Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Boikot almal: Aardklop, krieket en rugby


Albert Maritz - 2009-10-15

Every style that is not boring is a good one - Voltaire


‘n Gewese Aardklopper skryf Aardklop sien hom nie weer nie, na hy gesien het wat hy gesien het toe hy die toneelstuk 18 by Aardklop gesien het. 18 is ‘n toneelstuk waarin skole-akteurs wat in die Kaapse TV Plus-kompetisie uitgeblink het, opgeneem is.

Sien, ek stem. Ek sien nooit my kinders rook, vloek, drink (ons praat nie van Nestlé-kondensmelk nie), dwelms of seks doen nie. Ekskuus, ek het vergeet - die een was verlede jaar die verwarde kêrel in Breinbliks*m. Maar die Aardklopper het dit nie gesien nie.)

Die gewese Aardklopper kan steeds Aardklop toe gaan. Hy moet net liewer iets nice soos Dis ek, Anna gaan kyk. Daar's nie sigarette, dwelms en sulke goed in nie. Net gewone dinge wat algemeen voorkom, soos kinderverkragting, en so. Die swart seun wat op ‘n wit meisie se skoot sit in 18 laat "Anna" se lewe na gekookte kondensmelk lyk.

En dis goed ons krieket is nou so ongewild. Daar's ‘n kriekettema in 18. Dis juis belaglik dat mens gaan kyk vir ouens soos Kallis, wat al meer as een meisie gehad het, om van Smith nie te praat nie, en van Ntini nie, en van Gibbs nie. En van hulle is ook nie wit nie - soos die sw*rt outjie wat seks het in die play. Hoe die span nog verlede week nr 1 in die wêreld kon gewees het!

Mens kan jou verbeel as daai aktrise so op die jong sw*rt seun se skoot sit, jy Gibbs met al daai vroue al om sy nek gedrapeer sien. Om van die nuwe generasie rugga-jollers nie te praat nie. Met die Wêreldbeker-voorbeelde as hul rolmodelle, sit ook binnekort sonder 'n skare. As jy soontoe óók nie meer gaan nie.

Nee ernstig. Jy vrees die onbekende en staar jou blind teen wat jy sien. Gun die kinders die voordeel om hulle te bewapen op die modernste manier - deur kennis. Jy sal die eerste ou wees wat sê ons polisie sal beter vaar met kundigheid, munisipale bestuurders sal beter vaar met kundigheid, ens ens. So gee jou kinders ‘n kans. Gun hulle die blootstelling, leer hul die realiteite, en - EN - hoe om daarmee om te gaan as dit op hulle pad kom. Jy kan hulle net van Aardklop af weghou. Hoe hou jy die wêreld van hul kopkussings af?

En weet jy - die kinders wat sulke werk doen - die spel op die verhoog - is van die mees regdenkende mense wat jy ooit sal ontmoet. Wat hulle sal laat ontspoor, is die voorbeeld van ouers. Want hulle word bemagtig deur hulle blootstelling. As iemand daar is om dit vir hulle in perspektief te help plaas. Los die volstruis op Oudtshoorn. Trek jou kop uit die sand, keer jou besorgdheid om in sorg.

Maak nie ‘n fout nie: ek stem saam met iemand wat standpunt inneem oor reg en verkeerd. Maar ek vra net: moenie jou kinders alleen laat nie. ‘n Mansion met hoë mure is niks. Nes ‘n mooi gesiggie en ‘n mooi storietjie.. Dis die gees; die hart daarbinne; die klop in die kop wat saakmaak.

Nee, doen weer Aardklop! Bring die kinders. Lei hulle met vryer denke om hul grense wyer te skuif - in Skrapnel, Die Stommes, Dis ek, Anna - sodat hulle meer weet van ‘n groter wêreld waarbinne hulle definitief sal leef, een of ander tyd. Jy sal sien, ons stem nog saam. In die land van die blindes is eenoog koning.

*

Skrapnel - met talle toekennings bekroon - is ‘n stuk met parallelle tussen die Suid-Afrikaners wat die "nuwe" diensplig doen deur op ander vastelande te gaan werk. Dis kwansuis ‘n oppervlakkige belewenis vir sommige van "aanhou beweeg en geraas maak". Soms in stilte. In Anker se parallel is die skerp kontras van onmenslike toewyding van godsdienstige ekstremiste wat om hul eie redes hulle lewens wy daaraan om dood te gaan en ‘n paar mense saam te vat. Vir hul moeite kan hul op hul beurt dan weer ‘n paar mense saamvat na hul hiernamaals. Dis fassinerend dat die "twist in the tale" dalk die enigste plek is waar die uiteenlopende groepe "meet" - deur die stukkies mens wat in ‘n bom oral heen spat, onder medemense, oorlewendes se velle beland, soos skrapnel, en daar sweer en probleme veroorsaak. Is dit Van Wyk Louw wat gesê het hy drink om ander mense interessant te maak?

Anker is dus as teksskrywer iemand wat ernstig ontwikkel in ‘n klassieke Suid-Afrikaanse bydraer ...

‘n Kontak e-pos my:

Daar was te veel komedies op Aardklop EN ek dink die toekennings was 'n klug. Ja Everyday se girls was goed maar Sandra was beter en ek sê dit nie net oor sy Afrikaans is nie. Die beste stuk was omgetwyfeld Famished Road maar nie nuut en kon dus nie in aanmerking kom. My Sarie Marias was absoluut briljant. Ek moet eerlik wees Deon Opperman is 'n genie en weet net hoe om raakpunte te slaan. En ek voel hy moes dit gekry het. Die stuk het kop en skouers bo alle ander nuwe werke uitgestaan. Uit my vriendekring is ek al een wat van Skrapnel gehou het maar kom ons wees eerlik dat hy gewen het was nie reg. Die stuk was onafgerond, nog glad nie ingeoefen nie en ek was skaam dat iemand soos Marcel op verskeie plekke sy woorde vergeet het. Dit het my later skoon op my senuwees gehad. Jaco het openlik in die bespreking gesê die stuk is nog maar in sy begin en dat hy baie veranderinge wil maak en ek voel ingedoen dat ek vir so 'n swak poging goeie geld moes betaal en dan wen hulle nog. Verseker gaan ek die stuk weer kyk sodra hy ingeoefen is maar hulle het regtig nie die pryse verdien nie. Veral nie toe Jaco weer daai sinnelose armswaai ding van hom ingebring het wat ons in Grahamstad tot vervelens met Untitled gesien het nie. En die konsep van beweging en simplisties wees en met jou rug na die gehoor, alhoewel dit die slag lughawe caresele was en nie 'n spoor soos slim gebruik in die briljante stuk "verkeer" - is reeds gedoen. Komaan Jaco is goed, verseker het hy nie nodig om te herhaal. Nie die gehoor se skuld dat hy oorsee gaan swot het nie, dan moes hulle iemand soos Martinus gekry het om in te staan en vir my iets met hutzpa te gee, die stuk het die potensiaal. Martinus is mos nog by Reis, vleis en aartappels? Ha ha, kan jy dink hoeveel bloed op die verhoog sou gewees het as Martinus dit moes gedoen het, hy sou sommer die bom laat afgaan het met stukke vleis was oral vlieg.

My eie gevoel is:

Ek het die styl van Skrapnel sterk gevind. Die carousel en die beweging van die akteurs was innoverend. Die stelle was innoverend. Die beligting meestal indrukwekkend. Die ontwerp wil altyd by die produksiemaatskappy Vleis, Rys en Aartappels uit die beperkte verhoogruimte rem, met ‘n wegdoen van die gordyne, nuwe beligtingsinvalshoeke en dies meer.

Anders as die uwe, wat altyd probeer prentjies skep, met ander woorde atmosfeer binne die ruimte, en in die verbeelding, as inkleurboek van die verbeelding, skep hulle hier swart en wit en vaal. ‘n Gunsteling van my - beligting direk van die kant af is die treffendste, met die diep skaduwees en kontraste wat dit skep in Skrapnel. Die grys "states" by tye help my niks nie.

Ondanks die pryse wat aan hulle toegeken is, was die bywoning die volgende oggend karig.


When it is dark enough, you can see the stars
- Ralph Waldo Emerson