Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Expats > Onderhoude | Interviews > Jong expats | Young Expats

Jong expats: Reghardt de Beer vertel ons van Edinburgh


Imke van Heerden - 2009-10-01

Waar woon jy nou en is die gras wel groener?

Ek woon en werk op 'n plaas 20 myl vanaf Edinburgh, Skotland. Wanneer mens die tyd in ag neem wat 'n mens aanpas, dan sal ek sê die gras is wel groener. Buitendien, die gras is baie groen hier aangesien dit so baie reën.

Hoekom het jy Suid-Afrika verlaat? Beplan jy om terug te kom?

Ek het Suid-Afrika verlaat om kulturele redes. Nie om vreeslik geld te maak of iets nie, maar eerder om 'n ander plek met sy mense te ervaar. Die Skotse kultuur is baie anders as in Suid-Afrika, maar hulle hou darem van Suid-Afrikaners.

Vertel ons bietjie meer van jou beroep.

Ek werk as 'n "social care worker" met mense met "learning disabilities". Die organisasie se naam is Garvald en is gebaseer op die beginsels van Rudolph Steiner. Hy was ook verantwoordelik vir Camp Hill en Waldorf, wat ons beide in Suid-Afrika vind. 'n Gemiddelde dag behels om almal wakker te maak, ontbyt maak, skoonmaak, die inwoners na hulle werkswinkels toe te stuur. Sommige van die inwoners benodig meer persoonlike hulp en bystand in die werkswinkels. Dan is daar middagete, middag-werkswinkels, aandete en regmaak vir bed. Daar is ook baie aktiwiteite en gebeure buite die plaas.

Wat van Suid-Afrika laat jou lag en wat laat jou huil?

Die taal Afrikaans laat my soms lag. Dit is 'n baie lewendige taal en baie dinge kan mens net in Afrikaans behoorlik beskryf. (Miskien is dit net omdat dit my moedertaal is, maar ons taal is wel uniek.) Ek lag ook as ek dink aan van ons mense. Wat my laat huil (naby aan trane bring) is die geweld, groot hoeveelheid slegte opvoeding en mense in hoë posisies wat geld mors op snert.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Ek mis die meeste die diverse kultuur, wonderlike kos en wyn en die pragtige landskap en weer.

Hoe reageer mense as hulle uitvind jy is Suid-Afrikaans?

Hulle wil meestal weet van waar in Suid-Afrika ek is. Hulle maak dan gewoonlik 'n opmerking oor rugby en krieket. Soms is die mense baie verbaas en wil weet wat ek alles hier doen.

Waar in die stad/land waar jy tans woon, kuier jy graag - en wat doen jy in jou vrye tyd?

Ek woon op 'n plaas, so gedurende die week kuier ek hier, maar in my aftyd gaan ek Edinburgh toe. Dit is 'n stad oorlaai met kultuur, so ek het aanvanklik baie rondgekyk. My gunsteling-kuierplekke is seker die Forest Café ('n alternatiewe plek, bietjie soos iets tussen die ou Rustics en Mystics in Stellenbosch). Daar's ook 'n paar baie nice pubs en 'n plek met die naam Caberet Voltaire.

Jy kan 'n Afrikaanse sanger of band nooi om daar op te tree; wie kies jy?

Chris Chameleon, Johnny Clegg of Goldfish.

Sou jy Suid-Afrikaners aanmoedig om daar vakansie te hou?

Ja, Skotland is pragtig en die kultuur is lekker.

Jy is gestrand op 'n eiland. Jy het drie Suid-Afrikaanse items van die sinkende skip gered. Wat het jy gekies?

'n Potjie, 'n trekklavier en Charlize Theron (ek weet sy's nie 'n item nie, meer van 'n ikoon, maar as sy op die boot was, dan sou ek eerste vir haar gered het).



<< Terug na die Jong expats-blad <<