Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Artikels | Features

Die Pienk Dossier # 7


Coenie Kukkuk - 2009-10-09

Die Pienk Dossier verskyn elke twee weke en word saamgestel deur Coenie Kukkuk, redakteur van Gayspeak.co.za. Ons poog om soveel as moontlik te berig in die kort spasie oor wat in die LGBTI (lesbiese, gay-, biseksuele, transseksuele en interseksuele) wêreld gebeur, hier in Suid-Afrika en elders. Bydraes is welkom en kan gestuur word aan coenie@gayspeak.co.za

  1. Die Pienk Spooktrein, oftewel die “Get Your Freak On Steam Train” het aangekondig dat Queerlife.co.za sal optree as ’n borg – en dat nog ’n BBP-wa gehaak gaan word, aangesien die eerste een volgeboek is. Dit vind plaas op 31 Oktober (Halloween) en vertrek om 5 nm en kom so net voor 2 vm terug. Boek jou kaartjies hier – maar maak gou; lyk my hierdie trein wag vir niemand!
  2. Joburg Pride 2009 was ’n reuse-sukses – na raming het meer as 15 000 mense dit bygewoon, die meeste ooit (kyk na ’n video van Pride deur Zoopy hier). Op die foto kan van die deelnemers aan die Rainbow Cruises-vlot gesien word – al die Carmen Mirandas saam met van die finaliste van Mnr Gay Suid-Afrika™ - Chris Macgregor (Oos-Kaap), Jacques Krause (Vrystaat), Jacques Snyman (Wes- en Noord Kaap) en Jan du Toit (ook Vrystaat). Rainbow Cruises reël die Gay Cruise van 23 tot 27 November na die Portugese Eilande en as jy wil saamgaan, kan jy vir Leon kontak by leonnel@tiscali.co.za. Al 16 die Mnr Gay Suid-Afrika™-finaliste, hul borge en organiseerders gaan die plesiervaart meemaak. Onthou om jou gunsteling van die finaliste op die webwerf te gaan kies, en dan te stem vir jou keuse deur ’n SMS te stuur met “GSA + naam en van” van jou keuse na 35215. Elke SMS kos R3 en jy word outomaties ingeskryf vir die SMS-kompetisie – waarmee jy ’n vakansie by ’n wildreservaat in Tanzanië vir twee persone kan wen. Nie te versmaai nie! Die publiek se stemme tel 25 persent van die totaal – so ronde nr 1 van die kompetisie is reeds aan die gang. Kaartjies vir die Grand Finalé op 28 November te die Opera, Staatsteater, Pretoria, sal van middel-Oktober by Computicket beskikbaar wees.
  3. Die alombeminde Julius Malema het sy voet nou heerlik daarin gesit toe hy na aanleiding van die Caster Semenya-debakel verklaar het dat daar geen woord in Pedi vir hermafrodiet bestaan nie – en dat mense slegs as man of vrou gebore word. Volgens Rapport het Julius die kat aan die stert beet met sy veelbesproke E in Pedi in matriek. Me Thelma Tshesane, senior lektor aan die Wits-taalskool, wys in die artikel daarop dat daar wél ’n woord vir interseks-mense (die korrekte term, mnr Malema) bestaan, naamlik setabane, maar dat die term “van kinders weggehou is” omrede dit as afbrekend beskou is. Nou ja toe. Die oulike kiekie van mnr Malema kom van www.witness.co.za.
  4. Kaapstad se pienk skynsel gaan nog meer verdiep met die bekendmaking van nog ’n pienk fees, die Rainbow Festival, wat plaasvind van 16 tot 20 Desember 2009. Die organiseerders beplan ’n Mardi Gras soos dié van Sydney. Dis nou buiten die jaarlikse MCQP-temapartytjie wat op 19 Desember plaasvind en Kaapstad Pride in Februarie. Ons hoop net dat die Kaapse gays, bekend vir hul traagheid om gay-geleenthede by te woon, dit sal ondersteun, of gaan hulle dit weer aan die Gautengers oorlaat? Gooi maar klippe, julle weet dis waar! Lol. Gaan lees meer daaroor, of skakel vir Brian Kruger op 083 626 4615.
  5. College SA is die eerste korrespondensiekollege wat aktief die gay-mark bearbei (slim mense dié). Daar is so ’n hoeveelheid van kursusse beskikbaar dat jou keuses legio is. Hulle het selfs so ver gegaan om advertensies met die gay-vlag op bekend te stel, soos hier gesien kan word. Al hoe meer besighede begin die krag van die Pienk Rand insien en in hierdie maer jare word dié mark nou ook uiteindelik deur baie ontgin. Ons het onder andere Suzuki op die Pienk Jakaranda Musiekfees gesien, en Lexus en SAB by Joburg Pride en nog vele meer. Dis hoog tyd. Lees gerus meer oor College SA.
  6. Classy Gay Couture is ’n splinternuwe konsep – stylvolle klere vir gay dames. ’n Lesbiese paar van Johannesburg het besluit om hul eie klerereeks bekend te stel – en het nou deure oopgemaak saam met ’n videowinkel in Weltevredenpark in die Valley View-winkelsentrum en bly dus oop tot laat. Die reekse het name soos "Corporate wear", “Evening wear”, “Red carpet wear” en "Every wear", en daar is nog bykomstighede ook. Besoek gerus hul webwerf.
  7. Ons het in die vorige uitgawe berig oor die aanval deur Ray McCauley en sy bende op gayregte en aborsiewetgewing. Volgens die Mail & Guardian het die Presidensie ontken dat sulke afskaffings oorweeg word. Dis natuurlik geen rede om agteroor te sit en nié op ons hoede te wees nie. Die stryd duur ongelukkig steeds voort. (Die foto kom van hier.)
  8. Daar is so ’n paar maande gelede in daardie uitsonderlike koerant, Sondag, oor Franz Marx se nuwe gay-sepie berig. Op die oomblik hoor ons niks – en hoop dis ’n goeie stilte, soos dat redigering en afronding plaasvind en dat die reeks binnekort reg sal wees vir die kassie. As iemand iets weet, deel dit tog met ons! Die foto kom uit die Who’s who SA.
  9. Outspoken, die enigste gay-radioprogram in die land, se uitsaaigleuf het op Maandagaande na 9 nm verskuif op DStv Audio op kanaal 169, sodat meer volwasse inhoud bespreek kan word. Op die foto verskyn van links aanbieder Du Preez Strauss (wat nie net ’n bekende musikant in Johannesburg is nie, maar ook ’n finalis in die Mnr Gay Suid-Afrika™-kompetisie), hul tegniese regisseur Kgomotso Kgopa en Frank Malaba, mede-aanbieder en inhoudsregisseur. Stel jou alarm op jou foon en luister gerus na die program op Maandagaande - TV dan is in elk geval niks om na te kyk nie!
  10. Jaco Strydom en Louis du Plessis, ook bekend as die twee Voortrekkertantes by die Pienk Jakaranda Musiekfees, wat die Pretoria Verkennersjeug se harte so laat bons het, het weer uitgehaal by Joburg Pride en loshande met die beste kostuums vorendag gekom. Jaco het nie verniet onlangs sy eerste kunsuitstalling gehou nie – sy talent is duidelik!

 

Die Pienk Dossier verskyn elke twee weke. Bydraes kan gestuur word aan coenie@gayspeak.co.za vir oorweging.