Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

’n Droom in die trope


Coenie Kukkuk - 2009-10-21

Ek kyk uit by die venster van die villa. Die see kom tot teenaan die trappe onder by die hoofingang en die klein brandertjies wat daarteen breek, veroorsaak ’n sproei seewater wat elke nou en dan soos mis opstyg. Die son is so pas onder – die water se kleur is ’n mengsel van blou en donkergroen tot waar die ander eilande so ’n halfuur ver per boot bo die kalm see uitstyg. Die vasteland lê net agter die eerste paar en mens kan die blou berge van hier af uitmaak – net-net in die dynserigheid. Dit is seker een van die mooiste plekke op aarde. Dis misterieus en donker hierdie tyd van die vroeë aand, maar oop en lig en vol son deur die dag. Die inheemse bevolking is steeds behoudend en alhoewel hulle Westerse klere dra, is die stamgebruike en tradisionele lewenswyse steeds meestal in plek, anders as op die vasteland. Eeue oue gebruike word deur legendes en mites vol vreemde dwerge, reuse en seemonsters verklaar. Die landskap is donkergroen net waar jy kyk – soos dit ’n regte oerwoud betaam.

Die villa behoort aan Renier, ’n kennis wat tydens die goeie tye ongelooflik baie geld uit die aandelebeurs in Londen gemaak het. Ek en Lenny is genooi deur Santa, ’n gemeenskaplike vriendin. Sy en haar lover Bondina bly in een van die suites wat direk op die water uitkyk – dit het ’n Turkse gevoel en is vol swaar roesbruin matte wat van die dak tot op die grond hang. Hulle bed is ’n groot, swart matras op die grond, oorgetrek met swart linne, waaroor ’n oorgroot spierwit muskietnet tot teenaan die dak hang. Die kruie wat hulle brand terwyl hulle hul rituele uitvoer, hang swaar in die lug en mens kan dit tot in die hoofvertrekke ruik. Santa is ’n heks, maar ’n goeie heks, soos sy dit noem – hulle is Wiccans en kook, toor en dans gedurig. Ek verwys nie na die alewige ge-"hmmm" en ge-"hummm", plante brand en insekte-offerande as toordery voor haar nie. Ek het al te veel keer gesien wat sy doen en bly maar op my hoede.

Daar is ander gaste ook in die enorme huis en ek het van hulle so vlugtig ontmoet. Meestal pare en meestal mans, ongeveer tien altesaam en omtrent almal Italiaans of Grieks. Daar is een jongman van inheemse Oosterse oorsprong, maar ek kon nie sy naam mooi hoor nie. Ek, Lenny en Santa is die enigste mense wat Afrikaans is, en praat maar Engels met mekaar as van die ander in die omgewing is. Ons is nog net twee dae hier en verwag nie ander gaste vir die week nie. Dis een of ander vakansie in Europa en hulle het aan die koue kom ontsnap hier. Ek neem hulle nie kwalik nie – ’n uitnodiging na Renier se huis op die eiland sluit alles in: bediendes, kos, drank, als. Jy moet net sorg dat jy daar kom.

Ons is aangesê om kostuums wat sal werk in die tropiese hitte, in te pak vir vanaand – dis die aand van die kostuumparty – die eerste aand wat almal hier is en waar daar behoorlik feesgevier gaan word. Die tema is Egipte en ons het identiese gewade gehuur by die ou TRUK-kostuumkantore voor ons gekom het. Lenny doen al die grimering – hy is baie beter daarmee as ek. Sy gewaad is skraps en wit, myne bedek meer en is roomkleurig. Ons het gepunte pantoffels en swart pruike wat daarby pas.

“Gaan trek aan!” roep hy van binne ons kamer. “Ek is klaar.” Ek draai weg van die balkon en loop na binne. Hy sit voor die spieël soos Narsissus en my asem ruk tot stilstand. Hy is ’n visioen – kompleet asof hy nou net van die muur in een of ander piramide afgeklim en voor my kom staan het. Sy soel vel steek pragtig af teen die spierwit broek en deursigtige baadjie wat oop is oor sy six-pack. Hy sien die effek wat hy op my het en glimlag dat die kuiltjies in sy wange skulpies maak. Hy loer onder deur die swartgegrimeerde wimpers en sê smalend: “Jy kom nie naby my nie – ek kan nie alles weer oordoen nie.”

“Ek sal nie, maar as die partytjie verby is, gaan ek jou opeet!” en hy lag uit sy maag uit.

In die eetsaal sit almal op rooiwyn kussings. Die tafel is net so dertig sentimeter van die vloer af, en nie breed nie – jy kan amper aan die gas oorkant jou raak. Die kos is eksoties en so naby aan Midde-Oosters as wat die arme kombuismense kon kom. Almal lag en gesels deurmekaar – elkeen het baie moeite gedoen. Santa en Bondina het burkas aan – maar wat net uit sluiers en rompe bestaan. Hul bolywe is kaal en hul borste ingevryf met een of ander olie. Dit ruik heerlik en met die areolas bloedrooi ingekleur lyk hulle soos identiese nimfe uit ’n fabel.

Santa lag hard en diep en trek behaaglik aan die hubbly bubbly. Sy vra of ek wil hê en ek lag net. Ek weet sy het weer een of ander konkoksie daarin wat jou in ’n beswyming sal plaas.

Almal kyk op as hulle die swaar voordeur onder hoor oopgaan. Aniel, die hoofkneg, haas hom na onder en ons hoor net “Yes, Master” en sy voetval teen ’n haastige spoed.

Iemand kom met die trappe op. Dis Renier. Aantreklik soos altyd, net effe ouer. “Hi all,” sug hy en gaan sit op een van die hoë stoele by die kroeg. Hy lyk moeg. ’n Koor mense groet hom en Santa en Bonnie spring op. Hulle drapeer hulleself oor hom en hy lag hard. “Julle ruik soos tea-tree oil!” lag hy. Hy kyk na ons en ek stel Lenny voor. Renier groet half met ’n “O, ek is bly julle kon dit maak. Welkom.” Sy blik bly op Lenny en hy sê-vra “Renier”. “Lenny” antwoord hy en lag sy amper-seunslag uit sy maag. Die tradisionele drankmengsel, waarvan ons al heelwat in het, het duidelik ’n effek op my lewensmaat. Sy blik bly op Renier vir net ’n oomblik langer as wat my gemaklik laat voel, maar ek maak of ek dit nie sien nie. Seker maar nuuskierig. Ons is al byna twee jaar saam en nog nooit het hy my verneuk of ek vir hom nie. Daar was daardie paar kere wat ons op wilde partytjies saam ’n ander ou bed toe gesleep het, maar dit was die uitsondering en ons was half spyt daarna. Hy het minder daarvan gehou as ek.

Later sluit Renier by ons aan in ’n swart gewaad. Dit lyk swaar, maar is van sy en deursigtig as hy teen die lig staan. Hy het duidelik niks onder aan nie. Ek en hy was nooit vriende nie, maar ken mekaar al jare – voor hy Londen toe is. Ek het nog altyd van hom gehou en was bly toe ek van sy suksesse hoor. Santa se uitnodiging is met sy wete gemaak, anders sou ons nie gekom het nie.

Hy gaan sit langs Santa en begin behaaglik trek aan die hubbly bubbly. Die soet rook van die hasjisj vul die vertrek. Dit word aangestuur en ek huiwer. Ek is nie lus om bedwelm te raak nie – ons het in elk geval genoeg gedrink. Onder die Italianers langs ons se aanmoediging en Santa se aanhoudende druk dat dit “net ligte Afghaan” is, vat ek en Lenny ’n paar trekke. Die effek is amper oombliklik. Al wat ek kan onthou, is Santa se amper-gille en Renier wat onder die lae tafel inkruip soos hy in ’n lagbui verval. Die hele plek ontaard ná ’n ruk in ’n harde kakofonie van vreemde musiek, mense wat skree van die lag en slae van die trom waarmee Bondina haar besig hou. Ek kan onthou dat ek op ’n stadium vir Lenny gesê het ek voel naar en wil kamer toe, en dat ons op boontoe is onder luide protestering van die ander.

Daardie nag droom ek. Ek droom van ’n reuse-seewurm wat onder in die hawe maal en blaas en die see laat kook. Hy spuug soos ’n waterkanon uit sy bek, sekuur na bo, en tref vliegtuie wat oor die eiland vlieg vasteland toe. Dit val soos wit voëls na onder. Santa is ook daar en dans om my terwyl sy hardop met toe oë dreun-sing. “Gee Lenny vir hom!” gil sy opeens. “Die wurm gaan ons almal doodmaak! Hy het Lenny op die strand gesien en wil hom hê!” gil sy. “Dis hoekom hy die vliegtuie uithaal – hy is bang hy vertrek weer!” Sy skree so hard dat ek skaars die ander gille regdeur die huis en van onder by die strand hoor. Die see kook sissend soos die draakagtige seewurm daarin draai en kolk en raas. Ek draai om na Lenny, wat my met groot, bang oë aankyk. “Nee!" sê ek, "ons bly net hier. Die wurm kan nie uit die see uit nie – almal weet dit! Hy gaan tog weer lê – dan sal ons vertrek!” “Neeeee! Geeee hom!” gil Santa en hardloop al hortend die trappe af tussen die verwarde, huilende mense in die hoofvertrek deur.

Ek skrik vervaard wakker. Dis nog half donker, maar die rooi verskyn al teen die horison. Ek is papnat gesweet en draai om na Lenny om hom van die droom te vertel.

Sy plek is leeg. Ek is alleen in die kamer.