Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Taal en integrasie in Suid-Afrika: die rol van universiteite


Vic Webb - 2009-11-06

1. Inleiding[1]

Soos algemeen bekend, is nasionale integrasie een van die ideale van post-1994-Suid-Afrika, wat in algemene terme bewerkstellig kan word deur onder andere die beskerming van die land se diversiteit, die vestiging van ’n demokrasie en die bevordering van gelykheid en menseregte.

Hierdie ideaal kan natuurlik op verskillende domeine nagestreef word. Een daarvan is taal, meer spesifiek die beskerming van linguistiese diversiteit en die bevordering van meertaligheid, die ontwikkeling van die hooftale van die land (tot gelykwaardigheid), die betekenisvolle ontwikkeling van sprekers (meer spesifiek: leerders) se vaardighede in hul huistale (“moedertale”), die aanleer van addisionele tale, en die ontwikkeling van respek vir ander tale en die regte van hul sprekers.

Verskeie amptelike regeringsdokumente verwoord hierdie standpunt:

Die grondwet erken 11 amptelike tale en bepaal dat hierdie tale gelykwaardig gehanteer moet word en gelyke aansien gegee moet word;

Die voorgestelde Suid-Afrikaanse Talewet (2003) dui reeds in sy inleiding aan dat die nasionale taalbeleid Suid-Afrika se linguistiese diversiteit wil bevorder, respek vir taalregte wil aanmoedig, en ’n verenigde demokratiese Suid-Afrikaanse nasie wil bou en konsolideer, en stel nasionale integrasie as een van die ses strategiese doelwitte van die voorgestelde taalbeleid: die taalbeleid moet, word gestel: voorsiening maak vir die aanleer van Suid-Afrikaanse tale deur alle Suid-Afrikaanse burgers sodat nasionale eenheid, meertaligheid en multikulturalisme bevorder word;

Taal-in-die-onderwysbeleidsdokumente beklemtoon ook die bevordering van meertaligheid. Die nasionale taal-in-die-onderwysbeleid vir skole benadruk byvoorbeeld moedertaalonderwys, wys daarop dat byvoegende tweetaligheid nagestreef moet word (dit wil sê ’n tweetaligheid wat nie uitloop op ’n kwyning of onderontwikkeling van sprekers se vaardighede in hul huistaal nie), dat leerders twee tale op skool moet slaag en dat skoolbeheerliggame moet aandui hoe hulle meertaligheid in hul skole gaan bevorder. Die taalbeleid vir hoër onderwys lê ook klem op meertaligheid, soos blyk uit stellings soos die volgende: hoëronderwysinstellings het nog nie daarin geslaag om meertaligheid te vestig in hul daaglikse institusionele lewe en kernaktiwiteite nie; die niebevordering van meertaligheid belemmer die skepping van ’n inklusiewe institusionele omgewing en die bevordering van toleransie en respek vir diversiteit; die ministerie erken die belangrike rol van hoër onderwys in die bevordering van meertaligheid vir sosiale, kulturele, intellektuele en ekonomiese ontwikkeling; die ministerie moedig alle instellings aan om maniere te vind om meertaligheid te bevorder; en van hoëronderwysinstellings word vereis om in hul driejaar-uitrolplanne aan te dui watter strategieë hulle tot stand gebring het om meertaligheid te bevorder, en wat hul vordering in hierdie verband was. (Eie vertaling van die Engelse teks.)

Die taalpolitieke werklikheid is, soos ons weet, totaal anders as wat die nasionale ideale en die beleidsdokumente in die vooruitsig stel: Suid-Afrikaners se aanleer van ander tale (veral in die geval van huistaalsprekers van Engels) het waarskynlik nie toegeneem nie (behalwe, dalk, ten opsigte van Engels in die geval van niehuistaalsprekers), meertaligheid is nie betekenisvol bevorder nie, respek en toleransie vir die regte van sprekers van ander tale het sekerlik ook nie uitgebrei nie, en die vaardigheidsvlakke van sprekers in hul huistale het nie toegeneem nie (veral in die geval van sprekers van die Bantoetale). Verder is die verhoudings tussen (taal-) gemeenskappe vandag waarskynlik niks beter as wat dit in 1994 was nie (trouens, ’n ondersoek sal waarskynlik bevind dat tussengroepverhoudings vandag swakker is as 15 jaar gelede), Afrikaans se posisie as openbare taal het aansienlik verswak, en die Bantoetale is intussen op geen wyse bevorder en dus ook nie gelykberegtig nie.

Om die waarheid te sê: die enigste noemenswaardige verandering sedert 1994 is die aansienlike openbare versterking van die rol van Engels en die gevolglike groter assimilasie in die rigting van ’n Engels-gedomineerde Westerse lewenswyses en -waardes.

Gegee hierdie werklikhede is die vraag: Hoe dan nou met die ideaal van nasionale integrasie? Kan taal in die toekoms enige rol speel in hierdie verband? En indien wel, hoe?

2. Integrasie

Om vrae soos hierdie te (probeer) beantwoord, veronderstel uiteraard dat duidelikheid gegee word oor wat verstaan word onder integrasie, en wat die rol van taal in ’n integrasieproses sou kon wees.

2.1 ’n Omskrywing van integrasie 

In die Suid-Afrikaanse politieke konteks moet die kwessie van integrasie uiteraard nie bedink word binne die raamwerk van die politieke filosofieë van assimilasie (alle burgers gee hul kulturele identiteit prys onder druk van ’n dominante kulturele karakter) óf integrasie (’n nuwe kulturele identiteit word opgebou uit die komponente van vroeër verskillende identiteite – byvoorbeeld deur ’n proses van grootskaalse hibridisering), óf separatisme (die fisiese en institusionele skeiding tussen kulturele entiteite) nie. In hierdie opstel word aan integrasie gedink binne die raamwerk van die politieke filosofie van pluralisme, dit wil sê ’n politieke regime waarin verskille (linguisties, kultureel) erken en gerespekteer word, en waarin diversiteit as ’n nasionale bate erken word.[2] Integrasie word dus nie geïnterpreteer as ’n proses waarin verskille van leefwyses, houdings, voorkeure, waardes, ens ontken of uitgewis word nie.

Die term integrasie word in hierdie opstel gebruik om te verwys na ’n proses waarin gemeenskappe se afsonderlikheid erken, gerespekteer en verdra word, waarin lede van die verskillende gemeenskappe sonder intergroepkonflik of -spanning met mekaar kan saamleef en op sinvolle wyse met mekaar kan interakteer, respek en toleransie vir mekaar ontwikkel het, en mekaar ruimte gee om volgens eie keuse te kan leef.[3]

2.2 Die rol van taal in integrasie

Soos hier bo genoem, sien die opstellers van die SA Talewet die rol van taal in sosiale integrasie as die vermoë van mense van verskillende taalgemeenskappe om met mekaar te praat (wat dus die aanleer van addisionele tale veronderstel).

Die rol van taal in integrasie is egter veel meer.

Onderskei mens tussen die simboliese en die instrumentele funksies van taal, geld die volgende opmerkings:

Wat taal se simboliese funksie betref, dit wil sê tale se sosiale betekenis, kan taal/tale bydra tot die bevordering van integrasie in Suid-Afrika deurdat die sprekers van die verskillende Suid-Afrikaanse tale waardering en respek vir mekaar se tale ontwikkel; dus, byvoorbeeld, as Afrikaans nie meer ervaar word as die taal van die verdrukker nie, en die Bantoetale nie meer gesien word as nuttelose, waardelose tale nie. Sosiale integrasie sal ontwikkel as Suid-Afrikaners mekaar se talige andersheid aanvaar en eerbiedig.

Wat die instrumentele funksie van taal betref, gaan dit eerstens, soos die voorgestelde SA Talewet voorstel, om die vermoë van burgers om met mekaar te kan kommunikeer (deurdat hulle mekaar se tale ken) en, dus, om inligting met mekaar te kan uitruil.

’n Belangriker instrumentele funksie van taal in die konteks van integrasie, is egter die mate waarin die Suid-Afrikaanse tale aan Suid-Afrikaners toegang verleen tot ekonomiese, opvoedkundige, politieke en sosiale geleenthede en deelname. Soos algemeen bekend, is die Suid-Afrikaanse samelewing erg verdeeld ten opsigte van die verspreiding van rykdom, toegang tot gehalte-onderwys, betekenisvolle deelname aan politieke besluitneming, ens. Terwyl hierdie skerp verdelings bestaan, kan daar waarskynlik nie werklik sprake wees van sosiale integrasie nie.

In die verlede, soos ons ook weet, is taal eksplisiet gebruik as politieke instrument om gemeenskappe te verdeel, te beheer en selfs uit te sluit. Vandag is dit steeds die geval: vaardigheid in Engels, die vernaamste taal van sosiale, ekonomiese, opvoedkundige en politieke aktiwiteite, skei die ryk elite van die gemarginaliseerde armes en is ’n baie effektiewe versperring tot die vrye toegang tot geleenthede en keuses. Insgelyks funksioneer die agteruitgang van Afrikaans as openbare taal en die niegebruik van die Bantoetale as sterk diskriminerende, marginaliserende en uitsluitende instrumente. Indien hierdie tale nie omskep word in instrumente waarin toegang verkry word tot al die geleenthede en voorregte wat Engels tans bied aan diegene wat ’n toereikende vlak van vaardigheid daarin het nie, gaan integrasie waarskynlik nie plaasvind nie. In ’n praktiese sin is dit dus nodig dat:

  • die sterk voorkeur vir Engels as die vernaamste taal van openbare gebruik, byvoorbeeld as onderrigtaal in swart skoolgemeenskappe (wat, terloops, regstreeks bydra tot swak opvoedkundige ontwikkeling in hierdie gemeenskappe) radikaal omgekeer word
  • moedertaalonderrig van sy negatiewe assosiasies verlos moet raak en aanvaar moet word as die voordeligste pad tot opvoedkundige sukses
  • Afrikaans ontslae moet raak van sy stigma
  • Die Bantoetale (veral) ekonomiese waarde moet verwerf.

Taal moet ’n betekenisvolle rol speel in die vestiging van gelykwaardigheid, die eerbiediging van menseregte, toegang tot gelyke geleenthede, die vryheid van keuse, en die stryd teen diskriminasie, marginalisering en uitsluiting. Ekonomiese, opvoedkundige, politieke en sosiale ontwikkeling is ’n voorwaarde vir nasionale integrasie, en taal kan ’n belangrike rol speel in hierdie proses.

As instellings - nasionale, provinsiale en plaaslike regeringsliggame, die staatsdiens, die howe, skole en universiteite, en die privaatsektor – integrasie wil bevorder deur middel van taal, sal hulle dus moet vra wat hulle ten opsigte van sowel die simboliese as die instrumentele funksie van taal kan doen en veral wat hulle kan doen om die tale van die land te omskep in instrumente waarmee landsburgers betekenisvolle toegang kan kry tot die geleenthede wat die land bied.

In die res van hierdie opstel gaan die fokus val op die rol van taal in die konstruksie van integrasie aan die Suid-Afrikaanse universiteite.

3. Taal en integrasie in hoër onderwys

Dis natuurlik voor die hand liggend dat die hoëronderwyssektor nie die sentrale domein is vir die bevordering van nasionale integrasie nie; in die onderwyssektor is skole waarskynlik belangriker. Maar: hoëronderwysinstellings is instellings van hoë nasionale aansien, en is daarom ook ’n belangrike domein vir die bevordering van nasionale integrasie, ook ten opsigte van taal.

Op die oomblik maak geen Suid-Afrikaanse universiteit ’n betekenisvolle bydrae tot die konstruksie van nasionale integrasie nie.

Vanuit ’n taalpolitieke perspektief is die volgende drie opmerkings toepaslik in hierdie verband:

3.1 Suid-Afrikaanse universiteite verengels toenemend, dit wil sê raak (institusioneel) toenemend minder meertalig, en dra op hierdie terrein toenemend minder by tot die ontwikkeling van integrasie.

Suid-Afrikaanse universiteite beweeg toenemend weg van die ideaal van meertaligheid, en die tien ander amptelike tale se rol in hierdie instellings is nie betekenisvol nie.

Wat Afrikaans betref: waar daar voorheen vyf volledig Afrikaanse universiteite en drie formeel (en funksioneel) tweetalige universiteite was, is daar nou net twee universiteite waar Afrikaans in ’n betekenisvolle mate as onderrigtaal gebruik word: die Universiteit van Stellenbosch en Noordwes-universiteit se Potchefstroomkampus.[4] Afrikaans het ook grootliks verdwyn as ’n taal van navorsingspublikasies: Mouton (2006) het bevind dat slegs vyf persent van die navorsingsartikels wat in 2002 verskyn het, in Afrikaans geskryf is (vergeleke met 14 persent in 1990). As ’n taal van universiteitsbestuur aan histories Afrikaanse universiteite (HAU's), byvoorbeeld as ’n taal van vergaderings op senior vlakke, het Afrikaans vermoedelik ook grootliks verdwyn.

Die toenemende rol van Engels in die hoëronderwyssektor blyk duidelik uit studente se veranderende keuse van onderrigmedium aan die Universiteit van Pretoria:

Tabel 1: Verandering in studente se keuse van onderrigtaal aan die Universiteit van Pretoria, 1995–1999, 2001, 2004–2007, as persentasies

 

1995

1996

1997

1998

1999

2001

2004

2005

2006

2007

Afrikaans

70,8

65,5

62

59,1

57,3

53

42,8

43,3

36,8

34,8

Engels

29,2

34,5

38

40,9

42,7

47

57,4

56,7

63,2

65,2

Bron: Buro vir institusionele navorsing en beplanning (Binep), Universiteit van Pretoria

Die groeiende rol van Engels as onderrigmedium blyk ook uit die feit dat meer as 17 persent van die 15 823 Afrikaanssprekende studente aan die universiteit in 2007[5] verkies het om in Engels onderrig te word.

Wat die Bantoetale betref: binne die konteks van meertaligheid en die bevordering van integrasie is die rol van die Bantoetale as wetenskapstale byna betekenisloos.[6]

Gegee die buiteproporsionele rol van Engels as tersiêre onderrigmedium, die kwynende rol van Afrikaans en die byna niksseggende rol van die Bantoetale, en gegee die ontoereikende vaardigheid van ’n groot persentasie studente in Engels as ’n akademiese taal, word studente se effektiewe toegang tot kennis, die verkryging van vakinsigte en die ontwikkeling van kognitiewe vaardighede op belangrike wyse beperk. Hierdie toestand is ongetwyfeld nie bevorderlik vir integrasie nie, altans nie in die sin waarin die term hier gebruik word nie.

3.2 Dit is nodig dat Suid-Afrikaanse universiteite meertalige instellings word.

Afgesien daarvan dat die onderwysdepartement se taalbeleid vir hoër onderwys Suid-Afrikaanse universiteite opdrag gee om ’n taalbeleid te ontwikkel wat meertaligheid bevorder en, saam daarmee, respek vir diversiteit ontwikkel, asook dat Afrikaans en Engels as wetenskapstale behou word (ook in die sin van onderrigtale) en dat die Bantoetale ontwikkel word, is meertalige onderwysinstellings ook om ander redes van basiese belang. Hierdie redes sluit in:

  1. In die mate dat meertalige onderwys ruimte gee vir die ontwikkeling van linguistiese en, dus, kognitiewe vaardighede, wat gewoonlik die doeltreffendste in die moedertaal/huistaal plaasvind, ontwikkel studente se leervaardighede uiteraard ook, sodat vakwetenskaplike kennis, insigte en vaardighede in die algemeen meer effektief verwerf word, én sodat die verwerwing van Engels as addisionele taal meer effektief kan geskied.

  2. In die mate dat ’n praktyk van beperkende tweetaligheid - “subtractive bilingualism” (dit wil sê wanneer ’n addisionele taal meer aandag kry as die moedertaal/huistaal) gevolg word, en vaardigheid in die moedertaal/huistaal nie effektief ontwikkel word nie, kan opvoedkundige ontwikkeling ook beperk word.[7]

  3. ’n Meerderheid studente se vaardigheid in akademiese Engels is té beperk om eie potensiaal maksimaal te ontwikkel, wat onder andere meebring dat kognitiewe, sosiale en emosionele vaardighede onderontwikkel bly.

  4. Onderontwikkelde kognitiewe, sosiale en emosionele vaardighede het uiteraard ook negatiewe konsekwensies vir ekonomiese ontwikkeling landwyd.

  5. Meertaligheid lei tot hoër vlakke van kreatiwiteit, tot ’n kapasiteit vir divergerende denke en kognitiewe aanpasbaarheid.

  6. Die fokus op Engels as enigste of hoofonderrigmedium lei tot die onderontwikkeling van toereikende vaardigheid in die ander landstale, wat self weer gebrekkige sosiale integrasie meebring.

  7. Die hegemonie van een taal gee aanleiding tot diskriminasie, sosiale hiërargisering, en die ongelyke verspreiding van hulpbronne, geleenthede en mag.

  8. Die klem op eentaligheid bring mee dat studente ontoereikend voorberei is vir die toekomstige arbeidsmark: die kennisgemeenskap/-ekonomie funksioneer nie eentalig nie.

Meertalige universiteite het dus allerlei opvoedkundige, sosiale en ekonomiese voordele, natuurlik in die mate waarin hulle doeltreffend as sodanig bedryf word.

3.3 Suid-Afrikaanse universiteite se taalbeleidsbesluite van twee- en meertaligheid werk nie.

Dit is moontlik waar dat die meeste Suid-Afrikaanse universiteite (beslis, in die geval van die HAU's), taalbeleid ontwikkel het wat op meertaligheid gerig is. Dit is egter ewe waar dat min (indien enige?) van hierdie instellings hul beleidsbesluite op demonstreerbare en betekenisvolle wyse geïmplementeer en meertaligheid in ’n beduidende mate ’n werklikheid gemaak het.

Die redes vir hierdie versuim is algemeen bekend, en sluit die volgende in:

a)  Die erfenis van die verlede en die politieke betekenis van die Suid-Afrikaanse tale, meer spesifiek van Engels as taal van bevryding en geleenthede, Afrikaans as taal van verdeling en onderdrukking, en die Bantoetale as tale sonder enige openbare waarde (én as tale van verdeling, soos in die geval van die sogenaamde onafhanklike state in die tyd van apartheid).

b)  Die radikale veranderinge in Suid-Afrikaanse universiteite  se demografiese karakter, veral die sterk toename in swart studente aan die voormalige “Afrikaanse” universiteite, wat aandring op Engels as onderrigmedium, soos blyk uit die volgende statistiek oor die Universiteit van Pretoria:

Tabel 2: Toename in studentegetalle per ras by die Universiteit van Pretoria van 1996 tot 2005 as N en as %

 

Swart

Kleurling

Indiër/Asiër

Wit

1996

5 266

256

397

20 041

2005

13 185
(34,25%)

646
(1,7%)

1 708
(4,44%)

22 961 (59,64%)

Toename

150%

152%

330%

14%

Bron: Webb 2007

c)  Die afwesigheid van begrip by dosente vir die fundamentele rol van taal in opvoedkundige ontwikkeling, hul (verstaanbare) onwilligheid om kursusinhoud te herhaal in ’n parallelmediumopset, en hul gebrekkige vaardigheid in die gebruik van meer as een taal in ’n dubbelmediumopset.

d)  Die afwesigheid van ’n sterker voorskrif van die staat in verband met twee- en meertalige onderwys, naamlik die afwesigheid van ’n vereiste van statutêre tweetaligheid, soos Du Plessis (2003:112-4) in ander verband uitwys, en die talle leemtes in die konstitusionele taalbepalings. Hierdie faktor blyk ook uit die onwilligheid van die staat om sy plig na te kom ten opsigte van die verskaffing van fondse vir die ondersteuning van meertalige tersiêre onderwys. (Onderliggend aan hierdie beperkings lê waarskynlik ook die ANC se sterk gerigtheid op die sentralisering van mag en beheer en sy oënskynlike wantroue in die devolusie van mag na laer vlakke van regeringsbestuur, wat duidelik is uit die feit dat Engels die enigste taal van die regering is.)

Daar is egter ook ’n aantal redes wat regstreeks verband hou met die wyse waarop die topbesture van universiteite die taalkwessie hanteer, soos byvoorbeeld:

  1. Hul gerigtheid op ’n vraag-en-aanbod-benadering, sodat hulle hul uitsluitlik laat lei deur studente en dosente se voorkeur vir Engels, dus “die mark”, soos by UP, en hulle totale onderskatting van die mag van Engels en die magteloosheid van Afrikaans en die Bantoetale.

  2. Hul onvoldoende ingeligtheid oor die komplekse aard van taalbeplanning, in besonder die fundamentele rol van ’n gedetailleerde plan van implementering, die noukeurige kontrole van die implementeringsproses en die deurentydse evaluering daarvan.

  3. Hul oordrewe beheptheid met “internasionalisering”: ’n oortuiging dat buitelandse studente en dosente noodsaaklik is vir internasionale kompeterendheid, terwyl die klem in Suid-Afrika se huidige konteks op die verskaffing van basiese opleiding aan Suid-Afrikaanse studente is, die regstelling van onvoldoende opvoedkundige opleiding in die verlede (wat veral duidelik is uit swart nagraadse studente se ontoereikende vermoë om akademiese tekste te skryf) en die handhawing van aanvaarbare  akademiese standaarde.

Gegee hierdie drie opmerkings is die vraag: Hoe moet meertalige Suid-Afrikaanse universiteite ontwikkel word? Daarvoor moet mens dalk ook groter duidelikheid kry oor wat verstaan moet word onder meertalige universiteite.

4. Wat moet verstaan word onder meertalige universiteite in Suid-Afrika?

Deelnemers aan die debat oor meertalige universiteite in Suid-Afrika verwys dikwels na voorbeelde van twee- en meertalige universiteite in Europa en Noord-Amerika. Dis egter nodig om die verskille tussen hierdie universiteite en Suid-Afrikaanse universiteite wat taalpolitieke karakter betref, in gedagte te hou.

Eerstens is dit nodig om in ag te neem dat daar verskillende soorte “tweetalige universiteite” in Europa is: sommige is tweetalig in die sin dat hulle professioneel tweetalige graduandi wil oplewer, dit wil sê studente wat professioneel in twee tale kan funksioneer. Daar word dus van sulke studente verwag om sommige van hul kursusse in die een taal te voltooi, en die ander in die ander taal. ’n Universiteit wat hierdie oogmerk met minstens sommige van sy graadprogramme het, is die Universiteit van Freibourg/Freiburg, met Duits en Frans as die twee tale.

Tweedens is daar universiteite wat uitvoerig voorsiening maak vir opleidingsprogramme in twee tale (maar sonder dat hulle noodwendig tweetalige graduandi wil oplewer), soos die universiteite van Helsinki, Luxemburg, Bozen/Bolzano, Katalonië, Barcelona, Montreal, die National University of Ireland, Laurentian (Kanada), en die universiteit van Baskeland.

Derdens is daar universiteite wat sommige programme, veral op nagraadse vlak, aanbied in ’n ander taal (hoofsaaklik Engels) as die algemene taal van die instelling, soos by die meeste universiteite in Nederland, wat ’n toenemende aantal nagraadse kursusse in Engels aanbied.[8]

’n Tweede oorweging wat in gedagte gehou moet word in ’n vergelyking van Europese of Noord-Amerikaanse universiteite met Suid-Afrikaanse universiteite, is dat die taalpolitieke karakters van die twee soorte gebiede sterk verskil, onder andere ten minste soos volg:

a)  Aan tweetalige Europese (en Kanadese) universiteite, kan die “minderheidstale” op betekenisvolle wyse reken op die ondersteuning van ’n groot beskikbare taalgemeenskap in die land van herkoms: Frans in Kanada op Frankryk, Sweeds in Finland op Swede, Spaans in Katalonië op die res van Spanje, ens. Dis nie die geval in Suid-Afrika nie. Benewens Engels, is daar geen noemenswaardige (betekenisvolle) steun beskikbaar vir enige van die ander Suid-Afrikaanse tale van buite die instelling as universiteitestale nie (benewens Afrikaans, in ’n afnemende mate).[9]

b)  Die sosiale status van die meeste addisionele tale aan die Europese/Noord-Amerikaanse universiteite (Iers in Ierland is ’n uitsondering), is hoog: Engels en Frans in Ottawa, Frans en Duits in Switserland, Fins en Sweeds in Finland en Nederlands en Frans in België. Dit is nie die geval in Suid-Afrika nie. Afrikaans is, soos reeds genoem, in belangrike Suid-Afrikaanse gemeenskappe steeds gestigmatiseer, en die Afrikatale is in ernstige mate gemarginaliseer. Die magsverhouding tussen die Suid-Afrikaanse tale is dus asimmetries, en die veld waarop hulle speel, is allermins gelyk. Boonop word die feit dat Engels hegemonies funksioneer, deur globaliseringsprosesse versterk. Anders as in Finland, waar Sweeds statisties ’n minderheidstaal is (as eerste taal deur 5,6 persent van die bevolking gepraat) maar nie taalpolities nie, is Afrikaans en die Bantoetale in Suid-Afrika, hoewel statisties meerderheidstale, taalpolities minderheidstale, en dus onder bedreiging.

Verder moet mens waarskynlik ook in gedagte hou dat waar Westerse universiteite die “luukse” het om ernstige aandag te gee aan hul intellektuele en kulturele verpligtinge (die vestiging van ’n kultuur van tweetaligheid en kulturele bevordering, en die erkenning van menseregte), Suid-Afrikaanse universiteite se onmiddellike doelwitte, soos vroeër genoem, veel meer basies/fundamenteel van aard is. Gegee die agterstand in die kwaliteit van formele opleiding (swak skole, swak universiteitsopleiding in die tyd van apartheid), moet die meeste post-1994 Suid-Afrikaanse universiteite veel meer gerig wees op die handhawing van standaarde. Daarby moet opleiding geskied binne bepaalde beperkende voorwaardes, naamlik dat toelating nie gekoppel mag word aan taalvaardigheid nie en dat die universiteite gefokus moet wees op ’n toename in studente se sukseskoers. Hiermee word die doelwitte wat vir ’n taalbeleid by Suid-Afrikaanse universiteite gestel mag word, tot die basiese beperk.

In Suid-Afrika is die enigste haalbare doelwit waarskynlik die tweede hier bo: om opleidingsprogramme in meer as een taal beskikbaar te stel en studente dan vrye keuses te gee ten opsigte van onderrigtaal.

’n Kwessie wat binne die Suid-Afrikaanse konteks veel belangriker is as in Europa (ten spyte van die gerigtheid op integrasie binne die Europese Unie), is egter die verpligtheid om deur taalbeleid by te dra tot sosiale integrasie, wat hierna verder genoem sal word.

5. Hoe moet Suid-Afrikaanse universiteite  twee-/meertalig word?

Voertaal

Die vernaamste vereiste vir twee-/meertalige tersiêre onderwys is die gebruik van twee of meer tale as onderrigmedia. In die Suid-Afrikaanse konteks is dit egter nog nie ’n vereiste nie.

Die kwessie van voertaal is, soos bekend, ’n moeilike saak, met allerlei argumente vir en teen elk van die taalgebaseerde onderrigmodelle wat ter sprake kom: enkelmedium, dubbelmedium, parallelmedium (of ’n kombinasie van laasgenoemde twee, soos voorgestel deur die registrateur van die Universiteit van Pretoria), en die gebruik van simultaantolking.

Bo en behalwe die feit dat elk van hierdie modelle hul eie duidelike voor- en nadele het, wat in die taaldebat in ag geneem behoort te word, is dit ook nodig om te noem dat, vanuit die oogmerk van integrasie, nie een van die modelle sosiale integrasie noodwendig uitsluit nie. Selfs enkelmediumuniversiteite beteken nie noodwendig dat sosiale integrasie nie bevorder kan word nie: eerstens omdat sosiale integrasie nie net ’n kwessie van voertaal is nie, en tweedens omdat dit ook nie net ’n taalkwessie is nie. Daar is tog ander strategieë behalwe taal wat ook (moet) bydra tot die proses van integrasie. Eweneens behoort dubbelmedium nie noodwendig te lei tot die agteruitgang van taalpolities mindere tale nie, en hoef parallelmediumonderrig ook nie noodwendig segregasie op kampus tot gevolg te hê nie (al is Afrikaanse klasse hoofsaaklik wit en Engelse klasse grootliks swart). Selfs in parallelmediuminstellings kan leerders/studente leer dat ander taalgroepe ook op hul eie lewensruimte geregtig is.

’n Tweede stel inisiatiewe wat Suid-Afrikaanse universiteite kan onderneem om meertaligheid te vestig, behels aksies wat gerig is op die bevordering van personeel se kennis en insig in die belangrikheid van taal in die opleidingsopset, byvoorbeeld deur die verspreiding van inligting en die fasilitering van gesprekke met die doel om:

  • dosente te oortuig van die fundamentele funksie van taal in opvoedkundige ontwikkeling
  • lede van topbestuur, dosente, studente en administratiewe personeel te oortuig van die waarde van meertaligheid, met die doel om ’n regime van meertaligheid te vestig
  • personeel op te lei in die effektiewe hantering van meertalige situasies en akademiese personeel op te lei in die gebruik van taal in inhoudsvakke (“language across the curriculum”; “content and language integrated learning”).

Derdens kan Suid-Afrikaanse universiteite regulasies instel waarmee personeel en studente se taalkennis uitgebrei word, byvoorbeeld deur ’n kennis van ’n Bantoetaal te vereis vir aanstelling as personeellid (of minstens ’n ooreenkoms met so ’n persoon aan te gaan dat sodanige vaardigheid verwerf sal word), vir die toelating as student en, selfs, vir die verwerwing van ’n kwalifikasie in bepaalde studierigtings (byvoorbeeld dié waarin interaksie met sprekers van die Bantoetale in beroepsituasies verwag kan word, soos in die mediese en regsberoepe).

Ten slotte: behalwe dat elke Suid-Afrikaanse universiteit ’n ondubbelsinnige en toereikende taalbeleid (gebaseer op die nagevorste sosiolinguistiese of taalpolitieke karakter van die instelling) en ’n grondige implementeringsplan moet ontwikkel, is dit noodsaaklik dat universiteite die nodige kapasiteit ontwikkel vir die effektiewe en toegewyde implementering van alle taalgerigte besluite – die nodige denkkapasiteit: ’n denkwyse wat gerig is op meertaligheid; die nodige psigo-sosiale kapasiteit: ’n aanvaarding van die waarde van alle Suid-Afrikaanse tale naas Engels en ’n positiewe ingesteldheid teenoor meertaligheid; en die beleidsbestuurskapasiteit: die nodige verbintenis tot beleidsimplementering, en die finansiële en menslike hulpbronne.

6. Hoe moet die Bantoetale deel word van ’n meertalige opset aan Suid-Afrikaanse universiteite?

Terwyl dit vanselfsprekend is dat Afrikaans behou moet word as akademiese taal, word daar in die openbare debatte oor die kwessie van taal aan Suid-Afrikaanse universiteite te min aandag gegee aan die ontwikkeling van die Bantoetale.

Soos bekend, het die meeste Suid-Afrikaanse universiteite  reeds besluite geneem om die Bantoetale te bevorder. Benewens die Universiteit van Limpopo (waar Noord-Sotho gebruik word vir graadopleiding, al is dit steeds op beperkte skaal) is beleidsbesluite oor die gebruik van hierdie tale hoogstens simbolies van aard: hul gebruik op briefhoofde, die name van geboue en strate en op openbare kennisgewings.

Die bevordering van die Bantoetale mag uiteraard nie net ’n simboliese daad wees nie. Hul ontwikkeling is nodig omdat opleiding en opvoedkundige ontwikkeling op hierdie wyse verbeter kan word en sodoende bydra tot die ekonomiese ontwikkeling van die hele Suid-Afrikaanse gemeenskap, en tweedens omdat hul bevordering sal bydra tot die sosiokulturele ontwikkeling van hierdie taalgemeenskappe, ’n bydrae wat noodsaaklik is vir die vestiging van pluralisme, en daarmee saam: nasionale integrasie.

Die ontwikkeling van die Bantoetale as universiteitstale sal uiteraard ’n langtermynproses wees, en hul algemene gebruik as tersiêre onderrigmedia is tans nie volledig haalbaar nie. Suid-Afrikaanse universiteite  moet egter verplig word[10] om, binne ’n vasgestelde tydsraamwerk, meganismes soos die volgende vir die bevordering van hierdie tale te gebruik:

  • Daar moet afgesien word van die besware wat voortdurend geopper word wanneer voorgestel word dat die Bantoetale as media van onderrig gebruik word: dat hulle nie oor die nodige tegniese terminologie en handboeke beskik nie.
  • ’n Grootskaalse, goedbeplande veldtog moet ingestel word om studente en dosente die waarde van die Bantoetale (ook vir onderwysdoeleindes) te laat insien.
  • Hulle moet gebruik word in besprekings- en groepklasse wat op basis van taal saamgestel word.
  • Kursusse vir dosente (en studente) oor die belangrikheid van die ontwikkeling van Bantoetale as wetenskapstale (op basis van opvoedkundige en ekonomiese oorwegings, en ter wille van die konstruksie van nasionale integrasie) moet aangebied word.
  • Verpligte kursusse vir dosente in die verwerwing van die Bantoetale moet beskikbaar gestel word.
  • Kennis van ’n Bantoetaal kan as voorvereiste vir aanstelling/bevordering sowel as vir toelating as student vereis word.
  • Van dosente kan vereis word om tegniese terminologie in die Bantoetale stelselmatig te ontwikkel (as deel van kursusse wat in Afrikaans en Engels aangebied word met die nodige hulp van kenners van die Bantoetale).
  • Die gebruik van die Bantoetale in (tweetalige) assessering – byvoorbeeld in toetse en eksamenvraestelle.
  • Hierdie tale kan op uitgebreide wyse gebruik word in openbare kontekste en tydens universiteite se openbare funksies, insluitende gradeplegtighede.
  • Daar kan van studente wat in bepaalde diensberoepe gaan staan, verwag word om ’n Bantoetaal te ken.
  • Universiteite kan bydra tot die bevordering van die Bantoetale as skooltale (as vakke en as onderrigtale) deur die instelling van metodiekkursusse vir die onderrig van hierdie tale en die beskikbaarstelling van kursusse oor die hantering van die Bantoetale in klaskamerkontekste. (UP se Opvoedkundefakulteit bied tans glad nie ’n kursus aan in die metodiek van die Bantoetale nie.)

Die ontwikkeling van die Bantoetale sal uiteraard moeilik wees en oor ’n lang tydperk moet geskied, veral in die lig van diepliggende struikelblokke soos die hegemonie van Engels, die lae aansien (waarde) van hierdie tale in eie gemeenskappe (veral in stedelike gemeenskappe), die breë oortuigings van studente, dosente en die swart elite “dat Zoeloe nie jou maag vul nie”, en les bes, heersende markkragte.

As die Suid-Afrikaanse owerhede en die leierskap van hoëronderwysinstellings egter op ernstige wyse wil bydra tot nasionale integrasie, het hulle nie ’n ander opsie nie: hulle moet die Bantoetale betekenisvol bevorder.

7. Slot

Die taalbeleid vir hoër onderwys verwerp eentalige Afrikaanse universiteite en verplig HAU's om aan te dui hoe hulle gaan verseker dat hul onderrigtaalbeleid nie die vrye en volle toegang van nie-Afrikaanssprekende studente verhinder nie.

Hierdie situasie bevat ’n aantal ironieë:

Eerstens: ten spyte van die grondwet se verbintenis tot meertaligheid en sosiale integrasie, word enkeltalige Engelse universiteite blykbaar glad nie as ’n probleem deur die regering gesien nie, al dra hul taalbeleidspraktyk waarskynlik regstreeks by tot swak prestasies deur ’n aansienlike aantal swart studente, en tot die uiteindelike verlies van linguistiese en kulturele diversiteit - sentrale komponente in ’n pluralistiese staat.

En tweedens: die gebrek aan ontwikkeling van die Bantoetale is eweneens ’n doodsteek in die (veronderstelde) beskerming en bevordering van diversiteit en nasiebou.

Maar dalk is die verwesenliking van sekere politieke doelwitte – die regstelling van die sondes van die verlede en die behoefte aan die sentralisering van mag en beheer – só belangrik dat leerders en studente se opvoedkundige ontwikkeling, die gestaltegewing aan pluralisme en die bevordering van nasionale integrasie nie sentraal gestel hoef te word nie.

Bibliografie

Cuvelier, Pol, T du Plessis en Lut Teck (reds). 2003. Multilingualism, education and social integration. Studies in language policy in South Africa. Pretoria: Van Schaik-uitgewers.

Cuvelier, Pol, Theodorus du Plessis, Michael Meeuwis en Lut Teck (reds). 2007. Multilingualism and exclusion. Policy, practice and prospects. Pretoria: Van Schaik-uitgewers.

Du Plessis, T. 2003. Multilingualism and language-in-education policy in South Africa – a historical overview. In Cuvelier, Du Plessis en Teck (reds) 2003.

Mouton, J. 2006. Afrikaans as wetenskapstaal in Suid-Afrika. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 45(3):370-85.

Webb, Vic. 2007. English in higher education in South Africa: exclusion or inclusion? In Cuvelier, Du Plessis, Meeuwis en Teck (reds) 2007.

—. 2009. Multilingualism in South Africa: the challenge to below. Verskyn in Language Matters, Oktober/November.


[1] Ek wil hiermee my dank uitspreek teenoor prof Jonathan Jansen, nuwe rektor van die Universiteit van die Vrystaat, vir die geleentheid om te kon deelneem aan ’n paneeldiskussie oor taal en integrasie op 14 Oktober 2009, en aan prof Theo du Plessis, wat die paneelgesprek beplan en bestuur het.

[2] Dalk moet ek maar eksplisiet daarop wys dat dit nie hier gaan om ’n opvatting van “kultuur” as ’n duidelik afbakenbare, differensieerbare entiteit nie, en dat ek ook nie aanneem dat taal en kulturele karakter een tot een korreleer of dat daar ’n kousale, deterministiese verband tussen hulle bestaan nie.

[3] Gegee die neiging van soveel deelnemers aan die taaldebat in Suid-Afrika om ’n standpunt ter ondersteuning van Afrikaans te beskou as steun vir een of ander nasionalisme, of ’n standpunt ter opheffing van swart gemeenskappe as ’n ideologiese verbintenis tot neo-Marxisme, wil ek graag beklemtoon dat dit vir my nie spesifiek gaan om die behoud van Afrikaans, die beskerming van een of ander veronderstelde kulturele identiteit of een of ander sosiaal-politieke ideologie nie. Dit gaan vir my om die bevordering van die land as geheel.

[4] Die Universiteit van die Vrystaat is ’n parallelmedium-instelling en die Universiteite van Johannesburg en Pretoria is prakties tans toenemend Engelse universiteite. (Die Universiteit van Pretoria hersien tans sy huidige (oneffektiewe) beleid van “tweetaligheid”.)

[5] 40,9% van UP se studente was in 2007 Afrikaanssprekend.

[6] Die Universiteit van Limpopo het wel ’n opleidingsprogram waarin Noord-Sotho as onderrigmedium gebruik word, en daar is ook enkele universiteite wat kursusse in die onderrigmetodologie van die Bantoetale in hierdie tale (of gedeeltelik in hierdie tale) aanbied.

[7] Navorsing het ook reeds duidelik aangedui dat taalverwerwing deur “onderdompelingsprogramme” (“immersion programmes”), soos wat gebeur as skole Engels as onderrigmedium gebruik voordat leerders Engels op die nodige vlak beheer, die mins effektiewe benadering tot die verwerwing van ’n ander taal is. Die argument dat die gebruik van Engels as onderrigmedium sal meebring dat leerders/studente se Engelsvaardigheid verseker, is ’n mite.

[8] Soos Dianne Spencer, April 2008 (brongegewens verder nie beskikbaar nie) aandui: teen 2008 het die aantal kursusse wat in Engels aangebied is, aan Europese universiteite verdriedubbel, hoofsaaklik op die magistervlak, met Nederland voor aan die lys met 774 programme in Engels, Duitsland tweede met 425, dan Finland 235 en Swede 123. Drie redes wat sy vir hierdie ontwikkeling verstrek, is pogings om buitelandse studente te lok, studente voor te berei vir die internasionale arbeidsmark, en die mobiliteit van studente oor nasionale grense.

[9] Nederlands bied in werklikheid baie min steun vir Afrikaans in hierdie verband.

[10] Die bevordering van die Bantoetale is natuurlik nie net die verantwoordelikheid van regeringsinstansies nie. Gemeenskappe (byvoorbeeld studente en die bestuur van tersiêre instellings/personeel) het ook verantwoordelikhede in hierdie verband. Taalpolitieke verandering van onder af vind dikwels eers plaas as gemeenskappe in opstand kom teen wat hulle beskou as ’n toestand waarin hulle ontneem word van hul regte en voorregte of op onredelike wyse gedomineer of onderdruk word. Die posisie van die Bantoetale in Suid-Afrika moet nog bekyk word binne ’n raamwerk van “taalbeplanning van onder af” (vgl Webb 2009).