Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Artikels | Features > Afrikaans

Hipermedia en -poësie: ’n kort inleiding


Chris Brunette - 2009-10-22

Welcome to the information age, circa 2001, where nothing is quite like it used to be and everything is the same, only more so. — Laura Gurak


Hoewel dit mag voorkom of elektroniese teks ‘n heel nuwe vorm van poësie moontlik maak, is afwykings van tradisionele, gedrukte poësie nie ‘n nuwe verskynsel nie. Die eerste tentoonstelling van visuele, klinkende en bewegende poësie het reeds in 1964 in Cambridge plaasgevind (Solt 1968).

Selfs vroeër het Tommaso Filippo Marinetti met 8 Anime in una Bomba (8 lewens in een bom) en Zang Tumb Tumb gewys hoe daar met teks in ‘n statiese papierruimte geëksperimenteer kan word (Ikonen 2003). 8 Anime in una Bomba (1919) maak staat op die leser se verbeelding om die teks te "sien" beweeg. Letters word herhaal en word groter om rigting en snelheid na te boots. Die verskillende fases van die oënskynlike gang van die woord is in een oogopslag sigbaar:


In Zang Tumb Tumb (1914) gebruik Marinetti verskillende lettergroottes om die beweging van die teks van links na regs verby die leser te simuleer:

En in die ongetitelde gedig van Claus Bremer (1970) word die teks van die woorde ein text passiert só voorgestel (p 18 van die dokument) dat dit lyk asof dit letter vir letter op die blad getik word terwyl dit gelees word (Ikonen 2003). Wanneer die teks van nader bekyk word, is dit ook duidelik dat die woorde letter na letter van die blad verdwyn.

Die voorgaande is net ‘n paar voorbeelde van vroeë pogings van skrywers en digters om los te breek van die beperkings van tradisionele teks. Die ontwikkeling van die elektronika het dit egter moontlik gemaak om verby die punt te beweeg waar die beweging van statiese teks gesimuleer word. Die web maak dit moontlik om op dramatiese wyse met teks te eksperimenteer. Digters kan eenvoudige hiperteks gebruik, dit wil sê waar woorde of frases as hiperskakels aangebied word en die leser sodoende lei na ander tekste of media soos grafika, klank en video. Die doel van hiperteks kan wees om navigasie deur ‘n elektroniese teks te vergemaklik, by te dra tot die betekenis van die teks of selfs net om te vermaak.

‘n Voorbeeld van hipertekspoësie is Marble Springs deur Deena Larsen (1993). Dis ‘n epiese gedig oor die vroue wat gehelp het om die Amerikaanse Weste te tem. Hul anonieme gedigte word in ‘n fiktiewe spookdorpie tussen die bouvalle van ‘n kerk gevind. Die leser vind sy pad deur die vallei waarin Marble Springs geleë is deur hiperskakels te volg, die gedigte te lees en stuksgewys ‘n prentjie te vorm van die lewe, liefde en intrige van die vroue van Marble Springs.

Kenmerkend van die web word die verhaal van Marble Springs ‘n ineengestrengelde web van woorde wat na mekaar verwys en kruisverwys, inligting verskaf en die verhaal met elke lees verander.

Natuurlik bied die elektroniese ruimte ook verdere opwindende moontlikhede om teks te verryk met hipermedia, naamlik klank, video en grafika. Voorbeelde van hipermedia in poësie sluit in Megan Sapnar se Car Wash (2000) (klank en video) en Stephanie Strickland se The ballad of Sand and Harry Soot (1999) (grafika).

In Car Wash bevind die leser/kyker hom in ‘n motor wat deur ‘n wasoutomaat beweeg. Die teks van die gedig verskyn in die voorruit en word aangevul met geanimeerde beelde, musiek en klank.

Die digter gebruik haar medium ten volle deurdat sy ook die teks van vorm laat verander sodat verskillende betekenisse oorgedra word. Sy begin byvoorbeeld een frase met:

morning
I wonder where you have emerged

en laat die teks dan voor die leser se oë verander na:

mourning
I wonder where you have emerged

om by te dra tot die treurige toon van die gedig, wat aan haar pa opgedra is.

In The ballad of Sand and Harry Soot word grafiese kuns elegant gebruik om die leser te help om sy pad deur die teks te vind. Die grafika is so belangrik vir die digter dat sy self aan die ontwerp deelgeneem het en haar medekunstenaar, Janet Holmes, naas haar eie naam erkenning gee.

Om mee af te sluit is dit waarskynlik nodig om hier hardop te wonder - soos die tekspuriste en tradisionaliste onder ons sekerlik vra - waarom daar dan nie groter aanhang is van die elektroniese teks en die moontlikhede wat dit bied nie.

Een van die grootste punte van kritiek is dat leidende teoretici op die gebied van hipermedia (mense soos Landow, Lanham, Bolter en McGann) nie deeglik besin oor wat tans bekend is oor teks en die leeservaring nie. Andersdenkendes soos Miall en Dobson het al uitgewys dat die lees van hiperteks (verrassend!) remmend inwerk op die leser en dus nie die vrye, ryker ervaring bied soos geesdriftig aangevoer deur die ondersteuners van hipermedia nie (Brunette 2003).

Maar dit is tog so dat hipermedia die leser in staat stel om groot volumes werk in dieselfde ruimte te ervaar deur die primêre teks, al die kommentaar daarop en meegaande voorbeelde in grafiese, klank- of videoformaat virtueel langs mekaar te plaas. Nielsen (1995) herinner dat inligting deur middel van hipermedia met dieselfde gemak aan die leserspubliek verskaf kan word as deur boeke en koerante: "The reason people are getting excited about hypertext now [...] is that it can now be implemented with commercially used technology. [...] [S]tandard home computers can support a wide range of hypermedia needs."

Die skrywer se standpunt is vandag selfs meer geldig.

Bronne

Brunette, CE. 2003. Hipermedia en poësie; ‘n verkenning. Ongepubliseerd.
Gurak, LJ. 2001. Cyberliteracy: Navigating the Internet with Awareness. New Haven: Yale University Press.
Ikonen, T. 2003. Moving Text in Avant-garde Poetry: Towards a Poetics of Textual Motion. http://www.brown.edu/Research/dichtung-digital.com/2003/issue/4/ikonen/index.htm.
Larsen, D. 1993. Marble Springs. http://www.eastgate.com/MS/Title_184.html.
Nielsen, J. 1995. Multimedia and Hypertext: The Internet and Beyond. San Diego: Academic Press, Inc.
Sapnar, M. 2000. Car Wash. http://www.poemsthatgo.com/gallery/summer2000/carwash/index.htm.
Solt, ME. 1968. Concrete Poetry: A World View. http://www.ubuweb.com.
Strickland, S. 1999. The ballad of Sand and Harry Soot. http://www.wordcircuits.com/gallery/sandsoot/index.html.

 
<< Lees hiperteksgedigte hier <<