Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

Van Fanus tot Oom Fanus


Fanus Rautenbach - 2009-10-01

Ek was  Saterdag, 26 September 2009, in die NOOP-Restaurant. Die eienaar, Abie, se bynaam toe hy klein was, was Snoopy, want hy het glo nes Snoopy van Charles M Schulz gelyk. Later is sy bynaam verkort tot Noop, en toe hy die restaurant open, word dit die Noop-restaurant.

Toe  emeritusprof, Johannes die Dopper (Bakkes) hoor dat my geliefde gereg beesstert is, was dit sy eerste keuse vir die storievertel-ete tydens die Cultivariafees. Voor die ete vra Noop wie het vir my ooit die lekkerste osstert gemaak en ek antwoord: "Vroutjie-Douwtjie! Maar die naam is nie os-stert nie, maar bees-stert, want ons weet nie of dit ’n os of ’n koei of ’n bul se stert is nie, daarom noem ons dit nie osstert nie, maar beesstert.”

Toe gaan haal Noop die beesstert. En ek word ’n paap – ek smul. Net die dolosse bly oor.

“Wat is  jou mening nou, oom Fanus?”

Toe skryf ek vir hom ’n getuigskrif: HIERMEE WORD VERKLAAR DAT NOOP DIE BESTE BEESSTERTKOK VAN DIE HEELAL IN DIE PAARL IS!

“Maar ek is nie oom Fanus nie, net Fanus, want Fanus is ’n titel. Mens praat tog nie van 'oom Dokter' en 'oom Dominee' nie!”

Toe staan Johannes die Dopper op. Hy het ’n lang slagmes in sy hand. “Fanus, kom kniel hier voor my! As een van die adjunkpresidente van die Republiek van Flinkveria is ek gemagtig om te doen wat ek nou gaan doen. Kniel!”

Ek kniel.

Hy vat die slagmes, tik my op my linkerskouer en dan op my regterskouer, en emeritus professor Bakkes, adjunkpresident, beveel: “Herrys, OOM Fanus!” Ek staan op. Groot applous. Fanus is nou amptelik OOM Fanus.

Iemand tik my op my rug. Ek draai om. Dis ds Piet van der Merwe, wat ook tot ridder geslaan is. Sy amptelike titel is nou … GROEN!

“Oom Fanus?” En hy prop ’n nota in my hand. "Ek is Groen van Jaloesie, want jy het my nou die dag so ’n mooi gedig gevonk. Hier is my poging ... Is dit ’n rympie, of is dit ’n gedig?”

Ek lees:

Huisbesoek

Ek groet en sit
Hulle groet verleë
Ek lees en bid
Hulle groet
Gedwee.

“Groen, dis beslis ’n gedig.”

Hy is 85, vier jaar ouer as ek. “Baie dankie OOM Fanus!”

 

 Johan Bakkes slaan Fanus Rautenbach tot Oom.

 

  Rudy Brits het spesiaal Cultivaria toe gekom om vir Fanus te kom luister.

 Foto's: Naomi Bruwer