Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

Michelangelo in Afrikaans


Hennie Aucamp - 2009-11-06

“Moses met die golwende baard”

Ek het my stuk oor Titaan van Karel Schoeman in Rapport van 11 Oktober 2009 soos volg afgesluit:

Titaan gaan, na my mening, ’n naslaanwerk word wat tussen boeke oor die kuns staan; ’n begeleiding by onder meer die mooi gedigte oor Michelangelo wat daar reeds in Afrikaans bestaan: dié van DJ Opperman, WEG Louw en Elisabeth Eybers.

Een digter wat nie in my voorlopige kompendium staan nie, is Izak de Villiers, aangesien ek sy gedig “Moses” in sy laaste bundel, Vervreemdeling, onder oë gekry het eers ná ek my resensie geskryf het.

“Moses” is ’n sterk gedig, en sal hopelik die literêre aandag kry wat dit verdien. Die inspirasiebron, nodeloos om te sê, is die Moses-beeld van Michelangelo in San Pietro in Vincoli, Rome. Dit is, in die dubbele sin van die woord, ’n beeldvers, met die slaggate verbonde aan dié soort. Die grootste slaggat is dat die digter in gebreke kan bly om ’n leser nuut na ’n kunswerk, beeld of skildery te laat kyk.

Die betrokke kunswerk self moet hier arbiter speel. Ek het omring gesit met boeke oor die beeldhouwerk van Michelangelo, maar my sentrale bron was die pragtige Phaidon-uitgawe, Michelangelo, The Sculptures van 1950. Dié uitgawe het groot reproduksies van beelde in swart-wit, maar ook fragmente uit kunswerke word eweneens groot aangebied, en dit alles op matpapier, wat soveel simpatieker van grein is as glanspapier.

Wanneer die beeld-“teks” (Michelangelo) en die poësie (Izak de Villiers) langs mekaar geplaas word, ontstaan daar spontaan ’n vergelykende gesprek tussen tekste.

Reeds by ’n eerste lees van “Moses” word dit duidelik dat hier vanuit ’n individuele psige gekyk word, deurentyd skerpsinnig, en met wat “toegevoegde waarde” genoem kan word, naamlik historiese en teologiese perspektiewe. As “toegevoegde waarde” by ’n beeldvers ontbreek, kon so ’n gedig maar liewers gebly het. Phil du Plessis het jare gelede gesê dat Bybelverse in Afrikaans alte dikwels op blote parafrases neerkom. Izak de Villiers is moeiteloos oor die eerste hekkie. Hy bied nie ’n parafrase nie; hy interpreteer kreatief.

Dit is lonend om, bloot op kyk-vlak, ook Karel Schoeman se siening van die Moses-beeld by te haal. Dis Michelangelo self wat, by wyse van Schoeman, soos volg oor sy Moses-beeld oordeel:

… die groot, gespierde profeet met sy indringende blik, gesete met die tafels van die Wet onder sy arm, maar nie in rus nie, eerder aandagtig en gespanne, asof hy op die punt staan om op te rys in toorn, om oordeel te vel en verdoemenis uit te spreek, om onverbiddelik te tugtig en te straf. (Titaan, p 594)

En later:

… hierdie magtige, intense, fronsende figuur met sy golwende baard en gewade.

By Schoeman is Moses die Oud-Testamentiese stryder, “op die punt (…) om op te rys in toorn”. Skerp waarneming hier: Moses se linkervoet is nie plat op die grond nie, net vier tone, die voet en linkerbeen oorgehaal om Moses se volle gewig op te stoot.

By Izak de Villiers is daar ’n aksentverlegging. Die aktief-strydende Moses van Schoeman word ’n visioenêre Moses by De Villiers. De Villiers se drie slotkoeplette beklemtoon dié interpretasie:

Jou neus is soos ’n kraai se snawel en jou oë staar
verby die beelde, kruise en ikone na ’n plek waar

jy al was en weer wil wees – om nooit weer
t’rug te keer nie, na die Teenwoordigheid op Nebo:

Daar wag Jahwe soos by die doringbos in die woestyn.
Jy wil dat Hy jou alles wys en blink ín Hom in lig verdwyn.

Daar sou gesê kon word dat De Villiers die teologiese perspektief dwing, maar sy interpretasie is net so geldig soos dié van Schoeman. Op stuk van sake bring elke waarnemer sy hele persoonlike geskiedenis na dit wat hy waarneem.

Op een punt kan ek De Villiers nie gelyk gee nie, en dis waar hy van Moses sê:

…           jou baard in lokke
Wat gelate tol tot in jou skoot.          …

Uitbundig tol? Já. Lewenskragtig tol, op die wyse van die Barok? Já. Maar “gelate” tol? Nee, hier is vir my ’n weerspreking in die spel.

Schoeman se frase “golwende baard” wys ook in die rigting van die Barok. Miskien moet DJ Opperman se hulp ingeroep word, want in “Carrara” het hy dit, miskien nie spesifiek oor Moses nie, maar dan tog oor baard soos Moses s’n: “die veerkrag van haarlokke,/ dik kabels baard”.

Waaroor ek onseker voel, is De Villiers se verduideliking oor hoekom Moses deur Michelangelo met horings voorgestel is. Dié verduideliking strek oor vier koeplette en kom daarop neer dat dit om ’n foutiewe Bybelvertaling handel. Kon dié kennis nie maar veronderstel gewees het nie? De Villiers verduidelik byvoorbeeld nie “Julius-nis” nie, en heel tereg. Maar goed, De Villiers se “voetnoot” word tog oortuigend geabsorbeer in die gedig, ook ritmies, en die woord “blink” kan as ’n vooruitwysing na “blink” in die slotreël gesien word.

Hoofsaak is dat De Villiers in “Moses” ’n beduidende gesprek met die titaan Michelangelo aangeknoop het, soos voor hom WEG Louw, Elisabeth Eybers en Opperman, in hulle onderskeie gedigte oor Michelangelo Buonarotti.