Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

Die roep van die bilaal


Francois Loots - 2009-10-09

Ek het deur die kombi se venster oor ’n bleek landskap sit en kyk. ’n Plat wêreld, met hier en daar ’n heuweltjie of ’n handjievol kaal winterbome. En ’n wit wêreld, bedek met ’n dik laag sneeu wat nog vir maande lank sou lê. Ek was die joos in, want ons Russiese tak se boekhouding was geheel en al onvoldoende. Gedurende my eerste paar dae daar het ek gou besef dat dit lank sou neem om hulle boeke ordentlik geouditeer te kry. Ek het ons hoofkantoor laat weet en daardie middag mismoedig sit en kyk hoe die dag se lig oor daardie wit, verlate wêreld aan die kwyn was.

’n Koue en onpersoonlike hotelkamer het my ingewag. Op die derde en boonste vloer van die nuutste gebou in die dorpie. Onder die hotelvloer was ’n vloer met kantore, meestal leeg, op die grondvloer die dorpie se enigste supermark en saans het ’n doodse kilte die gebou van hoek tot kant gevul.

Dit was die gedagte aan nóg ’n aand se kille hel wat my die bestuurder laat vra het om my by die padkafee by die afdraai na die dorpie toe af te laai.

Hy’t geaarsel, en eers nadat ek ’n goeie paar treë van die kombi af gegee het, het ek hom hoor wegtrek – terwyl die padkafee op die oog af net sowel op Putsonderwater of ’n klein gehuggie in die Australiese binneland sou kon gewees het. Vierkantige tafels en stoele, ’n wit linoleumvloer, ’n lang glastoonbank met niemand agter dit nie; en uit moedeloosheid het ek aan een van die tafels gaan sit.

Popmusiek het gespeel, en deur twee groot vensters met die plek se naam aan die buitekant geverf het ek die oorsaak van my moedeloosheid in die gesig gestaar: weke se werk in ’n godverlate hoek van die wêreld. Nie dat dit die eerste keer was dat ek my in so ’n posisie bevind het nie. My werk stuur my dikwels na sulke plekke toe. Angola, Koeweit, Venezuela; maar in Angola is dit warm, in Koeweit bly jy in ’n hipermoderne hotel, in Venezuela is die swoel nagte vol belofte – maar só ’n godverlate vlakte? Alleen op die derde vloer omdat niemand ooit op so ’n spookdorpie wil oorslaap nie?

Ek het my sulke vrae sit en vra toe ek bewus geword het van ’n man wat my van skuins langs die toonbank staan en betrag het. Kort en fris, effens oorgewig. Gitswart hare, maar met ’n handvol grys reeds oor sy slape.

“Wat sal dit wees?” het hy my gevra toe hy ’n tree of twee na die tafel toe gegee het.

“’n Blyplek,” het ek op die ingewing van die oomblik geantwoord. “Ek soek ’n blyplek.”

Hy’t gefrons. Maar dit was ’n nuuskierige frons wat met ’n glimlag gepaard gegaan het en ek het hom na die firma se embleem op my dik wintersbaadjie sien kyk.
“Amerikaner?” het hy gevra.

“Suid-Afrikaner.”

Die frons was steeds daar, maar die glimlag het breër geword. Hy’t nietemin omgedraai en agter die toonbank ingeloop, en ’n oomblik later het ’n Midde-Oosterse melodie se openingsnote kliphard weergalm. Wat die spesifieke lied was, weet ek nie, maar ek het dit dikwels in Koeweit gehoor. Hy’t met ’n bottel bier terug tafel toe gekom en ek kon hom beïndruk deur die herhalende koor waarmee die lied open, saam te neurie.
“Oezbekiese musiek!” het hy hardop gesê en die bier voor my neergesit. Maar hy’t weer omgedraai en by ’n kombuisdeur ingeloop, en al het ek geen bier bestel nie, het ek die bottel opgetel. ’n Bier in die hand, ’n man wat geglimlag en my nie so agterdogtig soos die Russe by die werk aangegluur het nie, musiek wat warm lande in die geestesoog opgetower het – en meteens het daardie godverlate vlakte my nie so mismoedig laat voel nie.

Hy’t kort voor lank ’n maaltyd vanuit die kombuis aangedra. Sjasjlik, ’n feitlik daaglikse maaltyd. ’n Sosatie met dik blokke beesvleis, ’n bord met tamatie-en-komkommerslaai, ’n plat brood, wit kaas. “Russiese kos!” het hy gesê, maar in die lug op gewys. “Oezbekiese musiek!”

Dit was die trant van ons gesprek, daardie aand en in die daaropvolgende weke. Russiese bier! En nadat hy ’n televisie in die hoek aangeskakel het: Oezbekiese televisie! Eenvoudige babataal wat hy hardop bly uiter het, asof hy met ’n dowe te doene gehad het. Ek dink hy kon hom nie indink dat iemand uit Afrika tot veel meer in staat sou kon wees nie.

Maar ná ete het ons in sy Lada gespring. Russiese motor! En hy’t my ’n woonstel gaan wys. Dit was in een van die dorpie se grys woonstelblokke. Almal het dieselfde gelyk. Vier verdiepings, elk met dieselfde ingangsdeure wat in die wind bly klap het, dieselfde sementtrappe, daardie aand op na die derde vloer toe.

’n Kombuis, sitkamer, badkamer, twee slaapkamers. Die plek het ruim gevoel, omdat dit net die nodige gehad het. Russiese ketel! Volgens hom ’n Russiese mikrogolf! Eintlik ’n Koreaanse Daewood, maar ek wou hom nie weerspreek nie. Een tafel met drie stoele in die sitkamer, ’n enkele bed en kas in die groter slaapkamer, net ’n mat in die tweede kamer. En ten spyte van die sentrale verhitting, warm Oezbekiese komberse!

Die Russe by die werk het agterdogtig geglimlag en my vertel dat ek braaf was om ’n plek by ’n Oezbeek te huur. Ek wou weet hoekom, maar hulle het geen verduideliking nodig geag nie. Ek was lus om hulle te vertel dat dit net so braaf was om van omkoopgeld as donasies onder diverse items boek te hou, maar ek het stilgebly. ’n Ouditeur moet sy kliënt se vertroue wen – en wanneer die werk se kombi my laatmiddag by die padkafee afgelaai het, was ek verlig om my rug ’n aand lank op hulle wantroue te kon draai en vir ’n rukkie na Oezbekiese musiek te kon luister.
     
Natuurlik het ek almal ontmoet. Sy vrou en twee seuns. Ramil, ’n twintigjarige met die lyf van ’n os. En Haroen, wat die teenoorgestelde was, ’n lang en lenige tienerseun. Maar dis Ramil wat Vrydagaand, my tweede aand in my nuwe blyplek, aan my deur kom klop het. Hulle’t in die woonstel reg bo my gebly en hy’t met ’n Engelse grammatikaboek in sy hand gestaan. Ons het by die enigste tafel, reeds oorlaai met werkspapiere, gaan sit en ek het gou besef dat dit nie om Engels gegaan het nie. Alhoewel hy redelik baie kon verstaan, was sy manier van praat ’n kort en kragtige telegramstyl.

“Fok die Russe.” En gewoonlik sonder die nodige lidwoord of werkwoord: “Pa eenkeer polisieman. Nou baie geld.” Hy moes hê, want ek het afgelei dat hy twee ander padkafees bedryf het, asook etlike winkels.
     
En dan was daar Oezbekistan, met Ramil wat die trappe van vergelyking soos die palm van sy hand geken het. “Oezbekistan beter. Oezbekiese man sterker. Sterkste van sterkste.”

’n Klomp snert, pure grootpratery, maar hy’t my laat lag en ná ’n ruk op vierde vloer toe gehardloop en met musiek teruggekom. “Oezbekiese musiek beter! Beste van beste!” Hy’t begin dans, sy bonkige lyf verstommend rats. Hy’t op die maat van die musiek al hoe laer op sy knieë bly hurk, sy bene soos ’n Russiese Kosak voor hom uit bly skop – en meteens die lug in geseil, met sy bene sywaarts gestrek. Maar dit was nie met die grasie van ’n balletdanser gedoen nie. Daar was ’n manlike gehardheid aan sy bewegings en teen die tyd toe hy weer op die vloer geland en met sy een vuis op sy bors geslaan het, het ek my skoene uitgetrek. “Wys my hoe,” het ek gevra.
     
Ons het die tafel opsy geskuif en hy’t my die treë van die dans begin wys. Maar hy was ongeduldig. As hy jou een keer gewys het, het hy aangeneem dat jy elke tree en draai sou onthou en net so hoog soos hy die lug in sou kon seil. En het ek geval, het hy geskaterlag. Ek het eenvoudig saam gelag, want ek wou dans. Ek wou musiek hardop hoor en die godverlatenheid van daardie plek te bowe kom.

Weens die verhitting het ek kort voor lank my hemp uitgetrek. Ramil ook. Ná ’n ruk het ek ’n kortbroek gaan aantrek, terwyl Ramil in sy onderbroek gedans het, en ons het laat daardie aand al twee uitasem op die mat te lê gekom.
     
Maar nie vir lank nie. ’n Mens speel nie met koue nie – en nadat hy weer op boontoe was, het ek yskas toe gegaan, ’n klein sopie vodka geskink en by die tafel gaan sit. Buite was dit donker. Ek het die koue wind hoor waai, sit en luister na ’n deur wat aanhoudend bly klap het en moes aan Miami dink. Aan Sydney, aan Havana, aan Mouillepunt in die Kaap.

Vakansietye; dán gun ’n mens jou om op sulke plekke te wees. Maar intussen het ’n onbegonne taak op my gewag en ek was bly dat Ramil kom kuier het.
     
Ek het hom die volgende oggend weer gesien. Dit was Saterdag en buite het die wind steeds gewaai. ’n Sneeustorm was aan die opbou en ek wou voor die storm aanbreek, ’n entjie gaan stap.

Ek was skaars buite of ek het Ramil hoor roep. “Wag!” het hy vanuit ’n venster op die vierde verdieping geskree en ’n minuut later was hy buite. Ten spyte van die wind het ons redelik ver gestap. Verby die supermark met die hotel op die derde vloer, tussen rye grys woonstelblokke deur, deur ’n lang en breë stuk oop grond, wit onder die sneeu en met etlike kaal bome. Ramil het verduidelik dat dit die dorp se park is. Verby ’n sportveld waar tydens die winter in die opelug geysskaats word, ná nog ’n paar woonstelblokke die wit oopte.
     
Dis toe dat ek vir die eerste keer van iewers af geweerskote gehoor het. Ek het na Ramil toe gedraai, maar hulle het geen reaksie by hom gelok nie. Nadat ons ’n entjie verder gestap het, het hy wel vir my gesê dat ek nooit alleen moet uitgaan nie.
     
“Hoekom nie?” wou ek weet.
     
“Fok die Russe,” het hy gesê en geglimlag.
     
Ek wou steeds weet en met sy gebroke Engels kon ek nie veel meer wys word as dat dit iets met die weermag te doen gehad het nie.
     
“En ...” Hy’t met sy een hand in ’n rigting staan en beduie, terwyl die regte Engelse woorde hom steeds ontduik het.
     
“In daardie rigting?”
     
“Skool,” het hy gesê. “Weermag, skool.”
     
Ek het verstaan hoekom hy daardie oggend saam met my gaan stap het, en daardie naweek het ons oor heelwat ooreengekom. Hy’t daarop aangedring dat hy naweke saam met my sou gaan stap; ek het aangebied om naweke saam met Haroen te gaan ysskaats; Saterdagaand en Sondagmiddag sou ons almal sjasjlik by die padkafee gaan eet het – en tot my verbasing het Ramil in die daaropvolgende week my woonstel begin gebruik om te kom en te gaan soos hy wou. Maar hulle het bo my gebly, in elk geval ’n sleutel gehad, en kort voor lank was daar ’n matras in die tweede slaapkamer. Ek was bly oor die geselskap. Al het ons gesprekke selde om meer as ’n goeie kwota "Fok die Russe" gehandel. Maar ons het gedans. Soms het hy saam met my en Haroen gaan ysskaats. Sulke kere het al drie van ons met blou kolle terug huis toe gegaan en sy ma het ons hardop berispe. En ons het begin stoei – ’n sport wat die trots van die minderheidsgroepe se mans is.

“Tsjetsjniese mans baie sterk,” het Ramil opgewonde vertel. “Sterkste van sterkste.”
Ek het die stoeiery moeilik gevind. Daar was oomblikke waartydens hy my met sy lyf vasgepen en ek sy asem teen my nek af voel blaas het. Die gedagte aan Miami of Sydney, aan stoombaddens en donker kamers het voortdurend kop bly uitsteek en ek kon nie altyd op die grepe van stoei konsentreer nie.
     
Maar so ongeduldig soos Ramil was, so halsstarrig was hy ook. Saans of naweke het ek my keer op keer onverwags in ’n greep bevind. ’n Arm om my nek; of my arms agter my rug, terwyl sy voorarm onder hulle ingehaak was. Meer as een keer het ek skielik op die vloer beland.

Ek het een middag in die werk se kombi, op pad terug huis toe, gefrustreerd oor die wit vlaktes sit en uitkyk. As die landskap dít dan van my verg, het ek wel besluit, sal ek moet leer om terug te baklei. Met Ramil wat my touwys gemaak het.

“Draai arm, so.”

“Draai hier”, met sy hand op my rug of heup.

“Nou!” sou hy skree. “Gooi! Fok die Russe!”

Fok die Russe, maar ten spyte van die gehardheid wat hy in my wakker geroep het, het hy sagter geword. Binne ’n kort tydjie was daar ’n speelsheid omtrent ons stoeiery; ons kon net sowel geysskaats of gedans het.
     
Dit was steeds moeilike oomblikke. Buitendien het hy weens die verhitting dikwels in net sy onderbroek rondgeloop. Hy sou by my kamer inkom en op my bed kom sit om my die een of die ander storie te vertel. Gewoonlik oor hoe magtig Oezbekistan eens was. Of kaalbolyf aan tafel langs my, met ’n hand op my skouer, om my vertel hoe sterk die minderheidsgroepe se mans is. Veral dié van Tsjetsjnië. Dis hoekom die Russe hulle so vrees.
     
“Maar nou,” moes hy ook toegee. “Nou vernietig alles. Burgeroorlog.”
     
Op sulke oomblikke wou ek dikwels na hom toe uitreik, maar dan het ek doodeenvoudig aan ’n vakansie gedink. Aan Sydney, Miami, Mouillepunt.
     
En op my manier het ek Ramil teruggekry, al was hy nie bewus van die begeerte wat hy in my ontlok het nie. Ten spyte van sy straatwysheid was hy ook effens naïef. En een aand, nadat ons weer aan die stoei geraak en op vloer lê en asem skep het, het hy my uitgevra oor die plek waarvandaan ek kom.
     
“Ek het nie daar grootgeword nie,” het ek hom vertel. “Maar ek het vir my daar ’n woonstel gekoop.”
     
Hy wou weet wat die woonstel werd was, asook oor die weer en die mense. Buite het dit gesneeu, die temperatuur was iewers in die minus veertigs en ek het hom vertel van ’n plek waar twee oseane mekaar ontmoet. En van ’n woonbuurt met ’n lang promenade, ’n rotsagtige strandjie, ’n ligtoring en ’n lang uitgestrekte somer. “Dis ’n toeristestad,” het ek gesê.
     
“Gaan ook Russe?” wou hy weet.
     
“Meestal Europeërs,” het ek gesê en op die ingewing van die oomblik bygevoeg dat die stad al hoe gewilder raak onder mense vanuit die Midde-Ooste en hom vertel van ’n Saoedi-Arabiese prinses wat soms in my woonstel gaan bly. Dit was vergesog, maar ná ’n oomblik se nadenke het hy my gevra wat sy daar gaan doen.
     
“Sy’s ’n droë woestynwêreld gewoond,” het ek gesê. “Maar daar kyk sy uit op die see. Dit reën nooit in Saoedi-Arabië nie, maar as sy in die winter soontoe toe gaan, sien sy ’n slag reën. Maar sy gaan hoofsaaklik soontoe omdat sy daar rus en vrede het. Wanneer sy uitgaan, ken niemand haar nie en is daar nie ’n klomp jong mans soos jy wat agter haar aanhardloop en net weens haar geld met haar wil trou nie.”
     
Hy’t gelag, op sy sy gedraai en my ná ’n peinsende oomblik met ’n seunsagtige opgewondenheid gevra of hy haar sou kon ontmoet.
     
“As jy terselfdertyd as sy daar is.”
     
“Arabiese prinses,” het hy gesê en weer agteroor gelê. “Sy myne.”

Ons het gelag, maar in die dae daarop het sy Engelse grammatikaboek weer te voorskyn gekom en het hy ’n lys begin maak van al die Arabiese woorde wat hy geken het. Sy prinses het deel van ons alledaagse gesprekke geword. Het ons sjasjlik geëet, was dit goed genoeg vir ’n Arabiese prinses. Wanneer ons ’n windstil dag met ligte sneeuvlokke gehad het, wou ons die prinses oornooi om daarna te kom kyk. En toe ons eendag saam met Haroen ’n sneeuman gemaak het, het dit ’n prinses geword. En sy’t daar bly staan; haar lang en lenige figuur het die weer die hoof gebied, maar ek het ’n hele paar keer gesien hoe hy of Haroen by haar verbyloop, maar omdraai om haar iewers skoon te vee of reg te dokter – haar lang en smal gesig, haar grasieuse nek, haar tingerige skouers, die kontoer van haar kleinerige borste of nouerige heupe.

Dit het skielik gebeur. Ramil was besig, Haroen moes iets vir skool doen en ek wou nie by die huis sit nie; nie op ’n windstil en sonskyndag nie. Daar’s tog ander mense op straat, het ek geredeneer, en ek het tot by die wit oopte duskant die woonstelblokke geloop. Maar dit was ’n mooi dag; die oopte het stil en leeg voor my uitgestrek en ek het besluit om tot by die handjievol kaal lorkebome aan die oorkant toe te loop.

Ek was halfpad oor die oopte toe ek op die ingewing van die oomblik omgedraai het.

Hulle’t gehardloop en ’n tree of twee gestruikel voordat hulle stil kon staan. Ek het hulle nie eers gehoor nie; dit was my eerste gedagte, terwyl ons mekaar oor ’n distansie van ’n goeie twintig meter staan en aanstaar het. Ten spyte van die koue wat die sneeu hardop onder jou voete laat kraak, ten spyte van die windstil dag wat klank ver dra! Toe besef ek dat hulle vir iets moes geskrik het. Dit het verklaar hoekom hulle drie huiwerig was om ’n verdere tree te gee.
     
Dit moes my baadjie se helder embleem gewees het. ’n Skreeuend helder oranje. AMEGO. American Gas & Oil. Moenie met my mors nie. Dis ek wat geld na hierdie godverlate vlakte toe bring. Ek hou boek van my donasies, en as jy gelukkig is, maak jy dit tot by ’n gevangenis.

En fok die Russe!
     
Ek het na hulle toe geloop; my treë stadig, maar selfversekerd.
     
Drie jong soldate, dronk en verveeld, met ’n goeie kwota ongebruikte energie. Die ene se gesig nog sag en ongeskonde. Hy’t ’n bottel tuisgemaakte vodka in sy hand gehad. Ek het dit by hom geneem en na my mond toe gebring. Ek het gemaak asof ek daaraan sluk, en hardop en aanmatigend geproes, en hulle’t geskater van die lag, terwyl die ene met die sagte gesig my vriendskaplik op my rug geslaan het. Ek het saam gelag, hom sy bottel teruggegee en met ’n hopelik outoritêre blik van hulle af weggedraai en na die bome toe geloop.
     
Ek het teen ’n boom gaan hurk, teruggekyk, hulle tussen woonstelblokke sien verdwyn en moes uit pure verligting hardop sug.
     
Ek was doodeenvoudig gelukkig.
     
Haroen was nie.
     
Ek het die padkafee daardie middag toe gekry en moes huis toe loop. Die weer was gelukkig nie té guur nie. ’n Digte mis wat sig tot drie treë beperk het, maar ten minste het die wind nie ys en sneeu in jou oë gewaai nie. En dit was net twee kilometer na die dorpie toe.
     
Ek het geweet dat iets moes gebeur het.
     
Maar ek het nie ’n begrafnis verwag nie.
     
Trap op kon ek mans buite hulle oop voordeur sien. Almal het kofias gedra en ek het gegroet en gevra of Ramil tuis was.
     
Een van hulle het ingegaan om hom te gaan roep. Omdat hulle nie een iets gesê het nie, het ek daarvan bewus geword dat ek sonder ’n kofia was en soos ’n Rus moes gelyk het. Ramil het gelukkig gou sy verskyning gemaak. Hy wou my skaars in die oë kyk; het sy hand op my skouer gelê en terug trap af gedruk.
     
“Jammer,” het hy in my woonsteldeur gesê, maar ingekom en binne by die tafel gaan staan en deur die venster gekyk. “Haroen,” het hy gesê. “Hy’t gaan ...” Hy’t met ’n gebaar beduie dat hy gaan ysskaats het.
     
Ek kon niks sê nie. Nog minder beweeg.
     
Hy’t omgedraai. “Pa eenkeer polisieman,” het hy gesê.
     
Ek het geknik. Hy’t my dit reeds vertel. En ná 1989 het sy pa ’n besigheidsman geword.
     
“Ons kry hulle,” het hy gesê.
     
“En Haroen?”
     
“Môre,” het hy gesê. “Ma en Pa, Oezbekistan.” Hy’t nie die woord vir "begrafnis" geken nie, maar onder die grond beduie.

Hy’t weer boontoe gegaan, maar kort voor lank teruggekom, met ’n opvoumatras en komberse. Drie mans sou die nag in die tweede kamer kom slaap het, maar toe hulle laataand afkom, was dit ’n ouma, oupa en twee kleinkinders. Hulle’t gegroet sonder om my in die oë te kyk en na die kamer toe gegaan, en ek was die volgende oggend reeds op pad werk toe voordat hulle opgestaan het.

En toe gebeur dit weer. Ramil het nie saam Oezbekistan toe gegaan nie, maar het agtergebly om die besighede te behartig. Ek het steeds by die padkafee afgeklim. As Ramil nie daar was nie, het ek iets geëet en papierwerk sit en doen terwyl ek op hom sit en wag het.

Ek het dit nie eers raakgesien nie, maar daardie middag het ek hom in ’n slegte bui aangetref en hy’t my gewys. Iemand het gedurende die nag ’n groot klip teen een van die een vensters kom gooi. Omdat die vensters daar altyd uit drie lae glas bestaan, het net die buitenste venster gebreek. Dit was reeds vervang, maar met nog net die helfte van die padkafee se naam oor die een venster. Maar hy was buierig en wou nie verder oor die insident praat nie.

Ek het daardie aand ongemaklik aan sjasjlik sit en peusel en meer as gewoonlik gedrink. Die kronologie van gebeure het verkeerd gevoel; ’n klip teen ’n venster kom tog as waarskuwing, voordat ’n moord gepleeg word? Maar wie maak in elk geval die reëls? het ek my ook afgevra.

“Ons kry hulle,” het Ramil my daardie aand bly sê.

Ek het hom nie daarop geantwoord nie, want in my geestesoog het ek my kop ontkennend geskud. Ons maak nie die reëls nie. Bush, Putin, ánder maak die reëls. En ek, die ouditeur, kom maak hulle gemors skoon. Maar ek probeer tog net ’n lewe lei, het ek my probeer regverdig, want dis wat ons doen. Ons probeer ’n lewe lei en alhoewel sekerlik voldoende, het dit my daardie aand bedruk laat voel en ek was bly dat Rusland tot ’n einde sou kom. Hugo Chávez maak ook die reëls, en ons hoofkantoor het my laat weet dat ek so gou as moontlik by die span in Venezuela moes gaan aansluit. Ons moes probeer om Chávez se planne een vooruit te wees en ek wóú soontoe ontsnap, na ’n plek met swoel naglug vol belofte.

Gedurende daardie tien dae waartydens Ramil se ouers weg was, het hy toe reeds die gesig van die man op die foto gehad? Alhoewel dit nie Ramil was nie. Hy was nie so nie.
Maar ek onthou hoe hy een aand laat opgedaag het. Ek het hom met sy sleutels hoor sukkel en ná ’n paar oomblikke het hy geklop. Ek het gaan oopmaak. By die deur het sy oë myne ontwyk en sonder om werklik daarop ag te slaan, het ek omgedraai en terug sitkamer toe geloop.
     
Meteens was ek op die vloer. Met my arms agter my rug en Ramil se voorarm onder my boarms ingehaak en dit het gevoel asof sy ander arm my nek sou breek. En enige hou of draai of gooi wat ek in verweer kon probeer gebruik het, dié het hy reeds geken. Ek kon ruik dat hy gedrink het en het my verbeel dat dit tot my voordeel getel het. Of miskien was dit doodeenvoudig adrenalien, want ek het geskrik. Ek kon hom afgooi, maar nog ’n ferm greep het gevolg. Opeens het ons daadwerklik gestoei. Die grepe van sy arms en bene het onoorwinlik gevoel en die kwaad agter sy bewegings het my meer as een keer vir ’n hele paar sekondes lank vasgepen en feitlik weerloos laat lê.
     
Maar net so skielik soos hy begin stoei het, het hy teruggetrek, agteroor gerol en op sy rug gaan lê.
     
Ek was uitasem en het vir ’n oomblik stilgesit voordat ek opgestaan en na die stort toe geloop het. Ek het onder die warm water gaan staan en gewonder hoe om sy gedrag te begryp.

Toe ek teruggaan sitkamer toe, het hy steeds daar gelê.
     
“Ramil?”
     
Hy wou my nie antwoord nie. Ook nie toe ek skuins bo hom gaan staan en hom in die oë kyk nie. Syne het na nêrens gestaar; miskien na binne toe, met sy gedagtes elders.
     
Ek het gewens dat ek hom na die hede toe kon roep. As ek gedink het dat dit sou kon help, sou ek gebuk en hom gesoen het. Maar dit sou nie. Buitendien sou ek nie die moed daarvoor gehad het nie.
     
En daardie oggend se foto?

Ramil het een Sondagmiddag saam met vyf mans opgedaag. Hulle was almal jonk, sy ouderdom. Uit Dagestan en Koerdistan, het hy gesê. Een van hulle het vir ’n werksonderhoud na ’n nabygeleë stad toe gekom, maar nie besef dat net etniese Russe en nie minderheidsgroepe aangestel sou word nie.
     
“Ek is jammer,” het ek oor die onderhoud gesê.
     
Hulle’t dit onderspeel en Ramil het gesê dat hulle vir ’n aand in die tweede kamer sou oorbly.
     
Ek het hulle as terughoudend ondervind. Hulle was nie drinkers nie. Tee is gemaak, maar ek het uitgesluit gevoel omdat hulle in hulle onderskeie dialekte met mekaar gepraat het. Dit het geklink asof hulle woorde vergelyk en terwyl Ramil aan die kosmaak was, het ek met een van hulle ’n bordspel sit en speel. Ek kon sien dat sy aandag nie by die spel was nie en het my daarna na my kamer toe teruggetrek.
Laatmiddag het Ramil my geroep om te sê dat die kos reg is, ’n dik en voedsame Oezbekiese sop. Daarna het hulle uitgegaan, sonder om my saam te nooi.

Ek was laataand in my kamer toe ek hulle hoor inkom. Ek het in die deur gaan staan, maar onmiddellik ’n aarselende tree terug gegee. Dit was hulle manier van doen. Sonder om ’n woord te sê, het hulle hulle baadjies en skoene effens gehaas uitgetrek. Ek het instinktief my deur tot op ’n gleuf toegemaak, maar nogtans deur die gleuf staan en loer hoe hulle mekaar telkens in die oë gekyk of hoe die een vlugtig ’n hand op die ander se skouer gelê het. Ek het omgedraai, ’n boek opgetel, op die bed gaan lê en gemaak asof ek lees. Ramil het by die kamer kom inloer, my sien lees, niks gesê nie en die deur toegetrek.

Ek het bly lê, bewus van elke geluid. Ek het iemand in die kombuis hoor werskaf en geraai dat dit Ramil was wat tee maak. Hulle het sag gepraat en kort daarna het ek gehoor hoe hulle na die tweede kamer toe gaan en die deur toemaak.

Ek het daardie aand vir lank na buite lê en staar. Die wind het opgekom en terwyl ek lê en luister hoe ’n deur iewers onophoudelik bly klap het, het ek gedink dat ek net sowel in daardie kil en onpersoonlike hotelkamer kon aangebly het. Terselfdertyd het ek my bly vertel dat dit net my verbeelding was. "Ons kry hulle," het Ramil meer as een keer gesê, maar ek het tog geen bewys gehad nie. Lyftaal was nog nooit bewys vir vergelding nie!

Toe ek op die een of die ander stadium voor die venster gaan staan en na buite gekyk het, het die prinses my opgeval. Ys het aan haar begin vorm, die dowwe naglig het op haar geskyn, en ten spyte van haar grasieuse vroulikheid het haar weerkaatsing haar daardie aand gedug laat voorkom.

Ek het onrustig geslaap, en toe ek vroegmôre opstaan en kombuis toe loop, was enige teken van die vorige aand se maaltyd of tee opgeruim. Ek het na die voordeur toe gedraai en die vyf se skoene of baadjies was nie meer daar nie. En opeens het ek ’n bilal hoor roep.

Ek het gaan kyk; net Ramil was in die tweede kamer. Hy’t op die matras gesit, met sy rug na die deur toe gekeer, sy blik deur die venster. ’n Opname van ’n bilal wat mense roep om te gaan bid, het gespeel en daarna het sy alleenstem die woonstel soggens dikwels gevul, maar oor die groep het ons nooit weer ’n woord gerep nie.

So was ons afskeid ook, effens formeel en sonder om oor my laaste paar weke daar te praat. En met ’n uitgestrekte vlugroete wat my voorgelê het. Novosibirsk toe, van daar af oor Japan na New York toe, met ’n verdere vlug Venezuela toe. Daar wás die lug swoel, maar ek moes ongenaakbare lang ure werk, en wanneer ek laataand by my hotelkamer met sy groot balkon opgedaag het, het ek die balkondeure wyd oopgeskuif, die dak se waaiers op hoog gestel en op my bed neergeval.

Ramil – ná daardie aand het die aard van ons vriendskap verder verander. Hy’t terughoudend geword en ek het voortdurend gevoel dat ek maar net ’n buitestander was. ’n Vreemdeling wat toegekyk het terwyl hý die ene was wat ’n lewe probeer lei het.

Die prinses het wel bly staan. Ons het nie weer oor haar gepraat nie, maar ek het haar soms skoongemaak en soms het ek hom dit sien doen. Op die een of die ander stadium het iemand ’n helderkleurige oranje serp om haar gaan bind, maar ek twyfel of dit Ramil was. Dit was nie in sy geaardheid nie. Ná twee dae het die serp verdwyn. Dit was waarskynlik iemand wat koudgekry het, maar ek het verkies om my te verbeel dat dit die wind was. Maar wie of wat ook al vir die serp verantwoordelik was, sy het my laat voel dat Ramil nie alleen sou wees nie.
     
En in Venezuela, toe ek een aand op pad terug hotel toe was, het ek verby ’n plek met wegneemetes geloop. Die geur van skerpgegeurde sosaties het in die lug gehang en terug in my kamer het ek die deure oopgeskuif, die waaiers op hoog gestel en telefoon toe geloop. Ek het Ramil se selfoonnommer geskakel en na ’n opname van ’n Russiese stem geluister. Ek het hulle huis se nommer probeer, maar daar was geen antwoord by die woonstel op die vierde vloer nie. Ek was verlig. Wat sou ek in elk geval in my gebroke Russies kon sê as sy pa die telefoon beantwoord het? Oezbekiese musiek? Ek het nie die padkafee probeer nie.

Ek was in Washington. ’n Konvensie, ’n hotelkamer, en ek het vroegoggend die televisie aangeskakel om na die nuus te kyk. Daar was ’n aanval. En daardie foto. ’n Islamitiese naam en jy word ’n verdagte; só het dit my op daardie oomblik gevoel.

Ek moes gaan sit, op een van die luukse hotelkamer se groot stoele, en ek het aanhou dink dat dit nie hy kon wees nie. Nie Ramil nie. Sy gesig het nie so gelyk nie. Nie so ernstig en uitgehonger soos ’n mens net op ’n polisiefoto kon lyk nie.

Ná ’n ruk het ek besef dat die televisie nog aan is en ek het die stort gaan oopdraai. Maar met die een aan en die ander oop, het ek weer gaan sit. Ek het weer opgestaan, die een afgeskakel, die ander toegedraai en toe vir ’n ruk lank doodeenvoudig op daardie stoel bly sit.

’n Mens probeer ’n lewe lei. En dinge glip van jou af weg. Totdat iets gebeur: die eerste note van ’n lied, ’n oranje kledingstuk, die roep van ’n bilal. Of iets so kras soos ’n foto.

Ek het besef dat ek laat was vir die eerste sessie van die konvensie. Ek het opgestaan, maar my baas op die ingewing van die oomblik gebel en om verlof gevra. Ek weet nie hoekom ek dit gedoen het nie; tog was ek teen laatmiddag op ’n vlug Kaap toe. Mouillepunt toe.

Die gety is laag en die see is vanoggend kalm. Vroeër het ek ’n vrou met twee honde sien loop, maar nou’s daar nie ’n mens op die promenade nie. Gedurende die afgelope paar dae het ek dikwels hier voor die venster kom staan en gewens dat ek ’n Arabiese prinses op die promenade sou kon sien loop.

En Ramil?

Algerië; dis wat op my wag. Daar sal dinge anders wees. Die dorre woestyn, die fel son.