Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Resensies | Reviews

Transit: Clare Stopford kén nou eenmaal spel


Albert Maritz - 2009-10-22

Toe Groundswell van Ian Bruce in 2005 twee Fleur du Cap-toekennings gewen het, was dit ’n welverdiende mylpaal vir ’n hardwerkende man met visie.

Voor dit was daar al stringe ander stukke. Hande vol opgeleide talent wat uit hul assosiasie met die New Africa Theatre in Sybrandpark spruit.

En Transit is weer so ’n spogstuk.

’n Verrassende stel wag die gehoor in. Berei jou voor op oomblikke van die beste wat die teater het om te bied – vir die uiterste connoisseur - met net hier en daar die kleinste tegniese elemente wat kon beter.

Dis tog die kleinste dingetjies wat stukke soos Hedda Gabler, Twaalfde Nag en vele ander klassieke tekste laat voortbestaan en jaar na jaar opgevoer laat word vir konstant veranderende gehore deur die eeue. Maar teater is eerstens vermaak. Transit, die teks, sal net kort draai daarvan om as een van ons heel bestes geklassifiseer te word. Die teaterelemente sal soms net kort draai van perfeksie.

Maar op die verhoog by die New Africa Theatre gebeur magic. In ’n uiters verrassende gegewe is die gehoor vir die eerste kwart van die produksie nie vir een oomblik gekonfronteer met innoverende teks, spel of visuele nie. Tekstuele spanningslyne word gelê, spanningslyne tussen karakters, en ’n sensasie van die onvermydelike pak die gehoor beet.

Twee van Swede se gerekende aktrises laat hulle geld: die een as ’n voorspelbaar irriterende Amerikaner, die ander as ’n Sweedse weldoener. En Melinda Kinnaman en Christina Samson werk met ekonomie en beheer en vat die essensie van hul karakters knap raak.

’n Enkele oomblik van voorspelbaarheid, effe verswakte geloofwaardigheid, is kos vir die puritein, en ’n minuskule tekstuele tekortkoming.

Sylvia Bulelwa Ntlantlu lewer ’n baie sensitiewe vertolking en steel harte met die wonderlik onderspeelde oomblik van waarheid. Hou hierdie vrou dop vorentoe!

Mbulelo Grootboom is in elke stuk beter en beter. En hy is seker die akteur in Suid-Afrika wat die gereeldste werk. Mbulelo bied hier sy beste vertolking nog. En in die loop van die speelvak, hou hom dop – soos wat die "big picture" van die stuk nog beter in sy vertolking deursyfer.

En so ’n verrassing soos Sharlto Copley in District 9 is, net so verras Peshang Rad. Jy is jou dit verskúldig om die man op die verhoog te sien as Adam. Die regisseur en die teks laat hom nie een keer in die steek nie.

Clare Stopford is weer getuienis daarvan: jy kan jou vermaak kies aan die hand van wie die baas is. Clare Stopford kén nou eenmaal spel, die teater en hoe om die individu tot groot hoogtes te lei.

Transit deur Ian Bruce
Regie Clare Stopford
Met Mbulelo Grootboom, Ladji Kánte and Sylvia Bulelwa Ntlantlu - Kaapstad
Melinda Kinnaman, Peshang Rad and Christina Samson - Swede

by die
New Africa Theatre
Golf Courseweg 43, Sybrand Park, Kaapstad.

Die speelvak is tot 7 November 09. Bespreek by Berniece Friedmann, 021 434 4951/ 082 892 5877 en bernfried@kingsly.co.za.