Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Expats > Onderhoude | Interviews > Jong expats | Young Expats

Jong expats: Marisa Crous vertel ons meer van Amsterdam


Imke van Heerden - 2009-11-12

Waar woon jy nou en is die gras wel groener?

Ek bly so 200 m van Anne Frank se huisie hier in Prinsengracht, Amsterdam. Dis ’n ongelooflike plek om te bly, reg in die hartjie van die stad. Dit raak nou ongelukkig al baie vroeg donker en baie koud, so sou nie sommer sê dat die gras groener hier is nie. Maar Amsterdam het verskriklik baie om te bied vir ’n nuuskierige mens soos ek.

Wat maak Amsterdam uniek?

Definitief die fietse. Hulle is net orals, en ek voel asof ek hier hoort as ek in die oggende met my fiets deur die stad ‘cruise’.

Hoekom het jy Suid-Afrika verlaat? Beplan jy om terug te kom?

Ek is hier op ’n studente-uitruilprogram, so is hier vir net een semester. Ek kom weer in die middel van die Suid-Afrikaanse somer terug, waarna ek baie uitsien!

Wat van Suid-Afrika laat jou lag en wat laat jou huil?

Die “ZA News” op The Mail and Guardian se webwerf, wat spot met politieke figure, laat my baie lag. Die stadige ‘capped’ internet laat my huil.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Die warm weer, goeie rooiwyn en goedkoper vleis.

Hoe reageer mense as hulle uitvind jy is Suid-Afrikaans?

Mense is nogal baie geïnteresseerd om te hoor van Suid-Afrika, maar die meeste mense het ook maar nie ’n idee wat “Suid-Afrika” actually beteken nie. Die Nederlanders vind dit nogal “heel grappig” dat ons taal so koddig en soort van naby is aan hulle taal.

Waar in die stad/land waar jy tans woon, kuier jy graag - en wat doen jy in jou vrye tyd?

Aangesien ons in die hartjie van Amsterdam bly, is ons baie bevoorreg om kuierplekke orals rondom ons te hê. Ons het ook nou die bier-ding begin doen, en geniet gereeld ‘n “biertje” oorkant die gracht waar ons bly. Ons nuwe gunsteling-plekkie is ook Harlem Café waar mens partykeer oneindige nacho’s kry vir net 3 euro.

Jy kan ’n Afrikaanse sanger of band nooi om daar op te tree; wie kies jy?

Vandat ek hier is, het Goldfish en Parlotones al hier gespeel, en albei was uitverkoop voor ek kon gaan. So ek dink die Nederlanders geniet darem al klaar ons ‘local’ treffers.

Wat is jou gunsteling-kossoort of -produk wat jy in Amsterdam kan kry wat nie hier beskikbaar is nie?

Definitief stroopwafels, Vlaamse frites en oliebolle. Ek weet Vlaamse frites of ‘slap chips’ en oliebolle kry mens in Suid-Afrika, maar hier is dit net ongelooflik lekker. Ek was heeltemal verslaaf aan stroopwafels toe ek hier aankom, maar het darem nou so bietjie begin briek aandraai.

Sou jy Suid-Afrikaners aanmoedig om daar vakansie te hou? Indien ja, wat kan toeriste net eenvoudig nie misloop nie?

Ja verseker, ek dink die rooi lig distrik is nogal ’n belewenis, iets wat mens nooit weer iewers anders kan sien en ervaar nie. Dit is ’n redelike ‘seedy’ plek, maar dit laat mens baie in jou kop rondspeel met jou eie idees oor dinge. Tog, is dit ’n baie lewendige plek, vol lekker kuierplekkies.

Jy is gestrand op ’n eiland. Jy het drie Suid-Afrikaanse items van die sinkende skip gered. Wat het jy gekies?

’n Bottel Stellenbosch rooiwyn, ’n bar one en my Suid-Afrikaanse kêrel.

Wat is die hoogtepunt van jou verblyf in die buiteland?

Al die verskillende mense wat ek ontmoet. Ek wens ek kan ’n groot wêreldkaart he en ’n pennetjie kan indruk in elke land waarvan af ek mense al ontmoet het, ek dink die kaart sal redelik vol wees.

Enige interessante tendense waarvan jy ons wil vertel?

Aangesien ek so belangstel in ‘gender’ rolle, kom ek nogal agter dat die manier wat baie meisies hier aantrek, neem al hoe meer ’n meer tradisionele ‘manlike’ vorm aan. Dis baie interessant en ek dink ook dit lyk baie cool. Netjiese mansskoene en groot manshemde word gereeld aan meisies gesien. Dis ’n tendens waarna ons solank kan uitsien in SA.



<< Terug na die Jong expats-blad <<