Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

Verjaarsdag by die Shuttleworths


Fanus Rautenbach - 2009-10-06

Liewe Fanus!

Ronel en Rick Shuttleworth van Durbanville nooi jou hartlik uit om die middag van jou 81ste verjaarsdag, op 23 September 2009, om drie-uur die middag in ons gastehuistuin te kom tee drink.

Marius du Plooy van Radio Tygerberg sal jou kom oplaai.

Mark Shuttleworth se ma en pa nooi Oom Fanus vir tee!?

Eers trek ek die woordeboek nader en onder shuttle kry ek: pendelpendeltuig! En

Mark was die eerste tjekboek-ruimtepassasier!

En nadat Mark sy merk gemaak het en ’n ziljoen rand met sy nuwe veiligheidsidee vir rekenaars verdien het, en nadat hy aan elk van sy werkers, tot aan die tuinier, een miljoen rand geskenk het (asseblief – dit is wat van die bure vertel, nie die Shuttleworths self nie!), deel hy sy pa, dr Rick, mee dat hy nie meer hoef te opereer nie.

En vir sy moeder vra hy: "En wat sal Ma gelukkig maak?”

“’n Tuin!”

“’n Tuin sal dit wees!” kondig haar seun beskeie, maar tog trots, aan.

Hy gaan heen en koop een hele blok, met vyf huise, in Durbanville, en hy slaan vier huise plat en hy roep sy ma en hy gaan wys haar: "Ma, hier is jou tuin.”

Marius du Plooy laai my op, en laai ’n rolstoel agter in. “En dit?”

“Jy sal sien!”

Ronel en Rick wag ons in. Ek klim in die rolstoel en Marius stoot.

Die tuin is agt en ’n half akker! Net bome en blomme en grasperke en ’n visdam, maar dis nie net ’n gewone tuin nie. Ronel Shuttleworth het alles self beplan en beplant en bestuif. Daar is kleure waarvan Kirsten net kon droom, en ’n geelhoutboom wat groter is as die grootste bloekom!

Marius du Plooy stoot en sweet. En die rolstoel kry ’n pap wiel. Dis later langer as ’n uur wat ons die agt-akker-tuin bewonder, Dit voel soos sewe dae by die Silbersteins, en dis maar een uur by die Shuttleworths.

“Nou gaan ons tee drink,” kondig Ronel aan.

“Dankie tog!” sug ek; "rooibos vir my, asseblief."

“Ystee vir my,” sweet Marius in al sy plooye.

Ons gaan sit in die koeltes en hulle vertel my al vier die flou, stoute grappies wat van my ’n legende gemaak het. Van die Gawe Buurman, van die Hatfield- en die Brooklynbus, by die Hertzogtoring verby, tot in Kimberley se groot gat, waar Koekie Hall op ons wag.

“Weet julle wat? Ek is die enigste man in die heelal wat ’n baie suksesvolle loopbaan op vier flou grappies gebou het!”

“En ’n legende geword het!” lag Rick Shuttleworth en gee my ’n bottel Blankwyn vir my verjaarsdag, terwyl Ronel die drie kersies op my sjokoladeverjaarsdagkoek aan die brand steek.

“Self gebak?" vra die jintelman Fanus .

“Maar natuurlik!” antwoord die wonderlike Mark se wonderlike ma, Ronel Shuttleworth. "Maar moet ek jou my geheim vertel? Ek bak ’n sjokoladekoek met ’n kredietkaart!"

Ubuntu!

Van oom Fanus vir Umfaanus