Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Expats > Onderhoude | Interviews > Jong expats | Young Expats

Jong expats: Marlize Dippenaar vertel ons meer van Geoje-do


Imke van Heerden - 2009-11-12

Waar woon jy nou en is die gras wel groener daar?

Ek bly op die oomblik in Suid-Korea op die tweede grootste eiland in Korea, Geoje-do. Maar dis vir seker nie net palmbome en wit strande nie en ons is darem met ’n brug aan die vasteland vas. Die gras is vir seker nie groener nie – hier is nie eers gras nie ... Dit is wel ’n ongelooflik stresvrye leefstyl wat baie rustiger is as die een wat ek by die huis gehad het.

Hoekom het jy Suid-Afrika verlaat? Beplan jy om terug te kom?

Dit was maar ’n kombinasie van studieskuld en avontuurlus. Ek was na skool vir ’n jaar in Duitsland en het dit baie geniet. My ouers wou hê ek moes terugkom en kom swot, maar die toergogga was nog die heeltyd daar. Ek het geweet ek wil nie dadelik nadat ek my graad gekry het, “settle” en die grootmens-ding begin doen nie. Of ek beplan om terug te gaan Suid-Afrika toe … ek weet nie. Ek sal waarskynlik eendag teruggaan, maar nie binnekort nie. Vir nou wil ek my skuld klaar betaal en ’n rand of twee spaar. Dan wil ek nog in ’n paar ander lande werk. Dis die maklikste manier om te toer. Ek is lief vir Suid-Afrika en dit sal altyd my huis bly.

Vertel ons bietjie meer van jou beroep.

Ek het iewers gelees dat kinders mens se siel kan genees. Die waarheid daarvan het my eers getref toe ek met klein kindertjies begin werk het. Ek is een van vyf Engels-onderwysers in ’n Koreaanse “hagwon”. Dit is ’n tipe skool waar die kinders ekstra klasse kry. In Korea is daar hagwons vir enige moontlike ding, van klavier tot wiskunde tot Lego! In die oggende gee ek klas vir twaalf van die oulikste sesjarige rysogies in die wêreld. In die middag gee ek klas vir laerskoolkinders. Ek het agt klasse, van verskillende ouderdomme en Engelse vlakke. Die kleintjies is definitief my gunsteling om voor klas te gee. Hulle is vol liefde en baie slim. Daar gaan nie ’n dag verby wat ek nie “opgedrukkie” word nie. Elke dag is soos om op ’n verhoog te wees, want die ouers moet beïndruk word.

Wat van Suid-Afrika laat jou lag en wat laat jou huil?

Suid-Afrikaners se humorsin laat my vir seker lag. Die manier wat ons het om woorde op maniere te gebruik wat in geen ander taal verduidelik kan word nie.

Bloubulondersteuners.

Ek wil huil elke keer as ek in die koerant lees van nog ’n persoon wat wreed vermoor is vir ’n selfoon en R7. Ek wil huil as ek besef dat die kleintjies in my familie moet grootword in ’n Suid-Afrika waar hulle nie buite kan speel sonder toesig nie. Ek wil huil as ek die uitsprake sien wat sommige politieke leiers maak en die goed wat hulle doen. En ek wil huil as ek daaraan dink dat daar seker vir ewig en altyd mense gaan rondloop in Suid-Afrika wat ander mense haat omdat hulle anders is.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

My familie. My ouma, my pa en my ma. My ooms en my tannies en my niggies en nefies. En my niggie se kinders. Ek is spyt dat ek uitmis daarop om hulle te sien grootword. Oooooooo, en my kat. Ek mis dit ook om op ’n weeksmiddag op die sitkamerbank te lê en saam met my pa Isidingo te kyk terwyl hy kosmaak.  En Crosse & Blackwell Mayonnaise.

Hoe reageer mense as hulle uitvind jy is Suid-Afrikaans?

Verras dat ek wit is. En dan sê die Koreane gewoonlik een van drie goed: (a) “Ooooooooh Bronwyn!” (Bronwyn is ’n blonde Suid-Afrikaner wat in ’n Koreaanse realiteitsprogram speel); (b) “Aaaaaaaaaaah Nelson Mandela!”; (c) “Soccuh World-uh Cup!” Die ander buitelanders vra maar gewoonlik algemene vra oor die land en die politiek, misdaad, tradisies en so aan. Ons het al ’n hele paar mense oorreed om in Suid-Afrika te gaan kuier!

Waar in die stad/land waar jy tans woon, kuier jy graag - en wat doen jy in jou vrye tyd?

Ons het ’n Koreaanse vriend wat ’n kroeg besit. Die plek se naam is Jazz-bar en hulle doen elke aand ’n “cocktail show”. Dit is nogals baie indrukwekkend. Meeste van die tyd, as ons nie rondtoer nie, kuier ons daar oor naweke.

Ons gaan ook graag na “Noraebangs” toe. Dit is karaoke-kamers. Jy huur ’n kamer per uur en dan het jy jou eie karaoke, groot TV, mikrofone, kitsch diskoligte en ’n dik lêer vol liedjies om te sing. Dis goedkoop en vet pret.

Ek het in Korea begin om Taekwondo te doen. Omdat Taekwondo ’n tradisioneel Koreaanse sport is, is daar klubs op elke blok. My klas is Maandae tot Vrydae van 8.40 tot 10-uur en ek het onlangs my eerste gradering gehad.

Jy kan ’n Afrikaanse sanger of band nooi om daar op te tree; wie kies jy?

Melktert Kommissie, Klopjag en Ddisselblom. Ook Straatligkinders en Lagnes. Laasgenoemde is nie ’n band nie. Hulle is ’n groep komediante, maar ek sal hulle selfs bo al die musikante kies.

Wat is jou gunsteling-kossoort of -produk wat jy in Korea kan kry wat nie hier beskikbaar is nie?

Red pepper paste. Dit brand die wit waks uit jou uit en die Koreane sit dit in alles.

Sou jy Suid-Afrikaners aanmoedig om daar vakansie te hou?

Vir seker. Ek dink Korea is die afskeepkind van Asië. Die beste opsie is om te kom kuier by iemand wat hier bly en die land deur hulle oë te ervaar.

Jy is gestrand op ’n eiland. Jy het drie Suid-Afrikaanse items van die sinkende skip gered. Wat het jy gekies?

Crosse & Blackwell Mayonnaise; Spar se vetkoekdeeg; Four Cousins rosé-wyn.

Wat is die hoogtepunt van jou verblyf in die buiteland?

My ma het in Julie vir my kom kuier. Dit was ongelooflik om vir haar te kan wys hoe ek lewe en wat ons hier doen. Wat nog lekkerder was, was om vir alles te kan betaal.

Hoe verskil die werkkultuur in die stad/land waar jy tans woon van dié van Suid-Afrika?

Die Koreane werk hulself dood. Letterlik. Na die Koreaanse oorlog moes hulle die land van die grond af opbou. Kinders word van kleins af gedruk om die beste in hulle kleuterskole te wees, sodat hulle na die beste laerskole toe kan gaan. Dit sal hulle help om na die beste middelskool toe te kan gaan, gevolg deur die beste hoërskool en dan die beste universiteit. Hulle moet deurlopend presteer. Uiteindelik word die top-studente deel van die top-werkers in Korea. Hulle werk van vroeg in die oggend tot laat in die aand. Dit is nie ongewoon vir ’n man om voor 6 in die oggend uit te wees en te werk tot na middernag nie. Hulle werk ook oor naweke en het bitter min vakansie. As hulle ’n ding begin, maak hulle dit dieselfde week nog klaar. Die konsep van ’n middagslapie is vir hulle vreemd.

Enige interessante tendense waarvan jy ons wil vertel?

Die Koreaanse mans loop en spoeg konstant. Hulle kyk nie eers waar hulle spoeg nie, en daarom moet ons baie mooi kyk waar ons loop. 

Anders as wat algemeen geglo word, eet die Koreane nie honde en katte en volksvreemde goed vir elke ete nie. Honde is wel iets wat geëet word, maar dit is baie duur. Dit is ook nie asof jy jou poedel teen wrede hond-eters hoef te beskerm nie. Dit is honde wat spesiaal geteel word op plase, soos ons by die huis beeste teel. Ek het nog nooit hond geëet nie en is beslis nie van plan om dit uit te toets nie. Een van ons Koreaanse vriende is allergies vir hond - as ’n maaltyd, nie as ’n troeteldier nie …



<< Terug na die Jong expats-blad <<