Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Brief aan Wilhelm: Rinie Stead en “Apollo 8”


Deon Knobel - 2009-10-08

Liewe Wilhelm

Ek hoop jy het my brief oor Joan Lötter en haar dood ontvang. Ek hou kontak met haar dogter, Ilse. Hulle het die gerf gedigte wat Joan self as haar bestes beskou het, gevind waar sy dit netjies op haar lessenaar gelaat het. Ek self hou baie daarvan, maar ons sal die poësiekenners vra om daarna te kyk en deskundige opinies daaroor te gee. Dan gaan ek en Ilse soek vir ’n uitgewer. Maar soos jy dalk nie weet nie, is die publikasie van poësie deesdae maar baie moeilik. Die wêreldwye ekonomiese resessie maak dit nog meer onwaarskynlik dat ’n uitgewer belang gaan stel. Dan doen ons dit self. Daar is ’n uitgewer by name Publiself. Die naam spreek vanself. Hulle versorg die tegniese aspekte, en ek glo selfs van die proefleesarbeid, en gee dit dan mooi professioneel uit. Jou nefie Gideon Visagie het so pas ’n bundel van sy verse daar uitgegee, met werklik professionele afronding.

Op Dinsdag 19 Julie is ’n onderhoud met my gevoer deur ene Murray la Vita, ’n joernalis van Die Burger. As daar ooit ’n beeld gesoek word van die ware Simson, dan is dit hy. Groot, sterk, golwende lang swart hare, swart-bruin oë en die mees simpatieke en sagte stem. Wel, na drie en ’n halwe uur van praat en vra en antwoord, en die fotograaf se kamera wat onophoudelik in sarsies my kant toe skiet, is hulle weg en ek weer gereed om voor my "noeikenaar" te kom sit om my brief aan jou te voltooi.

Die fokus van die artikel deur La Vita was op die verhouding tussen ons twee as broers, op bipolêre gemoedstoornis waarmee Henri en jy gelewe het, en ons ander drie steeds lewe, en hopelik elkeen op eie terrein presteer soos jy presteer het. Noodwendig het daar ook gesprek gevolg oor jou dood en Mamma se antwoord op my vraag: “Mamma, hoe het Mamma oor Wilhelm se dood gekom?” Haar wonderlike antwoord het reeds vir talle bedroefdes wat kinders aan die dood moes afgee, as onderskraging en vertroosting gedien. “My ou Boet. Dis asof hulle jou arm of been afskeur sonder narkose. Dit groei nooit weer terug nie. Mens kom nooit daar oor nie. Mens leer om daarmee saam te leef.”

Op Vrydag 3 Julie is die artikel toe geplaas, ’n volle blad wyd en driekwartblad lank. Die foto is van my op daardie ou bank uit die sitkamerstel waarmee ons op Vêrsien grootgeword het. Toe Pappa daardie groot eet-en-sitkamerstel laat maak het met die Von Buchenröder-wapen op, het Mamma dit vir tant Lulu en oom Schalk gegee. Hulle het dit met aaklige maroen kunsleer, eintlik plestiek, laat oortrek. Daarna het dit teruggekom plaas toe en op die toe stoep hulle dae verslyt. Na Mamma se dood sal jy verstaan dat daar nie veel belangstelling in die stel was nie. My valkoog het klaar gesien hoe dit met goeie materiaal ’n trotse plek in my sitkamer sou kry, en voilà.

Die reaksies en terugvoer oor die artikel het verskil – van groot waardering deur Amanda Botha en ander joernaliste, sowel as van die moeder van ’n vermoorde dogter drie jaar gelede, tot die absurde opmerkings van oningeligtes. My huurder werk by die Kunstekaap-teater, vrooër die Nico Malan. “Did you see the photo of your ‘boyfriend’ in the paper today? He and half his family are mad!” Dit nadat ek my bes probeer het om dit in eenvoudige taal te verduidelik as ’n chemiese wanbalans van die oordragstowwe in die brein, en, net soos suikersiekte, ’n chroniese behandelbare toestand is waarmee saamgeleef en presteer kan word.

Nou kom ek uiteindelik by Rinie Stead. In 2005 het Amanda by my aangekom om te kyk hoe ek vorder met ordening van jou nagelate gedigte en ander dokumente. Sy noem toe dat sy so pas vir Rinie Stead gebel het om haar geluk te wens met haar 91ste verjaardag. Jy kan net dink hoe my ore penorent gespring het by die aanhoor van haar naam. Kan jy onthou hoekom? Ja, dis aan haar wat jy die gedig “Apollo 8” opgedra het en wat die eerste maal verskyn het in Lantern van Maart 1969 (Jaargang VIII, Nr 3). Ek het haar nommer van Amanda gekry en so gou moontlik daarna geskakel om myself voor te stel en met haar te gesels. Sy het my op die spoor van Joan Lötter en Karin Skawran gesit, met wie ek later kontak gemaak het. Rinie was so op en wakker soos jy haar seker geken het. En net vanaand sê Amanda my dat Rinie so pas haar 95ste verjaardag gevier het, en nog net so skerp is soos altyd.

In 2005 het ek weer intensief met jou gedigte begin werk en dit uitgegrawe uit die vier metaal- dokumentetrommels waarin dit die hele tyd bewaar is. En dis toe dat ek die wonderlike konstruksie van jou "Apollo"-gedig vir die eerste maal behoorlik herken het. Eers die kapsule, met instrumente, dan die ruimtevaarders en hulle emosies, die agtergeblewenes met hulle vrese; die tonele wêreldwyd wat tegelykertyd tydens daardie Apollo-vaart kon plaasgevind het: die morsige woud in Viëtnam waar ’n man trap op ’n draad wat hom snaarstyf in die lug gooi en bamboespenne deur sy liggaam pers; die jongman in Pretoria wat hand om die lyf met sy meisie stap; die kinders wat oor die witgerypte grasperk in die Vrystaat skool toe stap; en die onheilspellende beeld van die kind in Ghana wat ’n bal gooi teen ’n bloedbespatte muur, "en vang dit, met bonsende hart, nog hierdie keer".

Wil jy nou glo dat dit my 31 jaar geneem het om "Apollo 8" ten volle te verstaan en waardeer en te besef hoe jy elke beeld in die ruimtetuig en oor die aardbol heen soos in ’n verseëlde kapsule vasgevang het. Of is dit steeds "ten dele soos ’n spieël in ’n raaisel"? Jy kan my maar laat weet of ek dalk iets nog meer betekenisvol mis. Die wyse waarop jy kapsule vir kapsule oor die wêreld heen gereis het om ’n oomblik vas te vang terwyl die ruimtetuig agter die maan verdwyn, was ’n briljante idee.

In elk geval, soos met al jou ander vriende en tydgenote vra ek toe vir Rinie om vir my haar herinneringe aan julle vriendskap te stuur. Binne ’n week het interessante en insiggewende, soms komiese kommentaar toe gekom, in haar sterk handskrif. Sy verduidelik hoe sy jou gevra het om die gedig te skryf en hoe sy jou ervaar het. Sy het ook ’n foto aangestuur van haar en haar gesin toe hulle van Den Haag teruggekeer het na Suid-Afrika.

Rinie Stead was vir jare die redakteur van die wetenskaplike en kultuurblad Lantern. Sy ontmoet Wilhelm kort na sy aankoms in Pretoria in 1964, en pas na haar eie terugkeer na Suid-Afrika uit Den Haag saam met haar man en drie seuns.

Haar naam was reeds baie jare bekend aan die familie te danke aan die feit dat Wilhelm sy bekende gedig, “Apollo 8”, opgedra het "vir Rinie Stead".

Die foto hiernaas van Rinie is geneem in Den Haag kort voor sy en haar gesin teruggekeer het na Suid-Afrika en hulle in Pretoria gevestig het, waar sy Wilhelm ontmoet het.

Dit bevat waardevolle inligting oor Wilhelm, sy depressies en sy wroeginge.

In 2005, reeds in Rinie se 92ste jaar, is hierdie kort maar direkte en op die man af herinneringsbrief ontvang. Sy het onmiddellik ingewillig om van haar herinneringe neer te skryf en aan te stuur vir insluiting in hierdie Plakboek. Sy vertel dat sy en Wilhelm mekaar goed leer ken het, ook omdat hulle kantore naby aan mekaar was. Wilhelm het dikwels kom “inloer vir ’n geselsie”, maar ten tye van siekte-oorstimulasie het hy selfs van hom ’n las gemaak, omdat hy dan vir ure met Rinie wou gesels. Wilhelm het haar dikwels na opvoerings en musiekkonserte vergesel.

Sy beklemtoon eerstens sy stimulerende intellektuele geselskap, “maar hy kon ook depressief raak en dan net oor homself tob. Dit was asof demone van neerslagtigheid hom binnegevaar het en al wat mens dan kon doen was om te luister.”

Dan verwoord sy seker op dié duidelikste en mees direkte wyse sy seksuele frustrasies en sy onvermoë om seksueel bevredig te word en seker ook seksuele bevrediging te gee, in sy verhouding met vroue. En hierdie smagting na vervulling is ’n lyn wat dwarsdeur sy verhaal strek en in talle gedigte uiting vind. Die laaste reël van een van haar paragrawe spreek boekdele: “Dat hy nooit ’n orgasme by ’n vrou sou ervaar nie was vir hom die ergste wroeging.”

Sy meld dat sy sy selfdissipline bewonder het deurdat hy, ten spyte van beskikbaarheid van al die pille wat deur sy psigiater aan hom toevertrou is, nooit die moontlikheid van selfmoord aan haar genoem het nie.

Nou gaan sy voort om te verduidelik: “Uiteindelik het my jong vriend my in ruim mate vir die 'tydmorsery' vergoed" wanneer hy vir ure op kantoor met haar wou gesels. So het dit gekom dat sy hom gevra het om ’n gedig te skryf oor Apollo 8, waaroor ’n lang wetenskaplike verhandeling in Lantern sou verskyn. Voor saktyd vir die volgende uitgawe van Lantern was daar ’n bladsy oop aan die einde van hierdie artikel en sy was raadop oor hoe om dit te vul.

"Einde raad het ek Wilhelm gebel en gevra of hy nie dalk ’n gedig daaroor kon skryf nie.” ’n Dag of twee later het die gedig “Apollo 8” op haar tafel gelê, en na nog ’n aand het hy dit afgerond.

Sy sluit die "Apollo 8"-episode af met: “En so kon dié treffende, deernisvolle gedig net ná die lang wetenskaplike relaas verskyn – nogal ’n ‘scoop’ as ek nou terugdink.”

Apollo 8                                Vir Rinie Stead

die aarde is ’n bal uit God se hand gewerp
wat wegskiet in die ruim
die oor hoor nie
in die séker kapsule
die skril stilte wat die atmosfeer sny nie
in swart en wit
oor grenslose afstand
flits die beeld van ’n strak
deur opleiding beheerste
en tog euforiese gesig
klop die angs nog wel
in onmeetlike ruimtes binne

     in die swetende hitte van Pretoria
     loop ’n jongman kaalvoet
     hand-om-die-lyf met sy meisie,

     in ’n dakkamer in Parys
     waar ’n skilpad op die vensterbank
     die sagte slaaiblare hap, hap
     luister ’n digter-skilder
     na partitas van Bach
     en blues van Bessie Smith
     oor die skerp hoek van ’n gebou
     hang die stil skyf van die maan gekantel

naalde tril
tril steeds in ander posisies agter glas
haarfyn meet dit
hitte/afstand/tyd/spoed
… en die klopping van die hart
as geloof
in die stil kern van die aarde se swaartekrag
en onrustige getye van die see
weifel in duisternis agter die maan
(êrens in die oneindige
swel en krimp
swel en krimp ’n vrou se hart)
oor die horison van die kankeroortrekte maan
kantel die glansende bal van die aarde

     in ’n morsige woud in Viëtnam
     struikel ’n man oor ’n tou
     en snaarstyf ruk hy teen ’n boom
     dat die bamboespenne pers deur sy hart,
     ’n priester bid in Provence
     tewyl hy die hostie seën
     met blanke hande opgehef
     Vader behoed hulle siele,
     tydsaam gooi ’n kind ’n groen bal
     teen ’n bloedbespatte muur in Ghana
     en telkens as dit terugwip vang hy dit
     met bonsende hart nog hierdie keer.

                    (Uit: Mure van Mos, Human en Rousseau, 1970)

Wilhelm, jy het toe aan haar ’n kopie van elk van jou digbundels geskenk: Bloedsteen (H&R, 1966) en Mure van mos (H&R, 1970), wat albei tydens jou Pretoria-tydperk verskyn het. Jy het vir haar, soos vir talle ander ontvangers van jou bundels, die Supervielle-vers wat as motto dien van Mure van mos, vertaal, volgens Rinie “waarskynlik omdat hy geweet het dat ek Frans nie juis magtig is nie": “daar is geen groter smart as om nie te kan ly nie, en dat die siel sonder rusplek is voor geslote deure.” Dit word opgemerk dat jy hierdie Afrikaanse vertaling nie deurgaans dieselfde gehou het nie, en met verandering in woordorde en selfs met die vervanging van die woord siel met gees het jy tog steeds dieselfde gevoelswaarde en betekenis behou.

Rinie herinner haar dat jy te midde van al jou donker tydperke tog baie gedissiplineerd was. Jy het byvoorbeeld nooit die gedagte van selfmoord genoem nie, ten spyte van die feit dat daar genoeg geleentheid daarvoor sou wees en dat jy onbeperkte toegang gehad het tot al die pille wat vir jou deur jou dokter voorgeskryf was. Dié selfdissipline is dus wel te bewonder.”

Nou ja, Wilhelm! Daar het jy Rinie se notas oor julle vriendskap en die ontstaan van "Apollo 8". Reguit, sonder fieterjasies beskryf sy gebeure op haar reguit en “geen nonsens manier!”

Ek sal haar nou weer skakel na die nuus wat Amanda my vanaand op 20 Jullie 2009 oor die telefoon gegee het.

Maar nou is daar nog iets interessants om jou te vertel. Dit was so pas die 40-jarige herdenking van die eerste maanlanding deur bemanningslede van Apollo 11. En toe diep ek jou gedig oor die gebeurtenis op uit jou bundel Nagelate gedigte. Groot ophef is in die media, nasionaal en internasionaal, gemaak oor die gebeurtenis, en oor televisie is onderhoude uitgesaai met die oorlewende bemanningslede Armstrong, Collins en Aldrin. Die drie is nou reeds taamlik bejaard, maar nog fier en regop, met goeie respons op vrae tydens die onderhoude oor televisie.

Apollo 11

Le silence des espaces infinies m’effroie (Die stilte van die oneindige ruimte maak my bevrees)

1
Cynthia die skugter maan
het haar allure verloor
vir hulle wat so pas
uit die potige spin gebaar is
om angsvol die maan te betree
as die boweaardse ballet begin
lig hulle karma
en die angs het gewigloos geword
of weeg dit tog neer
soos die eerste angs van die kind
     asemloos luister hy
     en word deur die Wolf verskeur
     of verdrink so byna
     in Alice se trane
maar die man ken trane nie
mag dit nie ken nie
is maande lank gebreinspoel
om dit nie te ken nie
sy krag ryg binne wit
soos die melkweg in een lyn saam:
die offerskaal is tydelik gesluit
en gedagtes aan hongersnood
     oorlog
     aanrandings
in elke Sondagkoerant uitgekraam
het vereers gewyk
wetenskaplik
drink die eerste betreders van die
maagdeland
die nuwe landskap in
en vind selfs vir foto’s tyd
   … another spectacular moon souvenir …
   … drama from blast-off to moonwalk …
   … stray lunar organisms

(die aarde moet teen die maan beskerm word)
Cynthia is dood
Kom, laat ons die dood van Cynthia beween
met koordans vir luit en kitaar
- soveel komponiste het sy geïnspireer
soveel digters
soveel skilders
soveel verliefdes in die sagte
wrede maand van lente
Nou bewys die dubbele aspek van die maan
onweerlegbaar relatiewe ervaring

met dieselfde konsentrasie as
vir die sokkie wat sy brei
volg Oumatjie eks voor televisie
die jongste verwikkelings,

in ’n koue land met ’n warm son
keer mnr X beeste met glansende lywe
   en weglêhorings uit
en telkens as hy opkyk na die dowwe maan
   sug hy
“Tag, wanneer sal die reën tog kom”
en onversteurd blaas klein Herman
sy vratjie na die maan

Sekuur soos vir ’n onervare bergklimmer
angsbevange teen Barrier Face
lê jy anker, Collins
later eers
op pad terug na die aarde
kom die kasuele blik op kajuitinstrumente
en is daar vir skerts met grondbeheer tyd
dan het die aarde ’n oliebol met room geword
Armstrong
Collins
Aldrin
alreeds pryk julle name tussen dié
van Columbus Da Gama Dias
   en Sir Francis
nou moet jul beeld nog net vasgelê word
   in seëls
wat briewe oor die aarde stuur
van Washington na Moskou
of met die melktrein tussen
   Koppies en Arlington

Sat vir heldeverering en fan mail
kan julle later dalk ’n plotjie koop
in die nuwe eeu
en rustig rondbeweeg
tussen die twee skape en die bees
en die wantrouig kloekende hoenders
of
ontspan deur in 2004 met ’n kleinkind
   te gesels
oor Apollo en die jaar 1969
en in julle tuintjie peins
oor die eens nuwe angs
van ’n leë oneindige
maar nou is die vlammende terugkeer daar
na die hart van die web

2
kom, o Vader, kom
die aarde wag op u
met meer spanning nog as op Apollo 8
in duisternis agter die maan
strek kommunikasie met die aarde
hoeveel eeue reeds uit u hand
so dun soos die draad van die agtpootspin
wat so pas gesak het op grond van die maan
ook hier kom u genade wel van pas:
wat as die Russiese tuig eerste geland het
en die rots geskep het van ’n stukkie maan
waar die kiem van uiteindelike oorlog groei
reeds word van fabrieke
   plase
   Babelse torings
op die maan gepraat

wie sal hulle oordeel as op aarde reeds
Rus en Amerikaner mekaar nie vind nie
met dié geskryf oor die maan
word die glansende skyf aan u gewy
noudat die skyf van die aarde reeds
met prysmededinging
   oorlog
   haat
besmet is
DIT ALLES BEHOORT AAN U

                    (Wilhelm Knobel, Pretoria, 5.9.69)

Ek skryf binnekort weer, veral nuus oor Marié Blomerus, Leon Rousseau, Karin Skawran en Frieda Harmse.

Hierdie brief, wat nog net voorlopig klaar is, stuur ek nou aan die wetenskapsjoernalis van Die Burger, Elsabe Brits, en my jong vriend Rudi Venter, ’n uitgewer by Nasou-uitgewers, ter insae.

En op 21 September aan Amanda Botha, goeie vriendin van Rinie Stead.

Liefde

Deon

Bel Monte, Kaapstad 6 Julie 2009

 

<< Terug na Vintage@LitNet <<