Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Annie Klopper: Rockjagter

The Turn voorspel draaipunt vir onderwaardeerde Taxi Violence


Annie Klopper - 2009-10-28

Draai die klank harder en draai die ruite af: Taxi Violence, waarskynlik die mees onderwaardeerde rockgroep in Suid-Afrika, het so pas 'n tweede vollengte-album, The Turn, vrygestel.

Terwyl Taxi Violence die afgelope paar jaar van tyd tot tyd rimpelings op die Suid-Afrikaanse musiektoneel gemaak het, het hierdie Kaapse rockgroep steeds nie die erkenning gekry wat hulle toekom nie. Om die waarheid te sê, tot onlangs het dit vir my voorgekom asof dié groep hul naam gestand doen deur slegs sporadies (dog gewelddadig) in die plaaslike bewussyn op te duik. Dit lyk egter nou asof The Turn 'n draaipunt kan inlui.

Die nuwe album volg op Taxi se eerste vollengte, Untie Yourself, wat in 2008 genomineer is vir 'n SAMA in die kategorie vir die beste Engelse rockalbum. Sedert laasgenoemde album het die groep van baskitaarspeler verwissel, maar nie van hul kreatiewe en rou energie ontslae geraak nie.

Die slymerige retro blues-rock op The Turn is onheilspellend en jaag jou soos die duiwel deur die dal van doodskaduwee, donker kamers, die spreker se slapelose dae en onthutsende nagte. 'n Verganklikheidsbewussyn word byna voelbaar, soos veral in die eerste epiese single, "Devil 'n Pistol", wat jou saam met 'n haastige rif en bass line uitasem deur 'n angstige rymelary sleep:

What would you do if the devil came for you,
came knocking at your door on the sixth of June?
Would you rattle like a snake
would you openly debate
that it's not your time or fate
to be leaving so soon
...
What would you fear if the ending was near
and the gates of hell were closing
with your name on its rear?

'n Liedjie soos "Valley of Shadows" laat jou asemskep en wonder of Chris Cornell 'n gasverskyning op die album kom maak het, terwyl "Venus Flytrap" 'n persoonlike gunsteling bly wat 'n fyn aanvoeling vir die liedjieskryfproses met ongebreidelde musikale waaghalsigheid balanseer:

We get high, way below
We get the fire in the belly to grow.

'n Snit soos "Churchgoin' Man" bewys dat die groep 'n diepgewortelde inspirasie put uit klassieke rock, maar hulle repertoire spreek ook van die invloed van kontemporêre bewegings in hierdie genre. Indien voedingsbronne nagespeur sou word, sou onder meer Queens of the Stone Age, Sonic Youth, The Rolling Stones, Wolfmother, Black Rebel Motorcycle Club en Led Zeppelin vir seker feature.

Terwyl kitaarspeler Rian Zietsman se kitaarvernuf iets is waarvan legendes gemaak word, is voorsanger George van der Spuy se stembande met soveel talent geolie dat sy sang fiks en moeiteloos langs Rian se rifs draf. Boonop verloor Louis Nel op tromme en Jason Ling op baskitaar vir geen oomblik hul fut nie, maar skep saam 'n rhythm section wat geensins hulle teenwoordigheid agter kitaar en stem verdoesel nie.

Enige Taxi Violence-aanhanger sal jou gou vertel dat jy nie die groep werklik kan experience tensy jy hulle op 'n verhoog beskou nie. Ek stem saam. Daar is iets magies aan Taxi op stage. Die groep gryp jou aan die nek en laat nie los tot heel aan die einde nie. Ongelukkig is dit onmoontlik om sodanige lewende optredes in 'n 14 cm-plastiekboksie te plaas, maar daar word hard probeer en die resultaat is nie te versmaai nie. Die klank van die album is nie met oorproduksie skoongeskrop nie, maar behou iets wat herinner aan die Taxi Violence wat die vermoë het om skares by feeste op te sweep.

Vrystellings soos The Turn laat my wonder waarom Taxi so onderwaardeer is. Dis asof Suid-Afrikaanse gehore dikwels reageer soos 'n hond wat 'n bus gevang het wanneer groepe so talentvol soos hierdie op die toneel verskyn. Mag The Turn 'n draaipunt wees wat aan Taxi Violence die nodige erkenning gee wat hierdie ouens al jare lank verdien.

Gaan kyk na die musiekvideo vir "Devil 'n Pistol" en kliek hier vir foto's van The Turn se bekendstelling by Mercury Live in Kaapstad.

Foto: Adriaan Louw