Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Die ''Afrikaner''


LiMari Louw - 2009-11-05

Ek is tans besig met my MA in Afrikaanse taalkunde en het onlangs op iets baie interessants afgekom.

Gewoonlik as inbellers op Praat Saam of Loslip op RSG hulle gesprek begin met “Ek is ’n blanke Afrikaner”, dan is my reaksie altyd instinktief: ek sug en sit dan sommer maar dadelik my “draadloos” af, want die strekking van die gesprek is dan maar gewoonlik dieselfde en het dikwels ’n rassistiese ondertoon.

Die term blanke word reeds jare al nie meer deur die gedrukte media gebruik nie. Dit word ook in nuwe woordeboeke en taalgidse as polities verouderd aangedui. Deesdae praat ons net van wit mense, bruin mense en swart mense, maar hier en daar (eintlik heel dikwels) maak die “blankes” steeds hulle stem dik oor die eter. As jy die persone sou vra wat hulle dan kwansuis “blanke Afrikaners” maak, dan word daar gewoonlik ge-um en ge-aah.

Hierdie term Afrikaner is iewers in ons ou landjie se geskiedenis deur ’n klein groepie vir eie politieke gewin gekaap en deesdae is ek liewer dood as om as ’n Afrikaner geklassifiseer te word.

Tog, lees ek, het hierdie woord lank gelede ’n heel ander betekenis gehad.

In sy boek Die wording en ontwikkeling van Afrikaans skryf J du P Scholtz:

Tog, meen ek dat daar dikwels … te veel waarde geheg word aan die uitroep "’K ben een Africaander", wat die half besope jong Hendrik Bibault* op die Sondag van 6 Maart 1707 in ’n gees van verset teen die dwingelandy van goewerneur Williem Adriaan van der Stel en ander hooggeplaaste Europees-gebore Kompanjiesamptenare laat hoor het.


Later gee hy meer besonderhede oor die besope jongeling:

Vier half besope en baldadige jong mans – onder hulle die pas sewentienjarige Hendrik – maak op Sondag, 6 Maart, groot moles in die kompanjiesmeul op Stellenbosch. Die gehate landdros Starrenburg kom by. Twee van die jong losbandiges spring op hul perde en ja weg. Hendrik kan nie betyds wegkom nie; hy kry ’n paar houe met ’n rottang en vlug weer in die meul. Die landdros probeer hom oorreed om stil huis toe te gaan, maar dan skreeu hy die volgens Franken so hoogs betekenisvolle woorde uit: “Ik wil niet loopen, ‘k ben een Africaander, al slaat den Landdrost myn dood, of al setten hij myn in den tronk ik sal nog wil niet swijgen.”

 

(Klink baie soos “Ons sal lewe ons sal sterwe, ons vir jou, Suid-Afrika” en sy houding soos dié van Malema vandag.)

Maar hier kom die mees interessante gedeelte:

Die woord Africaan of Afrikaan(d)er is in die sewentiende eeu deurgaans gebruik vir ’n inboorling; die jong Hendrik Bibault se uitroep bevat die oudste bewysplaas aan ons bekend waar dit ook op ’n aan die Kaap gebore blanke toegepas is. Dis twyfelagtig of ons groot waarde aan die “trots” van die beskonke jong man moet toeken. En dis baie beslis nie so dat Afrikaner deur Bibault naastenby gebruik is in die sin wat ons vandag aan die woord heg nie. Tot diep in die tweede helfte van die agtiende eeu is Afrikaner nog gebruik in toepassing op wie ook al aan die Kaap gebore is.

 

Die arme “Afrikaner” wat vandag in so ’n oorlewingstryd en identiteitskrisis gewikkel is, moet dalk op sy ware spore terugstap. Dis jammer dat die meerderheid Afrikaanssprekendes (wat altyd tog maar bruin was) ook nooit hulle regmatige plek as “Afrikaners” ingeneem het nie. Vandag, meen ek, is hulle dankbaar daaroor, want hoewel ek net so lief is vir my droë witwyn en ook dikwels nie skroom om myself daaraan te buite te gaan nie, sit ek liewer saam met Malema in ’n hysbak vas as om as "een Africaander” bekend te staan!

Ek stem vir ’n nuwe naam vir almal van ons wat die Kombuistaal gooi.

LiMari Louw
MA-student en RSG-aanbieder

*Chris Chameleon het in sy baanbrekersprogram op KykNET, Kyk hoe lyk ons nou, ook vlugtig van Bibault melding gemaak.