Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

Izulu Lami (My Secret Sky) verdien ’n Oscar


Suzette Kotzé-Myburgh - 2009-10-01

 

 Izulu Lami (My Secret Sky) (2008)
Zoeloe met Engelse onderskrifte
Spelers: Sobahle Mkhabase, Sibonelo Malinga, Tshepang Mohlomi, Joy Mbewana
Regisseur: Madoda Ncayiyana

As hierdie fliek 'n aanduiding van die stand van ons rolprentbedryf is, het ons baie om oor dankbaar te wees. Regisseur Madoda Ncayiyana se eenvoudige verhaal van twee kinders se oorlewingsreis kan in dieselfde asem genoem word as Majid Majidi se pragprent Children of Heaven.

Thembi (Sobahle Mkhabase) en Khwezi (Sibonelo Malinga) se ma (gespeel deur Joy Mbewana) sterf vermoedelik aan VIGS, en al uitweg wat Thembi kan sien, is om Durban toe te gaan om die priester te vind wat altyd hul ma se pragtige geweefde matte gekoop het. Sy het 'n spesiale mat gemaak om in te skryf vir die handwerkkompetisie waarvan hy haar vertel het, en dit was haar innigste wens om die kompetisie met die groot prysgeld te wen.

Soos te verwagte (deur die kyker) is hierdie plan tot rampspoed gedoem. Die stad is veel verder as wat Thembi gedink het, en veel, veel groter as wat sy haar ooit sou kon voorstel. Daarby kan jy nie sommer na die naaste mens loop en vra dié moet pad beduie na die wit priester en dan kry jy hom sommer maklik soos op Incanda waar die twee grootgeword het nie.

Die kinders word telkens, en op allerhande maniere - onvriendelik én vriendelik - weggewys deur die grootmense wat hulle teëkom. Die enigste hulp wat hulle kry - hoewel teen 'n stewige prys, soos dit mettertyd blyk - is van die straatkind Chili-Bite (Tshepang Mohlomi). Dié is 'n geharde kalant, en so straatwys soos kan kom.

Thembi byt egter vas, met die soort vasberadenheid wat uit desperaatheid gebore word, en met die vaste geloof dat sy nog steeds aan haar mama verbind is - dat haar mama haar kan sien vanuit haar "geheime hemel", en dat haar mama se mat vir hulle sal sorg.

Hierdie fliek is met een woord aangrypend. Die jong spelers, spesifiek die drie in die genoemde hoofrolle, se spel is eenvoudig verbysterend. Daarby sit die regisseur nie 'n voet verkeerd nie. Hy maak al die regte keuses en voer hulle tot in die laaste besonderheid deur: die sterk maar eenvoudige storielyn, die onopsigtelike manier waarop belangrike inligting aan die kyker oorgedra word, die volkome oortuigende verloop en ontwikkeling van die intrige (hier kan veral die klimaktiese toneel met die mat uitgesonder word), die egtheid van die milieu en inkleding, uitstekende kinematografie en 'n treffende klankbaan, en (baie belangrik) die vermyding van sentimentaliteit.

Yesterday het 'n Oscar-benoeming gekry en Tsotsi die gesogte toekenning, maar Izulu Lami sou my Oscar-keuse gewees het (dit het reeds die Dikalo-prys by die Pan-Afrika-filmfees ontvang). Verder wens ek 'n blink toekoms vir die film se briljante kinderakteurs.

Soos Nataniël destyds in die De Kat-advertensie gesê het: Gaan kyk net die blerrie fliek! Voor dit van ons kringloop verdwyn sonder dat dit die ondersteuning gekry het wat dit verdien.