Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Adam Tas en die Nasionale Selfmoord van die Afrikaner


Koos A Kombuis - 2009-10-14

*Hierdie stuk is gedeeltelik in Die Matie en ook op die studentevereniging Adam Tas se webtuiste gepubliseer.

Op die 20ste Junie het ek ’n artikel in Rapport gepubliseer waarin ek skryf oor die raaiselagtige en eensame dood van die swart Matie-student, Mufunwa Munyangane, in die strate van Stellenbosch. Mufunwa het verkluim op ’n koue wintersaand omdat hy skynbaar te skaam was om te vra vir aanwysings terug na sy woonplek. Ek het hierdie treurspel gebruik as ’n metafoor vir my pleidooi vir ’n multikulturele Stellenbosch-kampus, en as afspringplek vir ’n aanval op die sogenaamde Taalstryders.

Na die skryf van daardie artikel is ek deur vele mense aangevat en oor die kole gehaal. Intussen het ek self ’n aand in Stellenbosch gaan spandeer en gesels met onder andere van die studenteleiers van die Adam Tas-studente-organisasie.

Ek voel ek moet my siening dat Mufunwa se dood veroorsaak is deur ’n taalkwessie, ietwat uitbrei. Mufunwa sou waarskynlik doodgegaan het selfs al was die hele Stellenbosch Engels. Mufunwa het gesterf omdat Stellenbosch ’n apatiese plek geword het waar dit nie meer so maklik is om vriende te maak soos in die outyd nie. Ek was onlangs op die meeste tradisionele Afrikaanse kampusse in die land, en my indruk is dat Stellenbosch tans dalk verreweg die mees apatiese kampus in die land is.

Buitestanders wat slegs deur die koerante kennis neem van die Stellenbosse Taalstryd, kry dalk nie die regte indruk van wat werklik op die kampus aangaan nie. Van buite af klink dit asof die Stellenbosch-kampus ’n siedende massa jongmense is wat opstaan vir hul taal. Ons kan vergeef word vir hierdie mistasting, want in die kollektiewe bewussyn het Stellenbosch immers ’n tradisie van intense debatte en opstand. Dink maar aan die massavergadering-tradisies van vroeër jare. En onthou julle nog hoe die hele kampus gemobiliseer is teen die rektor tydens die Voëlvry-toer? Of dit vir die regte of verkeerde saak is, Maties was in die verlede nog altyd uitgesproke en entoesiasties.

Waar ek nou die aand sit en konsert hou het vir ’n dooierige groep studente in die kille, onaantreklike nuwe Neelsie – die Neelsie wat lank nie meer ’n studentekafeteria is nie, maar ’n moderne shopping mall – het ek daardie entoesiasme met ’n seer hart gemis. Dit het vir my soos nou die dag gevoel dat honderde studente saampak vir Afrikaanse musiek. Hierdie dorp het immers geboorte geskenk aan die Springbok Nude Girls, aan Gert Vlok Nel, aan Fokofpolisiekar en Valiant Swart en al die ander! Wat het dan nou gebeur? Die handjie vol dorpenaars en oudstudente wat vir my kom luister by die Dorpstraat Teater is meer entoesiasties as die studente in die Neelsie!

Ek weet daar is mense wat my sou vra waarom, as ek dan so terugverlang na die era van opstand, ek bereid is om die T-opsie te aanvaar. Die antwoord is tweeledig. Die eerste deel van die antwoord is ’n swak verskoning, ek weet, maar ek veg uit beginsel nie vir dieselfde saak as Dan Roodt nie. Die tweede deel van my antwoord is beter: ek glo die rasionalisasie van die US-owerhede dat die T-opsie al is wat hulle kan bekostig, nie net in finansiële terme nie, maar ook in terme van logistiek en man-ure.

Ek moet egter nou erken dat ek besef die saak is nie so eenvoudig soos ek gedink het nie, want daar is ander faktore waarvan ek tot nou toe nie bewus was nie.

Onlangs kry ek ’n e-pos van Matie FM Radio waarin hulle my vra om ’n uurlange onderhoud te kom doen. Ek het al voorheen langerige onderhoude gedoen by MFM, en ek het lankal vrede gemaak met die feit dat die radiostasie deesdae tweetalig is, en dat ek tydens die onderhoud waarskynlik sal heen en weer vleg tussen Afrikaans en Engels. Hiermee het ek nog nooit ’n probleem gehad nie.

Maar ek het ’n probleem met die feit dat die e-pos wat Radio Matie vir my gestuur het, in Engels was. Ek ken die ou van wie die boodskap kom, en hy is Afrikaans. Ook weet hy dat ek Afrikaans is. Nou waarom op dees aarde dan vir my ’n Engelse e-pos stuur? Ek is, soos ek verduidelik het, nie ’n anti-Engelse puris nie, en ek is definitief nie die soort ou wat ooit “Praat Afrikaans of Hou Jou Bek”-T-hemde dra nie, maar dit was vir my nogal weird.

Intussen het ek ook agtergekom dat MFM ’n bladsy op Twitter het, waar hulle uitsluitlik in Engels kommunikeer.

Ek weet mens kan nie hele kampus beoordeel op grond van wat by hul radiostasie aangaan nie, maar, soos ek die T-opsie verstaan het, is dit juis ingestel om kommunikasie te verbeter en multikulturalisme te bevorder, nie om bloot die kampus te verengels nie.

Intussen het ek ook meer agtergekom omtrent die ANC-minister wat van regeringskant af die verengelsing op die US probeer afdwing, ene Blade Nzimande. Blade Nzimande, verskoon die Jiddisj, is glad nie so “kosjer” soos wat ek aanvanklik gedink het nie. Sy uitsprake is vol teenstrydighede en blapse. Hy wil hom as Doyen van Suid-Afrikaanse Opvoeding beywer vir inheemse tale, maar beskou Afrikaans blykbaar nie as ’n inheemse taal nie. Hoewel hy ’n uitgesproke kommunis is, en selfaangestelde kritikus van wat hy “die kapitalistiese klasse” noem, woon hy in ’n spoghuis in Johannesburg se noordelike voorstede. En onlangs het hy uit sy beurt uit gepraat om die regering se totaal onpraktiese nuwe gesondheidsorgwetgewing te verdedig.

Dis vir my moeilik om te besluit van wie ek minder hou, Blade Nzimande of Dan Roodt. Ek dink Blade Nzimande verloor dalk met ’n kortkop!

Nog ’n ding wat gebeur het wat my oë opgemaak het, was ’n paar gesprekke wat ek gevoer het met studenteleiers van die Adam Tas-organisasie. Ek het ook persberigte oor hulle nagegaan en hulle webwerf bestudeer. Adam Tas is ’n studente-organisasie so na my hart. Te midde van die heersende US-apatie aan die een kant en die heethoofdigheid van die Giliomees aan die ander kant, staan hulle uit soos ’n baken van gesonde verstand en pragmatisme. Hoor bietjie wat skryf hierdie ouens op hulle webwerf:

Adam Tas Studentevereniging bestaan uit ’n klomp diverse studente wat verenig is in ons liefde vir Afrikaans! Ons lede is bruin, swart, wit, enige kleur wat jy smaak. Party kan kleurvol dig, ander kan skaars ’n woord verstaan. Sommige is konserwatief, ander weer liberaal. Daar is hardegatte, oopkoppe, kommuniste, kapitaliste, gelowiges, ongelowiges, en selfs ’n hele klomp draadsitters! Maar ten spyte van ons andersheid staan ons almal saam om Afrikaans te bevorder as 'n taal en kultuur wat inklusief en dinamies is, en wat ’n leidende rol in ons reënboognasie kan speel …

Hierdie siening van Afrikaans, as bloot ’n taal, en dus iets wat groter is as die Afrikanervolk, iets wat verhewe behoort te wees bo groepsbelange en politiek, hetsy die politiek van die verlede of die politiek van die toekoms, is nie ’n baie populêre standpunt onder Afrikanerdenkers vandag nie. Om die een of ander rede word dit ook deur sommige sogenaamde liberale bevraagteken. Die siening van die Afrikaanse taal soos verwoord deur Adam Tas is inderdaad al lankal my siening van Afrikaans, en ek wag al letterlik jare lank dat daar ’n groep jong denkers opstaan wat dit ook so sien. Vir die oorlewing van Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika is dit noodsaaklik om die konsepte taal en volk te skei. Ek weet nie waarom hierdie eenvoudige oplossing deur so min mense raakgesien word nie. Soos Susan de Martino self sê in haar opspraakwekkende tesis, Die Taal is Gans die Volk? Building a Common Afrikaans-language Identity and Community in Post-Apartheid South Africa:

Giliomee gives a strong historical account of how Afrikaans achieved a status as a public language … and what changes in its usage have occurred since 1994. While strong in history … his own personal attachment to Afrikaans embedded in the writing … does not concentrate on the renegotiation of Afrikaans-based identities, or truly examine the use of Afrikaans in communities other than the so-called Afrikaner community, which continues to racialize Afrikaans and perpetuates the problems of promoting it.

Deur die standpunt in te neem wat hulle wel inneem, posisioneer Adam Tas hulleself naasaan ’n organisasie soos Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans eerder as by Afrikaner-gerigte organisasies soos die FAK, en probeer hulle seker maak dat niemand hulle daarvan kan beskuldig dat hulle bloot veg vir gevestigde groepsbelange op die kampus nie.

Maar soos ek teenstand ervaar het met my standpunt, ervaar die lede van Adam Tas probleme. En omdat hulle in die onbenydenswaardige posisie is dat hulle iets prakties probeer doen in ’n milieu waarin hulle voortdurend verkeerd verstaan word, is hulle probleme legio. Dit breek my hart dat ’n organisasie met sulke moderne idees en so ’n edel doelstelling soos Adam Tas hom in so ’n onuithoudbare, paradoksale ideologiese situasie moet bevind.

Voor ek verduidelik wat die misverstande om Adam Tas behels, eers nog iets omtrent my eie posisie.

Beteken my lofprysinge aan die Adam Tas-organisasie dat ek ook nou die Taalstryd betree? Nee, ek glo nog steeds in die T-opsie, en ek glo dat die rektor eerbare motiewe het daarmee. Die taalprobleme wat Stellenbosch ervaar – ek erken nou dat daar inderdaad sulke probleme bestaan, en dat dit erger is as wat ek besef het – het ongelukkig dieper wortels as die formele stelsel in swang. Die ware siekte wat Stellenbosch vandag bedreig, word nie veroorsaak deur die T-opsie alleen nie. Dit word wel veroorsaak deur die verkeerde en eensydige implementering van die T-opsie. En die rede waarom die opsie verkeerd geïmplementeer word, het baie, of alles, te doen met die apatie van die studente self.

En dis juis waar Adam Tas se grootste dilemma lê. Anders as wat buitestanders dink, stel die gemiddelde Stellenbosse student nie vreeslik erg belang in die taalkwessie nie. Die klein groepie dosente wat wel ’n lawaai maak hieroor, se motiewe is ook nie geheel en al bo verdenking nie. Met ander woorde, Adam Tas word gedwing om saam te werk met mense wie se “inklusiewe” credentials soms verdag is. Hulle het feitlik nie ’n keuse om met hierdie dosente en aktiviste saam te werk nie, want volgens hul eie grondwet is hulle inklusief en oop vir alle standpunte, and in a hostile world you need all the friends you can get. In die praktyk is dit so dat die heethoofde en die lawaaimakers feitlik al die mediadekking kry.

Wat staan ’n groep mense soos die Adam Tas-organisasie te doen? Hulle is duidelik hulle tyd vooruit. Die man op straat is nie bereid om hul denke krities te vergelyk met die denke van die Roodts en die Rossouws nie (net soos die man op straat nie geïnteresseerd is in Leopold Scholtz se goedbedoelde vergelykings tussen ons Taalstryd en die Taalstryd in die Lae Lande nie). Die resultaat? Apatie aan die een kant, en aan die ander kant ’n groeiende polarisasie onder die mense wat wel die intelligensie en gesag het om iets aan die saak te doen.

Een van die groot redes waarom ek van die begin af skepties was oor die idee van ’n Stellenbosse Taalstryd, was ook dat ek geweet het wat in Namibië gebeur het toe die Swapo-regering dekades gelede al probeer het om die skole en opvoedingsinstansies van daardie land te verengels. Die pogings tot verengelsing is eenvoudig deur gewone Namibiërs geïgnoreer. Anders as hier, was daar geen debat in die pers nie, is daar geen organisasies gestig om Afrikaans te beskerm nie. Daar was nie eers ’n besonder lewenskragtige letterkunde of ’n buitengewone ontploffing van plaaslike Afrikaanse musikante soos hier by ons nie. Ten spyte van die pogings van die regering om voor te gee dat Namibië ’n Engelse land is, is die meerderheid Namibiërs – wit, bruin en swart – aktiewe Afrikaanssprekendes. Vra my. Selfs toe ek onlangs ’n aand in ’n Namibiese tronk moes deurbring, en ten spyte van die feit dat ek die enigste wit ou daar was, was ek omring deur Afrikaans. Die graffiti teen die mure was dalk in bloed geskryf, maar dit was in Afrikaans. (Dit ten spyte van die feit dat nie ’n enkele persoon in daardie tronksel al ooit van Dan Roodt gehoor het nie!)

Nou vra ek my af: Waarom is dit so dat ons hier in Suid-Afrika, waar ons so ’n lewendige debat het oor Afrikaans en ander inheemse tale, waar ons omring is deur Afrikaanse boeke, Afrikaanse TV-programme, Afrikaanse kultuurorganisasies, en Afrikaanse musiek, toelaat dat ’n bleek en onpraktiese taal, ’n taal waarvan die spelling geen sin maak nie, ’n taal wat bitter moeilik is om aan te leer, ’n taal wat allesbehalwe cool of modern is – Engels – ons uit die vere lig?

Ek herhaal: ek het niks in beginsel teen Engels nie (al is dit so ’n lompe taal!); ek Twitter self in Engels, ek het ’n Engelse blog naas my Afrikaanse een, en ek aanvaar die rol wat Engels moet speel as kommunikasiemiddel tussen, sê, myself en lesers oorsee, of tusssen Xhosasprekendes en Afrikaanssprekendes, maar wat is dit wat jong Maties noop om Engels te gebruik as medium selfs waar dit nie nodig is nie? Wat is dit wat veroorsaak dat wanneer ’n dosent soos Anton van Niekerk, in lyn met die T-opsie, sowel Afrikaanse as Engelse uitgedrukte notas verskaf by sy lesings, die meerderheid Afrikaanssprekende studente eerder die Engelse notas huis toe vat? Is die “selfhaat” waarvan Leopold Scholtz praat tog ’n werklikheid?

Ek wil verder gaan, en nóg vergelykings tref tussen ons en Namibië. Wat is dit wat jong Afrikaanse mense noop om, wanneer hulle wel op die ou end aan die debatte begin deelneem, so heftig en persoonlik te raak? Ek het onlangs besef dat ek om hierdie eenvoudige rede nie langer aan die besprekings op die LitNet-webwerf sal kan deelneem nie. Daar is eenvoudig te veel persoonlike aanrandings, te veel geniepsighede, te veel – kom ons noem dit maar by die naam – narsisme. Ek verstaan nou waarom die goeie ouens soos Etienne van Heerden en Melt Myburgh hulle toenemend onttrek aan die werksaamhede van daardie verskriklike webwerf. Dis erger as Hell’s Kitchen! G’n mens kan ’n normale debat voer onder sulke abnormale omstandighede nie.

Hierdie soort venyn vind mens nie in Namibië nie; en tog is Afrikaans die wenner daar, want dis die gewone mense wat die taal handhaaf. Die enigste parallel wat ek kan tref tussen die taalgebruikers op straatvlak in Namibië en by ons, is in die lesers van Afrikaanse poniekoerante soos Die Son. Die Afrikaans wat sulke koerante bedryf, mag, volgens sogenaamde Algemeen-Beskaafde standaarde, skeef en krom wees, maar dis Afrikaans, en dis onpretensieus, en dit groei. Natuurlik is die gedagte dat die toekoms van ons taal by sulke mense lê, vir die tradisionele Afrikaner-denkers en selfs vir die jong neoregse LitNetters ietwat grillerig, maar daarvoor het hulle net hulself te blameer.

Ek wil afsluit met ’n kopknik in die rigting van iemand vir wie ek toenemende respek gekry het, na sy dood selfs meer as toe hy gelewe het: die oudkoerantredakteur Willem de Klerk. Want dit wat ons sien verkeerd gaan binne die Afrikaner-laer vandag, is hoeka iets waarteen hy lankal gewaarsku het, alreeds in sy seminale boek Kroes, Kras en Kordaat. (Ek was al by tye selfs skuldig aan beide “Kroes” en veral “Kras”, maar ek neem sy advies vandag ter harte.) Ek weet voor my siel, ten spyte van die verskille tussen my en hulle, dat dit wat die Adam Tas-studente-organisasie op die Stellenbosch-kampus probeer doen, deur Willem de Klerk sou bestempel gewees het as “Kordaat”.

Natuurlik is dit moeilik om “Kordaat” te wees in ’n omgewing waar feitlik almal om jou “Kroes” of “Kras” is. Om die waarheid te sê, die siekte van “Kroes” en “Kras” het so wyd uitgekring dat dit ’n groter bedreiging geword het as varkgriep. Die feit dat die oorwegende meerderheid Afrikaanse debatvoerders vandag eerder “Kroes” of “Kras” is as “Kordaat”, is die rede waarom minstens een dialek van Afrikaans – die sogenaamde “Algemeen-Beskaafde” dialek – vandag uitwissing in die gesig staar. Ampie Coetzee is dalk reg!

Dit sal baie jammer wees, want wat jy ook al van “Algemeen-Beskaafd” dink, dit was tot nou toe ’n baie nuttige kommunikasiemedium in die wêrelde van die media, die akademie, die regswese en die handel. Ek sou graag die sogenaamde “Algemeen-Beskaafde” dialek wou sien voortbestaan naas al die ander minder formele vorme van Afrikaans, maar indien dit uitsterf, sal dit beslis nie net Blade Nzimande se skuld wees nie.

Om die waarheid te sê, ek voorsien ’n tyd in die toekoms wanneer geskiedskrywers na hierdie era gaan verwys as die tyd van “die Nasionale Selfmoord van die Afrikaner”.

En wat ’n tragedie sal dit nie wees as so ’n selfmoord wel in ons tyd voltrek word nie.