Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Expats > Onderhoude | Interviews

Marius en Hanelie Odendaal gesels oor Mortlach, Kanada


Imke van Heerden - 2009-09-30

Waar woon jy nou en is die gras wel groener daar?

Ons woon in Kanada. Mortlach, Saskatchewan om presies te wees. Dit is 'n klein plattelandse dorpie van so 200 mense.

Hoekom het jy Suid-Afrika verlaat?

Ons albei het werksgeleentheid gekry, eers in Ierland, en die idee was om dit vir drie jaar te doen en dan terug te keer. Moet sê, wat gehelp het met die besluit om die aanbod te neem, was die feit dat ons oudste seun op Valsbaai-stasie deur drie mans beroof en met 'n mes gesteek is. Die polisie het toe al net gesê: "Ons sal hulle nie opspoor nie en gaan nie eens die saak open nie."

Die kinders se studies hier het ons vasgehou. Ons het nie kans gesien om hulle weer te skuif nie. Nooit eens gedink dit sal so 'n moeilike fase ingaan binne drie jaar nie. Ook wou ons nie die gesin so vroeg opbreek nie.

Beplan julle om terug te kom?

Ja, ons praat baie daaroor. Die kinders is uit die huis uit en ons gesels al hoe meer met vriende en familie in Suid-Afrika en voel dit is tyd om die ou bande te herstel. Kinders is nie heeltemal genoeg nie, nè? Hanelie kom in Januarie vir twee maande om te kyk en ek kom in Februarie om te bevestig. Dit is moeilik, want ons begin ook hier nou gevestig te raak.

Ons het van ons gekleurde vriende laat uitvlieg na Ierland en selfs Kanada en hulle het almal gekla oor hoeveel meer rassisties dit hier is teenoor die verwagting en aanvaarding dat Suid-Afrika dit sou wees.

Wat van Suid-Afrika laat jou lag en wat laat jou huil?

Sy mense. Die wonderlike manier waarop ons tog saamgeleef het, dalk nog doen. Saam kan lag en die verskillende nasies se humor. Daar is so min daarvan in ander lande. Om die dinge te sien wat nou gebeur soos die land verval in areas, skeur mens stukkend binne.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Die klimaat wat oor twaalf maande strek. Die humor soos genoem. Die rugby. Elke keer as ek na die American football kyk, dan krimp my binneste ineen. Guavas, lemoene eet in die boord in die Wes-Kaap. Elke dag se swem in Valsbaai. Besoeke aan Namibië en Pofadder.

Hoe reageer mense as hulle uitvind jy is Suid-Afrikaans?

Baie positief. Wil graag weet oor die land. Hoe die lewe daar was/is. Natuurlik met die kinders en hulle Ierse aksente word ons voorgestel as Suid-Afrikaners, maar nadat hulle die aksente gehoor het, kan mens hulle nie kry om ons anders te noem as Irish nie! Twee wêrelde in een.

Waar in die stad/land waar julle tans woon, kuier julle graag?

Montreal, Vancouver, Yellowknife, en dan sommer net in die area by verskillende damme met watersport. Dan gaan ons graag na die woestyn in Nevada, want dit herinner ons aan Namibië, waar ons baie gekuier het.

Jy kan 'n Afrikaanse sanger of band nooi om daar op te tree; wie kies jy?

Die drie tenore! Ek luister die heeldag na hulle ...

Sou jy Suid-Afrikaners aanmoedig om daar vakansie te hou?

Die Rockies is 'n lekker plek vir enige seisoen. Ierland, as reën jou nie te veel pla nie, gaan na Connemara en ervaar die ware siel van Ierland. Baie staptogte hier en heerlike kuier pubs met fietsryvakansies. Soos die Iere se: It's only water!

Jy is gestrand op 'n eiland. Jy het drie Suid-Afrikaanse items van die sinkende skip gered. Wat het jy gekies?

Marius: Biltong, mieliemeel, boerewors vir my
Hanelie: vrugtelekkers, geblikte guavas, beskuit