Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Expats > Onderhoude | Interviews > Jong expats | Young Expats

Jong expats: René van Wieren vertel ons van Basalt, Colorado


Imke van Heerden - 2009-10-13

Waar woon jy nou en is die gras wel groener?

Ek woon aan die punt van die Rocky Mountains in Colorado, in 'n klein dorpie, Basalt, 'n spikkel op die kaart so 20 minute van die ski slopes van Aspen af. Die gras is groener vir so vier maande van die jaar; die res van die tyd is die enigste groen wat 'n mens sien, die miljoene dollars wat hier gespandeer word. Let wel, nie vanuit my beursie nie! Party dae, as dit so koud is dat net my neus uitsteek bo die sneeu, dan dink ek aan die eikebome van Stellenbosch en die warm sand van Buffelsbaai, en soek tevergeefs na 'n groen grashalmpie!

Hoekom het jy Suid-Afrika verlaat? Beplan jy om terug te kom?

Ek het, tot my ma se groot ontsteltenis, totaal verlief geraak op 'n Amerikaner, heeltemal onbeplan. In 2005 het ek en 'n vriendin vir vier maande by 'n restaurant in Snowmass Village kom werk. Pleks van net 'n fooitjie kry ek toe 'n telefoonnommer van 'n man met die mooiste bruin oë en 'n snowmobile! Ek moes terug Stellenbosch toe om my graad klaar te maak, of altans dit was die plan, maar na agt maande was ons blou ge-Skype, en ek is terug na die koue met 'n warm hart! Toe die sekondes aftik soos my visum se tyd uitloop, en die finale groet al hoe nader kruip, het ons besef daar is net een ding wat ons kan doen, en net een plek waar ons dit kan doen - Las Vegas! Op ons huweliksertifikaat staan hemels groot: "The Garden of Love, Las Vegas, Nevada". Erewoord. Drie jaar later giggel ek nog steeds as ek dit sien! Gelukkig het my man sy hart verloor op biltong, boerewors en bobotie, en die berge en bergies van Stellenbosch. Ons beplan om op 'n stadium terug te trek, sodra ons iewers 'n huis kan bekostig!

Vertel ons bietjie meer van jou beroep.

Ek werk op die oomblik by 'n spa / private gimnasium / holistiesegesondheidsfasiliteit in Aspen. Ek is in beheer van die Menslike Hulpbronbestuur-departement, en is ook 'n assistent vir die finansiële direkteur. Dit is so vervelig soos dit klink. Ek is op oomblik besig om te soek vir iets beter, maar ongelukkig is ons ook liggies gekielie deur die resessie, en werk is relatief skaars. Ek wag maar tot een van die multimiljardêrs my op straat raaksien en my aanstel as sy persoonlike assistent vir die twee weke elke jaar wat hy hier is, en natuurlik betaal hy my 'n moerse salaris, en ek het ook 'n kar nodig, en ook genoeg jasse om my warm te hou tot einde Februarie. Sulke lekker lang pypdrome en lugkastele kry my deur die "9 to 5"!

Wat van Suid-Afrika laat jou lag en wat laat jou huil?

Partykeer voel dit vir my asof ek nou meer weet van wat in Suid-Afrika aangaan as toe ek my voete op die kontinent gehad het. Ek is gekonnekteer aan die vasteland deur die internet, 'n stroom informasie wat sorg dat ek nooit te ver van die huis af is nie.

Ek huil elke keer as ek hoor van nog 'n cookie-cutter Afrikaanse sanger wat 'n pap tyre van 'n liedjie in die massas se kele afdruk, en hoe hulle dit gulsig opslurp en dan uitspoeg as dit begin bitter smaak. Ek snik as ek sien hoe groot invloed 'n persoon op die politiek in Suid-Afrika kan hê, al kon hulle skaars 'n sleutelrak in Houtwerk aanmekaar slaan.

Ek lag vir al die dinge wat Suid-Afrikaners uniek maak, dit wat mens nie kan oorvertel in Engels nie. Ek rol op die vloer rond soos ek giggel vir my vriende se kreatiwiteit. Soos die jaarlikse "Chris Edwards Wisseltrofee vir die langste in die voorhuis staan en whiskey drink" of die alombekende Frans-Afrikaanse "vriendeaux", uitgespreek "vrien-dou". Hulle sit 'n glimlag op my gesig wat selfs die koudste sneeustorm nie kan afvries nie.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Ek verlang elke dag na die bekendheid van my familie en vriende. Ek mis dit om verstaan te word sonder om hoef te verduidelik. Soms voel ek soos 'n ballon in 'n kaktusveld soos ek probeer om die regte ding te sê, koes-koes vir ontplof oor die naïwiteit van sommige mense. Genuine Dorothy, "there's no place like home."

Hoe reageer mense as hulle uitvind jy is Suid-Afrikaans?

Oor die algemeen is mense hier baie geïnteresseerd in Suid-Afrika; baie was al daar, of beplan om te gaan. Elke winter kom daar 'n groot groep Suid-Afrikaanse studente hier werk, en gelukkig los hulle gewoonlik 'n goeie voetspoor agter! Ek geniet dit om oor Suid- Afrika te praat, en het al een of twee toere georganiseer! Die algemeenste vraag is gewoonlik oor die misdaad, en hoe onveilig dit is. Soms is dit moeilik om te verduidelik, siende dat ons nie eers ons huis of kar hier sluit nie. Dan klink enigiets mos erger! Die misdaad hier is bietjie anders as in Suid Afrika - daar bly tans 'n beer op ons erf. Hy't nou die dag ons gasbraaier in stukke gebreek asof dit uit Lego gemaak is, en toe by die kombuisvenster probeer inbreek. Ons het hom betyds gevang, maar nou los hy sulke massiewe torings orals in die tuin, net om ons te herinner dat hy ons dophou ...

Waar in die stad/land waar jy tans woon, kuier jy graag - en wat doen jy in jou vrye tyd?

My man werk deeltyds vir die lughawe hier in Aspen, dus vlieg ons gratis enige plek in Amerika. Elke kans wat ons kry, spring ons op 'n vliegtuig. As die finansies bietjie sleg lyk, is daar nêrens beter as by die huis nie. Ons woon tien minute van 'n massiewe reservoir af, en vang trout en salm asof dit Kersfees is. Verder is hierdie deel van Colorado bekend vir die staproetes, mits jy nie deur 'n beer geëet word nie.

Jy kan 'n Afrikaanse sanger of band nooi om daar op te tree; wie kies jy?

Kan Tannie Grietjie van Gharies nog vlieg?

Wat is jou gunsteling-kossoort of -produk wat jy in die VSA kan kry wat nie hier beskikbaar is nie?

Hulle maak sulke Spicy Buffalo Chicken Wings hier wat KFC sal laat bloos. En Colorado maak van die beste bier wat ek al gedrink het, veral saam met bogenoemde vlerkies.

Sou jy Suid-Afrikaners aanmoedig om daar vakansie te hou?

Vir seker! In die winter, net so na vyfuur die middag, voel dit asof jou oë uit jou kop uit wil klim om alles in te neem. Die berge word pienk soos jou koue neus, en die sneeu skitter soos sterre. In die lente kan jy skaars trap tussen al die tulpe en papawers, party so groot soos pierings. Laatmiddag in die somer, na die donderstorms klaar gedraai het, ruik dit soos natreën en berglug. En nou, in die laat herfs, is dit asof elke Aspen boom aan die brand is. Elke dag val die blare af in massas, terwyl die bergtoppe witter word. Hierdie area is amper onwerklik: al is ons omsingel deur die berge, voel dit asof jy vir myle ver kan sien. (Ek weet nie hoeveel kilometer dit is nie ...)

Jy is gestrand op 'n eiland. Jy het drie Suid-Afrikaanse items van die sinkende skip gered. Wat het jy gekies?

Ek het 'n boks Tassenberg, want ek kan dit na die tyd as 'n kussing gebruik. 'n Kopie van Kook en Geniet vir as ek vergeet hoe om aspiek of ingelegde kwepers te maak. En 'n Huisgenoot Blokkiesraaisel Omnibus. Hopelik het ek 'n pen?

Wat is die hoogtepunt van jou verblyf in die buiteland?

Mens besef nie hoe waardevol vryheid is tot jy dit verloor nie. Ek moes vir omtrent 'n jaar en 'n half wag voor ek my Green Card gekry het. My vlerke was geknip, ek kon nie uit die land uit nie, ek kon nie 'n bestuurslisensie kry nie en ek kon nie my van verander nie. Die hoogtepunt was op die 10de Maart 2008, toe ek die klein plastiekkaartjie in die posbus sien. 'n Maand later was ek op die vliegtuig, en het selfs gehuil toe ek Johannesburg-lughawe sien! Ek besef nou dat jou huis is waar jy dit maak. Dit is moontlik om in meer as een plek te behoort, solank jy jouself omring met mense wat jou gelukkig maak! En natuurlik help dit as daar 'n paar bottels Stellenbosch-wyn in die rak staan!



<< Terug na die Jong expats-blad <<