi geweet nie.”
 
Dis moeilik om te sê wat ons opeens agterdogtig gemaak het. Was dit omdat dit ons toe eers opgeval het hoe bleek hy was? Die opregtheid van sy verstomming? Of omdat nóg hy nóg die radio-omroeper presies geweet het wat aan die gebeur was? Selfs Terrence was ’n oomblik lank stil, terwyl Hennie ’n selfoon met ’n radio uitgehaal en die kroeg se musiek sagter gestel het. En toe hoor ons dit ook. Maar die onmoontlikheid daarvan! Al het die omroeper ook vertel dat ’n stuk van die vasteland besig was om af te skeur. Vanaf die berge duskant die Paarl, het hy gesê, al met Helderberg se berge langs. En daar was gerugte dat dié skeur die lang bergreeks duskant Swellendam volg, met mense wat vanuit George ingebel het om te sê dat dit daar ook sigbaar was.
 
Hennie het die radio afgeskakel. Ten spyte van die musiek, wat nog saggies gespeel het, het stilte die plek opeens gevul en het ons mekaar onseker staan en aankyk. Terrence se bruin oë het op my te ruste gekom, ek het Barend met ’n oordrewe verbasing ’n fluitgeluid hoor maak, en toe doen Hennie wat kroegbase seker maar doen. Hy’t die musiek harder gestel en ons gevra wat ons wil hê om te drink.
 
Ek het reeds ’n glas wyn gehad, maar ’n hele paar drankies is net daar bestel.

Ten spyte daarvan, van die drank en die musiek, het ’n verstommende stilte egter steeds oor die kroeg bly hang.
 
Dit was nie die 1ste April nie – dit was my eerste gedagte terwyl ek na die mans om my staan en kyk het. Maar was daar enige ander verklaring vir wat aan die gebeur was, het dit my ontduik. Vir hulle ook, want ons het doodeenvoudig daar bly staan, elk stil met sy eie gedagtes oor hierdie absurditeit. Al kon ons nie ’n woord uiter nie, was daar wel oogkontak, ’n bewuswording van die ander. Mans wat vinnig ’n drankie kom drink het voordat hulle wou gaan eet of fliek het, mans wat gekom het om hul hier te geniet, met die aand wat nog maar net begin het. En Terrence wat my steeds aangekyk het. Hy’t geglimlag, maar ek het my kop verbaas geskud en na Barend toe gedraai. Barend: sy groenbruin oë het onrustig vanaf die een plek na die ander bly skuiwe en ek het my glas wyn neergesit en hom omhels.
 
Sy liggaam was gespanne, terwyl Terrence van sy kroegstoel af opgestaan en by ons omhelsing kom aansluit het. Eers toe het ek Barend se liggaam voel ontspan. Dit onthou ek goed, daardie oomblik toe sy liggaam ontspan het, want daarna? Dis nie my geheue as sodanig wat my in die steek laat nie, maar ek dink omdat ek daarna nie meer in beheer gevoel het nie, nie oor myself nie, nog minder oor gebeure, voel dit of herinnering my in die steek laat.

Tog onthou ek die eerste rukkie daarna goed. Ek onthou dat Hennie ’n klok gelui en ons vertel het dat daar vir almal ’n ronde gekoop is. Dit was ’n besigheidsman, ook nog in sy werksklere. Ek het hom nog nie daar teëgekom nie en my voorgestel dat hy daardie aand laat gewerk het, maar sy werk net so gelos en uitgegaan het om te sien wat aan die gebeur was – en hom in die naaste kroeg bevind het. Hy’t sy skouers argeloos opgetrek. Wat de hel? het dié gebaar gesê en ’n oomblik later was daar ’n vol glas wyn langs die ene wat ek reeds half gedrink het.
 
Nugter alleen weet wat my besiel het, want ek het die vol glas opgetel en dit met een groot sluk leeggedrink. Ek die glas neergesit en gesien dat Terrence dieselfde gedoen het. Ons het mekaar in die oë gekyk en skielik hardop gelag en Barend het ons voorbeeld gevolg.
 
“’n Ronde op my,” het Barend hardop gesê.
 
“En ek het iets vir julle twee,” het Terrence onderduims bygevoeg en ’n pilletjie in ons elkeen se hand gestop. Barend het syne gretig gesluk. Terrence ook. En ek het gesien dat hy die besigheidsman ook ene gegee het. Ons het elkeen nog ’n glas drank gekry en ek het my eerste glas wyn, die ene wat half leeg was, uitgedrink. Ek het effens lighoofdig gevoel en moes skielik hardop giggel, maar daarna het ons drie bloot daar gestaan en mekaar vir ’n ellelange oomblik aangekyk. Ná twee glase wyn raak ’n oomblik lank, baie lank, terwyl ’n Vrydagnag jou kortstondig voorkom, sonder genoeg tyd vir plesier – en ek het besef dat hulle twee staan en wag dat die dwelm moes inskop.

Die kroeg was opeens vol, ’n warboel van stemme waarvan jy geen woord kon uitmaak nie, en ek het my derde glas wyn opgetel, maar die pil in my sak gesit. Seker omdat ek reeds effens gepeper was, terwyl Barend sy drankie opgetel en vir Terrence met sy kop beduie het dat hy op boontoe gaan. Terrence het my uitnodigend aangekyk voordat hy Barend gevolg het, maar ek wou nie. Die boonste vloer kom gewoonlik later in die aand, maar alles was op sy kop gedraai en om my op ’n manier te probeer anker, het ek buitentoe gegaan.

Daar was heelwat mense op straat en alles was daadwerklik op sy kop gedraai. Motors is in die straat geparkeer. Uit een het musiek hardop gespeel. Uit ’n ander het ’n radio-omroeper se stem ewe hardop gepraat, maar die mense wat in groepies saamgedrom het, het geen ag op sy stem geslaan nie. Hulle’t gelag en geskree. ’n Paar Kaapse bergies het my opgeval, ek het mense by Somersetstraat se kerk sien ingaan, ’n paartjie die tango sien dans en twee verkeerskonstabels het my oog gevang. Hulle was nie daar om die verkeer weer aan die vloei te kry nie. Inteendeel! Ek het die ene ’n bottel bier met een groot teug sien uitdrink, terwyl die ander ene met ’n vrou begin dans het.

Die begin van die einde? het ek opeens gewonder en ek was skielik bang. Maar wat de hel? het ek die vrees ook weggepraat en die glas wyn in my hand leeg gedrink. Ek moes die glas laat val het, want ek het dit in skerwe hoor splinter en meteens het ek effens naar gevoel. Ook nie besonder ferm op my voete nie, maar ek het terug kroeg toe gegaan en my pad deur ’n horde mans oopgedruk na die toilet toe.

Die deur was nie gesluit nie, maar binne het ek in twee mans vasgeloop wat besig was om dit te doen. Ek het hulle geïgnoreer, op die wasbak afgepeil, my gesig afgespoel en my mond uitgespoel. Dit het gehelp, en toe ek orent gekom het, het ek teen my eie spieëlbeeld vasgekyk. Dit was egter moeilik om my in die oë te kyk, want ek, Herman Steyn, gebore in Worcester, maar grootgeword, aangeneem en gematrikuleer in Bloemfontein, ek was nie gereed vir wat ook al ons ingewag het nie.

Ek het aan Barend gedink, aan hom en Terrence, en wou om dood en lewe by hulle wees. Ek het weer ’n pad deur die mans oopgebeur, hierdie keer na die trappe op na die boonste vloer toe.

Ek onthou dat ek na die groot vertrek met die televisie en die banke staan en kyk het. Die porno op die televisie het na dié vertrek toe oorgevloei; orals was mans besig om te soen en te suig en te stoot. En wat de hel? het ek nogmaals gedink, my hand in my sak gesteek, die pil gesluk, teen die muur geleun en gewag dat dit moes inskop.

Beelde van daardie eerste nag bly my nog in herinnering, maar of vroeg en of laat in die aand, of om middernag en of om douvoordag, weet ek nie.
 
Ek onthou dat ek by die toonbank na ’n frisgeboude man met kort rooi hare gesit en staar het. Daar was twee ander mans, elkeen gebukkend oor ’n kroegstoel, en die rooihaarman het van die een na die ander gegaan, die een na die ander, sonder om ’n kondoom te gebruik.
 
Die einde? Ek onthou dat ek onrustig gevoel het. ’n Onrus wat soos ’n bang brak in die buitehoeke van bewussyn bly grom het, maar wat ook al Terrence ons gegee het, het die kommer in toom gehou.
 
En ek onthou dat ek op ’n kroegstoel gesit het toe Terrence na my toe gekom het. Hy’t net sy onderbroek aangehad, my soos ’n skaamtelose tiener aangegluur, maar langs my kom sit en ek het my arm om sy skouers gesit.
 
“Ek hoop jy’t ’n kondoom gebruik,” het ek hom gesê.
 
“As ek ’n dominee soek, kry ek hier bo ene,” het hy my geantwoord en my gevra of ek ’n opkikker wou hê. Ek het dit van die hand gewys. Hy’t weer ’n pil gesluk en kort voor lank iewers heen verdwyn, maar my onbegrip oor wat aan die gebeur was, het my daarvan weerhou. Dit was goed en wel om die kommer in toom te hou, maar ek onthou dat ek op die een of die ander stadium by die huis wou wees. Om te besin, om oor die volgende dag na te dink, en ek het weer buitentoe gegaan. Dit was ’n warm someraand en daar was meer mense as voorheen op straat, dansend of huilend, met of sonder klere aan. ’n Koor het op die kerk se trappe staan en sing, ek het iemand hoor preek, motors het hulle pad deur dié wat op straat geparkeer is, probeer vind of die sypaadjies gebruik, maar ek kon nie onthou hoe ek daardie aand by die kroeg uitgekom het nie.
 
En ek onthou Patrick, ’n Kongolees wat een van die gereelde ouens by die kroeg is. Hy’t op die een of die ander stadium langs my gestaan, poedelnakend, met ’n breë glimlag en ’n massiewe ereksie.

“Ek het uit die Kongo padgegee,” het hy gesê. Maar dit moes veel vroeër of later gewees het, want toe het hy oor die toonbank geleun en nie meer sy breë glimlag gehad nie. “Ek het al die pad deur Zimbabwe en Gauteng hiernatoe geloop en geryloop, maar dit?”

En ek onthou hoe Hennie iets in almal om die toonbank se hand gestop het. Nog ’n pil.

“Is dit nie veronderstel om blou te wees nie?” het iemand gevra.

“Dis generies,” het hy geantwoord. “En dit werk baie beter.”

Ek wou nie ene hê nie. My onbegrip en die onderliggende vrees het my daarvan weerhou. Om die waarheid te sê, daar was oomblikke waartydens ek die vrees my aan my hals voel gryp het. Ek mag dalk Terrence se opkikker van die hand gewys het, maar het aanhou drink. En om nogmaals die waarheid te vertel, ek onthou skaars ’n oomblik waartydens ek sonder ’n glas in die hand was.

Ek onthou wel dat ek op die een of die ander stadium omring deur kaal lywe was. Ek het beslis nie ’n hemp aangehad nie, want ek en Barend het mekaar lank staan en omhels en ek het gehou van die gevoel van sy harige bolyf so styf teen my kaal bors vasgedruk.

En die volgende oggend, dit onthou ek goed. Hoe dit teweeg gekom het, weet ek nie meer nie, net dat ek, Barend en Terrence na Seepunt se promenade toe gegaan het om na die see te gaan kyk. Al was die strate toe reeds stil, was daar ’n hele paar mense by die promenade. Daar was ’n somber gevoel in die lug en niemand het ’n woord gerep nie. Ons was oënskynlik besig om suidwaarts te dryf en almal het na die water staan en staar. Ek kon nie. Dit het my aan ’n vlot laat dink en ek het in verweer in die lug op staan en kyk. En na Barend; sy oë het rusteloos oor die water bly vee en eers toe het ek besef dat die hemp wat ek aangehad het, nie myne was nie en veels te klein vir my was. Ek het nogal koud gekry.

“Ek ook,” het Barend gesê toe ek hulle vertel het.

“Kom ons gaan na my plek toe,” het Terrence voorgestel. “Dis nader.”

Ek het wakker geword en deur die venster gekyk. Die lig het my opgeval. Dit was nie die gewone fel Kaapse somerson nie, maar sagter van skakering. Dan is dit waar, het ek gedink. Ons dryf. En ek het om my gekyk. Terrence se kamer; hy’t langs my gelê en slaap, ek het ’n stort hoor loop en vir ’n paar oomblikke lank het ek na Terrence se een kamermuur lê en kyk. Daar was verskeie geraamde foto’s: saam met sy ouers op Tafelberg, saam met ’n vriend op die promenade, as kind saam met sy ma op die parade. Hierdie was die wêreld waar hy grootgeword het en daar was twee lang muurrakke, oorvol met teddiebere van verskillende kleure en groottes. Daar was ’n paar ander goed ook: ’n opgestopte rooi hart uit iets soos fluweel, ’n plastiekbeeldjie van Superman en aan die een punt Ken, Barbie se vriend.

Ek moes glimlag en het na hom toe gedraai. Sy vel het my opgeval: in die somber lig het dit nog donkerder gelyk en ek het orent gekom. Dit was koud en ek het ’n kombers oor my skouers getrek.

Barend het die kamer binnegekom. Hy’t ’n handdoek om sy heupe gehad en na die bed toe gekom. In die verbyloop het hy die rooi hart opgetel en skuins langs my kom sit. Daar was weer ’n rusteloosheid omtrent sy doen en late. Hy’t met ’n duim oor die hart bly vee, peinsend deur die venster gekyk, en ook sy vel het my opgeval. Bleek, feitlik deurskynend, met elke haar wat nog ’n dun swart lyntjie onder die vel getrek het, en ek het my hand op sy skouer gelê.

“Ons is gelukkig om nog warm water te hê,” het hy gesê.

“Hoe laat is dit?” het ek gevra. “Die lig lyk so vreemd.”

“Laat,” het hy gesê. “Ons moes al ver gedryf het.”

Hy’t na my toe gedraai. Terrence het intussen wakker geword, orent gekom en ons drie het omhels.

Daar was ’n speelsheid aan ons doen en late. Ek het die gevoel gehad dat dit daarom gehandel het dat jy iemand kon vashou, eerder as om soos in die kroeg wild te kere te gaan. Daarna het ons vir nogal lank in ’n omhelsing na buite lê en kyk. Die somber lig, die koue, die gevoel dat ’n lang wag jou voorlê, alhoewel jy nie presies weet waarop jy wag nie.
 
“Ons moet seker iets eet,” het Terrence ná ’n ruk gesê, en nadat ek en hy ook gestort het, was dit reeds donker. Terrence het vir my en Barend warm klere gegee, ons het geëet en besluit om terug kroeg toe te gaan.
 
Die strate was redelik stil. Verkeersligte het nie gewerk nie, winkels en restourante was grotendeels gesluit, hier en daar het jy iemand haastig sien loop of twee mense op ’n straathoek sien staan en praat, maar ’n groot skare het voor Seepunt se Burgersentrum bymekaargekom. Dit het gelyk of hulle meestal buitelanders was, Zimbabwiërs en Kongolese, en ook voor die kerk in Somersetstraat was daar ’n samedromming.
 
“Wat gaan aan?” het ek gevra.
 
“Hulle weet net so min soos ons,” het Barend gesê en daar was ’n somber atmosfeer in die kroeg. Almal het ’n baadjie of ’n trui aangehad en effens verstom na die ander sit en kyk. Daar was wel gepraat: oor die roete van die skeur en die Kaapse kosvoorraad, maar sulke informasie was effens teensinnig gedeel, asof praat alleenlik die absurditeit van gebeure sou kon verwerklik.
 
“Dit het alles te doen met aardverhitting,” onthou ek die een ou sê.
 
“Ag kak man,” het iemand anders hierop geantwoord. “Dis omdat ons vir Zille gestem het.”
 
Dit het ten minste ’n gelag ontlok.

“Ek het nie,” het Terrence speels gebieg. “Nie vir ’n botox drag met ’n blou T-hemp en ’n spierwit pruik nie.”

Nie een van ons het dit snaaks geag nie, eerder gefrons, en Hennie het net daar besluit dat hy genoeg van ons somberheid gehad het.
 
“Dit voel asof ek op ’n blerrie begrafnis is,” het hy geprotesteer, die musiek harder gestel en vir almal om die toonbank ’n drankie op die huis geskink.
 
Dit het ons ten minste opgebeur, en vir die eerste keer sedert ek na die Amsterdam Action Bar toe gegaan het, het die sogenaamde aksie na die grondvloer toe verskuif, want ’n jongerige outjie wat ek nog nie daar teëgekom het nie, het sy drankie braaf leeggedrink, op die toonbank geklim en begin dans. Dit was ook nie lank nie of hy’t speels en tergend van die een ná die ander kledingstuk begin ontslae raak. Ons het hom omtrént aangepor en kort voor lank was daar ’n kompetisie aan die gang, met die wenner dié ene wat die grootse reaksie uit ons kon lok. Taliep, ’n redelik skugter outjie wat ek van tyd tot tyd by die kroeg gewaar het, het daardie aand ’n sy na vore gebring wat ons nie geken het nie en moes miskien die wenner gewees het. Maar Manus, ’n frisgeboude beertjie, het met sy leerharnas, swepie en ’n dik pers dildo met die louriere weggestap – op boontoe, met Barend agterna.
 
Ook daardie aand het die drank gevloei, het dit gerumoer en geraas en het dit sonder twyfel bo ook baie bedrywig geword, maar ek was terughoudend.
 
Ek, Herman Steyn, ’n enkelkind met ’n enkelma. My ma is vroeg oorlede, tydens my voorlaaste skooljaar. Maar sy’t daarvoor voorsiening gemaak dat ek kon gaan leer en ek het ’n Afrikaans-onderwyser geword. En ek is trots op my werk. My klasgemiddeldes is redelik hoog en ek is seker daarvan dat dit met my begripstoetse te doen het. Ek skryf hulle self. Spesifieke stories vir spesifieke grade: kort stories oor sokkerspelers, Idols-deelnemers en Lotto-wenners. Maar toe ons vakinspekteur kom besoek aflê het, het sy hulle nie eers raakgesien nie, nog minder my klasgemiddeldes. Sy was eerder ontsteld omdat ons registers nie volgens ras en geslag ingedeel was nie!

Sy kon my ten minste nie my gemiddeldes ontneem nie, maar so trots soos ek op my werk was, het dit daardie aand weer gevoel dat ek nie voorbereid was vir wat aan die gebeur was nie. Ek het na die rumoer om my sit en kyk en gewonder of ons nie iets anders moes doen nie. Ten minste na die nuus kyk of seker maak dat ons genoeg kos en water gehad het, iets dergeliks. Maar Terrence het van my bui ontslae geraak deur my ’n woeste mengeldrankie in die hand te kom stop.
 
“Ek het nou genoeg van hierdie morbiede aangesig,” het hy geprotesteer en my aangesê om dit uit te drink.
 
Ek het – en die wêreld om my onmiddellik voel wankel. Maar ek wou nie my ewewig verloor nie, ek wou regop bly en het hom aan die hand gegryp.
 
“Kom ons dans,” het ek gesê. “Barend is op boontoe, maar dans ten minste met my.”

Dit het my ’n oomblik of twee geneem om my te oriënteer. Barend; ons het na sy woonstel toe gekom, ek was in sy bed en hy’t styf teen my gelê, met sy arm om my. En dit was koud. Ons het onder redelik dik komberse gelê, maar toe ek my hand onder die komberse uitgesteek het, was die koue tasbaar.
 
Ek moes skielik aan die Suidpool dink, maar die gedagte daaraan was my een te veel en ek het opgestaan. Ek het warm slaapklere aangehad, Barend s’n, maar moes nogtans ’n kombers om my draai.
 
“Waar’s Terrence?” het ek hom hoor vra. Hy was wakker.
 
“Ek weet nie,” het ek hom geantwoord. “Dis koud, maar die lig is helderder as gister.”
 
Hy’t opgestaan; ook hy’t ’n kombers oor sy skouers gegooi en gesê dat hy vir ons gaan koffie maak.
 
Ek het deur sy woonstel geloop. Ruim vertrekke; houtvloere, ingeboude rakke en kaste uit wat soos die duurste hout gelyk het. Heelwat skilderye wat hom seker ’n plaas se geld moes gekos het; so ook die woonstel, aan Clifton se kant van Seepunt. Terrence was in die sitkamer op ’n lang breë sofa aan die slaap – en daar was ’n lang balkon met ’n see-uitsig. ’n Helderblou lug en see soos ek dit nog nooit gesien het nie, maar ek het van dié uitsig af weggedraai en Barend in die kombuis gekry. Hy’t aan tafel gesit, op ’n klein driepootstoeltjie, en toe ek by die vertrek ingegaan het, het ek hom sy oë sien afvee. Ek het ’n kombuisstoel nader getrek, agter hom gaan sit en hom omhels.
 
Hy’t gesug.
 
“Ons voel almal so,” het ek saggies gesê.
 
“Ek weet nie eers hoekom ek sit en tjank nie,” het hy my hierop geantwoord.

Ek het hom doodeenvoudig net vasgehou.
 
“Het jy geweet dat ek getroud was?” het hy my gevra.
 
“Wanneer was dit?”
 
“Ek was jonk,” het hy gesê en ten minste geglimlag.

“En toe trou jy?”

Hy’t my vertel dat sy pa ’n boer met vier plase was.

“Ek moes eendag by hom oorneem en het nie vrae gevra nie,” het hy gesê. “En het boonop met die dogter van een van die buurdorpe se vooraanstaande boere gaan staan en trou.”
 
“Waar’s sy nou?”
 
“’n Jaar nadat ons getrou het, is my pa in ’n skietongeluk oorlede,” het hy my vertel. “Ek het natuurlik alles geërf, maar meteens kon ek nie met my huwelik voortgaan nie. Dit het my duur te staan gekom, maar ek het stad toe getrek en ’n winkel begin. ’n Tweede, ’n derde, nou’s daar al vyf.”
 
Ek het geknik; dit het sy woonstel verklaar.
 
“Dit was moeilik,” het hy gesê. “Aan die begin het my ma omtrent elke dag moord gesweer. Maar weet jy, ek het destyds in ’n boek op ’n stuk oor die eerste Voortrekkers afgekom: dié trekkers wat vanuit Grahamstad se wêreld padgegee het. En in die boek het gestaan dat hulle drie jaar nadat hulle trek begin het, nog geen raad of rigting gehad het nie.”
 
Hy’t ’n oomblik lank geswyg.
 
“Toe dink ek by myself, kyk net hoe lank dit hulle geneem het om iets op te bou. Dit het my moed gegee,” het hy gesê. “Maar nou?”
 
Ek het nie geweet wat om hierop te sê nie. Die Voortrekkers is mos nie deel van ons alledaagse gesprekke nie en ek het hom steeds net omhels. En toe vertel hy my dat hy na die laatmiddagnuus geluister het en dat hulle nie kan ooreenkom oor ’n lugbrug tussen ons en die vasteland nie.
 
“My God,” moes ek kliphard uiter, want ek het geskrik. Aan die dryf, sonder anker, sonder rigting, en ek het impulsief opgestaan. Ek wou uitkom, wegkom, ek wou iewers anders wees. Al het ek voorheen van dié uitsig af weggedraai, het ek blindelings balkon toe gegaan en die laatmiddaglug op gestaar. Wanneer ek asem uitgeblaas het, was dit wasem. En ek het nie regtig geweet wat om te dink nie.
 
Terrence was op en het by my kom aansluit.

“Ek is bang,” het ek hom sonder oorleg vertel.

Hy’t my van agter omhels en my styf vasgedruk, maar nie ’n woord gesê nie.
 
“Hoekom is die lig so helder?” het ek hom gevra.
 
“My oupa het ons vertel dat Swede ook so was,” het hy gesê.
 
“Swede?”
 
“Hy was daar in ballingskap,” het hy my vertel. “As hý die koue oorleef het, sal ons seker ook.”
 
Ek kon nie help om te lag nie, ’n kort en siniese laggie, maar miskien het Terrence reg gehad en ek het my kop op sy skouer gelê.

Ek dink ons moes iets doen om besig te bly en nie oor die dag van môre na te dink nie – en aandete was die oplossing. Buiten vir aartappels en pere het Barend nie vars vrugte of groente gehad nie. Maar ons het sy kaste deursoek, in sy resepteboeke geblaai en ná ’n lang gewik en geweeg met ’n sesgangmaaltyd vorendag gekom. Ek onthou dit so goed. Lewerpatee met beskuitjies, aartappel-en-kruie-sop, tunasoufflé, hoenderbreyani, roomys met ’n rooibessiesous, koffie met peer-, kaas- en neutsirkels. Toe dit uiteindelik by die eet kom, was dit reeds donker en het Barend dramatiese klassieke musiek opgesit.
 
“Mahler,” het hy gesê. “Das Lied von der Erde.”
 
Alhoewel ek nie juis van sulke musiek hou nie, was dit daardie aand gepas, want ons kon net so wel op die Titanic gewees het. Ons het kerse aangesteek, met Barend wat vir elke gang skoon glase en ’n passende bottel wyn reggesit het.
 
Maar nóg kos nóg wyn kon ons opbeur en ons het nie juis gepraat nie. ’n Paar opmerkings oor die kos of die wyn, ja, oor hoe grof die lewerpatee uitgedraai het of hoe suur die sop, maar ná die gekekkel in die kombuis was ons skielik aan die werklikheid van ons situasie herinner.

“Kan jy nie die musiek harder stel nie?” het ek Barend ná die sop gevra, want dit het ons woorde gespaar – en die verleentheid daarvan om vrees en onbegrip te probeer verwoord.
 
Ek onthou dat ek keer op keer daarvan bewus geword het dat ek na Barend gesit en staar het. Sy rykdom was effens intimiderend, maar ek het nog altyd van hom gehou. Vanaf die eerste aand toe ek hom in die kroeg raakgeloop het. Van sy gelaatstrekke, die effense gehardheid aan sy gesig, die lompheid in sy liggaam ten spyte van sy ferm houding. Selfs van sy rustelose oë wat daardie aand oor die een voorwerp na die ander in sy luukse woonstel bly vee het.
 
Terrence was daardie aand aan die stil kant, maar met elke nuwe glas wyn wat geskink was, wou hy ’n heildronk instel.

“Cheers!”

“Gesondheid!”

Sonder om meer te sê en met ’n blote kopknik of glimlag, want dit het nie om ’n heildronk as sodanig gehandel nie. Van belang was ons samesyn en bloot die geluid van glase wat teen mekaar gedruk word. En wanneer ons borde kombuis toe gedra het of ’n nuwe dis en skoon borde terug tafel toe wou dra, het Terrence my keer op keer omhels. Meer as een keer het ons twee in die gang of kombuisdeur bly staan en mekaar vir ’n rukkie lank styf vasgedruk. Terrence met die lyf van ’n danser. Soepel, net effens gespierd, met ’n sprong in sy loop, en wanneer ons mekaar in die oë gekyk het, het ek daarvan bewus geword dat ook hy ’n kwesbare kant aan hom gehad het. Ten spyte van sy gewone uitgaande persoonlikheid, en omdat ek gevoel het dat my omhelsing en die gevoel wat ek vir hom gehad het, te kort geskiet het, het ek na woorde bly soek om hom op te beur, maar kon hulle nie regtig vind nie.
 
“As jou oupa die koue kon oorleef,” het ek eenkeer gesê, “dan kan ons seker ook.”

Maar hy’t eerder meer teruggetrokke geraak en ek moes met die volgende dis die inisiatief neem deur my glas wagtend na hom toe uit te hou.

“Cheers!”

Hy’t ten minste geglimlag.
 
Ná nagereg, met koffie, pere, kaas en neute wat voorgelê het, het ons sitkamer toe gegaan en Barend het die musiek verander. ’n Ligte melodie uit die verlede, maar toe ’n vrou se stem ligweg opfladder, het dit gevoel asof iemand my wind uit my geslaan het. Carly Simon! My ma het altyd daarna geluister en meteens was ek na aan trane. Terrence het my seker verkeerd verstaan, want hy’t langs my op die groot rusbank kom sit en sy arm om my skouers gesit.

“Onthou my oupa,” het hy gesê.

“Dis nie dit nie,” het ek hom vertel, terwyl Barend met drie glase brandewyn bank toe gekom het.

“Dis die musiek,” het ek verduidelik. “Dit was my ma se musiek. Sy’t altyd hierna geluister.”

“Moet ek dit verander?” het Barend gevra, alhoewel hy langs Terrence kom sit het.

Nee, het ek met ’n kopskud beduie en toe sê ek dit.

“Ek het nie ’n pa gehad nie en ná my ma se dood het ek nogal alleen gevoel,” het ek hulle vertel. “Dit het gevoel asof ek alles verloor en niemand gehad het nie. Maar ek het reggekom, my lewe het vooruit gegaan, maar hierdie naweek ...”
Ek moes braaf inasem om moed te skep.

“Gedurende die afgelope twee dae het ek julle leer ken. Ek het julle wel voorheen in die kroeg leer ken, maar nie só nie.”

Hierop het Terrence sywaarts geleun om my te soen en Barend het nog nader geskuif om ook deel daaraan te hê. Ons drie, net die drie van ons.

Terrence het ons daardie oggend wakker gemaak. Hy was nog in die bed, tussen my en Barend op die matras wat Barend voor die sitkamersofa gegooi het. Ek weet nie meer presies wat hy gesê het nie, maar ’n mens kon onmiddellik sien dat iets anders was. Die lig het sy kilheid verloor en dit was warmer as die vorige dag.
 
Ons het opgespring en ons balkon toe gehaas. Dit was daadwerklik effens warmer, daar was mense langs die see en ons het inderhaas af strand toe gegaan.
 
“Ons het oornag gedraai,” het ’n man ons vertel.
 
Iemand het gesê dat ons noordoos gemik het, ’n ander het sy kop geskud en gesê dat dit noordwes was, maar nieteenstaande die onsekerheid oor ons rigting was daar ’n opgewondenheid in die lug.
         
Ek het Barend omhels, Terrence het deel geword van dié omhelsing, maar ten spyte van ons opgewondenheid wou ek op daardie oomblik nie hê dat dinge moes verander nie. Maar hulle het, ons het gedraai en ons het weer na die see toe gekyk, ek met my hand op Barend se skouer, hy met ’n arm om Terrence se skouers, en meteens het ek aan begripstoetse gedink. Begripstoetse van alle dinge! Ek het soms gewonder of ek hulle aan ’n opvoedkundige uitgewer moes stuur en daardie oggend het ek geweet dat ek daarvan werk sou maak.