Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Adamsappel vokale gimnastiek


Leon-Ben Lamprecht - 2009-11-05

Ons het mos maar almal ons dingetjies. Jy weet, daai goed wat ander laat met 'n "warrefok?" wat oor hulle gesigte spoel as jy hulle vertel. Sommige mense skree byvoorbeeld vir die Blou Bulle (ek het sulke familie én vriende), sommige eet hulle steak gaar, in plaas van medium rare (ek ken ook sulke mense). Ander verkies jou wrintiewaar groente bo vleis. Kan jy glo?

Ons het mos maar almal ons dingetjies.

Ek is geen uitsondering nie. Terwyl kitaargedrewe rockmusiek (en Tom Waits) my vreeslik opgewonde maak, het ek ook 'n donker kant. Oukei, ek gaan dit maar net uitspoeg: ek hou van musicals en a cappella-musiek. Ek ken nou nog die woorde van "Supercalifragilisticexpialidocious" van Mary Poppins.

In my studentejare was ek 'n gereelde bywoner van sêrkompetisies. In een onbewaakte (en hier blameer ek die wyn) oomblik het ek selfs een keer saam met my vriend Scoop gaan sêr vir 'n meisie van wie hy gehou het. (Hy was, terloops, sêrleier van Dagbreek en is steeds 'n veel, veel beter sanger as wat ek kan hoop om te wees.)

Dit was dus met 'n gees van opwinding dat ek Adamsappel se selfgetitelde debuutalbum bejeën het. Vir dié wat nie weet nie: Adamsappel is 'n groep van nege mans wat hulle sêrtande in Stellenbosch geslyp het. 'n Deel van die room, as't ware, wat in die afgelope tien jaar of wat daar gesêr het.

Terwyl daar 'n paar sêrgroepe (kug kug) die afgelope paar jaar die Suid-Afrikaanse musiektoneel betree het, het dié wat ek gehoor het, my nie juis aangegryp nie. Daar is tog meer aan sêr as bloot oulike danspassies en 'n ou wat beatbox. Ek meen, daar moet soliste wees. Behóórlike soliste.

Dalk is dit my Stellenbosch-wortels wat my gehoor verwring, maar by Adamsappel ís daar propperse soliste. Luister byvoorbeeld na die groep se weergawe van "Nella Fantasia" (met sy beeldskone intro, wat mens skoon hoendervleis gee). Of op hulle weergawe van die Libanese sanger Mika se "Grace Kelly". Hier is omtrént 'n allegaartjie van sangers wat kan voorsing.

Nouja, dis nie 'n klomp Josh Grobans nie, nee, maar die stemmetjie raak ook nie so dun soos 'n loopplankmodel wanneer die noot te lank aangehou word nie.

Maar dis so half nie die punt nie (en in elk geval, ek is nou nie 'n stemkenner nie, net 'n musiekliefhebber en -luisteraar). Hiér is dan die punt: dis 'n lekker versameling a cappella-tjoens deur 'n paar begaafde jong mans.

Hulle live shows is nogals iets om te beleef. Dis snaaks en meesleurend, en ja, daar is ook danspassies. Plus, is live nie maar die beste manier waarop mens die meeste musiek kan hoor nie? Die album streef daarna, maar vang nie lekker die live gevoel vas nie. Maar hoe kan enige album, of DVD? Dit gaan dan nou mos ook oor die emosie wat in jou opwel as jy in die gehoor sit.

Nog iets wat pla, is die feit dat die oorspronklike kunstenaars van die liedere nie in die boekie genoem word nie. Dis nogals 'n irriterende oorsig, om eerlik te wees.

Maar dan: die verpakking is pragtig: 'n kartonboksie met 'n kort bio van elke sanger. Daar is ook kort stukkies in oor hoe dinge werk: hoe hulle klere kies vir optredes, die bestuur van die groep en so aan.

Op die einde vervaag al hierdie dinge vir jou - veral op daai belaglike reguit stuk pad tussen Albertinia en Mosselbaai. Jy hoor net dié 9-stuk en hulle vokale gimnastiek. En jy betrap jou waar jy kliphard met hulle saamsing op "Billy Jean", "Somebody to Love" en "Crazy". En dan raak die pad sommer korter.