Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Expats > Onderhoude | Interviews > Jong expats | Young Expats

Jong expats: Erik Dippenaar vertel ons meer van Londen


Erik Dippenaar - 2009-10-21

Waar woon jy nou en is die gras wel groener daai kant?

Ek woon die afgelope vier jaar in Londen. In terme van my loopbaan is die gras meer as net groener - die rigting waarin ek spesialiseer, bestaan bykans nie in Suid-Afrika nie.

Hoekom het jy Suid-Afrika verlaat? Beplan jy om terug te kom?

Ek het oorspronklik Londen toe getrek om my studies te kom voortsit aan die Royal College of Music. Sedertdien het ek vir myself 'n loopbaan begin uitkerf.

Ek droom wel daarvan om eendag terug te trek Suid-Afrika toe, maar het nog nie definitiewe planne nie. Ek voel dat Suid-Afrika aan my 'n opvoeding gebied het wat my uiteindelik gelei het na die beroep waarin ek my nou bevind, en daarom sou ek graag my kennis wou kom terugploeg. Op die oomblik probeer ek om tydens my vakansies in Suid-Afrika te werk en sodoende alreeds 'n bydrae te maak. Die afgelope paar keer het ek met Quentin Crida en sy breinkind, Camerata Tinta Barocca, saamgewerk. Dit is sekerlik die enigste ensemble in die land wat hulself aan Barokmusiek wy.

Vertel ons bietjie meer van jou beroep.

Ek is 'n musikant wat spesialiseer in historiese uitvoeringspraktyk. Dit behels navorsing oor die konstruksie van instrumente uit sekere historiese periodes, asook die speeltegnieke wat gebruik is om die instrumente te bespeel - die doel is om in 'n mate die klankwêreld van 'n bepaalde periode te herskep.

Ek self speel historiese klawerbordinstrumente (klavesimbels, virginale, spinette, historiese orrels en vroeë vorme van die klavier). Ek is meestal betrokke by kamermusiek, maar doen soms ook orkeswerk. In hierdie ensembles spesialiseer ek meestal in continuo-spel ('n tipe geïmproviseerde begeleidingstegniek wat 'n algemene praktyk was in die 17de en 18de eeue). Om 'n voorbeeld te noem van ‘n projek waarby ek betrokke was: vanjaar was ek genader om opnames te maak vir die Victoria and Albert Museum in Londen. Hulle het 'n nuwe uitstalling geopen wat oor die Barokperiode handel. Ek en 'n paar kollegas was daarvoor verantwoordelik om gepaste musiek vir sommige van die vertrekke in die uitstalling op te neem; byvoorbeeld, een vertrek handel oor die hof van Lodewyk die Veertiende, en ons het musiek opgeneem van komponiste wat aan die hof van die Sonkoning verbonde was - dit alles op oorspronklike, of kopieë van, oorspronklike instrumente uit die periode.

Ek is in die gelukkige posisie dat ek presies doen wat ek wil doen - ek maak musiek vir 'n lewe!

Wat van Suid-Afrika laat jou lag en wat laat jou huil?

Huil: My Suid-Afrikaanse paspoort irriteer my. My paspoort is onlangs gesteel en ek moes al my werk op die kontinent vir die volgende paar maande kanselleer omdat dit so lank vat om 'n nuwe paspoort te bekom. En as ek die nuwe een het, dan is dit steeds nutteloos sonder die talle visums wat my toelaat om in ander lande te werk.

Lag: Sommige Afrikaanse uitdrukkings wat 'n situasie presies kan raakvat - "Ek het 'n lang pis soos 'n vendusie-os" is my gunsteling.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Ek mis die Swartlandse landskap waar ek grootgeword het. Ek mis my familie - dis vir my swaar om nie 'n tasbare realiteit in die lewe van my oudste broer en sy vrou se kind (binnekort kinders!) te wees nie. Ek mis dit om vir 'n naweek by my ouers op die plaas te gaan kuier. En ek mis dit soms om myself in Afrikaans uit te druk.

Hoe reageer mense as hulle uitvind jy is Suid-Afrikaans?

Hulle sal gewoonlik noem hoe mooi Suid-Afrika is en sê dat hulle daar op vakansie was, of 'n vraag vra oor die misdaad - en dan gaan ons aan met ons lewens. Ek werk saam met mense van oral oor die wêreld, so daar is nie eintlik plek vir vooroordele nie.

Bygesê: ek het al in sekere lande vrae gehad oor hoekom ek dan wit is.

Waar in die stad/land waar jy tans woon, kuier jy graag - en wat doen jy in jou vrye tyd?

Ek woon in Suid-Oos-Londen - hier is 'n kolonie van musikante aan hierdie kant van Londen - waarskynlik omdat dit bekostigbaar is om hier te bly!

Waar ek uithang: Oos-Londen vir alternatiewe teater en die jongste onontdekte bands. Tooting vir kerrie. Foyle's om my boekbehoeftes te vervul. Die Tate Modern vir 'n koffie gedurende die week. Die poele in Hampstead Heath vir 'n vinnige buitelug-swem in die somer. En dan is daar natuurlik elke aand van die week iewers 'n konsert of opera wat die moeite werd is om te sien. Ek probeer die West End vermy: te veel toeriste en duur bier.

Wat is jou gunsteling-kossoort, -produk of iets soortgelyks wat jy in die VK kan kry wat nie hier beskikbaar is nie?

As gevolg van die kosmopolitiese karakter van Londen is kossoorte en bestanddele van verskillende kookkulture maklik en teen redelik bekostigbare pryse beskikbaar.

Die internetkonneksie hier is goedkoop en vinniger as posduiwe!

Dis maklik om bekostigbare klere vir elke smaak in hoofstroomklerewinkels te bekom.

Sou jy Suid-Afrikaners aanmoedig om daar vakansie te hou? Indien ja, wat kan hulle eenvoudig nie misloop nie?

Londen is ongelooflik in die sin dat toegang tot al die groot kunsgalerye en museums gratis is. Daar is egter 'n paar kleiner kunsversamelings waar toegang steeds gratis is, maar wat ietwat buite die publieke oog is. Een hiervan is die Wallace-versameling naby Bondstraat - 'n fabelagtige versameling van skilderye, porselein en meubels. Ek kan dit definitief aanbeveel.

Jy is gestrand op 'n eiland. Jy het drie Suid-Afrikaanse items van die sinkende skip gered. Wat het jy gekies?

Rooibostee, Montagu-muskadel en Groot Verseboek.

Wat is die hoogtepunt van jou verblyf in die buiteland?

Ek het soveel hoogtepunte op verskillende vlakke beleef - en dikwels is dit die mikro-oorwinnings wat persoonlik meer beteken as die dinge wat van buite skouspelagtig mag lyk.

Ek het vir prins Charles gespeel in St James's-paleis - en hy het aan my vertel hoe hy as 'n tiener begin tjellolesse neem het nadat hy 'n konsert van wyle Jacqueline du Pré bygewoon het.

Ek het verlede maand die Bamberger Reiter in "lewende lywe" gesien.

Ek word gereeld gevra vir konserte en dan is my kollegas mense wie se name ek in CD-omslae gesien het as student op Stellenbosch - toe het dit vir my gevoel asof daardie mense deel is van 'n onbereikbare wêreld, en nou is ek deel van daardie wêreld!



<< Terug na die Jong expats-blad <<