Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Drie musiekwinkels


Yuri - 2009-10-01

Wanneer ’n mens aan die goue dae dink van Johannesburg hier in die tagtigs, sal musiek een van die belangrikste aspekte daarvan wees. En, die Goudstad het drie uitmuntende musiekwinkels gehad. Kohinoor, Joy (albei in die middestad) en Look & Listen in Hillbrow. En dit was in die dae voor winkelsentrums ons horison kom vervuil het.

En dit is juis oor Joy waaroor ek wil tob. Die winkel was op die eerste verdieping van Anstey's-gebou op die hoek van Jeppe en Joubertstraat. Net ’n katspuug verder was Plumb Crazy.

Joy was sy tyd vooruit. Daar was geriewe vir luister en die aankoop van klanktoerusting. En dit was in die tyd van die langspeelplaat. Niemand het in daardie tyd aan CD’s gedink nie. En as jy moes, kon jy ’n naald vir jou grammofoonspeler aanskaf. Of verstellings laat maak aan joun ou hi-fi, of "grêm", soos daar oor die algemeen na jou platespeler verwys is.

Die musiek was uiteenlopend. Saterdagoggende sou ek na die jazz, R&B of soul rake toe haas. Maar soms, uit nuuskierigheid, sou jy ’n bietjie na Frank Sinatra, Dean Martin, Elvis, The Doors, John Lennon of ABBA, onder meer, gaan luister.

Dit is hier waar ek met die musiek van David Kramer kennis gemaak het. En ook rustig na Motown se Groot Vyf – Michael Jackson, Marvin Gaye, Stevie Wonder, Lionel Richie en Diana Ross – kon luister.

Jy kon een oomblik ’n "My Cherie Amour"-oomblik beleef. Of in die dieptes van "Just to Be Close to You" sak. En eensklaps die energie en drif van ’n "Suspicious Mind" hê.

My uitstappies Joy toe was bykans heilig. Ek wou altyd alleen daar wees. En dit het gehelp om my mening en kennis van musiek uit te brei.

Maar bowenal kon jy langspelers van onder andere The Manhattans, Chi-Lites en O’Jays vir R9,99 opraap.

En die kennis, saam met dit wat ek uit Kohinoor se jazz-versameling gekoop het, het my gou geleer om die talle fasette van musiek te geniet en te waardeer. Reeds in daardie tyd was ek skepties oor sekere tipes musiek.

Die ding waaroor ek die meeste spyt is, is dat ek nie die geleentheid aangegryp het om juis op daardie tydstip bietjie uit te reik na klassieke musiek nie. Dit sou my kennis oor musiek destyds reeds baie verbeter het. Tog is ek bly dat ek later daarmee kennis kon maak – en waardeer.

Musiek bly een van my groot liefdes. En daaroor kan ek land en sand gesels.

 

<< Terug na Vintage@LitNet <<