Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Swart op wit, Engels op Stellenbosch, WP op vleuel


Albert Maritz - 2009-10-22

In his private heart no man much respects himself. – Mark Twain

 

Met Aardklop agter die rug bly ’n paar dinge my by: niks meer as Die Stommes nie. Dis ’n verwerking van Dis ek, Anna, wat deur Hoërskool Grens opgevoer is. Kyk maats, smaak verskil, maar ek sê julle – daar's ’n paar regisseurs wat op skolevlak werk wat definitief professioneel behoort te regisseer. Om ’n stuk met leerders van ’n skool as akteurs aan te bied, en daar is nie een swak vertolking nie … Om ’n konsep aan te bied wat die gehoor stomslaan weens die stel, die spieëlbeeld-visuele wat die dubbele hoofrolle eggo (ek gaan nie hier daarop in nie), die kostuums, die visuele komposisie, die eenvoud, selfs suksesvolle massatonele en saamsprake van groepe mense … só, só suksesvol. En die drif en walging van die onderwerp wat voortgestu word deur ’n immersmeulende massa spelers wat soms tot reuse-uitbarstings kom! Dit skep weer op sy beurt die ruimte vir die hoofrolspelers om met volgehoue beheer uiters volwasse, subtiel-genuanseerde spel te lewer!

Wel, die feit dat smaak verskil, is nog min so deeglik geïllustreer as hier. My smaak was duidelik in die laaste helfte van gewildheid. Wel, dit wat die ATKV-tienertoneel op Aardklop betref.

My gunsteling op die kommersiële fees was Die Ryk Weduwee. Ek sien nou nog my verhoogheld, Cobus Rossouw, op sy rug aan’t oefeninge doen op die verhoogvloer van die destydse KRUIK-teater, iewers in die '70’s - die Hofmeyr-teater (in die steeg langs die Groote Kerk, waar die Oscar-bioskoop later was, digby waar DJ Opperman sit en skryf het aan sy Joernaal van Jorik, op sy beurt in die Koffiehuis).

In hierdie produksie is dit Waldermar Schultz wat ’n sterk rolverdeling as middelpuntvlietende krag aan ’n magiese towerstaf om en om swaai. Almal is goed, met ’n nuweling soos Raymond Randell geen uitsondering nie. Hy herinner my aan die groot spelers van ouds: aan Pieter Joubert wat teenoor Johan Malherbe in die Feydeau-klugte gespeel het. ’n Akteur met ’n kordaat flambojansie. Ai, is ons nie geseën met talent nie.

*

En hoede af aan die vervaardiger/regisseur-kombinasie en dié mense. Klein Libertas-teater en Juanita Swanepoel is bekend daarvoor dat hulle stukke op die planke bring teen skamele bedraggies geld. Die mense wat vir hulle werk, doen dit baie gereeld vir ’n appel en ’n ei. Ek wens hulle ’n meevallertjie toe met die reuse-sukses van ’n stuk. Dis net hier waar ’n mens sou wou sien dat owerhede kundig genoeg, en besorg genoeg, is om sulke werk te identifiseer en te sorg dat dit befonds word. En dat nog sulke kwaliteit in die toekoms ook geskep word.

*

Soos Louis de Villiers iemand aanhaal wat gesê het oor ons sokker: ons het nie Suid-Amerikaners in ons sokker nodig nie, ons het Duitsers nodig. Wel, gee ons ’n paar Duitsers in ons Departement van Kultuursake. Daar het ons hulle nodig. O, sommer by die Lotto ook – noudat ons van verdagte bestuur praat. En by the way: Joel Santana se sokkerrekord is nie sleg nie. Het jy al sedert jy klein was in 1950 gedroom ons sokkerspan sal ooit met twee of minder doele teen groot Europese lande verloor?! Oukei, die laaste een was teen Ysland, maar shit happens. Nee, die ruwe, anderstalige man moes gebly het net waar hy was, dat hy roer onder die duur, beroemde plaaslike sterre in sokker. Tante Koba roer haar koffie met haar groottoon om …

Wie gaan nou die finesse hê om met die plaaslike sterre te werk?

*

Soos ek hier bo erken, is ek soms ver verkeerd. Ek is seker ook dan verkeerd as ek dink dié's maklik: Selebi en Agliotti het saamgejol, maar hoekom iets daarvan dink? Die een was baas van polisie, die ander glo ’n krimineel in die dwelmwêreld. Een moet lewenstandaarde beskerm; die dwelmbedryf vernietig mense. Die twis in die hof oor die waarde van ons vriendskap is belangriker as lewens verloor en skelms se aansien geknou.


*

Nes die taalargument oor Stellenbosch. Wanneer my alma mater top-wêreldprestasies lewer, kan dit niemand skeel of Stephen Hawking nie verstaan nie. Wanneer ek aansoek doen by al wat owerheid is om swart leerders en swart volwassenes in die Noord-Kaap in staat te stel om na Faan se Trein te kom kyk, verroer niemand ’n vinger nie. Geen haan kraai daarna nie. So, terwyl elke hoeder van waardes besorg is oor die klein getalle swart en bruin mense aan die US, sit ’n groot gros van die swart mensdom hul Afrikaanse lewens om – op ons voorstoep. Hoekom nie ook Afrikaanse mense ophef en Afrikaanse mense help om by universiteitstudie uit te kom nie?! Op Stellenbosch. Nou moet ons à la Kubaanse dokters Stellenbosch se deure en masse oopgooi vir Engelssprekendes.

Stellenbosch had nog altyd sy Engelssprekenders. Hoekom die universiteit Engels maak? Dis ’n twakpratery van die eerste water. Dis ongeëwenaarde dubbele standaarde. Watter owerheid steur hom aan die opheffing van Afrikaanse swart mense? Of aan die opheffing van énige swart mense? Die onderwys is ons barometer. En almal wat ek gevra het om steun om die mense in die Noord-Kaap koek te gee toe hulle niks eers gevra het nie, behalwe brood.

*

Die Reitz-4 is laaities, en speel – dalk bietjie morsig, maar darem ook nie venynig nie – studente-nonsies. Hulle word afgeransel vir die dood, en ly verseker ernstig daaronder. ’n Edel man dink laaaank daarna nugter daaroor, tree versoenend op – waarvoor sy aanstelling seker deels was, en kry nou by sommiges pak daaroor. Dit terwyl Malema soos ’n kwaad standerd 9-seun aangaan oor elke dingetjie waaraan hy kan dink. En hy het “ondersteuners”? Ek's jammer, Prof. Ek dink ek is al my varkies kwyt.

 

O, en Hanjé Pistorius, hier van Melkbos, was in ’n liederlike ongeluk in die Vrystaat. Maar toe ek lees in die prof Jansen-onderhoud van die mooiste oomblik waar respek en menslikheid ontmoet, en ek dink: Maak sy nie nou ’n ouerhart, asook dié van haar ou skool, Jan van Riebeeck, en ons ou dorpie, trots met haar ‘'klas’' nie?! Joe. Watter pragtige opvoeding het sy nie ontvang nie.

*

Diego Maradonna word aangekla deur FIFA vir sy aanmerkings van kritiek oor hulle. En die Caster Semenya JHB Internasionale Lughawe-span loop vry rond!

Gelukkig lees ek in die koerant JJ Engelbrecht van Maties is beseer. Anders sou ek gedink het ek het regtig ’n skroef los: om te dink jy speel eerder Naqelavuki of die ander Fidjiaan.

En al wat leef en beef en al leer skryf het, spoel hul monde uit oor die Fidji-vleuel se hoogvat! Man, jy skree seker ook dat elke driedrukker president word, terwyl die meeste drieë ’n spanpoging is. Nes ’n rugbywedstryd nie in een oomblik gespeel word nie, maar oomblik vir oomblik, vir meer as 80 minute. Gelukkig lees die ou nie Afrikaans nie. (Net die man om Stellenbosch toe te kom.)

 

The chief cause of human errors is to be found in the prejudices picked up in childhood. – René Descartes