Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Annie Klopper: Rockjagter

Desember was toe nie die begin en einde nie: Thieve debuteer met Gold


Annie Klopper - 2009-11-12

Klik hier en koop Gold nou by kalahari.net!

Met die vrystelling van Bellville Rock City aan die einde van verlede jaar was ek verbaas om te sien dat daar ’n groep genaamd Thieve is wat saam met prominente Bellville-groepe soos Fokofpolisiekar, Springbok Nude Girls, New Holland, aKING, K.O.B.U.S.!, Foto Na Dans en ander op die kompilasie ingesluit is. Eintlik kan ek my sin herhaal en inkort: Ek was verbaas dat daar ’n groep genaamd Thieve is. Punt. Want voor die genoemde uitreik het ek nog nooit van hierdie manne gehoor nie. As dit dus nie daarvoor was dat die ingeslote snit, “Last Day December”, my so beïndruk het nie, sou ek miskien iets te sê gehad het daaroor dat ’n onbekende groep (wat tot op daardie stadium nog nie eens die verhoog betree het nie) ’n posisie beklee op ’n belangrike kompilasie wat veronderstel is om verteenwoordigend te wees van die sogenaamde Bellville-beweging in Suid-Afrikaanse musiek. Maar, daarby gesê, sodanige eervolle vermelding is sprekend van die groot potensiaal wat Bellville Rock City se samestellers (by name Hunter Kennedy en Jaco “Snakehead” Venter) in hierdie groep gesien het.

Nou, met die uitreik van Thieve se langverwagte debuutalbum getiteld Gold, kan ons besluit of hierdie belegging in potensiaal enige dividende opgelewer het, en of “Last Day December” ’n standaardgewig is waarteenoor die res van die groep se repertoire geweeg kan word.

Die laaste dag was toe nié die lekkerste nie; Desember nie die begin en einde nie. Twaalf goedgeproduseerde snitte spreek daarvan dat Thieve die nodige tyd geneem het om ’n volwaardige produk op die rak te plaas, ten spyte van die druk om ná die bekendstelling op Bellville Rock City gou die toneel te betree. Gold is nie lig in die broek nie, maar Thieve probeer ook nie om ’n impak op die plaaslike musiektoneel te maak deur over the top te wees nie. Die musiek klink soos dié van opgevoede jongmanne wat hulle beleefd voorstel aan jou oordromme en dan gesellige geselsies maak oor klassieke rock en pop.

Andrew Davenport se seepgladde stem gly gemaklik oor vriendelike harmonieë en Philip Erasmus weet hoe om moeiteloos ’n ritme met tromstokkies te tem. En dan is daar die kitaarspeler, Frederick den Hartog, oor wie een resensent onlangs (tot my vermaak) skryf dat hy wat Fred is, die potensiaal het om ’n “great guitarist” te wees. Ahem, ekskuus? Die potensiáál om een te wees? Hy is dit reeds. Met ’n musiekonderwyser as ma het Fred note vóór woorde geken en kon hy klavier speel voordat hy behoorlik kon loop. Hy is ’n musikale virtuoos en bring iets baie spesiaal na die partytjie toe: die haarfyn balans tussen onopgesmuktheid en vernuftige kitaarspel verraai ’n meesterhand.

Terwyl Fred destyds die kitaarspeler vir Stellenbosse groep Die Helde was, het Andrew vir ’n tyd in Ashtray Electric hand bygesit en was Philip die tromspeler vir New Loud Rockets. Ons het dus nie hier te make met onervare laaities nie, en die musikaliteit van die album kan nie onderskat word nie.

Thieve is boonop soos ’n geslepe sakkeroller as dit by invloede kom. Dié band skroom nie om te verduidelik dat die groepnaam afgelei is daarvan dat kuns nie oorspronklik is nie en dat ’n mens invloede na willekeur “steel”. Hul motto lui immers: “Nothing is original. Take what you want.” Die geheim lê egter in hoe jy te werk gaan om hierdie invloede tot ’n nuwe produk te rangskik. Terwyl die onderliggende musikale invloede bekend voel, is Thieve nie ’n kopie van die een of ander kunstenaar of groep nie. Die album het my my vir ’n splitsekonde laat verbeel Paul Simon doen covers van aKING-liedjies (op ’n goeie manier). Sodanige konnotasie dra nie juis die brandmerk van voorspelbaarheid nie.

Die album is uitgegee deur Jaco Snakehead Venter en Supra Familias (Hunter Kennedy en Pierre Greeff se label). Snakehead is natuurlik die tromspeler vir Fokofpolisiekar en aKING, terwyl Hunter kitaar speel, sing en skryf vir Fokofpolisiekar, aKING en Die Heuwels Fantasties, en Pierre Greeff is ook in laasgenoemde groep en die destydse Lukraaketaar. So ja, ons het hier te make met die Gebroeders Bellville. Daar sal dus die kritici wees wat meen Thieve ry bloot die kruin van die Bellville-musiekgolf. Maar die antwoord daarop is eenvoudig: ’n mens kan nie ’n golf ry sonder ’n branderplank nie. En Thieve s’n het ’n goue skynsel.

Lees die onderhoud met Thieve hier.