Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Die skryfburo


Elsa Engelbrecht - 2009-10-01

Die tas hang swaar aan my arm en ek draai rond in die smal kamertjie om ’n neersitplek te soek terwyl ek wag vir Willem wat nog besig is om die ander goed van die motor af te dra. Ma se ou kamertjie in Willem se huis waar sy die laaste jare van haar lewe gewoon het. Willem het dit hierdie naweek aan my toegewys omdat ek die enigste alleenloper-gas in die huis vol mense sal wees.

Dis die naweek waarop ons bymekaarkom om ma se testament te lees. Met haar onverwagse dood en begrafnis was ons almal onverhoeds gevang en moes party dringend terug na werk en ondernemings, sodat daar nie tyd was om die testament te lees nie. Ook nie juis ’n testament nie; meer net ’n brief wat sy gevra het eers na haar dood oopgemaak moet word en gelees moet word wanneer almal teenwoordig is.

Alleen in die kamer nadat alles afgepak is, bekyk ek die skamele meublement: die smal ysterkateltjie met die donskombers wat sy jare gelede nog self gemaak het; die outydse spieëlkassie met die lampetbeker en waskom wat nou net as versiering dien. Die enigste bietjie weelde in die vertrek: die skryfburo wat sy van haar ma geërf het en wat nou blykbaar aan my toegesê is. Dié staan regoor die katel met ’n petit point-weergawe van "The Boy in Blue", een van haar eie skeppings, daar bokant. So asof sy dit graag wou sien as sy in die bed sit.

’n Portret van haar en haar suster met wie sy sterk bande gehad het, hang bo die bed; en op die tafeltjie voor die bed ’n familiefoto van ons wat jare gelede geneem is. Ek kyk na die foto en verwonder my aan die sterk famielietrek wat daar tog tussen ons is, al voel dit baie keer asof daar geen familieverbintenis meer is nie. Ses van ons rondom Ma en Pa gegroepeer. Dit was voordat alles begin uitmekaar val het en ons vreemdelinge vir mekaar geword het.

Ek neem die foto in my hande en bekyk dit met die hoop dat ek iets sal terugvind van die mense wat so lank gelede daarvoor poseer het. Agter staan Joos, Kata en ek. Voor staan Kinna tussen Pa se knieë en Willem teen sy been aangeleun. Mienkie sit op Ma se skoot – Ma, tóé reeds met die seerkry-kyk in haar oë. Almal doodernstig behalwe Kata met ’n glimlag om die mond. Soveel jare gelede, soveel hartseer gelede.

Ek sit die foto terug op die kassie en maak die hangkas oop om my klere daarin te hang. Ma se klere wat nog daar hang en die bekende reuk van die cologne wat sy altyd gebruik het, is ’n skielike hou op die maag. My weerstand verkrummel; ek gaan sit op die bed en vir die eerste keer na haar dood huil ek oor my ma. Ek het altyd gedink dat my ma te sag was en te maklik ingegee het, dat sy nie kon veg vir wat regtig van belang was nie. Ek het haar altyd ’n bietjie hieroor geminag en gevoel dat dít die rede is waarom Pa belangstelling verloor het en ander weivelde gaan soek het.

Nou sit ek hier in haar kamertjie tussen haar goed en verlang intens na haar. Ek verlang na die troos en begrip wat ek so nodig het en wat net ’n ma kan gee. Ek dink terug aan die dag toe ek as opgeskote dogter in haar goed gekrap het en op ’n houer afgekom het met haar memento’s daarin. Onder andere was daar ’n foto van haar as jong meisie met ’n baie aantreklike man aan haar sy. Daar was ook ’n poskaart wat net ’n minnaar aan haar kon gestuur het. Ewe voortvarend het ek dit na haar geneem en gevra wie die persoon is en hoekom sy dit nog al die jare bêre. Aan haar gesig kon ek sien dat sy ontsteld en gesteurd was omdat ek haar herinneringe oopgekrap het. Sy het egter net kalm en nadruklik gesê: “Gaan bêre die goed waar jy dit gekry het en jy raak nie weer daaraan nie.”

“Wie is die man, Ma?” het ek bly aandring.

“Dit is mense en gebeure uit ’n vorige lewe en nie meer van belang nie.”

“Ai Ma, is dit dan moontlik?”

“Ja, my kind, dit is moontlik. Jy sal nog agterkom dat alles in die lewe moontlik is en dat ’n mens alles kan verdra en aanvaar.”

“Hoekom dan, Ma?”

“Omdat jy moet.”

Nou lê ek vannag hier op haar ysterkateltjie en dink aan haar woorde van destyds en ek weet sy was reg: ’n mens kán alles verdra. Omdat jy móét.

Wie sou die man op die foto wees en watter rol het hy in haar lewe gespeel dat sy sy foto soveel jare bewaar het? So diep het hy in haar lewe ingegryp dat sy nooit eens met een van ons oor hom wou praat nie. Dit was ’n herinnering wat sy net vir haarself wou hou. Dit laat my dink aan die woorde van Petra M üller: “Dan verstaan ek dat daar dinge is wat jy altyd alleen in jou sal ronddra en wat apart in jou sal ryp word en vergaan met ’n onuithoudbare soetheid en ’n steek van pyn wat buite alle woorde lê.”

Ek rol die nag rond met ’n diepe gevoel van weemoed en verlies dat ek nooit regtig moeite gedoen het om my ma te leer ken nie. En ek wonder oor die skryfburo. Willem sê dat Ma aan hom gesê het dat sy die buro aan my wil toesê, maar dit sal eers in haar brief duidelik word. Ek weet dat die ander broers en susters voel dat dit my nie toekom nie en ek is nogal geneig om met hulle saam te stem. Hoekom ek? Ek wat haar altyd in my hart verraai het en in die lewe afgeskeep het.

Die kateltjie raak later half te klein vir my en ek is bly toe die dag begin breek.

Die volgende oggend kom die res van die familie aan en ons groet mekaar hartlik genoeg, maar vermy mekaar se oë. Kan ’n meubelstuk soveel werd wees dat dit soveel stramheid tussen familielede kan veroorsaak? Tog weet ek dat dit veel meer is as dit: elkeen hoop in sy hart dat Ma die buro aan hom of haar sal nalaat omdat dit ’n laaste bevestiging sal wees van haar goedkeuring en seën.

Na oggendtee haal Willem die brief te voorskyn en vra Mienkie om dit te lees. Ek kan sien dat sy hartseer is om die brief in haar hande te hou; die ou bekende handskrif op die koevert bring ’n knop in almal se keel.

Liewe Kinders

Ek skryf maar die brief terwyl ek nog al my gedagtes bymekaar het, want ’n oumens weet nooit wanneer dinge onder hom kan begin uitgly nie. Dankie vir alles wat julle deur my lewe en veral die laaste aantal jare vir my beteken het. Dankie veral vir Willem dat hy so goed na my gekyk het en soveel vir my gedoen het. Ek waardeer sy liefde en sorgsaamheid.

Willem huil nou hardop en probeer dit nie eens wegsteek nie. Die naweek se spanning en sy verlange na Ma vloei uit hom uit en drup oor sy hande wat hy voor sy gesig hou. Die trane is vir hom verligting van baie maande se weemoed. Mienkie hou ’n rukkie op met lees en gee hom kans om tot verhaal te kom.

Julle het dit nie altyd maklik gehad nie. Ses kinders in ’n gesin help nie dat elkeen genoeg kry van dit wat ’n kind die nodigste het nie: liefde, aandag en versorging.

Ek het nie veel om julle na te laat nie. My liefde sal altyd by julle wees, maar aardse goed het ek nie juis nie. Die geld wat daar is moet gelykop onder julle almal verdeel word. Willem sal daarna omsien. Wat die meubels en ornamente aanbetref sal Willem aan elkeen uitwys wat ek vir hom of haar nagelaat het. Elkeen se naam is agterop geplak. Ek hoop dat dit vir julle elkeen bietjie ekstra warmte in julle huise sal bring.

Die een uitsondering is die skryfburo. Dit is ’n erfstuk wat ek van my ma gekry het en die enigste meubelstuk wat werklik waardevol is. Ek het besluit om dit aan Elise na te laat om twee redes: sy het my ma se name en sy aard meer na my as enigeen van my ander kinders.

Geniet dit wat ek vir julle nalaat en “moenie vir mekaar kwaad word op die pad” nie. Ek laat julle nou in die hande van Hom aan wie ek julle elke dag toevertrou het.

Liefde

Julle Ma.

Rondom my hoor ek sagte snikke, maar ek huil nie. In my is daar ’n diepe vrede omdat ek nou weet dat my ma, vir wie ek nie geken het nie en eintlik nie wou ken nie, my gekén het en my nogtans liefgehad het.