Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Expats > Onderhoude | Interviews > Jong expats | Young Expats

Jong expats: Phoebe Nel vertel ons van New York


Imke van Heerden - 2009-10-01

Waar woon jy nou en is die gras wel groener aan die ander kant?

New York. Ek sien dit nie as beter of "groener" oorsee nie - dis net geleenthede vir loopbaanontwikkeling, besigheids- en sosiale kontakte maak en ervaringe opdoen wat mens nie noodwendig in Suid-Afrika sou hê nie, maar wat mens positief sal kan aanwend in Suid-Afrika in die toekoms.

Hoekom het jy Suid-Afrika verlaat? Beplan jy om terug te kom?

Ek het New York toe gekom vir ‘n ongelooflike loopbaangeleentheid. Soos dinge nou staan, sal ek definitief weer terug Suid-Afrika toe gaan as ek soveel ervaring en kennis opgedoen het as wat ek moontlik kon in die buiteland.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

My familie. Om vinnig saam met ou vriende te kan kuier. Suid-Afrikaanse mense en hul humorsin. Stellenbosch. Om oor ‘n naweek maklik te kan glip na van die mooiste plekke op aarde. Die rustigheid. Woolworths. Om ‘n kar te bestuur. Om ‘n horison te kan sien. Lekker koffiewinkels.

Hoe reageer mense as hulle uitvind jy is Suid-Afrikaans?

Mense is meestal positief en ingelig. Mense is geïnteresseerd en ek is altyd verbaas oor hoe baie mense van Suid-Afrika weet en hoe baie mense al in Suid-Afrika was. Mens kry natuurlik ook elke nou en dan iemand wat geen idee het nie en reageer deur iets te sê soos: "Yeah, I've always wanted to see the Great Barrier Reef."

Waar in die stad/land waar jy tans woon, kuier jy graag - en wat doen jy in jou vrye tyd?

Ek woon in die Upper East Side van Manhattan - net ‘n paar blokke weg van Central Park en die Guggenheim. Dit is ongelooflik. Ek het baie, baie vinnig lief geraak vir New York. Die stad is verskriklik besig en lewendig en daar is altyd wonderlike dinge om met jou vrye tyd te doen. Daar is iets vir enigiemand se smaak. Die stad slaap ook regtig nooit nie, almal werk baie hard en laat, maar dis okay, want die stad is gegear vir ‘n baie besige leefstyl. Die pols van die stad is wonderlik. Die mense is baie vriendelik en kom van orals oor die wêreld af. Dit was maklik om lekker vriende te maak.

Wat is jou gunsteling-kossoort, -produk of iets soortgelyks wat jy in die VSA kan kry wat nie hier beskikbaar is nie?

Sneeu! En GROOT kersbome orals oor die stad in Desember.

Sou jy Suid-Afrikaners aanmoedig om daar vakansie te hou? Indien ja, wat kan hulle eenvoudig nie misloop nie?

Ja, mens kan nie New York misloop nie. Definitief op die "to-do list" is: Central Park, Jazz Clubs, pizza in Little-Italy, lunch in die Meat-packing area, brunch in die West Village, stap oor Brooklyn Bridge, rooftop bars in die somer, kuier in die East Village, die uitsig oor die stad vanaf die Rockefeller, Times Square, agteroorlê in Bryant Park, die markte in China Town, Fifth Avenue- en Madison Avenue-winkels, die Guggenheim, die museums en kunsgalerye, die restaurante. Die belangrikste ding om egter te ervaar van New York is net die mense - ek sal vir dae aaneen kan sit en mense kyk in New York.

Jy is gestrand op 'n eiland. Jy het drie Suid-Afrikaanse items van die sinkende skip gered. Wat het jy gekies?

Stellenbosch-rooiwyn, biltong en ‘n Huisgenoot behoort my besig te hou totdat my redding kom.

Wat is die hoogtepunt van jou verblyf in die buiteland?

My hoogtepunt was definitief om my ouers hier te kon hê en vir hulle New York te kon wys.



<< Terug na die Jong expats-blad <<