Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Nuwe boeke | New books > Afrikaans

Geestelike boeke – Somer 2009


JB Roux - 2009-11-11

Ten spyte van die resessie duik daar nog gereeld kraakvars Afrikaanse boeke van hoë gehalte op. Veral aanhangers van geestelike boeke het niks om oor te kla nie. Uitgewers wat hulle daarop toelê om in dié groep lesers se behoeftes te voorsien, doen baie moeite om te sorg dat daar geen leemtes in hierdie nismark is nie.

Jaco Thom sê Die Bybelroman het oorspronklik in 2006 verskyn en baie gewild geraak. Dié boek is presies wat die titel sê: die volledige Bybel in romanvorm, oorvertel in toeganklike en boeiende Afrikaans. ’n Stórie, dus, met dieselfde boodskap van genade en bevryding as die oorspronklike teks.

Die goeie nuus is dat ’n nuwe uitgawe van Die Bybelroman nou beskikbaar is en dat hierdie boek twee boeties bygekry het: Die Bybelroman vir Tieners en Die Bybelroman vir Kinders. Die nuwelinge se titels is weer eens vanselfsprekend, al bevat veral Die Bybelroman vir Kinders nie die hele Bybel nie. Maar daar is genoeg om te verseker dat die kernboodskap van die Bybel oorgedra word. Die Bybelroman vir Kinders is geskik vir selflees óf voorlees.

Ons kry almal die een of ander tyd seer en sukkel soms om weer heel te word. Die ander kant van seerkry deur Johan Smit is ’n goeie hulpmiddel om deur die rouproses te kom en weer voluit te leef. Al vier bogenoemde titels word uitgegee deur Carpe Diem Media.

’n Buite-egtelike verhouding begin nie met die eerste verbode aanraking nie, maar reeds met die eerste verbode gedagte. Jy besef meteens jy het ’n sterk emosionele band met ’n ander man opgebou. En die ondenkbare gebeur: die deur na seksuele ontrouheid staan skielik wyd oop.

’n Vrou se seksuele behoeftes verskil heelwat van haar man s’n, maar kan gevaarliker wees. Dít is die boodskap wat Shannon Ethridge in Elke vrou se stryd probeer oordra. Die boek help vroue ook om die unieke fasette van vroulike seksualiteit te verstaan, algemene mites oor hierdie onderwerp uit te ken en ’n sterk vlak van intimiteit met jou man of toekomstige man op te bou. Ethridge is vrou, ma, berader en skrywer van die topverkoper Every Woman’s Battle.

Elke vrou se stryd word aangevul met Elke man se stryd, geskryf deur Stephen Arterburn, Fred Stoeker en Mike Yorkey. In dié boek word uit ’n manlike oogpunt na ontrouheid gekyk. Die deurlopende boodskap is dat ontrouheid ’n uitdaging is waarvoor elke man te staan kan kom, maar dis ook ’n stryd wat deur elke man gewen kan word. Hierdie twee boeke sal veral vir pastorale beraders ’n aanwins wees.

In min of meer dieselfde trant is daar Die taal van seks deur Ted Cunningham en Gary Smalley. Smalley is ’n verhoudingskenner en gewilde outeur; Cunningham is sy vriend en ’n leraar. In Die taal van seks word daar vreesloos by inhibisies verby beweeg om die antwoord op een van die oudste vrae in die geskiedenis van die mensdom te probeer beantwoord: hoe om die beste seks ooit te ervaar.

Ons het maar almal ons geheimpies, maar veral mans is geneig om sekere dinge baie diep in hulle siel weg te bêre. In die uiters aktuele Mans en hulle maskers waarsku Stephen Arterburn dat geheime ook ’n man se grootste vyand kan wees en gevaarliker as wat baie van ons ooit kan dink. Dis daarom belangrik om ’n manier te vind om klaar te speel met die onuitgesproke vrese en vrae wat diep binne jou versteek lê.

Met dié vier boeke sorg CUM-Uitgewers dat van die beste boeke op die gebied van geestelike-lewensverryking wat op die internasionale mark beskikbaar is, nou ook in Afrikaans verkrygbaar is.

Depressie is al meer as 20 jaar gelede die “siekte van ons tyd” genoem – en is dit steeds. As jy nie self op ’n stadium aan ’n vorm van depressie gely het of tans daaraan ly nie, ken jy waarskynlik iemand wat het. En depressie kan, sonder die regte behandeling, vernietigende gevolge hê.

In Die kleipot het gebreek skryf dr Fanie Rudolph, self ’n depressielyer, uit ’n Christelike oogpunt oor dié onderwerp. Die boodskap is duidelik: Christene is nie van depressie gevrywaar nie, maar die pad na genesing is dalk soveel makliker met jou hand in dié van God.

The Practice of the Presence of God is nou in Afrikaans beskikbaar as Raak Bewus van God in die Alledaagse. Broer Lourens was ’n eenvoudige Franse monnik. Sy sêgoed, korrespondensie en beproefde lewensreëls, wat in hierdie bundel byeengebring is, word beskou as klassieke juwele in die geskiedenis van ons geloof. Om Lourens aan te haal: “God is oral. Ons kan met God praat waar ons ook al is. Ons hart kan op duisende verskillende maniere met God gesels. Al wat ons nodig het, is ’n bietjie liefde …”

Dis somer in 2006 en die tweede Libanese oorlog het pas uitgebreek …

Marzanne Leroux-Van der Boon is al jare lank geliefd vir haar sensitiewe romans met ’n Christelike inslag. Shomer Yisra’el, die verhaal van Marc Rivkah en hul babaseun wat in die geweld vasgekeer word, is nou ook in Engels beskikbaar as Shomer Yisra’el, Protector of Israel.

In Clifford Heys se God se Name, ’n kostelike bundel oor God se name, word die vele kante van Sy liefde en genade aan Sy volgelinge bekendgestel. Elke naam se betekenis bring ’n nuwe kant van die God wat vir ons omgee en ons enduit dra na vore.

Laasgenoemde vier titels word uitgegee deur Lux Verbi.BM.