Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Artikels

Letterkunde-treffers by Kaapse Afrikaanse Eisteddfod


2009-10-29

Vroeër vanjaar was ek bevoorreg om hoërskoolleerders se prosa en gedigte vir die Kaapse Afrikaanse Eisteddfod te beoordeel. Ek was beïndruk deur die hoë gehalte. Daarom het ek met die organiseerder, Dirk Binneman, en Melt Myburgh ooreengekom dat ons die werk hier op LitNet wyer bekend sal stel.

Die deelnemers, behalwe Ronnie Elliott, het my verslae gebruik om verbeterings aan te bring en daarna het ek dit as ’n ou ervare boekeredakteur geredigeer. Dit was vir my heerlik om te sien hoe dié woordkunstenaars op kritiek gereageer het, hoe hulle weet waar om bes te gee en waar nie. Dit voorspel goeie dinge vir die toekoms. Elliott het sy mentors geraadpleeg en sy werk verskyn onveranderd.

Die sluitingsdatum vir inskrywings by die letterkunde-afdeling van die Kaapse Afrikaanse Eisteddfod is einde Februarie 2010 en die tekste moet die organiseerder in die middel van April bereik, en moontlik plaas ons aanstaande jaar nog ’n keur uit die werk. Kaapse skole kan Dirk bereik by dbinnema@pgwc.gov.za.

Ander organiseerders van letterkunde-afdelings van eisteddfods kan inligting en tekste stuur aan dbbotha@mweb.co.za.

Die tekste is nie volgens prestasie of skoolgraad gerangskik nie.

Danie Botha

 

Jano Bekker:

Tuiskoms

In die bus flits bietjies straatlamplig oor en weer tussen die sitplekke en met die gang af.

Die flitse ontstel hom. Hy kan die stemme in die verte hoor, op soek na hul prooi. Flitsligte skyn dofweg in die koue naglug rond.

“Jy, daar beweeg iets!” hoor hy een gretig skree. Hulle jaag hom soos ’n mens ’n dier sou jag.

“Nee!”

Hy skrik benoud wakker en sien hoe sy vel glinster van die sweet. Vinnig bekyk hy sy medepassasiers en sak meer ontspanne terug in die sitplek. Niemand het hom gehoor nie. Nie eers die orige vrou wat nou duskant van die gangetjie sit en snork nie. Hy het die bus al tot vervelens toe van agter tot voor bekyk.

Presies hoe ver hulle nog van die eindbestemming af is, kan hy nie bepaal nie. Sy liggaam en verstand is uitgeput as gevolg van die lang reis. Hy is nou veilig.

Die eerste sonstrale wat skaamweg deur die stowwerige venstertjies skyn, verdwyn skielik toe die bus tussen die wolkekrabbers begin deurgaan. Die raserige enjin brul by die laaste bult af en kom by die stasie tot stilstand. Die passasiers begin ontdooi en beweeg na die uitgang.

Buiten die geskarrel binne die stasie is die stad nog leweloos, die strate maar verlate. ’n Netjies geklede man met 'n aktetas is haastig op pad êrens heen. Alhoewel hy weet dat dit nog ietwat vroeg is, laat die rustigheid hom vervreemd voel. Dis mos nie hoe hy dié plek onthou nie. Hy het lank laas hier gestaan, maar onthou nog dat sy gesê het hy moet kom kuier as hy ooit die geleentheid kry. Hulle was op ’n tyd so naby aan mekaar gewees. Catherine was die enigste een wat hom amper verstaan het. Dit was voordat alles verander het.

Hy kyk na sy opgefrommelde buskaartjie: Hein du Plessis. Die familienaam waarop sy pa so trots was. Foei tog.

Die bus het 'n halfuur laat aangekom; nie dat dit hom eintlik pla nie.

Hy gaan plak homself in die naaste koffiewinkel neer en bestel dadelik twee espresso’s. Kafeïen help altyd om die tyd te versnel en sy gedagtes te suiwer.

In die kafeetjie is daar 'n middeljarige man wat sit en koerant lees en 'n sakeman wat by sy skootrekenaar sit, terwyl hy die een koppie na die ander wegsluk. Hy lyk effe gespanne en frons toe die telefoon agter die toonbank begin lui.

“Café de la Fiuggi, hoe kan ek u help?” Die klerk lyk verward en loer deur die kafee, vra dan: “Verskoon my, is hier 'n meneer Du Plessis teenwoordig?”

Hein gaan neem die gehoorstuk by die klerk. “Hallo?” vra hy onseker.

“Meneer Du Plessis,” laat 'n growwe dog ernstige stem hom hoor, “jammer om so ontydig te pla.” Die sarkasme in die man se stem is onmisbaar. “Ek wil net vir u verseker dat ons wel op u spoor is, soos u duidelik kan agterkom. Die pad hou êrens op.”

Hein frons nou ook. “Wie praat? Hoe het jy …”

“Totsiens,” sê die stem ferm en druk die telefoon dood.

Hein gewaar 'n man oorkant die straat wat stip na hom kyk, maar skielik wegdraai en spore maak toe hy hom sien. Hierdie plek hét verander. Dalk is hy nie so veilig op straat soos wat hy gedink het nie.

Hy moet haar in die hande kry. Hy het haar so lank laas gesien dat hy wonder of sy hom sal herken. Dit sal veilig wees by haar huis. As hy gou maak, sal hy haar kan groet voordat sy werk toe gaan.

’n Taxi is wel duur, maar hy verkies om lewend by haar aan te kom. Die motor stop voor hom amper onmiddellik nadat hy sy hand uitgesteek het. Die plek is eintlik aangenaam in die oggend, want mense is nog nie heeltemal gek as gevolg van die stres nie en lewer graag hul dienste, aangesien hul nog hulle brood en botter moet verdien.

“Hollow Way 55,” beveel Hein met opwinding in sy stem.

’n Wit motor ry al agter die taxi aan, maar laat genoeg spasie vir ander voertuie om tussenin te ry. Die taxibestuurder lyk later gespanne en begin elke nou en dan agterdogtig na sy truspieëltjie kyk. Hulle stop voor haar woonstel, maar voordat Hein by die motor kan inkyk, ry dit vinnig verby en verdwyn tussen die toenemende verkeer.

Hy klim uit en gaan lui die deurklokkie. Die skerp tweenoot-geluid roep oombliklik talle herinneringe op.

“Hey, Heinie! Ek’t gewonner of jy nog gaan kom!” lag sy vriendelik. Hulle omhels mekaar.

“Dis goed om jou weer te sien, Cat.”

Sy het nog nie baie verander nie. Hein onthou hoe die tyd al in die verlede verby gevlieg het as hulle eers stories begin uitruil en vandag is geen uitsondering nie.

Ná ’n rukkie laat sy weet: “Ek moet nou gaan, anners gaan ek laat wees. Maak jou solank tuis. Dan sien ek jou nou-nou.”

Die woonstel is ietwat stil. Hein sit en kyk Supersport. Hy het dit lank laas gedoen. Hy het lank laas énige televisiekanaal gekyk. Deesdae is daar mos vreeslik baie kanale. Dis vir hom nog steeds eienaardig hoeveel dinge in so 'n kort tydperk kan verander. Ten minste is hy nou veilig.

Hein raak egter ongemaklik hier in die klein ruimte van die woonstelletjie. Dit voel asof die mure al nader aan mekaar beweeg. Hy onthou die klein, dor kamertjie. Sy lyf ruk van die vrees. Hy moet weer 'n bietjie vars lug skep.

'n Draffie sal geen skade aanrig nie en Catherine behoort al tuis te wees teen die tyd dat Hein sy ou roete gedoen het.

Toe hy weer by die woonstel aankom, staan haar kar al langs die sypaadjie. Hy kan die ketel hoor kook vir die middagkoffietjie terwyl hy by die oop voordeur instap.

“Vir wat los jy die voordeur so wawyd oop hier in die stad?” spot Hein haar, alhoewel sy stem in 'n mate ernstig klink.

“Ek’t g’n die voordeur opgelaat nie,” glimlag sy.

Haar glimlag verdwyn.

“Middag, Hein. Ek het gesê ek gaan jou opspoor,” sê die growwe stem agter hom. “Inspekteur Walters,” beantwoord die vreemdeling Catherine se vraende gesig. Die sonlig weerkaats teen die magasyn van 'n rewolwer wat by die man se holster uitsteek.

Onmiddellik is sy gespanne.

“Ken u hierdie man?” vra hy vir haar met sy growwe stem.

“Uhm …” twyfel sy.

“Weet u dat hy gesoek word vir onder meer moord? Ons probeer al twee maande lank om hom en sy medepligtiges op te spoor. Moord is 'n ernstige misdaad,” praat die man voort.

Sy soek vir antwoorde in Hein se oë, wat geskok na die man staar. Sy gee ’n tree agtertoe. Sy was nog altyd ’n opregte mens en ’n getroue landsburger.

“Moenie dit doen nie,” pleit Hein by die man.

“Ken u vir hom, Mevrou?” hou die man vol.

Sy sluit haar sopnat oë en huiwer ’n oomblik. Toe sy hulle weer oopmaak, is hulle koud.

“Ja,” sê sy kil, sonder om eers in Hein se rigting te kyk. “Ek is bewus daarvan en sal as getuie in die hof dien.”

Hein steier terug van die skok. Hy het vir haar baie goed laat verstaan dat sy dit nóóít mag uiter nie. Hoekom het hy dit vir haar vertel? Waarom verontagsaam sy hom?

“Goed. Dan is jy van geen nut buiten ’n risiko nie.” Die man haal die rewolwer uit, mik dit op haar en vuur een dodelik akkurate skoot wat haar leweloos op die kombuisvloer laat.

Hein sug. “Was dit nou werklik nodig?” vra hy apaties.

“Jy weet ons mag nie enige ooggetuies laat wegkom nie. Vergeet daarvan. Moord is niks ernstig nie,” sê die man weer met sy kenmerkende sarkasme. “Vergeet van haar. Kom nou, voordat iemand ondersoek instel na die skoot. Ons moet jou op 'n veilige plek kry voordat die regte polisie jou opspoor,” grynslag hy.

— Hoërskool Jan van Riebeeck, graad 11

 

Ronnie Elliott:

son(de)(r)

uitsig oor die goukou

skemer op ’n stoep
met die kokerboomskadu’s kwynend dansend
dan en wan persepsie van die liefste lewe
’n glasie vonkel van die son se oog
op môre
wat liefs nie te gou mag kom nie
salueer die maan en sy woonaards
van vrede kan hul ons leer
en kyk neer op tyd (re(tro)spek)
sien die horlosies uitdy
die horison is eintlik ’n naderende graf
kyk weg; verloën
verneder jou geliefde
raak alleen dronk
koop ’n donkie vir die vuilwerk
en sloof jou af vir jouself
arme enkelouer / -mens
selfsug is ’n fyn kuns
solank jy bly glimlag:
vannag op die stoep
kokerbome blote gedagte
dansend met jou geliefde wantroue

2008/05/16

Hoor die son huil ek het hom vermoor

in elke asemteug is daar dus dood
die gesmagte vryheid van sweef
oor die grys seë heen om reën deur
jou te sien/voel val en asem te haal
en die dood te proe om die mis
raak te vat wat uiteraard lewende
liefde was en dit te soen en te
blaas oor oseane heen en in te teug
te verwelkom na die horison van dié
doodseane (die stilte kreukel met dié klank)

verder: in elke blik gerig op die werklikheid
gryns daar dus ’n gotiese skildery
van (dalk) weduwees wat op verlate kuslyne
kla en ween en dan is daar selfs dié
gryssee wat breek met elke lied en my
aanhits om nooit weer die liefde
te laat lewe nie

dié groteks gaan egter verder want nou
sien die digter uit die dood van perspektief
dat die weduwees spoke maagde calypso’s
is was sou wees en soos hulle sing en
kla is daar in elke liriek die swart
mis van verlies en leë liefde soos ou
grafte die siele swem in dié grys see
en hier is ek: trooster van die klaers
van Astartese en paaier van dié
power gedaantes wenend oor die weë
in dié gryse see wat geen blik meer op die
lewe liefde lafenis kan rig nie agter dié smartgrys horison.

2008/01/25

— Hoërskool Jan van Riebeeck, graad 11

 

Ruzaan Marais:

Hulp aan ’n verlore hart

Bietjie vir bietjie,
stadig maar seker
keer kleur terug na die horison
en my mond kan amper weer ’n konkaaf vorm.

My lugkasteel se hortjies word ligblou geverf,
dieselfde skakering as jou oë
wanneer ek daarna kyk deur die glans
van my trane.

Die appels hang bloedrooi aan die bome,
smeulend
soos jou mond
voor dit myne vind.

Bietjie vir bietjie
leer ek weer om oor die liefde te droom
totaal onrealisties en verwaand
sonder perke of uitgewerkte afmetings.

Stap vir stap
het ek teruggekeer
en die perfekte prentjie van wat ek wou wees
agtergelaat.

Bloot vir die feit
dat daardie prentjie
vervang is
deur een met jou langs my.

— Hoërskool Jan van Riebeeck, graad 10

 

Emma Swart:

Die beste aand van Lana se lewe

Lana was nog nooit by een van dié partytjies nie. Sy loop by die deur in met die oorweldigende klop van die musiek in haar ore. Die plek is geprop met mense! Party staan langs die kant en praat, terwyl ander in donker hoekies wegkruip en wie weet wat aanvang.

Haar ma het haar gewaarsku teen sulke partytjies en sy het altyd oor die nuus gehoor van tieners soos sy wat iets oorkom by sulke plekke. Sy het geweet sulke partytjies eindig nooit goed nie.

"En nou, as jy so bekommerd lyk?" vra Kelly haar.

"Nee, dis, uhm, sommer niks," jok Lana. Sy wil nie haar nuwe vriendin se aand bederf nie. In haar kop begin ’n plan vorm aanneem: bly net heelaand by Kelly; sy sal jou help as iets skeef loop.

"Jy hoef nie te worry nie, hoor, die mense hier is nie sketchy nie en die party is legit," sê Kelly.

"Wie se party is dit?" Wees geïnteresseerd, maar kalm, praat Lana haarself moed in.

"Dis Charné se sweet 16 bash. Haar ouers is weg vir die naweek en toemaar, hulle weet van die kuier."

"Okay, nee, dis cool," glimlag Lana en dink by haarself: as die meisie se ouers hiervan weet, is dit bietjie beter; ek meen, die gevaarlike partytjies is altyd dié waarvan die ouers nooit weet nie.

Kelly kyk die mense so deur en sien iemand wat sy ken. "Kom, Lana, dis tyd om jou aan my mense voor te stel," lag sy, gryp haar aan die arm en sleep haar saam tussen die skare in tot voor 'n groep seuns.

Onmiddellik vang die een aan die regterkant Lana se oog. Beeldskoon, pragtig, inderdaad ’n god van skoonheid! Swart hare wat blink in die kunsmatige huisligte. Gawe blou oë wat skoon tot binne jou kyk. Die skimp van kuiltjies, met 'n swart beauty spot onder die linkerhoek van sy soenbare lippe. Sulke tipe ouens sien jy net in tydskrifte, maar hier is hy voor haar en, toe sy weer kyk, is hy besig om homself aan haar voor te stel!

"Hey, ek is Daniel," sê hy en hou sy hand uit.

Al wat Lana kan sien, is sy glimlag toe sy sy hand skud en sê: "Hey, ek is Kana, Lelly se vriend, ek bedoel Lalla, ag … Lana." Sy voel hoe haar wange bloedrooi raak.

Hy lag toe net en sê: "Hey, Lana. Jy's nie van hier rond nie, is jy?"

Lana voel hoe haar keel op 'n knop trek en bid dat dit haar nie in die steek sal laat as sy nou antwoord nie. "Ja." Dankie tog, haar stem is normaal. Reg, kyk hom nou in die oë en moenie vergeet om te glimlag nie. "Ek het laas week hiernatoe getrek."
 
"O, ek sien! Wel, soos die Engelsman sal sê, welcome to the neighbourhood!"

Sy lag. Dis amper of sy haarself histeries begin breek van die lag, maar sy keer haarself gou genoeg en sê: "Ha-ha, baie dankie. Nou ken ek ’n volle twee mense hier."

Hy glimlag. "Wel, jy gaan definitief baie mense hier ontmoet; maar wees maar net versigtig wie. Ek weet van hierdie meisies kan nogal …" en asof die duiwel hom geroep het, val daar 'n groterige ou teen Lana vas vanaf die dansvloer se kant en mors amper die helfte van sy drankie op haar uit.

"Ekskusjtog," slinger hy. "Maar ek moet net weet ...” Hy gooi sy arm om Lana se skouers en beduie met ’n vinger na haar toe. Dié aksie laat omtrent die ander helfte van sy drankie ook uit die glas mors. “Hoe kry my ou broer hiersjo dit reg om met sjo 'n mooi girl sjoosj jy te praat."

Die gewig van die ou is besig om Lana van balans af te gooi. 'n Mens kan sien hy sukkel om al die woorde uit te kry. Eers voel Lana gemaklik, maar ewe skielik baie onaangenaam met die dronk ou wat al sy gewig op haar neersit.

Daniel sê toe: "Wel, Johan, dalk is dit omdat ek nie 'n suiplap soos jy is nie."

Johan kyk vir Daniel. "Ek? 'n Sjuiplap? Danieltjie my sjkadebol, ek isj sjo nugter sjoosj 'n haasj," lag hy terwyl hy sy ander arm om sy broer gooi en vir Lana nader trek. "Liewe, Boetie, wat sjou ek sjonder jou doen?"

"Seker uitpass op straat," antwoord Daniel.

Johan stink na rook en drank en Lana hoop haar ma gaan dit nie aan haar kleure ruik nie.

Nou sê Daniel vir Johan: "Ek dink dis tyd dat jy moet huis toe gaan."

"Sjolank die pragtige meisjie sjaamkom, ja," glimlag Johan vir Lana.

So help Lana toe om Daniel se broer by die deur uit tot by sy kar te kry, wat 'n entjie in die straat af geparkeer staan.

Nes hulle by die maroen Corsa aankom, raak Johan se gewig ewe skielik swaarder op hulle skouers en Lana hoor hoe kreun Daniel: "Hoekom moet hy uitpass voor die moeilikste deel!"

Lana kan haarself nie keer nie en begin lag. Daniel ook, en saam begin hulle letterlik op die grond rol van die lag met Johan net langs hulle in die gras, vas aan die slaap en salig onbewus van die twee se oomblikke van spontaniese malligheid.

Ná 'n minuut of twee is Daniel die eerste een om te vra: "Nou wat was eintlik so snaaks?"

Lana sug en met 'n glimlag probeer sy dink wat haar eintlik so laat lag het. "Nee, jong. Dit is maar net nie hoe ek verwag het vanaand sou wees nie, dis al."

Daniel staan op en hou sy hand om vir haar op te help. Nadat hulle albei weer regop is, wonder hulle wat om met die arme Johan te maak.

Daniel besluit om sy heel oudste broer, Coenraad, te bel om Johan huis toe te vat. Terwyl hy en Lana sit en wag vir hom om daar aan te kom, sê hy: "Luister, jammer hieroor. "

"Ag, dis orraait," antwoord Lana. "Ek gee regtig nie om nie," en sy glimlag, want dit is nogal waar.

"Nee," sê hy. "Ek wil nie hê dit moet my eerste indruk op jou wees nie."

Lana dink: "Hoe kan enige ander indruk van hom nóg mooier wees?" Maar sy sê: "Hoe bedoel jy dan nou?"

"Wel …" begin hy, "ek wil nie voor op die wa wees nie, maar as jy ja sê en volgende naweek saam met my iets kom doen, belowe ek ek sal jou 'n beter eerste indruk gee as ek op 'n sypaadjie in die nag met my dronk broer."

Lana lag toe. "Ek sê mos ek dink nie sleg van jou nie, maar as dit jou beter sal laat slaap, dan ja, ek sal saam met jou iets gaan doen." Haar binneste tol en spring van blydskap! Dit is wragtig die beste aand van haar lewe!

"Sjoe, haha, amper dog ek jy gaan nee sê," lag hy skaam.

En al wat Lana kan dink, is: Asof iemand vir jou kan nee sê.

— Hoërskool Jan van Riebeeck, graad 10

 

Stefni Borchardt:

Lara in die land van kastele
 
’n Reisskets


Ek is moeg, so verskriklik moeg, dink Lara. Dieselfde gevoel as toe hulle op die vliegtuig gesit het. Dieselfde ou ongemaklike, ingepropte gevoel.

Die kar skud so ’n bietjie oor die klippe.

Lara kyk ver in die wêreld. Sy weet wat haar pa sal sê: “Goeie ding ons het dié Landie gehuur; hulle’t gesê dit sal ’n moeilike pad wees.”

Stupid kar. Sy weet nie hoekom hulle oor twee kontinente moes vlieg vir dié plek nie! Vreemde land. Vreemde ...

“Stop!” gil tannie Es. Lara ruk haar kop eintlik skeef soos sy na haar tannie kyk.

“Dis ’n kasteel!” sê tannie Es opgewonde.

“Almal uit!” sê Lara se pa met so ’n sarkastiese stemtoon. “Ons moet na die kasteel kyk.”

“Asof ons nie al klaar een gesien het nie,” sê haar ma saggies.

Tannie Es neem verwoedelik foto’s. Lara kyk na die kasteel. Ja, besluit sy, dit lyk soos een. Selfde argitektuur, loodglasvensters, torinkies. Nog ’n ou kasteel in Skotland. Great!

Haar pa skakel die kar aan en Lara weet sy moet inklim. Dis nog ’n lang pad en dit lyk of dit gaan reën.

Later skrik Lara wakker toe sy die donderweer hoor slaan. Die lug is donker. Geen ster kan gesien word nie. Dit lyk asof die blitse reg langs die kar slaan.

Voordat Lara nog die slaap uit haar oë kan vee, sien sy straatliggies. Sy sit regop en vee die wasem van die vensters af.

”Welcome to wee Tobermory!” sê haar tannie in ’n Skotse aksent.

Die lang rit is verby. Haar pa draai teen ’n skerp bult op. Haar maag gee ’n draai. Hoogtevrees! Dis aaklig. Sy hou haar oë styf toe. Net voordat sy dink sy gaan flou val, voel sy die kar stilhou. Hulle is seker by die gastehuis. Sy is te bang om haar oë oop te maak!

“Kom, Lara,” sê haar ma. “Ons is hier.”

Lara maak die kar se deur oop en help haar tannie om uit te klim. Hulle klim so ’n paar treetjies na bo tot by die groot groen deur. Lara se pa lig sy hand om aan die deur te klop, maar dit swaai skielik oop!

“Good evening, good evening!” groet die bestuurderes. So ’n ou klein, skraal Skotse vroutjie. Sy het ’n vadoek in die een hand en dra ’n voorskoot. Die vadoek is vuil met groot, bruin en rooierige vlekke. Dieselfde soort vlekke op die voorskoot.

Lara se ma en pa groet en stap binne. Lara kyk na haar tannie. “Twee woorde,” sê sy: “Bloed en heks!” Haar tannie gee so ’n flouerige laggie, wat vir Lara sê dat sy ook so gedink het. Hulle stap ook binne. Lara bly agtertoe kyk om seker te maak of die deur nog oop is. Net vir ingeval sy wil ontsnap!

Die bestuurderes wys vir hulle die kamers. Lara en haar tannie deel ’n kamer en haar pa en ma is aan die ander kant van die huis.

Nadat hulle hulle bagasie afgelaai en aandete geëet het – spek-en-kaas- toebroodjies, die stukke kaas so dik dat jy jou tandmerke kan sien – besluit sy om op die bed te gaan lê. Sy skakel die televisie aan en wikkel haarself gemaklik toe. Haar tannie is besig om te stort.

Lara is alleen. Toe sy dít besef, sit sy die TV se klank nog so ’n bietjie harder. Sy druk die volumeknoppie drie keer, maar voel nog steeds bang. Sy staar by die venster uit. Dit reën nou behoorlik. Sulke swaar, groot druppels water val na die aarde toe en ontplof teen die vensters. Lara sit haar hand teen die venster en ’n koue rilling gaan deur haar. Sy kan die koue voel. Die TV-kanaal sê dis minus drie. Sjoe, dink sy, dié soort weer sal ons mos nooit in Kaapstad sien nie!

Lara klim uit die bed uit en stap by die gang af. Al die water het haar nou dors gemaak. Sy stop voor die kombuisdeur, weet nie of sy rêrig wil ingaan nie. Stadig stoot sy die houtdeur oop en tot haar verbasing lyk alles normaal. Geen swart pot of werkboek of altaar nie. Dalk is die ou vrou regtig net ’n mens.

Lara soek vinnig vir haar ’n koffiebeker en vat ’n sakkie kakao wat in ’n blikkie op die tafel staan. Sy sit die ketel aan en gooi solank die kakao in die beker.

Later loop sy stadig met die vol beker oor die helder rooi mat na haar kamer. Die vloer kraak verskriklik.

Toe sy uiteindelik weer terugkom by haar kamer, is haar tannie reeds in die bed. Dit lyk asof sy klaar in droomland is. Lara skakel die TV af en gaan sit op die bed. Terwyl sy aan haar kakao teug, dink sy aan die dag, probeer om al die oomblikke te herleef: die veerbootrit vanaf Skotland tot op die Isle of Mull, die kastele. Sy wonder wat sy môre sal sien. Dalk ’n draak! grap sy met haarself.

Sekondes later slaap Lara, ver van haar bekende wêreld af, knus in haar bedjie op die Eiland van Mull.

Die vloer kraak en die deur swaai oop. Dis die bestuurderes!

— Zwaanswyk Akademie, graad 9

 

Weens sensuurwetgewing oor die uitbeelding van tienerseksualiteit word ek verhinder om twee sterk tekste op te neem. In “Die brief” dramatiseer Terence Makapan  die trauma van ‘n tienerseun wat deur ‘n ouer man, vriend van sy enkelouer-ma, verkrag word. Luzaan van Niekerk gee die tienerswangerskap-gegewe weer by wyse van ‘n dramatiese monoloog in “The pregnant virgin” – ideaal vir die kabaretverhoog. Albei gebruik vertelstrategieë wat beïndruk. Dit was vir my en seker ook vir die leerkragte wat die werk ingeskryf het, iets heel buitengewoons dat leerders sulke gedurfde temas so stilisties en struktureel afgerond kon hanteer. Hulle is albei van die Hoërskool Jan van Riebeeck.

- Danie Botha