Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Expats > Onderhoude | Interviews > Jong expats | Young Expats

Jong expats: Roelof le Roux vertel ons van Londen


Imke van Heerden - 2009-09-30

Waar woon jy nou en is die gras wel groener? Wat doen jy daar?

Ek woon teen Lavender Hill in Londen (UK), en werk as 'n bemarkingsbestuurder vir 'n Anglo-Italiaanse aanlynwinkel, Nudo-Italia.com, wat Italiaanse olyfolie en antipasti uitvoer na die UK, VSA en Kanada. Die gras is baie groen, maar die lug bly maar grys.

Hoekom het jy Suid-Afrika verlaat?

Die Langer Weergawe: Op 'n somersdag in 2007 het ek my bevind in 'n kantoor van die top-bemarkingspesialis-werwingsagentskap in Kaapstad vir 'n vergadering oor my loopbaan. Met goeie ervaring en 'n sterk CV onder die blad het ek verwag dat hulle my 'n hele paar opsies sou aanbied. Ek was nog altyd sterk gefokus daarop om vir my 'n loopbaan in Suid-Afrika te bou en het dus allerhande geleenthede aangegryp om soveel as moontlik oor die plaaslike mark te leer. Teen die einde van daardie uurlange vergadering was al vier agente in die kantoor besig om my te probeer oorreed om die land te verlaat. Ek was professioneel, slim, bietjie geleerd, ervare, en wit! En hulle kon niks doen vir 'n wit jong man wat in aanlynbemarking wou werk nie. Dis toe ek besluit het om eerder vir my 'n internasionale loopbaan te bou. Suid-Afrikaners ken van diversiteit en uithouvermoë en innovasie en aard goed in nuwe plekke en markte. Ek het universiteitsmaats, vryskutbemarkers, lektore en ontwerpers gekontak en binne 'n paar weke 'n aanlynbemarkingagentskap saamgestel met 'n netwerk van mense wat goeie-kwaliteit werk kon lewer teen ontluikende markpryse. Werk eers uit Suid-Afrika, en toe later uit Nigerië. Die VK, Australië en die VSA het gevolg. Twee jaar later het ek aansoek gedoen vir die Britse regering se nuwe Tier 1 Highly Skilled Migrant Worker program. En hier sit ek nou, met 'n groeiende, internasionale loopbaan.

Die Korter Weergawe: Ek wou nog altyd 'n internasionale loopbaan gehad het. Toe ek klein was, het my ma al vir my gesê: "My kind, jy dink te groot vir hierdie land", en nou is ek deel van 'n groot groep Suid-Afrikaners wat met hul ervaring van diversiteit en kultuur van innovasie en kreatiwiteit werk om sterk leiers te word in industrieë reg rondom die wêreld.

Beplan jy om terug te kom?

Teruggaan? Nee. Mens weet nooit watter geleenthede hulle mag voordoen om weer in Suid-Afrika te werk nie, maar daar is dan nog soveel ander lande om in te woon! Ek het 25 jaar in Suid-Afrika spandeer - dis mos genoeg. Deesdae kan ek lekker lang vakansies daar spandeer en my familie en vriende wat nog daar woon, geniet.

Wat van Suid-Afrika laat jou lag en wat laat jou huil?

Lag: Die Afrikaanse kultuur. Ag, daar is mos niks lekkerder as Afrikaanse woordspeling en regte stoepstories nie! Die Ingelse probeer, maar dis óf te platvloers óf te flou.

Huil: Die feit dat ek nog nie één dag hier (in die VK) onveilig gevoel het nie. As ek nou terugdink aan die onsekerheid en angs wat mens vul by 'n rooi verkeerslig laataand, die staalhekke en die aantal vriende en kennisse wat beroof, gedreig, gekaap of vermoor is ... dit maak my hartseer.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Die Kaapse leefstyl - berge, wynlande, see en son!

Hoe reageer mense as hulle uitvind jy is Suid-Afrikaans?

Jare van Suid-Afrikaanse "working holiday" hooligans wat hulself nie wou aanpas by die kultuur en ongelooflike diversiteit nie, het ongelukkig baie afbreuk gedoen aan die Britse siening van goed-opgevoede, vriendelike Suid-Afrikaners. Ek het my aksent heeltemal aangepas om die stigma te vermy.

Waar in die stad/land waar jy tans woon, kuier jy graag?

Die verskeidenheid wat Londen bied, is net ongelooflik en mens probeer heeltyd iets nuut, maar dis veral die smeltput van die Shoreditch-distrik en die kosmopolitaanse glamour van die West End wat my maar altyd aantrek. Die klassieke aanhuise "dinner party" is ook nog 'n gewilde aktiwiteit hier.

Jy kan ’n Afrikaanse sanger of band nooi om daar op te tree; wie kies jy?

'n Trio! Laurika Rauch, Amanda Strydom en Edrien.

Sou jy Suid-Afrikaners aanmoedig om daar vakansie te hou?

Om in Londen vakansie te hou is soos om in Canal Walk te gaan sjop! Alles onder die son onder een dak. Soos met die meeste wêreldstede bied Londen iets van alles - die antieke, die moderne, pragtige parke (die stad is 50 persent "green space", nè), en hope vermaak. Die verskil is: in Engeland is die meeste van hierdie dinge heeltemal gratis vir die publiek.

Hoe verskil die werkkultuur in die stad/land waar jy tans woon van dié van Suid-Afrika?

In teenstelling met die Amerikaanse en Suid-Afrikaanse 8-tot-5-werksdag, begin die meeste maatskappye hier bietjie later en eindig veel later. Jy mag dalk die oggend om nege-uur begin, maar jy sal nie maklik voor sewe-uur weer deur jou voordeur stap nie. Hoewel die druk verkeer en vol treine 'n invloed het, is hier 'n uiters kompeterende werkkultuur wat gedryf word deur korttermyndoelwitte en natuurlik die eise van internasionale handel. As jy nie "perform" nie, is daar immers tien ywerige geskoolde werkers om jou plek te neem.

 Enige interessante tendense waarvan jy ons wil vertel?

  •  Jy word baie snaaks hier aangekyk as jy oor geloof praat. Die meeste jonger mense (<40) weet of te min daarvan of hul sien dit as absolute bog.
  • Daar is 'n verskriklike klassesisteem. Net soos in Suid-Afrika betaal 20 persent van die bevolking vir die res van die land se welsyn.
  • Met die resessie het derduisende Suid-Afrikaners, Australiërs, Nieu-Seelanders en Oos-Europeërs die land verlaat om werk in hul eie lande te gaan soek en hoor mens nou eerder Farsi, Russies of Arabies op die trein as Afrikaans of 'n Aussie-aksent.
  • Fietsry is deesdae uiters gewild in Londen en jy sien amper net soveel fietsryers as motors ná werk op pad huis toe.
  • Dis moeilik om gewoond te raak aan die feit dat jy áltyd álles in die supermark kan kry. Daar sal vars lemoene, artisjokke en druiwe op die rak wees of dit nou somer of winter is. My assistent, 'n gebore Londenaar, het nou die dag gebieg hy sou nie vir my kon sê watter vrug op die winkelrak in watter seisoen groei nie.

Jy is gestrand op ’n eiland. Jy het drie Suid-Afrikaanse items van die sinkende skip gered. Wat het jy gekies?


Die braairooster, die blik karringmelkbeskuit en 'n vuvuzela vir wanneer 'n skip verbykom!


<< Terug na die Jong expats-blad <<