Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Expats > Onderhoude | Interviews > Jong expats | Young Expats

Jong expats: Daléne Bosman vertel ons van Londen


Imke van Heerden - 2009-10-05

Waar woon jy nou en is die gras wel groener daai kant?

Ek woon in Fulham (SW) Londen. Londen is verbasend groen (want dit reën so vrek baie!), maar is dit figuurlik groener as Suid-Afrika? Goeie vraag. Londen is fantasties in terme van die verskeidenheid, mobiliteit, veiligheid, geografiese ligging en werksgeleenthede. Alhoewel, die lewenskwaliteit wat ek so geniet in die Kaap is hier moeilik volhoubaar. Al daai sonskyn, heerlike kos, wêreldklas wyn en 'n baie meer rustige benadering tot die lewe! Dis hemels!

Hoekom het jy Suid-Afrika verlaat? Beplan jy om terug te kom?

Ek was in Stellenbosch van laerskool tot nagraads! Alhoewel ek reeds baie oorsee was, het ek die dringende behoefte gehad om baie ver weg te trek! Ek het nie Londen toe gekom met die verwagting om dit te geniet nie, maar ek moet sê dat ek geleer het om die "big smoke" lief te hê. Ek het geen planne op die oomblik nie - maar wie weet?!

Vertel ons bietjie meer van jou beroep.

Ek is a projekbestuurder by 'n Britse maatskappy wat websites skep en onderhou vir groot name soos Sky en Marks & Spencer. Wat het ek aanvanklik geweet van webtuistes? Absoluut niks! Een van die groot leerervaringe oorsee!

Wat van Suid-Afrika laat jou lag en wat laat jou huil?

Ons huidige president. As jy nie lag nie, dan gaan jy huil!

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Ek het tot onlangs nie gedink dat ek Suid-Afrika veel mis nie, maar die ander dag hoor ek iemand in die straat praat op 'n selfoon: "Hos! Hoesit?" Dit het my dag gemaak! Ek het ook onlangs District 9 gesien. Die eerste deel was skreeusnaaks, maar ek dink ek was die enigste een wat in die fliek gelag het! In kort: ek mis die mense, die kulture, die sonskyn, die lekker kos, wyn, see en strande, en die gevoel van spasie! Jy kan asemhaal in Suid-Afrika! O ja, en my familie en vriende natuurlik :D

Hoe reageer mense as hulle uitvind jy is Suid-Afrikaans?

Daar is twee reaksies. Een: "Ok, nóg 'n Suid-Afrikaner, geluk." Twee: "Donker Afrika? Jy is witter as ek! Hoe is dit moontlik dat jou taal (en aksent), woordeskat, algemene kennis, geskooldheid en opvoeding beter is as myne?"

Waar in die stad/land waar jy tans woon, kuier jy graag - en wat doen jy in jou vrye tyd?

Daar is net te veel opsies! Ek wil alles probeer! Daar is weekliks musiekkonserte van wêreldbekende bands/sangers/musikante en daar is altyd 'n nuwe kunsuitstalling om te besoek. Al eet mens elke dag uit, sal mens nie die magdom van restaurante uitput nie (veral Indies en Thai!). Nie eers te praat van inkopies nie! Ek kan verlore raak in die Waterstones in Jermyn Straat: sewe vloere van net boeke! Daar is ook uitgaanplekke vir elke bui en elke smaak.

Jy kan 'n Afrikaanse sanger of band nooi om daar op te tree; wie kies jy?

'n Verskeidenheid sangers en bands is visums geweier vir die Immergroenfees vroeër die jaar! Sal graag Chris Chameleon weer wil sien.

Wat is jou gunsteling-kossoort, -produk of iets soortgelyks wat jy in die VK kan kry wat nie hier beskikbaar is nie?

Ek geniet bone saam met my ontbyt! Daar's net 'n raps te veel deeg: alles van Yorkshire pudding tot pasteie. Nee wat, Britse kos is maar teleurstellend. Ek mis 'n behoorlike stuk vleis! Blykbaar noem hulle ons steak: "crazy South African steaks", omdat hulle "so massief" is!


Sou jy Suid-Afrikaners aanmoedig om daar vakansie te hou? Indien ja, wat kan hulle eenvoudig nie misloop nie?

Ek dink Londen het die grootste Suid-Afrikaanse gemeenskap buite Suid-Afrika, so ek dink dis skaars nodig om te antwoord. Ek moet sê, Londen het iets vir elke smaak, so ek sal enigiemand aanraai om behoorlik navorsing te doen en geleenthede te bespreek voor aankoms. Londen is ook 'n geweldig kosmopolitaanse stad: moenie die kerrie in Brick Lane mis nie, of die Brixton Market uit die Karibbiese eilande!

Jy is gestrand op 'n eiland. Jy het drie Suid-Afrikaanse items van die sinkende skip gered. Wat het jy gekies?

a) 'n Kis vol Suid-Afrikaanse boeke!
b) 'n Lekker Springbok-steak gemarineer in karringmelk ... mmmmmm.
c) 'n Skootrekenaar met internet-opvangs sodat ek LitNet kan besoek!

Wat is die hoogtepunt van jou verblyf in die buiteland?

'n Mens het die geleentheid om van voor te begin sonder enige geskiedenis. Niemand kan sê: "Bosman, sê jy. Is jy een van die Bosmans van die Stellenbosch-distrik?" nie. Dis ook moeilik, want 'n mens moet jou opnuut bewys. Dit is tog 'n goeie uitdaging!



<< Terug na die Jong expats-blad <<