Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Expats > Onderhoude | Interviews > Jong expats | Young Expats

Jong expats: Gina Schreuder vertel ons van St Andrews, Skotland


Imke van Heerden - 2009-10-13

Waar woon jy nou en is die gras wel groener? Wat maak jy daar?

Ek woon in St Andrews in Skotland, waar ek besig is met my meestersgraad aan St Andrews-universiteit se nagraadse bestuurskool. Die gras is baie groener, omdat dit 80 persent van die tyd reën. :)

Hoekom het jy Suid-Afrika verlaat?

Die graad wat ek graag wou doen ('n meestersgraad in bestuur wat fokus op die "creative industries"), kan 'n mens net by 'n Britse universiteit doen. Ek is by ses universiteite aanvaar, en het op St Andrews besluit omdat die universiteit baie hoog aangeskryf word en in die Britse rangsisteem tans as die derde beste universiteit in die VK beskou word.

Beplan jy om terug te kom?

Ek kwalifiseer vir 'n "post-study work visa", so ek kan vir twee jaar in die VK werk. Ek besluit nog of ek my PhD wil doen, in Engeland wil werk, of wil terugkom Kaapstad toe.

Wat van Suid-Afrika laat jou lag en wat laat jou huil?

Lag: SABC-nuusbulletins en die banale debatte wat in die Afrikaanse media oor goed soos evolusie, homoseksualiteit en Dopper-diakens gevoer word.

Huil: Misdaad. My ouma is in 2005 vermoor en as ek ooit emigreer, sal misdaad 'n deurslaggewende rol in my besluit speel.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

My vriende en familie. Wyn. Kloofstraat. Tafelberg. Die feit dat alles goedkoop is.

Hoe reageer mense as hulle uitvind jy is Suid-Afrikaans?

Ek word oor Sokker 2010 uitgevra en of daar slaapplek by my huis is.

Waar in die stad/land waar jy tans woon, kuier jy graag?

St Andrews is baie, baie klein, so ons gaan maar na pubs toe.

Jy kan 'n Afrikaanse sanger of band nooi om daar op te tree; wie kies jy?

Die Heuwels Fantasties.

Sou jy Suid-Afrikaners aanmoedig om daar vakansie te hou?

As jy van gholf hou, is dit 'n pelgrimstog: St Andrews is immers die geboorteplek van die sport. Jy kan op die Old Course-gholfbaan rondloop, en in September sak bekendes soos Hugh Grant en Samuel L Jackson op die dorp toe vir die Dunhill-kampioenskap. Die dorpie is regtig pragtig, met katedrale, kastele en universiteitsgeboue wat uit die 1400's dateer langs die see. Die openingstoneel van die fliek Chariots of Fire is op die strand verfilm.

Enige interessante tendense waarvan jy ons wil vertel?

Prins William het by St Andrews gestudeer, en daar loop elke dag nog desperate Japannese toeriste op kampus rond in die ydele hoop om hom te sien.

Jy is gestrand op 'n eiland. Jy het drie Suid-Afrikaanse items van die sinkende skip gered. Wat het jy gekies?

'n Bottel Graham Beck Brut, klere van Marion and Lindie en 'n Bitterkomix.



<< Terug na die Jong expats-blad <<